Daar word in Amerika (waar anders?) beweer dat regses ook “wokeness” begin gebruik het as teenvoeter vir linkse “wokeness”. 'n Amerikaanse artikel oor die onderwerp, getiteld “How the Woke Right Replaced the Woke Left” deur Thomas Chatterton Williams, is byvoorbeeld op 17 Februarie 2025 in The Atlantic gepubliseer. Daar het ook in ander Amerikaanse publikasies opinies oor die sogenaamde “woke right” verskyn, wat geredelik toeganklik is vir lesers wat meer Amerikaanse sieninge daaroor onder oë wil kry.
Plaaslik is daar ook baie onlangs daaroor geskryf. Die rede waarom ek hierdie opiniestuk skryf, is om te probeer bepaal of sogenaamde “woke”-gedrag ook in “regse” kringe in Suid-Afrika gesien kan word, soos blykbaar in Amerika waargeneem word – en indien wel, of dit, in konteks beoordeel, as geregverdig beskou kan word. Of is dit bloot regses wat linkses naboots omdat hulle die resultate van “wokeness” gesien het en toe besluit het om 'n soortgelyke ideologie vir regse doeleindes te bewapen, ook hier in Suid-Afrika?
Eerstens 'n kort beskrywing van wat ek onder “wokeness” verstaan: Dit is om bewus te wees van wat individue of groepe as selfgeïdentifiseerde maatskaplike ongeregtighede beskou – soos sistemiese rassisme, onverdiende bevoorregting, genderdiskriminasie en, oor die algemeen, diskriminasie teen sekere “gemarginaliseerde” groepe. Ongelykheid op alle terreine tussen mense en groepe word as 'n groot euwel beskou wat beveg moet word. Hierdie bewustheid (“wokeness”) word dan in dade omskep om dié wat verantwoordelik gehou word vir die ongeregtighede, aktief te konfronteer. Die konfrontasie neem allerhande vorme aan, soos protesoptogte, maar ook die gewraakte “kansellering” van mense of instellings wat nie die linkse “woke”-mense en -groepe se persepsies deel nie. Sulke kansellering bestaan uit openlike en vyandige verdagmaking, op enige wyse moontlik, met die doel om die individue of groepe waarop dit gemik word, irrelevant te laat voorkom.
Sogenaamde “regse wokeness”, in die breë gesien, klink vir my na die antipool van die “linkse wokeness” wat deur linkses uitgedink is. Wat “links” en “regs” betref, vra ek die leser om dit saam met my as baie breë en oorvereenvoudigde kategorieë te beskou wat individue en groepe in teenoorgestelde denk- en doenskole verdeel. “Links” word dikwels geassosieer met 'n strewe na groter gelykmaking. “Regs” word dikwels getipeer as groepe of individue wat sterk voel oor die handhawing en voortbestaan van unieke groepswaardes, -kultuur en -tradisies.
Ons kan nog baie verder gaan met die onderskeie definisies, maar vir ons doeleindes hier is dit voldoende om te probeer bepaal of “wokeness” – wat aanvanklik aan die linkerkant ontstaan het – nou ook aan die regterkant in Suid-Afrika inslag begin vind het, of dalk al lankal bestaan. En natuurlik, as dit wel bestaan, of dit geregverdig kan word wanneer dit in konteks beoordeel word.
Omdat die meerderheid Afrikaners in Suid-Afrika eerder as “regs” as “links” beskou word, in terme van my breë omskrywing hierbo, moet ons kyk of Afrikaners, en veral die groeperings wat hul belange probeer beskerm, ook “woke” optree.
Ek is bewus daarvan dat daar geen eenstemmigheid is oor wie 'n Afrikaner is of nie. Vir doeleindes van hierdie opiniestuk verwys ek egter op vereenvoudigde wyse bloot na Afrikaners as die meerderheid mense wat ondersteuners is van organisasies soos AfriForum, Solidariteit en die Orania-beweging. Ek glo dat dit 'n redelik veilige aanname is.
Die vraag is dan: Laat die Afrikaner-ondersteuners van daardie organisasies wat in hul belang as Afrikaners optree, daardie organisasies toe om “woke” op te tree aan die regterkant, net soos linkses en hul organisasies dikwels “wokeness” in hul eie geledere beoefen? Is dit dieselfde soort “wokeness”, en is dit geregverdig as dit in konteks beoordeel word – indien dit wel in regse kringe bestaan?
Beginnende by AfriForum: Dit is pertinent 'n organisasie wat homself hoofsaaklik beywer vir die beskerming van minderheidsregte, met 'n spesifieke fokus op die Afrikaner-gemeenskap. In daardie opsig is dit beslis “regs” in soverre dit 'n bepaalde kultuurgroep se belange wil beskerm en bevorder.
Solidariteit is ook primêr daarop ingestel om die Afrikaner-gemeenskap se voortbestaan in die ekonomie te beskerm. In daardie opsig is dit dus ook “regs”.
Orania fokus eweneens op Afrikaners, hoewel hulle meer territoriaal ingestel is omdat hulle 'n enkele, wetlik omskrewe stuk grond beset. Andersins is hulle ook “regs” omdat hulle 'n bepaalde kultuurgroep se belange bevorder.
Tree hierdie “regse” organisasies egter “woke” op?
Kyk ons na 'n primêre AfriForum-funksie – naamlik om onregte teenoor 'n bepaalde groep, Afrikaners, teë te staan – is dit moeilik om nie ook “wokeness” daarin raak te sien nie; te wete, “wokeness” ten bate van 'n oorwegend “regse” groep. Maar daar is 'n belangrike verskil met linkse “wokeness”: hierdie “regse wokeness” word nie as wapen aangewend om ander groepe te diskrediteer, verdag te maak of te verkleineer nie. Dit het nie ten doel om ander te kanselleer nie. Dit word nie bewapen om teen ander groepe gebruik te word nie, maar bloot om te behou, te beskerm en uit te bou wat vir Afrikaners van groot belang is: moedertaalonderrig, groter selfstandigheid en minder regeringsafhanklikheid, gelykberegtiging onder die wet, ensovoorts. Ek kan nie sien hoe die vervulling van hierdie funksie as bewapening beskou kan word om ander groepe te benadeel nie. Deur “die eie” te probeer beskerm, onderhou en uitbou, word die benadeling van ander – buite die groep – tog nie nagejaag nie.
Tweedens, Solidariteit: Hoe kan hul pogings om die Afrikaner-gemeenskap se ekonomiese voortbestaan te beskerm, as bewapening van “wokeness” gesien word ten einde ander groepe te diskrediteer of te kanselleer? Inteendeel, my waarneming is dat Solidariteit saam met ander groepe agiteer vir die beskerming van alle werkers se regte. As hulle in die proses uitwys dat daar regeringspogings is om spesifiek Afrikaner-werkersregte weg te neem, kan dit steeds nie as “regse woke”-pogings beskou word ten einde ander werkers se regte te “kanselleer” nie.
Derdens, Orania: Op watter manier kan geredeneer word dat, omdat hulle ook 'n bepaalde kultuurgroep se belange bevorder, naamlik dié van Afrikaners, sodanige “regse wokeness” dan ander groepe benadeel? Grondeienaarskap is geredelik beskikbaar vir al Suid-Afrika se onderskeie bevolkingsgroepe. Baie groepe, soos die Zoeloes met hul Ingonyama Trust, het reeds aansienlike grondeienaarskap. Wat Orania betref: dit staan enige ander bevolkingsgroep vry om ook hul eie “Oranias” te vestig (“Black is the New Orange” in daardie geval, om die bekende TV-reeks se titel effens te verdraai ...).
Ten slotte, my gevolgtrekking: Ons sien wel elemente van “wokeness” in sekere regse groepe in Suid-Afrika. Maar anders as “wokeness” – links of regs – wat die benadeling nastreef van dié wat nie hul waardes deel nie, is ons Suid-Afrikaanse “regse groepe”, soos hierbo genoem en ooreenkomstig my positiewe definisie van “regsheid”, nie op wraak, vergelding, veroordeling, verkleinering of verdagmaking ingestel soos tipiese “woke left”-groepe nie; of selfs soos sommige “woke right”-groepe in Amerika nie.
Ek dink ook nie die Suid-Afrikaanse regse groepe probeer die woke linkses bloot naboots nie. Inteendeel, ons het lank voor Amerika reeds besef dat 'n minderheid soos die Afrikaners met “wokeness” beskerm moet word – maar 'n wokeness wat nie bewapen is om ander seer te maak nie. Dit is in groot kontras met linkse wokeness, wat juis bewapen word om seer te maak. Regse wokeness om seer te maak, sal net so verkeerd wees, maak nie saak of dit in Suid-Afrika of elders in die wêreld plaasvind nie.
Nog artikels deur Piet du Plessis:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.











