
Een van die eerste liedjies wat ek as kind op die klavier leer speel het, was die wêreldbekende You Are My Sunshine van Jimmie Davis en Charles Mitchell. Die liedjie dateer uit 1940 en gebruik die son as 'n metaforiese vergestalting van vreugde, liefde en emosionele geborgenheid. Die Beatles het weer die wêreld met positiewe energie verras toe hulle die treffer Here Comes the Sun in 1969 vrygestel het. In Afrikaans vind ons 'n soortgelyke verwondering in Valiant Swart se liedjie, Sonvanger.
Die son het 'n vermoë om mense se aandag te trek. Soms is dit die eerste ligstrale van 'n nuwe dag, soms is dit die sonsondergang op die strand, soms is dit die sonkol wat op Geloftedag op die Senotaaf van die Voortrekkermonument val, en soms 'n seldsame atmosferiese verskynsel op 'n Maandagoggend wat mense laat stilstaan, opkyk en hul slimfone nader trek.
In hierdie gedeelde oomblikke lê daar interessante geleenthede vir handelsmerke. Die uitdaging vir bemarkers is in sulke gevalle nie om aandag te vang nie, maar om op 'n kreatiewe wyse by 'n openbare gesprek aan te sluit. Twee onlangse voorbeelde hiervan is die sonkring wat op 16 November 2026 in sekere dele van Suid-Afrika waargeneem is, en die wêreldwye Microsoft 365-diensonderbreking op 13 November 2026, wat beide 'n speelveld vir kreatiewe handelsmerkkommunikasie geskep het.
En toe draai die wêreld op sy kop. Kyk gou op!
Sosiale media het spoedig berig oor die waarneming van 'n sonkring, ook bekend as 'n sun halo, in sekere dele van Suid-Afrika. Kenners en wetenskaplikes het verduidelik dat dié ligkrans ontstaan wanneer sonlig deur seskantige yskristalle in hoë cirruswolke gebreek word, wat dan 'n sirkelvormige ligverskynsel rondom die son sal vorm.
Vir 'n rukkie het die sonkring 'n gemeenskaplike verwysingspunt geskep. Suid-Afrikaanse handelsmerke, organisasies en skole het die seldsame geleentheid vinnig aangegryp en hul handelsmerkidentiteite daaraan begin koppel.
Handelsmerke, soos Cell C, Shell en Howler, het die sirkelvorm by hul bestaande visuele identiteit aangepas, terwyl ander handelsmerke, soos Krispy Kreme, Sunlight-seep, Ster-Kinekor en Airlink, skerp humor en die simboliek van lig, hoop, eenheid en samehorigheid as vertrekpunt vir hul boodskappe gebruik het.
Vir skole en opvoedkundige instellings kon die sonkring byvoorbeeld 'n simbool van gemeenskap en gedeelde identiteit word. Selfs die Onafhanklike Verkiesingskommissie van Suid-Afrika (OVK) het dié verskynsel as 'n visuele aanknopingspunt gebruik en dit met kollektiewe deelname en demokrasie verbind.
Die interessante aspek van hierdie reaksies was die uiteenlopende interpretasies wat organisasies aan dieselfde gebeurtenis gegee het. Die kreatiewe uitdaging was dus om 'n geloofwaardige aanknopingspunt tussen die gebeurtenis en die organisasie se eie identiteit te vind. Hoewel die sonkring aan geen handelsmerk verbonde was nie, het dit onverwags nuwe bemarkingsgeleenthede geskep. Frederik van Dyk, medestigter en redakteur van OntLaer, het dit raak opgesom: “Selfs die son word nou gekommodifiseer.” En hy is reg!
Wanneer Outlook gaan lê, staan handelsmerke op
Op Vrydag 13 November 2026 het 'n wêreldwye diensonderbreking by Microsoft 365 verskeie digitale dienste ontwrig. Die onderbreking het gewys hoe sterk die moderne werksomgewing op digitale platforms steun en hoe ontwrigting daarvan produktiwiteit en bestaande werkprosesse kan beïnvloed.
Alhoewel die diensonderbreking vir Microsoft 'n onvoorsiene uitdaging ingehou het, het dit vir ander handelsmerke 'n geleentheid geskep om op 'n kreatiewe wyse by die openbare gesprek aan te sluit.
KitKat het byvoorbeeld hul bekende Have a break, have a KitKat-slagspreuk aan die situasie gekoppel en die onverwagte onderbreking as 'n geleentheid vir 'n blaaskans uitgebeeld. Checkers het weer die geleentheid geneem om deur die Checkers Sixty60-toepassing 'n tydelike afdeling bekend te stel waarin 'n reeks bordspeletjies onder die naam Microsoft 364 aangebied is. Cadbury se P.S.-handelsmerk het op 'n speelse wyse erkenning aan die sosiale aspek van die onderbreking gegee deur die volgende boodskap te deel: “Someone had to say it: thanks for giving us the day to connect in real life.”
Die waarde van hierdie reaksies lê daarin dat die handelsmerke nie 'n begroting, nuwe produk of diens nodig gehad het om aandag te trek nie, hulle moes net by die verbruikers se onvoorsiene uitdagings en omstandighede aanpas deur hul bestaande handelsmerkpersoonlikhede, slagspreuke en kommunikasiebeloftes binne 'n nuwe konteks te plaas.
Die kuns om die oomblik raak te sien
Tydige bemarkingskommunikasie wat op aktuele gebeurtenisse, tendense en gedeelde ervarings speel, kan as moment marketing of newsjacking beskryf word. Die sonkring is 'n voorbeeld van moment marketing, terwyl die reaksies op die Microsoft 365-onderbreking as newsjacking gesien kan word.
Die ooreenkomste tussen hierdie strategieë lê in die feit dat die handelsmerk nie die oorspronklike gesprek geskep het nie. Die gesprek is reeds daar. Die handelsmerke se uitdaging in hierdie geval was om die geleentheid betyds te identifiseer en 'n relevante bydrae tot die gesprek te lewer.
Sonhorlosies en goeie tydsberekening
In tradisionele bemarking word veldtogte dikwels maande vooruit beplan, sodat dit vir maande lank uitgevoer kan word. Dit kan strek van 'n driemaandeveldtog oor na 'n hele jaartema. Bemarkingsplanne wat inhoudskalenders, mediabegrotings en strategiese doelwitte insluit, bepaal die proses en tyd van 'n boodskap wat gepubliseer word. Moment marketing daarteen vereis die vermoë om by die hedendaagse gebeure in te skakel, ongeag of dit deel van die strategiese plan was of nie.
Die waarde van 'n aktuele gebeurtenis is direk gekoppel aan die publiek se reaksie daarop. Namate die gesprek na nuwe aktuele onderwerpe verskuif, neem die bemarkingsgeleentheid uiteindelik af. Nando’s se handelsmerk floreer byvoorbeeld op newsjacking, aangesien hulle gereeld politieke en ekonomiese kwessies op 'n speelse en humoristiese wyse aanspreek. Inhoud wat by emosionele ervarings aanklank vind, het 'n groter kans om gebruikers se belangstelling te prikkel as dié wat net op jaarbeplanning staatmaak.
Wees 'n sonvanger
Die sonkring en die Microsoft 365-onderbreking is twee onlangse voorbeelde van hoe dieselfde bemarkingsbeginsel in die praktyk toegepas word. Selfs wanneer hierdie gebeure binne enkele weke hul nuuswaardigheid verloor, bly die beginsel relevant.
Die sonkring is nie deur 'n handelsmerk geskep nie. Microsoft het ook nie die diensonderbreking as 'n bemarkingsgeleentheid beplan nie. Niemand het dus vir die omstandighede gevra nie, die lewe het net gebeur en handelsmerke het daarby aangepas. Die kuns was om iets betekenisvol daarmee te doen deur relevant te bly. Die wêreld beweeg aan en nuus maak plek vir nuwe nuus. Vir handelsmerke lê die uitdaging daarin om hierdie oomblikke betyds raak te sien en sinvol daarop voort te bou binne 'n wêreld wat reeds op sy kop gedraai is.
Hilde Kruger is 'n skrywer, grafiese- en multimedia-ontwerper wat in strategiese konseptualisering en handelsmerkontwikkeling spesialiseer.

Nog artikels deur Hilde Kruger:

Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.






