Nee, China gaan nie (binnekort) die VSA as ekonomiese moondheid verbysteek nie
Feite, fiksie, en die ou-nuwe wêreldorde.
Elke kort-kort word voorspel dat China vir die VSA as die wêreld se grootste ekonomie gaan oorneem. Dit is 'n ou menslike swakheid om komplekse gebeure en voorspellings tot 'n aftelkalender te vereenvoudig. Wat klimaatsverandering betref, word daar al vir 'n eeu lank gesê dat ons net nog tien jaar oor het voordat rampspoed ons tref. In Mei 1969 het die VN se sekretaris-generaal, U Thant, byvoorbeeld gewaarsku dat die mensdom “minder as tien jaar” het om 'n omgewingskrisis af te weer. In 1989 is 'n UN-amptenaar (Noel Brown) wyd aangehaal dat ons “'n dekade” het om aardverwarming te stuit, 'n soortgelyke dramatiese sperdatum wat later bloot net gekom en gegaan het. En meer onlangs is die IPCC se 2018-verslag oor 1.5°C se verhoging in die aarde se temperatuur in die openbare debat omskep in “net 12 jaar oor”. En tog stap ons nog te heerlik aan na 2030 toe en die banke gee te graag 20 jaar huislenings uit ten spyte van die katastrofe wat op pad is.
Die punt is nie dat klimaatrisiko’s nie werklik is nie maar dat die menslike brein hou van binêre, dramatiese draaiboeke met 'n duidelike skurk, 'n duidelike held, en 'n duidelike nou-of-nooit einddatum. Só verteer meeste mense ons chaotiese wêreld.
So ook die voorspellings dat ander lande die VSA se ekonomie binnekort gaan verbysteek. Die VSA is al lank (op die maatstaf van nominale BBP in dollar) die wêreld se grootste ekonomie, en dit bly vandag nog so. Die Wêreldbank se jongste landprofiele wys die VSA se BBP (2024) steeds beduidend groter as China s’n.
In die 1950’s is voorspel dat die Sowjetunie die VSA ekonomies (en militêr en maatskaplik) sou verbysteek. Selfs Westerse intelligensie- en beleidskringe het op sekere punte geglo die Sowjet-model het 'n historiese wind in sy seile. Maar dit het nooit gebeur nie.
Toe sou Japan die VSA verbysteek. Dis moeilik om in vandag se konteks die psigologie van die 1980’s behoorlik vas te vang, maar Japan was nie net ryk nie, Japan was “die toekoms.” Boeke en ontledings het Amerika se “onvermydelike” agteruitgang as 'n feit hanteer. Ezra Vogel se Japan as Number One het 'n era vasgevang waar mense gedink het Japan se model is nie net suksesvol nie, maar noodwendig oorheersend. Herman Kahn het selfs voorspellings gemaak wat Japan se ekonomie teen 2000 as 'n superstaat in die vooruitsig gestel het. Ons weet nou hoe daardie film geëindig het.
En deesdae is dit China. Ek was onlangs op RSG se program Kommentaar saam met Max du Preez toe hy aangevoer het dat die wêreld nou sigbaar “wegbeweeg” van Amerika af en dat leiers soos Kanada se premier eerder in Beijing gaan aanklop en Piet Croucamp skryf kort ná die begin van Donald Trump se tweede termyn verlede jaar dat China besig is om die leierskapsvakuum te vul en die nuwe spilpunt van die wêreldorde te word.
China vs die VSA
Met die onstuimigheid en onvoorspelbaarheid van die VSA onder die Trump-administrasie voer talle ontleders aan dat China nou amptelik die wêreld se voorste moondheid word. Hierdie argument word dikwels met 'n PowerPoint-wetenskap gesteun met iemand wat 'n netjiese reguit tendenslyn oor China en die VSA se BBP-grafieke trek en dan met groot erns verklaar dat China soos 'n onstuitbare trein op ’n spoor vir Amerika “onvermydelik” gaan verbygesteek.
Maar hierdie voorspellings weerspieel die binêre behoefte aan 'n eenvoudige opvolger-verhaal. Nou dat die liberale wêreldorde nie van die VSA se (al hoe meer openlike) verwerping van die reëlsgebaseerde wêreldorde hou nie, wend talle hulself na die naaste beste alternatief en skielik is die eens “bose China” die nuwe wêreldhoofseun. Dit is dieselfde denkwyse wat vinnig Ramaphoria ontwikkel het na die Zuma jare, ondanks Cyril Ramaphosa se teenwoordigheid as adjunk-president deur die einste rampspoedige Zuma bewind asof Ramaphosa uit 'n politieke klooster staatshoof geword het. En nou sit ons verbaas dat sy twee termyne nie so lekker verloop nie. Ons is amper so shocked soos Cyril.
Die behoefte van talle ontleders vir die VSA om sy wêreldhoofseun-balkie te verloor is skynbaar groot. Mens sien dit selfs in ons eie Suid-Afrikaanse kommentaarklas. Maar die probleem is dat hierdie gevolgtrekkings meer oor gemoedstoestande as oor strukturele werklikhede gaan en strukture is presies waar die groot beperkinge vir China lê.
Ek het geen twyfel dat, sou die MAGA-beweging in 2028 deur Demokrate vervang word, die praatjies oor China as wêreldmoondheid skielik sal verdamp, nie omdat die feite verander het nie, maar omdat die emosionele behoefte verander. Maar dit daar gelaat.
Daar is volgens my drie redes hoekom China nie die VSA binnekort as moondheid gaan verbysteek nie.
1) Geboortes: demographics is destiny (veral as jy oud raak)
China se demografiese krisis is nie 'n toekomstige probleem nie. Dit is nou op China se voorstoep. Volgens die land se eie amptelike statistiek het sy bevolking begin krimp, en die geboortesyfer het oor die afgelope paar jaar telkens nuwe laagtepunte getref. Die Wêreldbank se data wys ook die langtermynval in vrugbaarheid. Daar is talle ontleders wat selfs beweer dat China se totale bevolking vir dekades oorskat is. Sommige demograwe, soos Yi Fuxian, voer aan dat China se amptelike bevolkingsyfers oor 'n lang tydperk opgeblaas is onder meer omdat plaaslike owerhede aansporings gehad het om syfers te oordryf, sodat hul meer befondsing kon ontvang.
Die realiteit is 'n kleiner werksmag, 'n groter pensioen- en gesondheidslas, en stadiger ekonomiese groei. Voeg daarby saam die nasleep van die eenkindbeleid (en die land se ouderdomspiramide wat nou soos 'n omgekeerde Kersboom lyk) en jy kry 'n land wat ryk moes word vóór dit oud word maar wat nou oud word vóór dit ryk genoeg is.
Amerika het ook demografiese probleme, maar sy grootste troefkaart wat China nie het nie is grootskaalse immigrasie. Amerikaanse amptelike vooruitskattings wys hoe bepalend immigrasie vir toekomstige groei is. En dit is sonder om myself uit te laat oor die maatskaplike gevolge van die VSA se immigrasie beleid voor Trump. Hoe gebroke ook al die VSA se immigrasie was en dalk steeds is dit lok nog steeds mense en dikwels van die beste.
2) Vryheid
Die Chinese ekonoom Keyu Jin (haar onderhoud met Lex Fridman is 'n moet) argumenteer dat die Westerse spotbeeld van China as 'n enkel, monolitiese bevelstelsel mis die meer gedesentraliseerde realiteit van hoe groei in China lank gewerk het met plaaslike regerings, mededinging, eksperimentering en pragmatisme. China se sukses was nie net “beplanning” nie maar dit was ook 'n unieke, opportunistiese mengsel van staatkrag en markgewoontes.
Maar hoe meer die Chinese stelsel in die afgelope dekade gesentraliseer en gepolitiseer word, hoe moeiliker word dit om die ou formule van plaaslike waagmoed en vinnige foutregstelling voort te sit. Innovasie floreer waar mense mag probeer, faal, meeding, en weer probeer met genoeg ruimte vir nuwe idees (al is hulle van elders gesteel). En China het toenemend hiervan af wegbeweeg volgens Jin.
Amerika se vryemark is gebroke en nie perfek nie, maar dit het steeds 'n voetsoolvlak instink vir vernuwing en kapitaalmarkte wat risiko beloon, universiteite en private laboratoriums wat meeding, en 'n kultuur wat (ten spyte van nuwe ideologiese taboes) nog relatief meer ruimte laat vir afwyking. China maak indrukwekkende tegnologiese spronge maar die sprong van “uitnemend in sekere sektore” na “dominant as wêreldmoondheid” vereis 'n institusionele soepelheid wat onder die politieke verharding van outoritêre stelsels afneem.
3) Die dollar is meer as net 'n geldeenheid
Selfs al groei China vinniger, bly die wêreld se finansiële ruggraat duidelik Amerikaans.
Die Internasionale Montêre Fonds se COFER-data wys die Amerikaanse dollar bly verreweg die grootste reserwegeld met meer as die helfte van gerapporteerde wêreldreserwes.
Verder wys die Bank vir Internasionale Verrekenings (BIS) se 2025 drie jaarlikse opname die dollar is aan minstens een kant van bykans 90% van wêreldwye FX-transaksies is. En die Amerikaanse tesouriemark is die grootste sekuriteitsmark ter wêreld, die hoofstroom vir globale kapitaal met nagenoeg $30 triljoen in markbare skuld uitstaande.
Dit is wat mense mis wanneer hulle BBP-ranglyste en tendenslyne met “moondheid” verwar. China se model het intussen groot binnelandse strukturele pyne wat groei “duur” maak soos 'n afwaartse eiendomsmark groot plaaslike regeringskuld en kwynende produktiwiteit. Die IMF waarsku oor kwesbaarhede in China se finansiële stelsel en ook oor druk weens die hoë skuldvlakke op hul plaaslike regeringsvlak. Europese en ander ontledings wys ook hoe totale produktiwiteit oor tyd verlangsaam het. En selfs waar China sy 2025-groeiteiken haal, was dit opvallend afhanklik van uitvoere te midde van swak huishoudelike vraag en 'n sukkelende eiendomsektor.
Die VSA met sy gebroke en nie perfekte vryemarkstelsel sal steeds vir die voorsienbare toekoms koning kraai, ten spyte van Trump se ekonomiese ongeletterdheid. Juis omdat Amerika se krag nie net in beleid lê nie, maar in stelsels wat presidentskappe oorleef. Die diepte van sy kapitaalmarkte, die dollar se netwerk-effek, 'n entrepreneurskultuur waar kapitaal vinnig kan skuif, en 'n institusionele vermoë om foute stadig, knorrig, maar uiteindelik reg te stel.
Selfs heffings en 'n meer proteksionistiese benadering deur die Trump-administrasie verander nie oornag die wêreld se basiese infrastruktuur nie. En waar Trump se beleid werklik skade doen, is die ironie dat dit dikwels die skade is wat die res van die wêreld nóg meer terugdryf na die dollar.
Met ander woorde die VSA se ekonomie is nie perfek maar dit is 'n robuuste ekosisteem. Dit kan swak leierskap absorbeer, oorleef, en die koers later weer korrigeer. China se stelsel, met sy groter politieke sentralisering, het minder ruimte vir sulke selfkorrigering wanneer ’n verkeerde sein van bo af die hele stelsel se risiko-aptyt gelyktydig afskakel.
Trouens die redes hoekom talle glo dat Trump die VSA op 'n dwaalspoor plaas wat gaan lei tot Amerika wat sy internasionale podiumplek verloor, is dikwels juis die rede hoekom dit nie gaan gebeur nie. Optrede soos die hardhandige hantering van teenstanders, die onbeskaamde gebruik van hefboommeganismes, die bereidheid om ongewild te wees, dit is alles klassieke moondheidsgedrag. Die VSA se status as moondheid was nog nooit afhanklik van sy respek vir internasionale reg as 'n morele raamwerk nie. Dit het afgehang van sy vermoë om die wêreld se spelreëls te skryf, te buig, en af te dwing.
Slot
China is ongetwyfeld 'n reusekrag in terme van ekonomie, tegnologie, en geopolitiek. Keyu Jin is reg dat China nie bloot 'n spotbeeld is nie, en dat die land se sukses uit 'n komplekse mengsel van staat, mark, en plaaslike dinamika gekom het. Maar dit beteken nie die kroon is op pad Beijing toe nie.
Die geskiedenis is vol sekerhede wat later soos modes lyk: eers die Sowjetunie, toe Japan, nou China. Die menslike behoefte aan 'n opvolger-narratief is sterk. Maar intussen bly die harde ankers van demografie, institusionele vryheid, finansiële hegemonie, en globale netwerke steeds veel meer Amerikaans as wat die week se ontleders graag wil erken.
NS: Ek besef dat dit redelik ironies is dat ek net verlede week geskryf het oor hoe disproporsioneel die media-aandag op Trump en sy administrasie is en nou skryf ek onder andere weer oor hulle. Maar nou ja.
Nog artikels deur Daniël Eloff:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










Daniël, ek besef dit gaan hier oor menings, en nie wetenskap nie - maar jy maak 'n hele paar aanvegbare stellings. Die groot een is natuurlik Trump se beweerde "ekonomiese ongeletterdheid". Ek sou graag wou sien waarop jy daardie stelling grond.
In teendeel, as jy dit bietjie nagevors het, sou jy geweet het dat Trump 'n B.Sc. in Ekonomie het (van die Universiteit van Pennsyvania, Mei 1968). Hy is juis 'n suksesvolle besigheidsman, die eerste president in 'n hele paar jaar wat dit kan sê. Vir my lyk dit inteendeel juis of hy ekonomiese beginsels verstaan? Ongeletterd? Ek weet darem nie.
Dit is ook interessant dat jou vergelykings tussen lande die dollar-waardes as basis gebruik. Die waarheid is dat China al dekades lank sy geldeenheid kunsmatig swak hou, wat hom groot uitvoer-voordele gee - iets waaroor Amerika lankal ongelukkig is. Kan mens regtig net in dollar-terme hierdie vergelykings tref? Volgens omtrent enige ander maatstaf is China reeds gelyk, of dalk voor. Dalk moet jy eerder kyk na produksiesyfers, nywerheids-uitsette, uitvoere, minerale, reserwes (anders as dollars), werkloosheid, produktiwiteit, ens?
Ten slotte: jy beskuldig mense wat dink die VSA se rol gaan in die toekoms verklein, van 'n "binêre behoefte aan 'n eenvoudige opvolger-verhaal". Ai, as die wêreld maar net so eenvoudig was!
Groete, en dankie vir die gesprek - dit is 'n belangrike een.