Eendag, lank lank gelede, was daar 'n antieke stam jagter-versamelaars, bekend as die Keynesati, wat 'n grootboekstelsel onderhou het wat hulle op 'n nabygeleë kransmuur uitgekerf het. Wanneer 'n stamlid 'n buffel, bok of ander wild gejag, bessies versamel, of vis gevang het, is dit onder al die stamlede gedeel. Die voorsiener het dan sy of haar buit langs hul eie naam teen die kransmuur aangeteken. Al die stamlede kon uit die voorraad gejagte en versamelde kos eet.
Daarna was dit weer iemand anders se beurt om kos te voorsien, sodat alles mettertyd uitbalanseer en elke stamlid sy of haar deel doen. Deur hierdie kransmuur-grootboekstelsel te gebruik, het die stam daarin geslaag om alles billik te hou en te verseker dat elkeen sy plig nakom, dat elkeen sy stukkie gewig dra. Die grootboek het natuurlik ook die voordeel gebied dat dit tred gehou met watter kos nog in reserwe was. Danksy die sukses van hierdie stelsel het die stam mettertyd al hoe groter geword.
Maar toe, op 'n noodlottige dag, het daar iets verskrikliks gebeur…
Sommige lede van die stam het 'n manier gevind om die stelsel te kul, en in hul eie guns te draai. Agterna lyk dit eenvoudig, maar destyds is dit as rewolusionêr beskou: Snags, terwyl almal slaap, het hierdie stamlede op die grootboekmuur langs hul name geskryf, sonder om die werklike goedere te voorsien. Hierdie stamlede het hulself die “Bankari” genoem en kon, weens hierdie slim nuwe rewolusie gratis op die rug van die ander stamlede ry.
Vinnig het daar egter probleme ontstaan: Die hele stam, gewoond aan die rotsvaste waarheid van die kransmuur se merke, was onder die indruk dat daar meer voorrade in die stoor was as wat werklik daar was. Onder hierdie valse indruk van oorvloed het hulle meer geëet as wat hulle sou as hulle die werklikheid geken het, hulle het meer verbruik as wat nodig was, inteendeel, hulle het sommer heel dikwels tot laat in die nag feesgevier weens hierdie oorvloed van voorrade.
Eendag het die stamoudstes besluit om die grot binne te gaan waar die voorrade gestoor is, en met 'n skok besef dat dit leeg is. Verstom het hulle na die muur gekyk en probeer uitvis wat presies skeefgeloop het. Volgens die grootboek op die muur was die voorrade nog volop, tog was die stoor leeg.
Die Oudstes het gou ontdek dat die Bankari op die muur geskryf het sonder om enigiets by te dra, en het hulle gekonfronteer. Maar die Bankari het die Oudstes oortuig om by hul skandelike komplot aan te sluit, want sowel die Oudstes as die Bankari kon hierby baat ten koste van die ander stamlede, solank die ander stamlede nie daarvan uitvind nie.
Die Oudstes het vir die ander stamlede gesê om harder te werk, meer te jag, te versamel en vis te vang, want dit is hul “stamplig” om vir die res van die stam te voorsien. Wie sou immers vir die armes sorg en die paaie bou as die gewone stamlede nie minder verbruik as wat hulle voorsien nie?
Elke keer wanneer 'n stamlid hierdie diefstal deur die Bankari en die Oudstes uitgewys het, is hy of sy as 'n samesweringsteoretikus of 'n sot van een of ander aard bespot. Daarbenewens het die Oudstes beheer gehad oor wie op die kransmuur mag skryf en wie nie.
Mettertyd het die Oudstes en die Bankari buitengewoon ryk geword, want namate die goedere wat die stamlede voorsien het ingekom het, het hulle eenvoudig soveel geneem en gebruik as wat hulle wou, en dit langs hul eie name op die muur aangeteken. Die ander stamlede het onverpoos gewerk, maar kon skynbaar nooit vooruitkom nie. Dit het gelyk asof 'n soort opstand binnekort sou uitbreek namate die hardwerkende stamlede ontevrede geraak het met die situasie.
Eendag het 'n jong stamlid genaamd Satomoto besluit om in die openbaar aan te kondig dat hy 'n beter stelsel gevind het om rekord te hou van stamsake. Agterna lyk sy oplossing eenvoudig: Begin van voor af op 'n nuwe muur, maar met bykomende reëls. Enigiemand mag op die muur skryf solank hy kan bewys dat hy die goedere gelewer het wat hy beweer hy voorsien het; jy mag ook slegs op die muur skryf wanneer die hele stam dit openlik aanskou.
Satomoto en sy vroeë volgelinge is deur die Oudstes en die Bankari bespot, want hulle het onmiddellik besef dat Satomoto se stelsel 'n einde aan hul bedrogspul sou maak. Daar is gesê dat die nuwe muur nooit as 'n grootboekstelsel sou werk nie, omdat dit geen Oudstes gehad het om dit te beheer nie.
Maar gou het al die stamlede wat gekies het om op Satomoto se muur te skryf, ryker geword as die stamlede wat nog op die Oudstes se muur geskryf het. Nie omdat hulle beter of hardwerkender was nie, maar eenvoudig omdat 'n groot persentasie van die vrugte van hul arbeid nie deur die Oudstes en die Bankari gesteel is nie.
Stadig maar seker het al hoe meer stamlede Satomoto se muur begin gebruik, totdat daar uiteindelik net die leë en valse inskrywings van die Oudstes en die Bankari op die Oudstes se muur oorgebly het. Satomoto het daarin geslaag om die Oudstes se muur vreedsaam te omseil en sodoende vrede en voorspoed vir al die stamlede te verseker.
Hierdie plasing het oorspronklik in Engels op die Economic Heretics Substack verskyn en word met vergunning vertaal.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.









