Sosialisme: Die bodemlose put van slegte idees
Ideë-onkruid oor 'n genasionaliseerde Reserwebank is moeilik om uit te skakel.
Elke generasie het iets om mee te spog, iets wat hulle generasie 'n klein bietjie beter as die res maak.
Vir vandag se jeug is dit sekerlik tegnologie en allerlei vorms van kunsmatige intelligensie. Die kinders van die 80’s kan dalk spog met tydlose musiek waarna die res van ons nou nog luister; 'n dekade vol treffers, ongeag jou smaak en voorkeure. Vir my generasie, ons wat met die draai van die millenium op laerskool was, is dit sekerlik films. Tussen die Harry Potter-reeks, Lord of the Rings, Shrek, en The Fast and The Furious (as jou ouers effens meer vergunnend oor die soort ding was) het die jaar 2001 vir genoeg tydlose filmteaterpret gesorg om 'n leeftyd te hou. Dat hierdie films visuele meesterstukke was, is sonder twyfel, maar hul ideologiese diepte en kulturele deursettingsvermoë maak hul belangrikheid blywend, en gooi hul skadu’s oor die dekades heen.
Maandagoggend, toe ek my week begin deur te loer wat verlede week in die Parlement gebeur het, het een van hierdie lewenslessies uit 2001 my skielik weer bygeval: Pasop vir die vallende monster se swaaiende sweep. Ek is ten diepste daarvan oortuig dat enigiemand wat 'n inleidende kennis oor die geskiedenis van die 20ste eeu het deeglik daarvan bewus moet wees dat sosialisme en die nasionalisering van privaatinstellings uiteindelik katastrofies is. Juis omdat ek so oortuig daarvan is, het wetsontwerp B26—2018, wat tans oop is vir openbare kommentaar, my aan Gandalf van Lord of the Rings-faam se enkels herinner. Gandalf het die Balrog, die diep donker boosheid, oorwin. Met dalk die mees bekende woorde van die hele reeks, het Gandalf duidelik gemaak dat die Balrog nie verby sal kom nie, dat hy soos Naas, nie sal paas nie. Nietemin. Die boosheid val, maar sy sweep swaai steeds.
Malema se oogmerke met B26-2018
Die wetsontwerp skrap sleutelaspekte van die huidige Reserwebankwet. Dit sluit omskrywings soos “aandeelhouer” en “verkose direkteur” in wat verdwyn, terwyl die mag om direksielede aan te stel en selfs ouditeure te benoem, regstreeks in die hande van die tersaaklike minister beland. Die rede vir hierdie verskuiwing, volgens die wetsontwerp, is eenvoudig: om die staat die enigste aandeelhouer van die bank te maak en sodoende "demokratiese beheer" oor die bank te verseker. Dit maak meer sin om dit sommer hier te plak:
“Demokratiese beheer” klink mooier as wat dit in praktyk is. Wat dit wérklik beteken, is dat politieke invloed die plek van verantwoordelike monetêre bestuur, en internasionale vertroue, inneem. Die onafhanklikheid van 'n sentrale bank is nie 'n toevallige of tegnokratiese uitvinding nie – dit is 'n tydbeproefde skans teen populistiese druk en kort oorwinnings wat inflasie kan opstoot en langtermyn ekonomiese stabiliteit ondermyn. Suid-Afrika het reeds gesien wat gebeur as politieke dryfvere monetêre beleid verdring – dit was immers die pad na hiperinflasie wat in Zimbabwe gestap is.
Van Waghond tot Skoothond
Julius Malema se wetsontwerp gee aan die minister van finansies nie net die reg om direksielede aan te stel nie, maar ook om ouditeure te kies, luidens artikel 13 van die wetsontwerp. Die beginselfout is dat dieselfde party (of Party) die bestuur en die toesighouer moet aanstel – 'n klassieke geval van die jakkals wat die hoenderhok oppas. Die instellings wat veronderstel is om die mense te beskerm, word sogenaamd in die die naam van “die mense” in diens van die maghebber geplaas. 'n Duur fout. 'n Dom fout. In plaas daarvan dat die SARB 'n onpartydige bewaker van inflasie en rentekoersbeleid is, word dit 'n werktuig van die regering. Hierdie instrumentalisering van monetêre beleid het geskiedkundig gelei tot die ondermyning van beleggersvertroue, kapitaalvlug en inflasie, wat natuurlik gewone burgers se spaarrekeninge eenvoudig uitwis.
Demokrasie vereis balans, nie konsentrasie nie
In die 51ste uitgawe van die Federalist Papers skryf een van die VSA se stigtersvaders James Madison die besondere woorde “If men were angels, no government would be necessary.”
So reg as wat Madison is, moet ons nie vergeet nie, dat dit ook mense is wat in regeringsposte staan. Selfs in die beste demokrasie is selfsugtige, partydige mense aan stuur van sake. Ware demokrasie floreer op skeiding van magte, op teenwigte en magbalanse - dus, as niemand heeltemal tevrede is met die hoeveelheid mag wat hom toegedeel is nie. Om die SARB te steel, en in 'n staatsinstelling te omskep sonder enige private of onafhanklike insette, is om daardie balans weg te neem en ekonomiese mag by 'n enkele politieke entiteit te konsentreer.
Die Vrees vir “Politiek-Monetêre Beleid”
In 'n land waar die ekonomiese bestuur reeds onder druk is, bring die sentralisering van die SARB 'n bykomende risiko van politieke inmenging. Sal rentekoerse aangepas word vir ekonomiese redes, of vir verkiesingsveldtogte?
In 'n land waar Eskom elke jaar skielik tydens die Staatsrede die elektrone bymekaar kan skraap wat hulle heeljaar lank nie kon vind nie, word bevestig dat so 'n benadering tot die SARB ten minste 'n realistiese moontlikheid is. Sal inflasieteikens aanpasbaar word volgens die behoeftes van die regerende party? Wel, in Junie 2019 het Ace Magashule, in daardie stadium Sekretaris-Generaal van die ANC, voorgestel dat die hoeveelheid geld in omloop verhoog word. Hierdie voorgestelde “Quantititave Easing” is presies die rede waarom die Reserwebank hul bevele nie van Luthuli-huis, Winnie-Madikizela-Mandelahuis (EFF hoofkwartiere), of enige ander party se ideologiese hub moet ontvang nie.
'n Oproep om Waaksaamheid
Die South African Reserve Bank Amendment Bill van 2018 is nie net 'n tegniese wetgewingswysiging nie – dit is 'n waarskuwing. Hierdie idees, wat lande baie sterker as ons eie oornag geamputeer het, is dalk in die annale van vergangenheid oorwin, maar op die sypaadjies van Johannesburg is hierdie Balrog springlewendig.
Sy sweep swaai nog rond, reg om die niksvermoedende omie om die enkels te gryp en na onder te sleep, na 'n onder so diep dat ons dit eintlik nie regtig kan begryp nie.
Nog nie moeg vir Paul nie?
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
Wil jy stukke soos dié direk in jou inboks ontvang en ons werk ondersteun? Teken hieronder in: