Ons ken almal die pleidooi dat “praktiese oplossings” vir probleme gevind moet word. Wat presies hiermee bedoel word, is dikwels nie heeltemal duidelik nie. Wat meermale die geval is by die oppering van hierdie beskrywing, is dat vinnige oplossings, eerder as werkbare en volhoubare oplossings, aan die bod kom. Sosiale vraagstukke soos behuisingsprobleme, werkloosheid en ongelykheid, of persoonlike kwessies soos gewig en depressie, word byvoorbeeld aangespreek deur onmiddellike oplossings aan te bied wat allermins weldeurdag of bevredigend is op die lang duur.
Belangrik om te noem is dat hierdie implementeerders, soos hulle graag na hulleself verwys, daarop aanspraak maak om by voorbaat voorkeur by besluitneming te kry aangesien die praktiese ingesteldheid sonder oorweging moreel meerderwaardig teenoor ander oplossings is. Die filosoof Immanuel Kant het selfs beweer dat wat hy “praktiese rede” genoem het nie blootgestel hoef te word aan die toets van koherensie indien dit voortspruit uit goeie motiewe nie.
Die praktiese vraagstuk noodsaak 'n dringende oplossing, nie onnodige geredekawel nie, en hoe groter die krisisse word, hoe minder tyd is daar vir gesprekvoering. Die sleutelwoord wat die deurslag tot praktiese oplossings gee is gewoonlik “effektiwiteit” – sigbare uitwerkings wat alle bevraagtekening by voorbaat in die kiem smoor. Die hulpmiddels wat daarvoor aangewend word is inligting wat in die vorm van data, formules, toepassing en rapportering aangebied kan word. Rapportering word gedoen aan die bestuursklas. Volgens Catherine Liu behoort daar 'n bestekopname gedoen te word van die werklike effek wat hierdie stelsel op die samelewing gehad het: “generations of allegedly neutral experts have hollowed out public goods, degraded the public sphere, facilitated the monetization of everything from health to aptitude.”
Onderliggend aan hierdie ingesteldheid is 'n bepaalde mensbeeld, waaronder die mens die mees intelligente spesie uit hoofde van sy uitsonderlike pragmatiese ingesteldheid is. Die menslike brein is volgens hierdie mensbeeld bedraad om praktiese en effektiewe oplossings te vind vir probleme, hetsy vir voorsiening aan basiese behoeftes, of aan bepaalde vraagstukke.
Ek sou hierteenoor onomwonde beweer dat die mens intelligent is juis omdat hy, deur onder meer sy denkvermoë, hom van die bevrediging van onmiddellike behoeftes kan weerhou. Indien die mens so pragmaties ingestel was as wat eersgenoemde aanname veronderstel, dan sou ons byvoorbeeld nie soveel moeite gemaak het om die nodige voedingstowwe in ons liggame te kry nie; ons sou ons soos ander primate bloot van insekte in die onmiddellike omgewing bedien het. Ons sou nie soveel verhoudings vorm en soveel moeite maak met hierdie individuele persone nie, ons sou bloot in 'n kollektiewe geheel opgeneem wees en ons kollektiewe behoeftes bevredig sonder verdere diepte.
Die mens is nie bloot 'n wese wat aan die hand van 'n bepaalde stel behoeftes sy lewe inrig om daardie behoeftes te bevredig nie. Sy behoeftes word mettertyd gevorm deur omstandighede, geskiedenis, toekomsverwagtings, praktyke, denke en verhoudings. Dit is uit hierdie geheel dat optrede voortspruit, nie uit oorvereenvoudigde behoeftebevredigingspiramides nie. Samelewings koester aan die hand van 'n kombinasie van bogenoemde sekere praktyke, kos, simbole en dies meer. Sosiale praktyke word ooreenkomstig met dit wat deur die samelewing gekoester word oor tyd bepaal.
Die geheel van die mens se omstandighede is nie staties nie, wat ook beteken dat aanpassings gemaak word tot idees wat handel oor die gepasde optrede. Vir Aristoteles is die regte optrede nie geskei van insig nie. Selfs by basiese etiket maak ons gebruik van ons oordeelsvermoë om die paslikheid en maat van die etiket in 'n bepaalde situasie vas te stel. Aristoteles het hierdie optrede “praktiese wysheid”, oftewel phronesis genoem. Hiermee distansieer Aristoteles hom van 'n statiese begrip van die goeie ten gunste van een wat aanpasbaar is sonder om op te gaan in 'n relativisme of 'n direkte pragmatisme.
In 'n ander essay met die vertaalde titel “Oor die gesegde: dit mag miskien in teorie waar wees, maar dit geld nie in die praktyk nie”, wys Kant daarop dat optrede by die mens nie gestroop is van denke nie, maar omgekeerd ook dat denke nie sonder ondervinding funksioneer nie. Anders gestel: om denke en praktyk uitmekaar te hou is nóg 'n goeie idee, nóg prakties uitvoerbaar. Idees beïnvloed ons optrede en ervaring ons denke. Hierdie algemene reël is ook van toepassing op morele optrede, of dit nou deur goeie motiewe onderlê word of nie, anders as wat Kant by die “praktiese rede” beweer het. Die bekende uitspraak van Marx dat genoeg tyd deurgebring is met interpretasie, en nou het die tyd vir verandering aangebreek, getuig eweneens van 'n houding waarin prakties-morele oplossings so helder en vanselfsprekend geword het dat geen verdere interpretasie verlang word nie.
Die blote inrig van 'n samelewing om voorafgegewe uitkomste te bereik sonder om die toepasbaarheid en effek te ondersoek, soos baie tans doen, is allermins pragmaties. Dit is nie net ideoloë nie, maar administrateurs wat aan die stuur van sake by heelparty instellings sit, en pragmatiese sakemanne, ingenieurs en rekenmeesters wat beleide toepas. Wanneer 'n mens so toepassingsgedrewe is dat daar geen ruimte vir vrae ontstaan nie, dan word mens in werklikheid blind vir die onderliggende probleme, en namate negatiewe nawerkings intree, word die “pragmatiese oplossings” nog meer dogmaties toegepas.
Die probleem hiermee is verder dat die pragmatiese ingesteldheid 'n instrumentele begrip skep van die werklikheid waarin die natuur en die samelewing manipuleerbaar tot die doelwitte en behoeftes van 'n persoon word. Die moderne mens het nog nie na behore die effek van die manipulering van die omgewing, die samelewing en selfs sy eie liggaam in oënskou geneem nie.
Iemand noem onlangs aan my dat 'n samelewing basies kies tussen twee opsies: intelligensie of brutaliteit. Sonder intelligente besluitneming word goedgelowige optrede aangemoedig wat maklik kan oorskakel in despotiese dominering. Sodanige dominering moet met idees en optrede beveg word, nie met 'n naïwe neutrale pragmatisme nie.
Om te prakties te wees, is immers 'n vorm van waansin, het 'n bekende ridder van La Mancha eens opgemerk.
Dr Hercules Boshoff is 'n navorser en skrywer, tans woonagtig in Stellenbosch. Sy nuutste boek Verantwoording is tans beskikbaar by Naledi uitgewers.
Nog artikels deur Dr Hercules Boshoff:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.








