Die Simboliese Krisis in Suid-Afrika
Waarom die Reënboognasie nie 'n bindende mythos is nie.
Ek skryf dikwels oor Suid-Afrika se strukturele en beleidskrisisse. Van die ekonomie, grond, nasionalisering, korrupsie, staatsverval, ensomeer. Dertig jaar na die begin van ons grondwetlike demokrasie, voel dit egter toenemend vir my asof daar 'n dieper, meer ontwykende krisis ontvou - een waarvoor beleidsverandering nie genoeg gaan wees nie.
Suid-Afrika verkeer in 'n simboliese krisis.
Lande se mythos
Lande leef nie net van wette en begrotings af nie, maar van stories. Elke funksionerende samelewing het 'n mythos. 'n Samebindende verhaal wat sin gee aan die land se bestaan, wat sy verlede verduidelik, sy waardes verklaar, en sy toekoms voorstel.
In Afrikaans kan jy mythos vertaal as volksverhaal, maar dit raak gou ingewikkeld in 'n land soos Suid-Afrika. Die term volksverhaal impliseer een volk, of ten minste 'n gedeelde kulturele agtergrond (soos in Duitsland). Suid-Afrika bestaan uit verskeie volke, tale, en toenemend geskiedenisse wat anders onthou word. 'n Mythos en 'n volksverhaal word dus vir doeleindes van hierdie artikel onderskei.
'n Mythos is 'n vorm van gedeelde betekenis wat burgers help verstaan wie hulle is, hoekom hulle saam is, en waarvoor hulle instellings staan. Amerikaanse vryheid, die Franse "République", die Britse konstitusionele stabiliteit. Dit is alles mythoi wat deur simbole, gebruike en geskiedenis oorgedra word. Sonder so 'n verhaal raak selfs die mees gevorderde samelewings tegnies en koud. En sonder 'n mythos voel mense nie hulle behoort nie.
Die nuwe grondwetlike bedeling in Suid-Afrika het aanvanklik (ten minste vir die meerderheid en vir die gemiddelde Suid-Afrikaner) 'n belowende mythos gehad. Die nuwe grondwetlike bestel was nie net 'n stel reëls nie. Dit was 'n poging tot 'n nuwe storie, die saamgeflanste land se “founding myth”, soos die Amerikaners dit sou noem.
As kind van die 1990’s het ek in daardie poging tot die vestiging van hierdie mythos grootgeword. Ons het die nuwe volkslied gesing, die nuwe vlag voor skool gehys, en ons nasionale voël, blom en dies meer gememoriseer. Ons is vertel dat ons Grondwet die beste ter wêreld is en dit was internasionaal beaam.
En hierdie mythos was nie sonder potensiaal nie. Die oorgang tussen apartheid en demokrasie was grootliks vreedsaam (ons moet nooit vergeet nie dat talle mense wel in hierdie tyd dood is in terreuraanvalle en deur die toedoen van die NP regering). Die Suid-Afrikaanse regstaat het in teks beslag gekry. Die ekonomie het tussen 1994 en 2004 so gegroei dat daar gevoel is dat iets aan die gang was wat 'n nuwe land sou skep. Selfs as regstudent, en later as praktiserende prokureur, 'n wyle na die wittebrood van die nuwe Suid-Afrika verby was, het ek opgemerk hoe daardie grondwetlike verhaal sy houvas behou het. Dit was selfs nog skerper in die regsberoep.
Trouens, ek is steeds verbaas oor hoe diep gevestig daardie storie in die regsprofessie is. Uit persoonlike ervaring kan ek getuig dat die vlak van regsargumentering in ons howe hoog is, dikwels indrukwekkend selfs teen internasionale standaarde en in vergelyking met die internasionale regsfora waar ek bevoorreg genoeg was om as prokureur te werk. En tog is daar hierdie aanhoudende gaping tussen die Suid-Afrika waarvan daar in die hof gepraat word en die Suid-Afrika waarin ons leef. Dit is duidelik wanneer daar in ons howe geargumenteer word dat dit uit 'n idealistiese grondwetlike verbeelding kom. 'n Suid-Afrika waarin reg en rede oorwin, waar die staat regverdig en bevoeg optree, en waar elke burger se waardigheid erken en beskerm word. Maar buite die hof, in die werklike land, sien ons 'n ander verhaal van dienslewering wat in duie stort, openbare instellings wat simbolies en prakties disintegreer, en 'n bevolking wat al minder vertroue het dat daardie regstaat meer is as net teks op papier.
'n Bestel wat nie meer bou nie
In Return of the Strong Gods beskryf R.R. Reno hoe die Westerse wêreld na 1945 doelbewus afstand gedoen het van vaste oortuigings. Die trauma van fascisme en totalitarisme het gelei tot 'n ideologie van oopheid (of die "open society") gebaseer op die werk van Karl Popper. Die gevolg was 'n samelewing wat alles as vloeibaar beskou het, insluitende identiteit, waarheid, gesag, ensomeer. Geen metafisiese waarhede en geen vaste kulturele kerne meer nie. Net pluralisme, prosedure en individualisme.
Suid-Afrika se 1945 was myns insiens 1994. Die vrees vir apartheid en geslote etniese identiteit het 'n bestel opgelewer wat eksplisiet anti-totalitêr in teks was. En met goeie rede. Maar soos Reno waarsku, kan so 'n bestel uitstekend wees om te rem, maar swak daarmee wees om te bou. Dit skep 'n kultuur waar betekenis agterdog wek, waar gesag slegs geduld word as dit prosedureel geregverdig is, en waar gemeenskapslewe uitskuif ter wille van die private sfeer.
As jy nie 'n samehangende simboliese kern aanbied nie, sê Reno, sal mense hulle eie “sterk gode” begin soek in die vorm van etniese identiteit, revolusionêre retoriek of populistiese verlossers. Dit alles as deel van die soeke na orde, aanvaarding en lojaliteit. Dis hoekom partye soos EFF of MK soveel energie kan mobiliseer met relatief min beleidsinhoud. Hulle bied simbole en hulle praat in terme van verlossing. Hulle belowe vir hulle ondersteuners 'n betekenisvolle plek in die wêreld al beplan of kan hulle dit nie in werklikheid bied nie. Daardie beloftes is toenemend meer in kontras met die staatsinstellings wat min betekenis en min vooruitgang bied.
Wanneer kulturele vorme verval, verval betekenis
Aansluitend hierby kyk Jonathan Pageau na die wêreld deur die lens van simboliese orde. Vir hom is kultuur nie net 'n versameling gebruike of estetika nie, maar 'n gestruktureerde verhaal waarin elke vergestalting van kultuur iets kommunikeer. 'n Hoftoga of 'n nasionale monument of 'n skoolopening. Hierdie dinge is volgens Pageau nie blote versiering nie, maar juis dit wat 'n samelewing tot 'n groter raamwerk bind.
Wanneer daardie vergestalting van kultuur begin disintegreer, sê hy, dan moet ons dit ernstig opneem. 'n Munisipale gebou wat stink van urine, 'n biblioteek sonder boeke, of 'n hof waar niemand hul toga dra nie is volgens Pageau nie bloot agteruitgang nie. Dis 'n breuk in simboliese orde. En sonder simboliese orde verloor 'n samelewing sy morele sin.
In Suid-Afrika is daardie breuke oral. Dis hoekom die land vir baie mense los voel. Die staatsverval is dus nie net 'n tekort aan dienslewering nie (dit is dit beslis ook) maar dit is ook 'n verlies aan vorm en betekenis. 'n Gevoel dat niks meer deel is van 'n groter geheel nie. Wanneer daar geen simbool van orde oorbly nie, verloor mense hul vertroue dat daar enigsins orde kan wees en verloor mens die plek as anker.
Wêreldwye probleem
In baie Westerse lande sien ons soortgelyke verskynsels van vertroue in instellings wat daal, simboliese gebare word uitgehol of erg bestrede, en die gedeelde verhaal waarbinne burgers hulself kon verstaan, verbrokkel. In Amerika is dit die stryd oor geskiedenis en identiteit. In Europa, die spanning tussen tradisie en migrasie. In Brittanje, die soeke na sin sedert Brexit gepaardgaande met die Europese kwessie van migrasie. In al hierdie gevalle is dit toenemend duidelik dat mense nie net 'n beter regering wil hê nie, maar ook 'n herstelde sin van gemeenskap en betekenis. Dit is dus 'n geestelike krisis en nie net 'n politieke een nie.
Die rede waarom die Weste tans met sy mythoi worstel, lê deels in sy eie sukses. Liberale demokrasieë het mettertyd hul eie simboliese bronne soos nasionale trots, godsdiens, tradisie, hul regeringsvorm begin wantrou. Uit vrees vir herhaling van die twintigste eeu se wreedhede het Westerse samelewings 'n afskeepkultuur ontwikkel. Alles moes vloeibaar wees en alles oop vir herinterpretasie. Maar die houding het, ironies genoeg, 'n vakuum geskep en in die leemte begin mense soek na iets sterker, wat nie net tot ‘n sekere mate onverdraagsaam is nie, maar betekenisvol.
Dis in daardie ruimte waar populisme, kultuuroorloë en radikale identiteitspolitiek nou floreer.
Simboliek is nie 'n luukse nie
Wat Suid-Afrika uniek maak, is dat ons relatief onlangse stigtingsmythos (die post-1994-verhaal van versoening en grondwetlike demokrasie) so kragtig begin het, maar so vinnig verweer het. Daar was nie genoeg instellings, leiers of kulturele vorme wat daardie storie kon dra, beskerm en verdiep nie.
Maar daar is twee groter beginsel probleme oor waarom hierdie nuwe stigtingsmythos nie pos kon vat nie. Eerstens, omdat daar van meet af gedink is dat Suid-Afrika een samehangende mythos moes hê en tweedens, hierdie stigtingsmythos loop hand aan hand met vordering op 'n ekonomiese of materiële vlak.
Die kwelling is die gedagte dat al die mense en hul tale en tradisies in hierdie land hulself moeiteloos sou kon inskakel in 'n enkele verhaal eerder as om die verskeidenheid volksverhale samehangend en versoenend saam te lees en te integreer.
Dit is wat die aanhef tot die Grondwet bedoel wanneer dit verklaar dat “Suid-Afrika behoort aan almal wat daarin woon, verenig in ons verskeidenheid.” Maar daardie verskeidenheid is selde werklik geïntegreer in die simboliese orde van die land. Die gevolg was dat die verskillende volksverhale van Suid-Afrika, of dit Afrikaans, Zulu, Khoi, Indiër, Engels of ander is, nie met mekaar begin saampraat het nie, selfs in teenstelling met die amptelike nasionale narratief. In plaas van 'n gedeelde simboliese raamwerk waarin almal hul plek kon vind, het ons 'n dun en vae staatsverhaal (nie 'n volksverhaal of mythos nie) gekry wat min mense werklik inspireer.
Die probleem was dus nie verskeidenheid nie, maar die gebrek aan 'n vorm wat daardie verskeidenheid kon dra. Simboliek, in hierdie sin, is nie 'n dekoratiewe toevoeging tot nasiebou nie. Dis die manier waarop 'n samelewing sy gedeelde waardes, herinneringe en toekoms vergestalt. Sonder dit het ons net administrasie maar geen gemeenskap nie.
'n Enkele volksverhaal is nie die enigste suksesvolle wyse om 'n mythos te skep nie. Talle lande het verskeie, wat saam 'n gedeelde mythos vorm. Die Verenigde State word dikwels aangebied as 'n land met 'n enkele verhaal, die Amerikaanse droom, en hul Grondwet as heilige teks. Maar as jy van nader kyk sien jy dis 'n mosaïek van volksverhale. Ierse, Britse, Italiaanse, Afro-Amerikaanse, Joodse, Latyns-Amerikaanse, Appalachiese, Suidelike, Puriteinse verhale. Die verhale het gebots (soms geweldadig), maar saam vorm hulle 'n groter simboliese struktuur waarin burgers hul plek kan vind. Dieselfde met die Verenigde Koninkryk. Die Engelse, Skotte, Walliesers en Noord-Iere het uiteenlopende geskiedenisse, kulture en griewe. Maar tog bestaan daar iets soos "Britishness", 'n gedeelde simboliese raamwerk waarin daardie verskille, sonder om uitgewis te word, ingebed is.
Suid-Afrika se fout was nie dat dit probeer het om 'n gemeenskaplike mythos te skep nie. Die fout was om te dink dit moet alles insluk, alles gelyk maak, en daarmee eindig in 'n vae, abstrakte, uiteindelik onpersoonlike verhaal. Wat ons nou nodig het, is nie 'n enkele, uniforme storie nie, maar 'n stel versoenbare volksverhale wat saam kan beweeg. Verskillend maar verbind deur 'n simboliese orde, deur gedeelde lojaliteite, en deur 'n erkenning dat 'n land meer is as net beleid en partye.
Selfs al begin Suid-Afrika ekonomies herstel, selfs al bou ons instellings weer op is dit die groter taak om 'n samehangende mythos te ontwikkel. Dit kan steeds 'n eerlike mythos wees, maar dit moet samehangend wees. Nadat die slaggate reg gemaak is, die spoorweë weer begin loop en mense weer begin werk kry, gaan daar gebou moet word aan 'n gedeelde simboliese struktuur waarin burgers hul plek kan herken en waar sin, lojaliteit en kultuur weer plek kry langs die reg en prosedure wat in die Grondwet beskryf word.
Nog artikels deur Daniël op OntLaer:
SOSIALE MEDIA
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.
Die krisis is nie net 'n gemis aan 'n gedeelde mythos nie, maar die resultaat van dekades se aktiewe afbreek van kulturele simbole deur ’n sentraliserende staatsvisie.