Dalk gaan sekere lesers van OntLaer, wanneer hulle sien dat hier nóg 'n eiertjie gelê word oor xenofobie in Suid-Afrika, eerder na 'n ander artikel wil aanbeweeg. En ek sal dit intuïtief verstaan. Xenofobie raak “ander mense”, nie onsself nie. Die slagoffers daarvan praat nie ons taal nie, lyk nie soos ons nie, en bly nie tussen ons nie. Na alles is dit 'n township-probleem. Baie van ons was nog nooit in 'n township nie en wil ook nie 'n township, waar miljoene der miljoene mense bly wat anders as ons lyk en praat, besoek nie.
Begryplik, maar staan ons werklik geïsoleerd van die probleem van xenofobie?
En nou praat ek nie net van gevalle waar dit onsself wel raak nie, soos wanneer onwettige Agnes van Zimbabwe, wat ons huishulp is, nie vir werk opdaag nie. Of wanneer die buitelanders uit ander Afrikalande, wat onwettig deur ons in ons besighede in diens geneem word, nie werk toe kom nie. Ons hoor dan oor die nuus, of sien dan op TV, dat daar weer xenofobiese aanvalle was in die townships waar ons gemelde werknemers bly. Maar ons het mos genoeg probleme van ons eie om nog oor daardie uitlanders se probleme ook te stres. Ons hoop maar net Agnes kom gou terug, want die huis is erg deurmekaar en dat die regering se inspekteurs nie kom ondersoek instel om te sien watter onwettige immigrante ons in ons besighede in diens het nie – mense wat ons in diens geneem het omdat hulle bereid was, of gedwing was, om vir soveel minder as die plaaslike bevolking te werk.
Word Bewus
Ek sal later in die opiniestuk terugkom na die werklikheid, of waarskynlikheid, dat xenofobie “onsself” dalk ook alreeds bekruip, soos die “dief in die nag” waarvan die Bybel praat; maar dat ons dit óf nie raaksien nie, óf eerder nie wíl raaksien nie weens verstaanbare, “gerusstellende” ontkenningsredes. Om 'n ander bekende analogie te gebruik: daar word mos gesê dat bankrotskap nie eensklaps plaasvind nie. Dit gebeur bietjies-bietjies – en dan skielik. So kan dit dalk ook met “ons” gebeur.
Terug na die algemene verskynsel van xenofobie. Daardie verdelende aangeleentheid of verskynsel bekend as xenofobie, is nou weer groot nuus in Suid-Afrika. Die woord kom van die antieke Griekse xénos (vreemdeling, gas of vreemd) en phóbos (vrees). Vreemdelingehaat of vreemdelingevrees, of buitelanderhaat of uitlanderhaat, is dan ook alternatiewe woorde wat ons soms in Afrikaans hoor om dieselfde fenomeen mee te beskryf. Die alternatiewe woorde, veral die oorspronklike Grieks, is vir my belangrik in die konteks van wat ek hier as my opinie wil deel. Maar die Afrikaanse woorde ook, want ons taal is mos heerlik beskrywend van aard.
Dit sal later duideliker word wat ek daarmee bedoel dat ons eerder na die oorspronklike Griekse betekenisse – en die raakvat, alternatiewe Afrikaanse woorde wat vir die verskynsel van xenofobie gebruik word – moet kyk.
Vreemdelingehaat of vreemdelingevrees, buitelanderhaat of uitlanderhaat (xenofobie), manifesteer dikwels as verdagmaking, diskriminasie, vyandigheid of geweld teen mense wat as buite die “in-groep” (byvoorbeeld nasionaal, etnies of kultureel) gesien word.
Gewelddadige xenofobiese aanvalle op mense wat as ongewens in Suid-Afrika beskou word, het kort ná 1994 al begin kop uitsteek. Alhoewel verwag is dat die nuutgevonde demokrasie en “Reënboognasie”-ideale dit sou verminder, het voorvalle eerder toegeneem. Gewelddadige aksies word meestal gerig teen swart Afrika-migrante uit lande soos Zimbabwe, Mosambiek, Nigerië, Ghana, Kenia, Somalië en Ethiopië, en soms ook teen Asiërs.
In 2008 het xenofobie tot 'n groot uitbarsting gekom in Suid-Afrika: ten minste 62 mense is dood, duisende is gewond en meer as 100 000 is ontwortel uit die townships waar hulle gewoon het. Aanvalle het in Alexandra in Johannesburg begin en van daar af verder versprei.
Nog 'n nasionale golf van vreemdelingehaat het ook weer in 2015 tot uitbarsting gekom, met buitelandse regerings wat selfs burgers moes repatrieer. Winkels wat as “buitelanders” se winkels beskou word, soos spaza-winkels, is beroof, selfs afgebrand, en die eienaars en hul families is wreed aangerand en selfs vermoor. Hulle word soos honde uit townships weggejaag, en só word baie gesinne met weerlose kinders ontwortel en aan die genadelose elemente uitgelewer, veral gedurende die wintermaande of tydens reëntyd. Dit is uitermatige, gewelddadige en onmenslike optrede, wat ironies genoeg dikwels gepleeg word teenoor mense wat ekonomiese bydraes tot ons land lewer, hetsy as spaza-winkel-eienaars of as kelners in restaurante, ensovoorts.1
Die Res van Afrika raak Gefrustreerd
Onlangse 2026-opvlammings van vreemdelingehaatvoorvalle in Suid-Afrika het Ghana op 6 Mei 2026 genoop om 'n formele diplomatieke brief aan die Afrika-unie (AU) te stuur oor xenofobiese aanvalle en geweld teen Afrika-migrante in Suid-Afrika. Hulle versoek dat die kwessie as 'n dringende saak op die agenda van die AU se Koördineringsvergadering geplaas word, wat van 24 tot 27 Junie 2026 in El Alamein, Egipte, sal plaasvind.
Ons onthou natuurlik – ironies genoeg – Suid-Afrika se aanklag teen Israel by die Internasionale Hof van Justisie.
Net soos gedurende vorige jare sedert 1994 se oplewings in vreemdelingehaatvoorvalle, was ons regering se reaksie op Ghana se skrywe maar redelik louwarm. Daar word ontken dat vreemdelingehaat sistemies van aard in Suid-Afrika is, en dit word eerder as geïsoleerde voorvalle, misdaad en protesaksies teen onwettige immigrasie beskryf, wat aangewakker word deur ekonomiese frustrasies as gevolg van die hoë werkloosheidsituasie in Suid-Afrika.
Nou, met die uiteensetting van die konteks en aard van vreemdelingehaat in Suid-Afrika agter die rug – soos hierbo redelik breedvoerig uiteengesit is – kan ek by die eintlike rede vir my opiniestuk uitkom, soos belowe. Dink aan die sleutelwoorde of kernwoorde wat aan xenofobie gekoppel word: “vreemdeling”, “vrees”, “haat”. Vervolgens sal ek daardie woorde koppel aan situasies wat mense anders as swartmense – en veral witmense – nie sien nie, of nie wíl sien nie, ook aan hulle situasie in Suid-Afrika gekoppel kan word.
Dink hieraan: hoe ironies is dit nie dat witmense selfs ná 374 jaar sedert Jan van Riebeeck se landing nog steeds as “vreemdelinge” deur talle swartmense – maar veral deur sommige van hul leiers – gebrandmerk word. Wie ken nie Malema se uitsprake in daardie verband nie? Maar daar is ongelukkig vele ander wat ook glo en sê dat witmense nie in Suid-Afrika hoort nie. Hoe dikwels lees of hoor ons nie dat “witmense moet teruggaan Europa toe waar hulle hoort” nie?
Dis nie iets wat ons wil hoor nie, en daarom maak ons dit dikwels af as ignoreerbaar, of slegs as 'n irritasie of uitlokking.
Op daardie wyse plaas ons onsself dus in 'n ander kategorie as diegene teen wie vreemdelingehaat in Suid-Afrika sedert 1994 gepleeg word. En dank die sterre, of wie ook al, dis nog net merendeels die wit plaasboere wat die slagoffers blyk te wees van xenofobiese liedere soos “kill the farmer, kill the boer!” Ons weet natuurlik dat “boer” witmense, en Afrikaners in die besonder, impliseer. Maar tans hoor ons hoofsaaklik net die “farmers”-gedeelte van daardie walglike lied of dreunsang wat – kom ons wees nou maar eerlik – die uitwissing van alle wit Suid-Afrikaners aanpor. Dis wat ons boeregemeenskap al vir geruime tyd die teikens gemaak het van wat ons nooit by die naam noem nie, maar wat na alles in baie gevalle ook maar xenofobiese aanvalle is. Terloops, Trump sou meer korrek gewees het as hy eerder van xenofobie gepraat het as van volksmoord.
As lesers my dalk nie wil glo nie, kyk na hierdie videogreep van 11 Mei 2026 by die skakel. Dit is 'n uittreksel uit een van die gereelde The Common Sense-podsendings van dr. Frans Cronjé. Hy is sonder twyfel een van ons bes ingeligte en mees befaamde politieke, ekonomiese en maatskaplike ontleders, internasionaal gesog vir sy kennis en insig oor Suid-Afrikaanse tendense. Hy en nog 'n groot Suid-Afrikaner met geweldige kennis en insig, vanuit Duitsland, naamlik dr. James Myburgh, is aan die woord oor presies dieselfde onderwerp wat ek in hierdie opiniestuk met die lesers deel.
Sien ons nou die kernwoorde of sleutelwoorde van xenofobie raak, naamlik “vreemdeling”, “vrees” en “haat”, in wat ons hoor in verband met baie van die gewelddadige en uiters wrede plaasmoorde en aansporings tot geweld teen witmense ook – of veral teen witmense – wanneer ons na Malema en ander soos hy luister?
Binnelandse Vervreemdingsosiologie
Soos gesê, ons is maar al te bewus van die feit dat ons as witmense nog steeds, ná geslagte se teenwoordigheid in Suid-Afrika, deur té veel swartmense as “vreemdelinge” gesien word wat eerder op die Europese kontinent hoort. En hoeveel “haat” is daar nie te sien in die uiters gewelddadige en wrede aanvalle op ons boeregemeenskap nie?
“Vrees” vir witmense is so oud soos die eerste vestiging van witmense aan die suidpunt van Afrika. Ons ken almal die rassegeskiedenis van Suid-Afrika, vanaf slawerny soos vanuit Europa oorgeneem; tot die jag van sommige van die oorspronklike bewoners aan die suidpunt van Afrika; tot grensoorloë; vergeldingsaanvalle om gesteelde vee terug te kry; werksreservering op die myne en elders; inperking in kamponge; gedwonge verskuiwings; en die streng en dikwels wrede toepassing van die apartheidswette.
Dit het 'n diepliggende vreespsigose onder baie swartmense nagelaat wat nie met die oorgang na 'n demokratiese bedeling verdwyn het nie. Vrees bestaan nog steeds – en word doelbewus wakker gehou – dat witmense weer apartheid wil terugbring. Ons het daardie insinuasie selfs uit Ramaphosa se mond gehoor. Van die baie ander vreesaanblasers wie se walglike opruiing, waarvan die ingeligte lesers maar al te goed bewus is, sal ek nie eens praat nie. Hulle is ongelukkig té veel.
Verder is “killing you softly”, soos in die bekende liedjie gesing word, ook 'n strategie van geleidelike doodversmoring van die ongewenste wit “vreemdelinge” in Suid-Afrika. Diskriminerende wetgewing help om die persepsie aan te wakker dat witmense “minder gelyk” is as byvoorbeeld swartmense. Of by implikasie dat daar aan hulle mindere regte toegesê mag of moet word. Die walglike implikasie is dat witmense, selfs diegene wat al vir geslagte in Suid-Afrika bly en wettige landsburgers is, ook maar eintlik deel van die groep moet wees teen wie xenofobies opgetree kan word, al is dit volgens Malema se berugte “...not for now...”. Vergesog? Ek wens ek kon so dink. Maar dink vir 'n oomblik hoe maklik “not for now” in “now” kan ontaard. Die regte sneller is net daarvoor nodig, en ons sien hopeloos te veel potensiële snellers in die huidige Suid-Afrika wat wag om getrek te word: massiewe werkloosheid en armoede; munisipale dienslewering wat in duie stort; misdaad; swak onderwys- en gesondheidsdienste; behuisingstekorte en groeiende plakkerskampe met haglike lewensomstandighede; ensovoorts. Dit is nie Micky Muis-aangeleenthede nie. Mense word in hul diepste menswees daardeur aangetas. Dis vernederend. Al wat nog help om wal te gooi, is die massiewe aantal maatskaplike toelaes, waaroor daar konsensus is dat die land dit nie kan bekostig nie en dat dit dus onvolhoubaar is.
Ten slotte – en ek besef dat hierdie soort stelling dikwels veroorsaak dat die boodskapper eerder geskiet word – moet ek ongelukkig uitwys dat die “perfekte storm” besig is om in Suid-Afrika op te bou. Die negatiewes waarna ek verwys het, het ongelukkig die euforiese post-1994-positiewes begin oorheers en begin nou konvergeer. Ek wens ek kon sê dat ek dink dat diegene van ons wat tot dusver baie van die negatiewes gespaar is, veral persoonlike geweldsaanvalle, gewone misdadigheid uitgesluit, soos wat die boere al lankal beleef, dit gespaar gáán bly. Daar is ongelukkig, myns insiens, 'n wesenlike gevaar dat vreemdelingehaat – hoe onregverdig ons dit ook al sal beskou – kan uitkring na meer as net ons wit boerderygemeenskap.
Mag ek verkeerd wees, maar mag ons ook tendense mooi dophou met die oog op selfbehoud. Die volgende nasionale verkiesing in 2029 sal die waterskeiding wees as daar 'n ANC-samesmelting kom met die EFF en MK Party, wat dan weer 'n tweederdemeerderheid sal vorm soos die ANC tydens die oorgang in 1994 gehad het. Daar sal dan na die onteienaars en nasionaliseerders se pype gedans moet word – die voormalige EFF’s en MKP’s. En daar sal dan geen waarborg wees dat enige van die werklike of geëtiketteerde “vreemdelinge”, naamlik witmense, nie almal toegelate teikens van xenofobiese aanvalle sal wees nie. Op hoeveel beskerming van regeringskant sal daar dan gereken kan word?
Nog artikels deur Piet du Plessis:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.
Ek is meer as bewus van die problematiek rondom die instroming van onwettige immigrante in Suid-Afrika. Dis egter 'n onderwerp op sy eie, wat nie die nóg groter gevaar wat ek probeer uitwys het, negeer nie. Inteendeel, dit maak dit net nog makliker vir die haters om sommer nog “wit vreemdelinge” ook in die pot van ongewenstes te smyt wanneer die tyd daarvoor reg is.
Lees gerus die bekende R.W. Johnson se artikel wat op The Common Sense verskyn het. Hier is die skakel, gevolg deur 'n aanhaling wat aansluit by my eie vrese soos met die lesers gedeel:
“The hopeless mismanagement of this matter (xenophobia) by the present government has brought us to the verge of mob rule and allowed irresponsible populists to take the lead.”










