Van laertrek, wegtrek en saamtrek
As Afrikaner en as 'n Suid-Afrikaner is ek hier en ek kan nie anders nie.
'n Paar maande gelede word ek wakker en lees dat die Amerikaanse President, met 'n oordrewe handtekening, vir my en almal wat soos ek praat tot moontlike vlugtelinge verklaar het.
Wel, ek sê almal wat soos ek praat, maar ek dink hy bedoel eerder die wat soos ek praat en lyk, maar dit daar gelaat. Ek lê toe in my bed en dink oor die Afrikaner, hoe ons hier gekom het, en waareen ons nou oppad is.
Nou, dit is so dat in ons kort geskiedenis as 'n volk, ons maar altyd een van drie opsies gevolg het: ons trek weg, ons trek laer of ons trek saam.
Toe lewe onder the Britse gesag te veel geraak het vir sommige, het hulle hul waens gepak, die osse gespan, en weggetrek. 'n Paar jaar later, hier waar ek nou woon in die groen, groen land van KwaZulu-Natal en toe die Union Jack begin wapper, het hulle weer terug oor die berg getrek, en die Boererepublieke gevorm. Dit is ironies dat die Boervrou wat beroemd uitgeroep het, “Ons loop liewer kaalvoet terug oor die Drakensberg as om onder Britse juk te buig!”, Susanna Smit (gebore Maritz), toe nie getrek het nie, maar gebly het; sy is in Pietermaritzburg begrawe.
Maar in die proses moes hulle soms laertrek. 'n Laer sê ons is binne en hulle is buite.
So was die Boererepublieke ook maar 'n vorm van laertrek. Apartheid was die grootste laer nog, en ons was binne, en “hulle” was buite (eintlik was “hulle” binne, dit was maar 'n deurmekaarspul) en dank die hemele ons het daardie laer redelik vreedsaam oopgebreek.
Tans gaan dinge rof in Suid-Afrika. Sommige Afrikaners het met lang tande die nuwe bedeling aanvaar. Die baie foute van die ANC regering laat ons mismoedig, en laat ons wonder oor die toekoms. Ons toekoms, hier in Suid Afrika.
Ek was 17 in 1994, en ek onthou goed die onsekerheid en die vrees. 'n Besluit moes geneem word – wegtrek of bly. Die meeste Afrikaners het gebly, sommige het gaan laertrek in Orania of Kleinfontein. Ander is Wes-Kaap toe, ander het spirituele laers getrek met groepe soos AfriForum and Solidariteit. Maar saamtrek het ons nie.
Toe kom die 2024 verkiesing, op 'n manier ons nuwe 1994, en hier sit ons nou met 'n nuwe gedierte, die Regering van Nasionale Eenheid. Ons hier in KZN, met 'n Regering van Provinsiale Eenheid. Ouma het altyd gesê, trou is nie perdekoop nie. Die DA en die ander partye, insluitend die ANC, leer dat dieselfde waar is vir koalisievorming. 'n Mens kan amper sê koalisievorming is nie soos om luukse swart 4x4’s te koop nie.
Maar die Afrikaner moet nou weereens besluit, trek ons weg, trek ons laer of trek ons saam? Trump het nou sowaar die kat losegelaat, en dit lyk of trek eweskielik moontlik is. Ons is mos nou amptelik vlugtelinge.
Martin Luther het gesê, “Hier staan ek, ek kan nie anders nie”, en so sê ek ook. Ek 'n Afrikaner, 'n Suid-Afrikaner, ek is hier, ek kan nie anders nie.
Die tyd vir laertrek is verby. Dit het nie gewerk nie. Apartheid was 'n fout, 'n wrede fout.
Laertrek in Orania of 'n onafhanklike Wes-Kaap gaan nie werk nie. Daai twak is nat. “Ja wat, dan is dit maar wegtrek!”, mag baie vir jou sê. Maar ons bloed het hier gevloei. Ons geskiedenis lê hier. Ons taal is hier geskoei. Die Afrika-son maak ons bloed warm, die Afrika-grond maak ons bloed rooi. Ons is hier, ons kan nie anders nie.
Nou is die tyd vir saamtrek. Ja, die ANC-regering was aaklig. Maar dit was nie 'n swart regering nie, dit was 'n ANC-regering. Die meerderheid Suid-Afrikaners is goeie, wetsgehoorsame mense wat ook net 'n beter lewe wil hê vir hul kinders, net soos ons. Suid-Afrika het ons nodig, en ons het almal in Suid-Afrika nodig. Die RNE is ons geleentheid om te wys dat ons as Afrikaners onsself sien as deel van die oplossing vir Suid-Afrika se vele probleme. Dit is die geleentheid vir alle Suid-Afrikaners om te wys dat hulle ons sien as deel van Suid-Afrika. As ons hande vat met die wat soos ons 'n beter land vir almal wil sien, kan ons 'n beter Suid Afrika bou.
Wegtrek is die slegste van beide wêrelde, want jy wat trek gaan nooit tuis voel nie, en ons wat agterbly sal nie 'n tuiste wees sonder jou nie. Nou is die tyd vir saamtrek. Maklik gaan dit nie wees nie, maar die Afrikaner het nog nooit teruggestaan vir berge oorsteek nie. Dit wat moeilik is, maak ons sterker, en saam kan ons selfs nog sterker wees.
Moet asseblief nie hierdie skrywe sien as 'n rooskleurige blik op Suid-Afrika nie. Ons probleme is legio, geen eenvoudige maklike oplossings bestaan nie. Misdaad en die moorde op boere op hul plase is verskriklik, so ook die moorde van gogo’s in die townships, van vroue wat net winkel toe stap, van kinders wat vir muthi verkoop word, van gay mense. Ons het 'n ernstige misdaadproblem. Korrupsie is 'n spook wat amper vrylik tussen ons rondloop, maar ons kan omdraai, as ons staam staan. Die ekonomie sukkel, en die ANC se dood is veel stadiger as wat ons sou hoop. Die die skim van die MKP staan reg om hul plek te vat.
Maar hierdie is ook óns uitdagings. As Afrikaners kan en moet ons deel van die oplossing wees.
Maar dan moet ons saamtrek. Nie net saam met ander Afrikaners nie, maar met alle Suid-Afrikaners. So as ons keuses is om laer te trek, weg te trek of saam te trek, sê ek: Oos, Wes, tuis bes.
Martin Meyer is die LUR vir Openbare Werke en Infrastruktuur in KwaZulu-Natal, en verteenwoordig die DA in die provinsiale wetgewer.
Nog artikels op OntLaer:
SOSIALE MEDIA
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.