Chinese invloed skuil dikwels reg voor ons oë. Ten spyte van sy ooglopende invloed en mag, geniet die Asiese supermoondheid min lugtyd in die openbare gesprek.
Dit het egter nou begin verander danksy die groot skandaal van twee Britte wat daarvan beskuldig word dat hulle namens Beijing op die Verenigde Koninkryk gespioeneer het. Die Britse owerhede het weens onverklaarbare en verdagte redes hul pogings om hierdie beweerde spioene te vervolg laat vaar. Die Britse regering het probeer om die skuld te verskuif, maar 'n magdom teenstrydighede en onbeantwoorde vrae dui daarop dat die verhoor gestaak is om betrekkinge met China te verbeter. Gevolglik verskuif die openbare aandag nou na die breër Sino-Britse verhouding. Die Britte bevind hulself nou in 'n spreekwoordelike vertrek waar die lug swaar hang van geheimenisse en iets wat nie heeltemal pluis ruik nie.
Waarom word China as onderwerp nie deel van die openbare bewussyn en gesprek nie? Die land se grootskaalse veldtogte van spioenasie, kuberkraking en diefstal van intellektuele eiendom is lankal algemeen bekend. Net so ook Brittanje se afhanklikheid van Chinese produkte en beleggings. Produkte met die stempel Made in China was al vir die grootste deel van my lewe 'n gegewe. En tog het Chinese mag 'n spookagtige kwaliteit. Ja, die land word wyd beskou as 'n bedreiging, maar as meer een wat soos 'n natuurkrag 'n gegewe is, eerder as 'n politieke verskynsel. China se opkoms word as onafwendbaar beskou, amper soos die seevlakke wat styg. As Britse nywerheidsvermoë voortgaan om ooswaarts te vloei, as goedere en tegnologieë toenemend in die teenoorgestelde rigting beweeg, en as Brittanje (trouens, die wêreld) se energie-infrastruktuur deur Chinese maatskappye gebou of besit word, dan is dit glo net deel van die natuurlike verloop van sake. Miskien deel van die lewenssiklus van nasies.
Wanneer Vladimir Poetin of Donald Trump enigiets doen, word dit as 'n morele skandaal bestempel en die kritiek word op koerantvoorblaaie uitgebasuin. Maar ten spyte van die talle skadelike beleide van die Chinese Kommunistiese Party, soos byvoorbeeld sy onderdrukking van Hongkong se demokrasie en regstaat, of sy misleiding oor die oorsprong van Covid-19, word China geneig om in die “Wêreld”-afdeling van die nuus te beland, saam met berigte oor vloede in die uithoeke van die wêreld.
Ons onoplettendheid spruit deels uit ons verwagting dat mag buite ons grense dramaties, charismaties of oortuigend moet wees. In hul bloeityd het Europese ryke probeer om die Christendom en dasse te versprei, by wyse van spreke. Die Koue Oorlog in Europa was net soveel 'n stryd om die siel van 'n beskawing as oor grondgebied. Die VSA wat as oorwinnaar uit die Koue Oorlog getree het, is vandag 'n kulturele mag sonder 'n eweknie. Die politieke teater van Trump se Amerika is bloot die jongste manifestasie van sy ryk van skouspel. In teenstelling soek China geen kulturele bekeerlinge of gehoor nie. Geskiedkundig was dit die episentrum van Oos-Asiatiese beskawing, maar dit het vandag geen noemenswaardige kulturele uitvoere na die Weste nie. TikTok is wel 'n Chinese produk, maar nie werklik 'n draer van Chinese kultuur nie. Die toepassing is immers nie in China self beskikbaar nie.
China se mag spruit eerder uit die posisie wat dit oor die afgelope vier dekades binne die wêreldwye arbeidsverdeling verwerf het. Dit is grotendeels onsigbaar, omdat die werking van hierdie enorme ekonomiese stelsel, wat oor die hele wêreld strek, grotendeels onsigbaar is. Boonop, in 'n land soos Brittanje, wat sy ekonomie met buitengewone ywer oopgestel het, word die gevolge van hierdie herstrukturering nou as vanselfsprekend aanvaar. Ons is gewoond daaraan dat produkte by ons deure afgelewer word sonder dat ons ooit dink aan wie dit gemaak het of hoe dit vervaardig is. Ons is gewoond daaraan dat die voormalige werkersklas van hul produktiewe rol ontneem is en as 'n politieke krag verstrooi is. Ons is gewoond daaraan dat ons infrastruktuur en groot maatskappye aan buitelandse beleggers en regerings behoort.
Een van die faktore wat Britse (en ander lande se) afhanklikheid van China gedryf het (soos ek in April in 'n langer opstel hieroor opgemerk het) was dat dit ons leiers gehelp het om moeilike keuses en ongemaklike waarhede te vermy. Goedkoop goedere het opgemaak vir nywerhede wat verdwyn en werkerslone wat stagneer. Verder het die verkoop van bates ekonomiese groeisyfers opgeblaas. Die verskuiwing van soveel koolstofintensiewe nywerhede na China, waar dit geweldig uitgebrei het, het Britse leiers in staat gestel om te beweer dat ons vordering maak met die vermindering van uitlaatgasse. Dat China se groeiende invloed agter die gordyn gebly het, het hierdie skynbeelde net meer doeltreffend gemaak.
Om hierdie tendense só ver te laat ontwikkel was naïef. In baie gevalle het die Britse owerhede skrikwekkende onbevoegdheid getoon deur Chinese sakebelange en dus indirek die Chinese Kommunistiese Party, toegang te gee tot die fondament van die staat. Hierdie week het verskeie bronne berig dat 'n datasisteem wat die mees sensitiewe regeringsinligting huisves, kwesbaar is nadat dit aan Chinese beleggers verkoop is.
As vorige regerings in die Verenigde Koninkryk 'n sorgelose houding jeens China gehad het, lyk die huidige regering meer as effens desperaat. Die era van globalisering waarin Brittanje sy uitgeholde toestand as 'n “oop ekonomie” kon verkoop, is besig om te verander in iets meer gefragmenteerd en hiërargies. Die Starmer-regering het klaarblyklik besluit dat krummels van belegging die gatkruip werd is, of dit nou beteken om Trump se ego te vlei of om noukeurig enige omstredenheid met Beijing te vermy.
En China sal nie vir altyd die beleefde fiksie handhaaf dat Brittanje 'n gelyke vennoot is nie. Dit dreig tans met “gevolge” as dit nie toegelaat word om sy sogenaamde superambassade langs die Toring van Londen te bou nie, nog 'n Chinese projek op Britse bodem wat groot veiligheidsrisiko’s inhou, veral aangesien dit bo-op belangrike kommunikasiekabels sal sit. Chinese mag sal waarskynlik nie veel langer ons aandag ontglip nie.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










