Anderkant Ekonomistifikasie
Die gelaagde samelewing benodig meer as ekonomiese formules.
Eugene Brink skryf verlede week 'n stuk waarin hy kritiek uitspreek teen 'n gesprek by die Stellenbosse Woordfees, waartydens alternatiewe vir die gesin bespreek is. My eie standpunt oor die gesin, soos onlangs verwoord, is dat die gesin inherente waarde dra en onontbeerlik is vir sowel die florering van die individu en die sedelike samelewing.
Daarom verg Brink se gevolgtrekking dat die filosofie aanspreeklik gehou moet word vir die bogenoemde sienings eers nadere ondersoek, alvorens die filosowe soos Sokrates van ouds goedsmoeds van die markplein verjaag word.
Die oproep wat Eugene maak vir die praktiese, ekonomiese ingesteldheid om te seëvier oor die ideologiese, is gegewe sy eksplisiet anti-Marxistiese inslag, ironies aangesien daardie verhewe toeskrywing aan die ekonomie afkomstig is van niemand minder nie as Marx self. Dit is egter niks nuuts nie: N.P. van Wyk-Louw het al uitgewys dat daar 'n Marxistiese opstelling van die denker onder die Afrikaner vaardig is, waarvolgens die enigste nut van die denker is dat die denker in Stalin se terme 'n soort “meningsingenieur” moet wees wat “hardhandig rondgemaneuvreer kan word” (dis nou as die denkers nie sommer self ingekoop het by die kitsoplossings van die dag nie). In hierdie scenario, verleen denkers hoogstens tydelik gravitas aan die praktiese oplossings wat deur “hoër” kenners soos ekonome bedink word, totdat dit oorbodig raak. Onlangs bepleit die ekonoom Dawie Roodt selfs dat politieke wetenskap as vak geen nut vir die samelewing inhou nie (!).
Dalk dien Mozart se towerfluite beter diens as vuurhout en is olieverf meer nuttig vir advertensieborde as vir skilderye!
Probleme van die verlosse ekonomie
Hierdie toedrag van sake is nie eie aan ons konteks nie. Jean-Pierre Dupuy skryf in sy boek Economy and the Future:
“Little by little, Economy emancipated itself from the shackles of the sacred. Once held in check by religion, and then by politics, it has today become both our religion and our politics.”
Hartmut Rosa wys in sy boek The Uncontrollability of the World op die klakkelose toepassing van ekonomistiese raamwerke in die politiek:
“From Margaret “There Is No Alternative” Thatcher to Gerhard “Basta!” Schröder, the belief has set in among political leaders that the basic parameters of political action are defined by markets, processes of globalization, and the logic of competition. They themselves have no control over these processes; there is no alternative.”
Ten dele is die gesag van ekonomiese denke afkomstig van die persepsie dat dit in die koue, harde feite gegrond is, feite soos “gelykheid”, 'n “onsigbare hand”, of les bes, die biologiese insig van “selfsugtige selle”. Laasgenoemde idee is veral invloedryk en is gemunt deur Richard Dawkins, wat hierdie begrip aanbied as plaasvervanger van die “God delusion” wat die samelewing vir so lank na sy mening mislei het. Dawkins beskou die mens as niks meer as oorlewingsmasjiene nie, wat hy beskryf as “robot vehicles blindly programmed to preserve the selfish molecules known as genes.” Hiermee bied Dawkins biologiese begronding vir Adam Smith se idee dat die bakker en die slagter uit selfsug werk en nie uit medemenslikheid nie (anders as Aristoteles wat verwys na dokters en ander beroepe waar medemenslikheid onlosmaaklik verbonde is aan die arbeidsdaad). Heelparty kundiges in die biologie beweer dat dit eerder Dawkins se “selfish gene” is wat 'n misleidende skyn is, en dat dit glad nie ondersteun word deur die ooglopende gegewe van simbiose in die natuur nie.
'n Atomistiese opvatting van die werklikheid waarbinne die verwikkelde aard van menslike bestaan gereduseer word tot vereenvoudigde meganismes is gemeenplaas in die ekonomiese vakdissipline. Marx het juis in die Kommunistiese Manifes opgemerk dat die bourgeoisie by die voltrekking van die revolusie “'n mees revolusionêre rol gespeel het”. Dit is dan geen verrassing dat die grondslag van die idee van die afskaffing van die gesin, voorberei is in die werklikheidsopvatting wat die almagtigheid van die mark en die oppermagtigheid van individuele keuse (al is die persoon nog onmondig) bo alle ander paradigmas stel nie.
Die gelaagde samelewing
Anders as hierdie slagspreuk – “there is no alternative” – wat oorgawe aan ekonomistiese raamwerke voorstaan (waarvan die een pool die volledig selfaangewese individu is en die ander pool die burger as blote verlengstuk van die staat), is daar wel 'n alternatief wat ek ter oorweging wil voorlê.
Daar bestaan lae tussen daardie twee pole wat moeilik verreken word in die ekonomistiese paradigmas. Ons kan hier praat van die idee van die gelaagde samelewing. Hierdie idee is nie uniek tot 'n enkele denker of filosofiese raamwerk nie, maar is oor honderde jare in verskillende denkskole opgeneem. Hoe dink ons aan die gelaagde samelewing vandag?
Die gelaagde samelewing is waaksaam teen die alomteenwoordigheid van die mark, veral as dit kom by kinders en die toegang wat maatskappye tot hulle aandag het. Die gelaagde samelewing is waaksaam teen die misbruik van tyd, soos die misbruik van die sewende dag wat private tyd wil uitwis, en dus opgestel teen uitbranding, en ook oor die verhouding tussen allerlei instellings en die staat. Die gelaagde samelewing is waaksaam teen die oorname van die universiteit deur mense wat allerlei voorafbepaalde ekonomiese uitkomste op die denke afwing deur middel van “praktykgerigte” guru’s, oftewel “broodgeleerdes” soos Friedrich Schiller hulle noem, wat verdere nadenke en eksperimentering wil afbind ten behoewe van bemagtigingsimperatiewe wat alles reduseer tot “sosiale geregtigheid”, of “nut” soos die Dawie Roodts van ons wêreld dit wil hê.
Die filosoof Martin Heidegger het in sy opstel die Tyd van die Wêreldbeeld gewaarsku dat die universiteit die risiko loop om te verval in die alternatieflose wêreldbeeld van allerlei bevryderstryders, politici en sakelui (of die sintese tussen hierdie drie soos ons vandag sien). Anders gestel: die universiteit staan voor die uitdaging om oorgeneem te word deur die “broodgeleerdes”, deur allerlei administrateurs van uitkomstes wat daarop aanspraak maak dat hulle genees is van die “kwaal van denke”, aangesien hulle bloot uitvoerders is, die deurvloeisyfers wil laat klop vir daardie dertiende tjek en bevordering en daarom en sodoende outomaties verhewe staan bo bevraagtekening. So 'n oorname is die dood in die pot van die universiteit, soos Schiller reeds voorspel het 200 jaar gelede:
“Elke lig wat deur 'n geluksalige genie, in welke wetenskap dan ook, aangesteek word, maak hulle gebrekkigheid sigbaar; hulle veg met verbetenheid, met verraderlikheid, met vertwyfeling, omdat hulle by die skoolstelsel wat hulle verdedig, tegelykertyd om hulle bestaan baklei. Hieruit sien ons dat daar nie 'n meer onversoenbare vyand, geen nydiger beampte, geen een meer bereidwillig tot verkettering van ander is nie as die broodgeleerde.”
Wat eerder nodig is, is robuuste debat en begronde standpunte, nie alternatieflose imperatiewe wat die samelewing kortsluit om kits-utopieë te skep nie. Die verwesenliking van menslike potensiaal geskied nie sonder die politiek en grondige nadenke daaroor nie – wat Dawie Roodt nou wil afskaf. Die menslike potensiaal is ten nouste gekoppel aan die mens se politieke aard. Die mens is politieke dier, soos Aristoteles gesê het, wat beteken hy is ook zoon echon logon, die een met taal wat per slot van sake die vraag na geregtigheid denkend-dialogies bepaal en nié deur die vooraf vasgestelde formule nie.
Dis tyd om weer Marx se slagspreuk: “Vir te lank het denkers die wêreld geïnterpreteer, dis tyd om dit te verander”, te heroorweeg. 'n Wêreld en 'n lewe sonder ondersoek, soos daardie antieke filosoof op die markplein lank gelede gewaarsku het, is steeds nie die moeite werd om geleef te word nie.
Dr Hercules Boshoff is 'n navorser en skrywer, tans woonagtig in Stellenbosch. Sy nuutste boek Verantwoording is tans beskikbaar by Naledi uitgewers.
Nog artikels deur Hercules Boshoff:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.











