Transformasie ideologie is geen heilige koei meer nie
Teentransformatisme moet waak teen dieselfde strikke.
Vir byna drie dekades is die ANC en sy transformasie ideologie as onaantasbaar behandel en grootliks gevrywaar van ernstige kritiek.
Die regering kon uitgewys word vir korrupsie, nepotisme of onbevoegdheid, maar die aannames waarop sy hele projek gebou is, is selde bevraagteken. Oor die algemeen en in die hoofstroom het joernaliste, akademici en selfs sommige burgerregte-aktiviste die implementering deur die ANC gekritiseer, maar nie die dogma self nie. Kritiek teen transformasie en die uitwys van transformatisme se Marxistiese grondslag is sonder meer as 'n “regse” oefening getipeer. Dit is dikwels as 'n apartheid-apologeet strooiman afgemaak. 'n Klassieke geval van valse tweedeling.
Dit is weens die feit dat die ANC nie bloot as 'n politieke party beskou is nie maar as die geskiedenis se erfgenaam van bevryding en morele gesag. Kritiek teen sy heersende ideologie is gevolglik beskou as 'n aanval op daardie erfenis asook die belofte van die grondwetlike bestel.
Om die grondslag uit te daag, was eenvoudig taboe. Daarom, byvoorbeeld, het die groot hofsake in Grootboom (oor behuising) of Soobramoney (gesondheidsdienste) nooit die transformasie ideologie self aan die kaak gestel nie, maar net die versuim om behoorlik die beloftes van die toe nuwe Grondwet te voorsien en na te kom. Die heilstaat wat transformatisme belowe het, is as vanselfsprekend aanvaar en beskou as beide moreel onberispelik en haalbaar. So is 'n hele samelewing vir jare vasgehou in die illusie dat die probleem nie die idee self was nie, maar net die mense wat dit nie reg bestuur het nie.
Wat in Suid-Afrika gebeur, is ook nie uniek nie. Bevrydingsbewegings regoor die vasteland en elders het dikwels hulself as die beliggaming van die nasie verklaar, met ideologie as 'n soort heilige dekmantel. In Zimbabwe het ZANU-PF sy legitimiteit dekades lank net uit die bevrydingsoorlog geput, selfs toe die staat reeds in puin lê. In Angola het die MPLA dieselfde gedoen, en politieke opposisie is eenvoudig as 'n bedreiging vir bevryding self afgemaak. Die morele kapitaal van bevryding gee 'n beweging 'n lang krediettermyn, maar sodra dit nie hernu word deur werklike prestasie nie, word daardie kredietkaart leeg. Suid-Afrika se debat oor transformasie pas presies in hierdie groter verhaal.
Nuwe soort kritiek
Maar die afgelope paar jaar begin die oortuiging selfs in die hoofstroom te verander. Selfs platforms wat lank as bastions van progressiewe joernalistiek beskou is, begin nou vra: was die aannames self ooit reg? Kan 'n staat werklik die enjin van vooruitgang wees? Het die beheptheid met ras- en klasregstellings nie intussen 'n monster geskep wat geen van sy doelwitte bereik het nie, maar wel die samelewing en vooruitgang verlam?
Dis 'n merkwaardige wending. Want vir jare was daar slegs “token” konserwatiewe of vryheidsgesinde stemme wat by tye in die hoofstroommedia deurgesyfer het om die skyn van 'n klein bietjie balans te skep, maar nooit as 'n volwaardige deel van die gesprek nie. Daardie stemme het dus hulle weg moes baan deur alternatiewe platforms, waar 'n leserspubliek wat moeg was vir die brandmuur teen ideologiese kritiek en morele polisiering, hierdie skrywers en denkers begin volg het. En namate daardie platforms gegroei het, het hulle op 'n manier self die hoofstroom begin geword.
Mettertyd kon die ou hoofstroom eenvoudig nie meer maak asof daardie buitestaanderstemme nie bestaan nie. Lesers het intussen al lankal begin verskuif. So het die deure in die ou hoofstroommedia stadig oopgegaan. Vandag lees jy op plekke soos Daily Maverick of Media24 stukke wat tien jaar gelede eenvoudig ondenkbaar sou wees: kritiek op grondhervorming as 'n heilige koei, vrae oor die volhoubaarheid van swart-ekonomiese bemagtiging, selfs twyfel oor die transformatiese wyse waarop die Grondwet self geïnterpreteer word.
Toe die sluise eers oopgemaak het vir vryheidsgesinde en konserwatiewe stemme, het dit 'n interessante effek gehad: dit het ook die progressiewe kant van die spektrum versterk. Juis omdat die monopolie van die ou hoofstroom gebreek is, het progressiewes ook gevoel dat hulle nuwe platforms moet bou wat hul eie standpunte skerper en meer selfstandig uitdra. Projekte soos Binne+Land is 'n voorbeeld van hierdie dinamika. Die oopbreek van die gesprek het dus nie net ruimte aan een kant geskep nie.
En dit is eintlik hoe 'n gesonde openbare sfeer behoort te lyk, 'n verskeidenheid van stemme wat mekaar versterk deur mee te ding.
Die reaksie van die wagte
Soos verwag kon word, het hierdie oopmaak van die gesprek ook 'n negatiewe teenreaksie ontketen. Van die ou Afrikaner intelligentsia (soos Frederik van Dyk hulle noem), gewoond daaraan om hulself as kuratore van die debat te sien, het openlik gekla toe mense soos Jaco Kleynhans prominent begin om platform kry. Skielik was daar besware op kykNET se In Gesprek, en op RSG, oor die gevaar van “verregse” stemme wat 'n te groot mikrofoon gegun word.
Die ironie is dat dit juis die platforms was wat lank te eng voorgekom het, wat nou die moed moes hê om nie te vou nie. Krediet moet hier aan mense soos Lourensa Eckhard en die RSG-span gegee word. Hulle het hierdie debatte in die hoofstroom gestimuleer. Radio en televisie behoort in 'n demokrasie die plek te wees waar uiteenlopende opinies gehoor word.
Die hele debat oor “platforming” was nog altyd redelik kinderagtig (in die suiwer sin van die woord dat iets op 'n onvolwasse manier hanteer word, waar beter verwag sou word). Die idee dat jy sekere idees kan neutraliseer deur dit net nie aan jou luistermark bloot te stel nie, is 'n vorm van intellektuele sensuur wat uiteindelik meer skade as goed doen. Slegte idees word nie minder sleg omdat jy hulle probeer wegsteek nie. Hulle word eerder sterker, want hulle word die eiendom van “die rebelle” wat glo dat hulle iets ontdek het wat die establishment probeer onderdruk. Die enigste manier om 'n slegte idee werklik te oorwin, is deur dit in die oopte te bring en dit met beter argumente te ontbloot. 'n Volwasse samelewing behoort nie bang te wees vir woorde nie. Die feit dat so baie mense steeds daarop aandring dat sekere oogpunte eenvoudig te gevaarlik is om te hoor, sê meer oor hul eie onsekerheid as oor die idee self.
Ek het al jare gelede geskryf dat Suid-Afrika nie 'n gedeelde Overton-venster het nie, maar twee afsonderlike gesprekke. Dit was tydens die hoë koors van die Fallist-bewegings op ons kampusse, toe die hele samelewing afgebreek en “gedekoloniseer” moes word. Daar was eenvoudig geen gemeenskaplike taal nie. Waar die een groep moraliteit en identiteit as eerste beginsels aanvaar het, het die ander groep net gesien hoe die basiese boustene van 'n funksionele staat en samelewing uitmekaarval.
Die een, geanker in progressiewe ortodoksie, het oor morele regstelling, geskiedkundige skuld en die voortdurende legitimiteit van die bevrydingstradisie gegaan. Die ander, veel kleiner en lank uitgeskuif na die kantlyn, het gevra oor staatsverval, individuele vryheid en die volhoubaarheid van die hele eietydse model. Hierdie twee gesprekke het selde oorvleuel. Hulle het soos parallelle spore geloop wat net nou en dan in botsing gekom het.
Maar dit lyk asof die skeidslyn begin verkrummel of ten minste begin kruis. Nie omdat mense skielik oortuig geraak het van mekaar se argumente nie, maar omdat die realiteit eenvoudig die gesprekke gedwing het. Die watertoevoer is weg, die krag is af, die spoorlyne staan stil, en die mooi woorde van beleidsdokumente het hol geraak. Dit is nie meer moontlik om kritiek net in terme van implementering te hou nie, dus kom die aannames self onder skoot.
Wat staan die reaksie te doen?
Die ironie is dat transformasie self sy eie graf gegrawe het. Dit is aan die land verkoop as 'n projek van inklusiwiteit, maar het gaandeweg 'n instrument van uitsluiting geword.
Dit is geklee in die taal van gelykheid, maar het in die praktyk net 'n klein politieke en ekonomiese elite bevoordeel. Van meet af was daar 'n ingeboude spanning tussen regstelling en meriete, tussen die ideaal van 'n nie-rassige demokrasie en die praktyk van 'n voortdurende rasmatriks. Vir lank kon die samelewing voorgee dat die spanning opgelos kan word, dat die klem net op “implementering” moet val. Maar die werklikheid het harder gepraat.
Nou is daardie teenstrydighede eenvoudig te duidelik om weg te steek. Transformasie beloof op skrif steeds 'n meer regverdige samelewing, maar word al hoe meer ervaar as 'n hindernis vir groei en 'n verskoning vir mislukking. Dit is juis omdat die ideologie homself moreel onaantasbaar en onaanpasbaar verklaar het, dat dit so broos geraak het.
Die vraag nou is of die reaksie teen transformasie nie in dieselfde strik gaan trap nie. Daar is altyd die gevaar dat 'n eensydige ideologie net deur 'n nuwe, net so eensydige ideologie vervang word. 'n Ander soort absolutisme wat weer 'n tyd lank onaantasbaar bly tot dit self verkrummel. As Suid-Afrika werklik uit hierdie siklus wil breek, sal die gesprek oor die toekoms gematig en beginselvas moet wees, gegrond in 'n kultuur van verantwoordelike burgerskap en vryheid, eerder as in die taal van skuld en regstelling.
Nog artikels deur Daniël Eloff:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.
Baie goed uiteengesit en geskryf!