Die ANC het na die uitslag van die 2025 verkiesing hul strategiese dilemma aangepak: hoe om Cyril Ramaphosa se beleidsagenda voort te sit sonder 'n meerderheid in parlement.
Hy het geweet dat dit — met die EFF en MK (sowel as die ANC se Mashatile-faksie) —onmoontlik sou wees, want hulle wou sy kop laat rol. Hierdie groepe glo nie in dieselfde waardes as Ramaphosa nie. Dis toe net die DA wat dus oorbly. Maar 'n koalisie met die DA sou hom blootstel aan presies die aantygings wat hy wou vermy, naamlik dat hy uitverkoop het aan “die wittes”. Hy moes dus 'n manier vind om die DA vir vyf jaar te gebruik sonder om sy beleidsagenda op te offer, en intussen genoeg afgestane kiesers terugwen.
So is die “RNE”-rookskermregering gebore. Dit het die ANC toegelaat om die DA in te sluit, maar terselfdertyd te isoleer deur hulle te omring met kleiner partye wat maklik gekoöpteer kon word. Soos David Makura dit tydens die RNE se onderhandelinge aan my gestel het: “Please don’t reject the GNU.”
Om hierdie rede was Ramaphosa ook oneerlik oor die grootte van die kabinet, ten einde die DA verdere van invloed te ontneem. Uit die DA se oogpunt was die doel om werklike mag te bekom, veral om die ekonomie in 'n ander rigting te stuur. Daarom het hulle in onderhandelinge daarop gefokus om paragraaf 19, die magsdelingsklousule van die RNE-ooreenkoms in plek te kry, eerder as om net sitplekke te bekom. Maar dit het gou geblyk dat die ANC niks van paragraaf 19 of magdeling wou weet nie. Hulle het korrek aangeneem dat die DA:
a) onder druk van sy ondersteuners sou wees om in die RNE te bly; en
b) niks aan die ANC sou kon doen binne die RNE nie.
Dit was natuurlik tot en met die begroting.
'n Parlementêre meerderheid is nodig vir besluitneming oor die begroting, en dus kon die DA uiteindelik bietjie sy spiere wys. Dit het hulle gedoen. Deur middel van hul parlementêre hefboom het hulle die ANC gedwing om oor ekonomiese groei-verwante hervormings te praat en te oorweeg. Die ANC was amper oortuig, maar hulle het wérklik nie daarvan gehou om met die DA 'n kompromie oor enige iets te bereik nie. Daarom het hulle op 'n lotbestemde Maandagaand 'n byna-ooreenkoms met die DA verbreek ten gunste van 'n “ooreenkoms” met ActionSA oor die begroting. Uiteindelik het dit nie gewerk nie, en die Minister van Finansies, Enoch Godongwana, kon eers 'n derde begrotingspoging finaliseer met DA-ondersteuning.
Maar die begrotingsdebakel is nie die werklike mees interessante deel van die RNE tot op hede nie. Wat is, is hoe die begrotingsdebakel vir duidelikheid gesorg het oor wat die RNE inderwaarheid is. Groepe binne die ANC en die DA het gesê dat die RNE nie werk nie. In die ANC was daar woede dat die DA die ANC uitgedaag en “afgepers” het om beleidsverskuiwings op te dwing. In die DA het die begeerte om te breek gespruit uit 'n besef dat die RNE in werklikheid geen magdeling inhou nie. En tog op die punt van ineenstorting, het geen van die partye weggeloop nie. Hoekom?
Ramaphosa se ANC het twee dinge geweet:
(a) as hulle die DA uitgeskop het, sou hulle die EFF moet inlaat; en
(b) ondanks hulle misnoeë oor BTW, was die DA nie regtig 'n struikelblok vir die ANC se beleidsagenda nie.
Waarom sou hulle dus die RNE beëindig? Die DA, aan die ander kant, het besef dat hulle posisie ingewikkeld is. Sommige in die DA wou bly om die RNE as forum te gebruik om die ANC intern te kritiseer, 'n tipe interne opposisie binne die RNE. Ander was geheg aan die status en die finansiële voordele wat betrokkenheid in die RNE inhou. En ander wou desperaat voortgaan met hervorming in hul portefeuljes. Wat hulle almal oor saamgestem het, was die besef dat die DA se kiesers die DA se betrokkenheid in die RNE ondersteun. Die DA se meningspeilings toon dit daagliks. Vergeet van wat jy op X sien.
So het die DA besluit om te bly. Maar na die begrotingsdebakel het die voorwaardes van hul betrokkenheid verander. Deur duidelik te maak dat hulle nie sal vertrek nie, het die DA hul hefboom verloor. Paragraaf 19 van die RNE-ooreenkoms is nou minder werd as die papier waarop dit geskryf is. Ja, die DA kan hervormings binne hul kabinetsportefeuljes implementeer, maar daar sal geen gesamentlike eienaarskap van Suid-Afrika se ekonomiese plan wees nie. Die ANC daarenteen behou beheer, maar moet nou sluk dat die DA teen regeringsbeleid sal stem as hulle wil en selfs die regering hof toe sal sleep wanneer dit gepas en nodig is.
So waarmee sit Suid-Afrika nou? Dis nie 'n “regering van nasionale eenheid” nie, wat dit ookal beteken. Dis nie 'n veelpartykoalisie waar 'n kompromis beleidsagenda onderhandel en geïmplementeer word nie. Dis meer soos 'n parlement binne 'n parlement, maar met uitvoerende gesag. Die RNE is nou 'n versameling partye wat soms saam regeer.
Is dit voordelig vir die land? Vir die DA verbeter dit hul politieke posisie, want hulle hou hul kiesers tevrede, en as hulle slim is, gebruik hulle die platform om verdere steun te werf. Vir Ramaphosa se ANC beteken dit hulle bly aan bewind en geniet die voordele om hul poste te kan behou.
Maar wat is die nadele? Vir Suid-Afrika is die grootste nadeel dat die DA nie meer die vermoë het om die land se ekonomiese koers betekenisvol te verander nie. Die DA kan dalk aanvoer dat “sonder ons sou die situasie erger gewees het” of “as julle meer van die DA in regering wil hê, gee dan vir ons meer stemme.”
Dalk werk hierdie benadering nie vir die DA nie. Ons sal sien. Vir die ANC is daar geen werklike nadeel nie, maar hulle probleem lê nie by die RNE nie, dit lê binne die ANC self.
So hier is dus waar ons staan: 'n regering wat nie die ekonomie omdraai nie, maar ook nie afstuur teen 'n krans nie. Ons het 'n regering wat soms eensgesind is, maar ook soms teen hulself in die hof optree. Soms sal hulle saamstem, soms nie. En so gaan dit voort.
Ek dink is beter dat die DA in die RNE is en nie die EFF nie. Maar 8 miljoen mense is werkloos, 20 000 word jaarliks vermoor, kinders kan nie lees of skryf nie. Om polities bestendig vir jou party op te tree is belangrik, maar nie voldoende nie. Die DA moet 'n manier vind om werklik ekonomiese verandering te bewerkstellig. Tans kon dit nie daarin slaag nie, ongeag die uitkoms van die plaaslike verkiesings volgende jaar.
Ek dink steeds die RNE is die regte idee. Maar die DA moet hard baklei om die ekonomie te red omdat ekonomiese sukses in Suid-Afrika die sleutel tot sukses is. Maar om die ekonomie te laat groei gaan baie moeite en bakleiery behels.
Politiek gaan nie net oor om mag te wen nie. Dit gaan oor om goed te doen as jy dit kry. En om te sê, “ons het die Titanic laat stadiger sink” is nie die punt van politiek nie.
Hierdie artikel is vertaal met die toestemming van die oorspronklike skrywer, Ryan Coetzee. Coetzee is ‘n oud-parlementslid en politieke raadgewer
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
Wil jy stukke soos dié direk in jou inboks ontvang en ons werk ondersteun? Teken hieronder in: