Is Versoening in SA 'n Suksesverhaal?
Die medeskrywer van artikel 235 klink nou ongemaklik met gewone burgers wat dit ernstig opneem.
Volgens Roelf Meyer, tydens 'n onlangse eNCA-onderhoud, is suksesvolle Suid-Afrikaanse "rekonsiliasie" en "kohesie" in die post-1994-era duidelik te sien. Hy het dan ook 'n kleintjie dood aan die sogenaamde "silo’s" wat hy glo AfriForum, as een voorbeeld, gebruik om 'n parallelle regering langs die bestaande Suid-Afrikaanse regering te bedryf.
Duidelik dink Roelf nog steeds met sy "silo"-metafoor dat Afrikaners "laer wil trek". Dis dalk tyd dat hy moet besef dat baie Afrikaners hoeka al “ontlaer” het: Hulle hunker nie terug na die VOC, die Voortrekkertyd of die Apartheidsjare nie. Hulle is net so "oopkop/verlig" soos Roelf homself, maar anders as Roelf, glo van hulle nogsteeds in Artikel 235 van die Grondwet, waarvoor Roelf self gesorg het dat dit in die Grondwet vergestalt word. Dis 'n grondwetlike artikel wat kultuur- en taalgroepe se strewes om hul Grondwet-verskansde vryhede in dade te mag omskep, toelaat.
Persoonlik dink ek Roelf het homself té lank in 'n donker plek in die ANC se geledere bevind en het aldus tonnelvisie ontwikkel.
Hy is ook nie 'n objektiewe waarnemer nie: Sy groot rol in die oorgang wat in 1994 plaasgevind het, het hom aktief betrek by 'n narratief wat hyself sal wíl glo, naamlik suksesvolle versoening en pragtige samehorigheid. Maar na watter versoening en samehorigheid verwys hy? En is hy reg om beswaard te wees oor die sogenaamde "silo’s" wat groepe teen wie gediskrimineer word deur die na-1994 regering, en wie vervreem word deur daardie selfde regering, hulself dan toenemend genope voel om juis vir hulself te bou?
Ek sal vervolgens hieronder sy aansprake met 'n rits retoriese vrae onder kruisverhoor neem. Ek sal bewys dat Roelf bloot sien wat sy geïnvesteerde belang, weens sy groot rol in die 1994-oorgang, graag wil sien.
Versoening aan die bod
Het die ANC se voortgesette rasseklassifikasie gehelp om die verskillende rasse te laat versoen? Natuurlik nie. Dit het rasse-identiteit doelbewus lewendig gehou ten einde 'n nuwe soort na-apartheid rassediskriminasie vir die ANC moontlik te maak.
Dink Roelf werklik dat 'n wit persoon teen wie daar al vir meer as 30 jaar in Suid-Afrika deur wetgewing en die ANC se regeerpraktyke (swart voorkeur en begunstiging) gediskrimineer word, vir 'n oomblik sal voel dat hy of sy met die swart ras in Suid-Afrika gerekonsilieer is? Daardie einste swart rassegroep wat ingevolge regeringsbeleid per se hoër en meer bevoorregting verdien as enige ander rassegroep ten spyte van onlangse opnames deur die Instituut vir Rasseaangeleenthede wat bevind het dat sodanige regeringsdiskriminasie onnodig gevind word deur selfs die swart mense self? Natuurlik nie.
Wittes voel uitgestoot en uitgesluit, want dit is wat hulle geword het onder die ANC se rasgebaseerde en rasbehepte wanregering van meer as dertig jaar.
Het Madiba — wat die menslike vergestalting van die oorgang na 'n demokratiese Suid-Afrika was — se gepredikte gelykberegtiging ooit in die Nuwe Suid-Afrika gerealiseer in ooreenstemming met die uiteindelike ooreenkoms wat beding is? Natuurlik nie, want in terme van baie wette en regeerpraktyke is sommige landsburgers "meer gelyk as ander". Dit is myns insiens heeltemal geregverdig vir enigiemand anders as 'n swart Suid-Afrikaner om soos ’n tweedeklasburger te voel.
Is dit versoening as dit al hoe moeiliker gemaak word vir Afrikaanssprekende kinders om hul skoolopvoeding in hul moedertaal te voltooi. 'n Groepstaal wat besonder na aan die harte van haar gebruikers lê?
Ons kan ook kyk na hoe goed of sleg swart mense onderling versoen het. Dit lyk nie vir my of die Zoeloe-nasie, met hul bevoorregte, massiewe grondeienaarskap deur middel van die Ingonyama-trust, se bevoorregting met dié van ander bevolkingsgroepe s’n versoen is nie.
Of is 'n magsblok soos die Zoeloe-nasie te onaantasbaar om hulle met gedwonge of vrywillige grondverdeling te laat "versoen" met minderbevoorregte grondeienaars van ander bevolkingsgroepe? Is die Zoeloe-bevoorregting en die vasklou aan hul Ingonyama-voorregte nie ook maar 'n sogenaamde "silo-ontwikkeling" nie — nes AfriForum s’n, wat Roelf as ongewens beskryf het in sy onderhoud, al is grondgebied nie eens in AfriForum se geval ter sprake nie?
Waar grond wel ter sprake is, is dit insiggewend hoe die klein kolletjie grond wat deur Afrikaners in Orania besit word en vir die vervulling van Afrikaner-aspirasies benut word gereeld onder skerp kritiek vanuit regeringskringe deurloop. Daarenteen hoor ek nooit soortgelyke kritiek wat in die Zoeloes se rigting gegooi word nie. Verder huil die ANC nou krokodiltrane omdat Zoeloes in groot getalle "ont-versoen" deur die Zoeloe-opsie onder Zuma en die MK-party te kies, eerder as die "breë kerk", soos die ANC homself dikwels beskryf.
Kohesie onder loep
Vervolgens kan ons kyk na die sogenaamde "kohesie" wat Roelf impliseer. 'n Minder anglisistiese woord vir kohesie is natuurlik "saamhorigheid". Buiten wanneer die Springbokke wen, by watter ander geleenthede beleef ons die groter Suid-Afrikaanse nasie as 'n eenheid, waar bykans almal voel dat ons as nasie presteer het? Ek probeer regtig hard dink aan ander sulke geleenthede. (Miskien toe die ANC nie lank terug nie misluk het in hul poging om verhoogde Toegevoegdesaardebelasting — BTW — deurgevoer te kry?)
Is daar werklik 'n "gom" wat ons as Suid-Afrikaners aan mekaar plak? Die naaste daaraan is waarskynlik die Grondwet. Maar dit is juis onder ons hooggeprese Grondwet waar die ongelykhede waarna hierbo verwys is, gekondoneer of bloot toegelaat word. Dit is juis uiters anti-versoening. Mense teen wie daar in Roelf se droomland gediskrimineer word, kan net so min versoen word met die post-1994-Suid-Afrika as wat nie-blanke groepe met die apartheidsregering kon versoen. Die stelling word gemaak in die lig van die post-1994-regering se dikwelse minagting van die Grondwet, veral ten opsigte van ware gelykheid en toegelate vryhede vir taal- en kultuurgroepe om hul eie ding te mag doen (Artikel 235).
Terloops, daardie artikel uit die Grondwet, wat met Roelf se deelname in die Grondwet ingeskryf is, wys verder hoe Roelf se onderbroek uithang wanneer hy afwysend na sogenaamde "silo's" verwys.
Gelykberegtiging is 'n fundamentele vereiste vir versoening in 'n smeltkroesnasie waar almal saamgegooi word en sodoende gedwing word om met ander elemente saam te smelt — al is daardie elemente onderskeidelik olie en water in sekere gevalle.
Ek dink Roelf probeer net homself op die skouer klop met sy gewaande belewenis van Suid-Afrikaanse "versoening en samehorigheid". Die "silo’s" waarteen hy gekant is, is juis nodig om te verseker dat die uitgeworpenes 'n tuiste vind waar hulle tuis kan voel en gelyke status onder mekaar, en voor die reg, kan geniet.
Grondgebied-denke is verouderd
Die sogenaamde "silo"-redenasie is 'n hopeloos verouderde en argaïese manier om na mense met strewes tot selfbeskikking te verwys. Met moderne tegnologie is gekonsolideerde, fisiese grondgebiede ("silo's") nie eens meer nodig om gemeenskappe/nasies/groepe hul eie ding te laat doen nie, saam met diegene met wie hulle voel hulle werklik gerekonsilieer is en werklik kohesie mee geniet. Ons almal “bestaan” saam in die kuberruimte en daardie ruimte is opdeelbaar op oneindig verskillende maniere. Met kunsmatige intelligensie-agente is dit moontlik om effektiewe koördinasie te bewerkstellig tussen 'n byna oneindige aantal sub-eenhede en een sentrale eenheid, indien so ’n sentrale eenheid as noodsaaklik gesien word.
Die "silo"-redenasie verteenwoordig argaïese en uitgediende ideologiese/politieke denke wat nie die Intelligensie-era kan of wil betree nie en/of wat mag oor almal en alles nastreef, soos die ANC wel doen. Moderne tegnologie maak dit moontlik vir verskillende gemeenskappe om in samewerking met en respek vir mekaar te floreer, binne die groter kuberruimte.
Die aantal moontlike selfbeskikkingsmodelle is veelvuldig en nie noodwendig net modelle wat Inligtingsera-vriendelik is nie. Lex Libertas ondersoek juis, onder andere, sulke alternatiewe modelle.
Roelf se Suid-Afrikaanse eenheidstaat-illusie — met almal wat in sy verbeelding gerekonsilieer is en in saamhorigheid saamleef weens sy onderhandelde skikking van 1994 — is bloot selfbedrog. Hoewel daar 'n baie slegter keuse as ons Ambassadeur in Amerika gemaak kon gewees het as Roelf Meyer, maak sy gemelde uitsprake my skepties betreffende sy gewilligheid om ook ons grondwetlik-gegewe regte as Afrikaners in Amerika te gaan verdedig.
Ek wil darem ook, ter ere van Roelf, sy beklemtoning tydens die genoemde onderhoud van ons ekonomiese verval (onder die ANC natuurlik) as rede vir 'n rits ander Suid-Afrikaanse probleme, onderskryf. Ek dink egter hy kon darem ook ons gebrekkige wet en orde gemeld het as 'n wortel van baie kwaad in Suid-Afrika. Maar net soos Johann Rupert in die Withuis as uiters bevoorregte kon opmerk dat hy met oop deure in Suid-Afrika kan slaap, pla persoonlike veiligheid ons almal nie in 'n gelyke mate in Suid-Afrika nie. Ek is ook seker ons Ambassade en Ambassadeurswoning in Washington sal goed bewaak word. Ons Afrikaners se belastinggeld sal onder andere daarvoor betaal.
Nog artikels deur Piet du Plessis:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.











