
Grafiese ontwerpers heg dikwels waarde aan die estetiese en materiële eienskappe van verpakking, daarom is dit nie ongewoon om versamelings van etikette, bokse, bottels en ander ontwerpvoorwerpe in 'n vertoonkas, op 'n rak of in 'n laai aan te tref nie.
Een se oud is 'n ander se goud. 'n Leë bottel, 'n gebruikte kaartjie, 'n ontwerpte servet of 'n boks waarvan die inhoud lankal verdwyn het, kan steeds die waarde van 'n handelsmerk verteenwoordig. Die rede lê in die ontwerp, soos die keuse van papier, die ritme van tipografie, die verhouding tussen kleur en vorm, die uitleg en die illustrasie. Ons gebruik dit as inspirasie of selfs voorbeelde van wat om nie te doen nie. Die funksionaliteit van 'n produk kan dus verlore gaan, maar 'n handelsmerk se waardeaanbod kan in verpakking behou en bewaar word.
Handelsmerkdifferensiasie vorm 'n kernkomponent van strategiese bemarking, veral binne mededingende markomgewings waar ondernemings soortgelyke produkte aanbied en om verbruikers se aandag meeding. Yes! Definitely is 'n Suid-Afrikaanse voorbeeld waardeur hierdie beginsel ondersoek kan word. Die handelsmerk se slagspreuk, “It’s about the art … & the environment”, dui op 'n benadering waarin artistieke uitdrukking en omgewingsverantwoordelikheid as aanvullende waardes binne een handelsmerkidentiteit funksioneer.
Yes! Definitely se ondersteuning
Yes! Definitely is deur die entrepreneur, Tracy Ruggier, ontwikkel nadat sy oorbewus geword het van die uitdagings wat plaaslike kunstenaars ervaar om erkenning en werksgeleenthede te bekom. Die oorspronklike doel was om 'n vinnig verspreibare verbruikersproduk te vind waardeur kunstenaars se werk 'n groter gehoor kan bereik. Gebottelde water het hierdie geleentheid gebied, omdat dit gereeld gekoop word en deur verskeie kleinhandelkanale versprei kan word.
Die onderneming se naam, Yes! Definitely, ondersteun boonop 'n toeganklike, positiewe handelsmerkpersoonlikheid. Die naam kan simbolies as 'n stempel van goedkeuring geïnterpreteer word vir omgewingsvriendelike materiale en die kunste wat goedgekeur is. Die kunsgerigte boodskap gee die naam 'n duidelike inhoudelike rigting. Die handelsmerk word uitgesonder, omdat dit nie net water verkoop nie, maar 'n standpunt oor die waarde van kreatiwiteit en die sigbaarheid van plaaslike talent maak.
Yes! Definitely nooi kunstenaars op digitale platforms uit om oorspronklike illustrasies in te dien, waarvan ses illustrasies dan gekeur word. Die onderneming se goue reël aan kunstenaars is egter dat die werk oorspronklik moet wees en nie deur kunsmatige intelligensie gegenereer of gedeeltelik daarmee gegenereer mag wees nie.
Yes! Definitely se strategie
Handelsmerkwaardes kry gewoonlik eers strategiese gewig wanneer dit in die praktyk sigbaar word. In hierdie geval word die waardes reeds op die produk self tasbaar en sigbaar gemaak. Die ontwerp kan dus as 'n verlengstuk van die handelsmerkgedagte gesien word, in plaas van 'n losstaande dekoratiewe element. In Yes! Definitely se benadering word kuns as 'n strategiese kommunikasiemiddel gesien.
Yes! Definitely se strategie behels ook die integrasie van die artistieke konsep met die fisiese eienskappe en beoogde gebruik van die produk. Volgens die onderneming berus die handelsmerkkonsep op samewerking met vrywillige illustreerders om unieke bottelontwerpe te skep wat verder as hul primêre funksie strek en verbruikers tot bewaring en hergebruik kan aanspoor. Die kunstenaars se name en skakels na die kunstenaars se ontwerpportefeuljes verskyn ook op die bottels, terwyl nuwe ontwerpe ongeveer elke drie maande op sosialemediaplatforms bekendgestel word en die verbruiker die kunstenaars agter die illustrasies kan volg.
Hierdie benadering skep 'n samehangende waardeaanbod wat verskeie dimensies insluit.
Die produk vervul die praktiese funksie deur drinkwater beskikbaar te stel.
Die illustrasies verleen 'n estetiese en kulturele dimensie aan die verpakking.
Erkenning en kreatiewe blootstelling word aan kunstenaars gegee.
Die hergebruik en herwinning van die waterbottels word as deel van die handelsmerk se omgewingsgerigte boodskap aangebied.
Die kombinasie van hierdie dimensies versterk die strategie, omdat die verskillende elemente mekaar ondersteun. Die kuns is nie losstaande van die produk nie, maar word op die produk aangebied. Die omgewingsboodskap is nie 'n slagspreuk nie, maar hou verband met die onderneming se waardeaanbod. Die kunstenaar se identiteit word eweneens nie agter 'n anonieme illustrasie verberg nie, maar word deel van die kommunikasie rondom die ontwerp.
Die vrywillige deelname van illustreerders maak dit vir Yes! Definitely moontlik om illustrasiereekse ongeveer elke drie maande te vervang. Yes! Definitely is dus afhanklik van plaaslike kunstenaars en andersom. Dit skep die moontlikheid dat verbruikers belangstelling behou, verskillende ontwerpe versamel en die produk se bruikbare lewensduur verleng.
Yes! Definitely se benadering verskuif dus die fokus vanaf die weggooibare verpakking as 'n noodsaaklike omhulsel na die verpakking as 'n voorwerp met voortgesette gebruikswaarde. Die bottel is dus nie 'n houer wat sy funksie vervul totdat die water opgebruik is nie. Die ontwerp se funksie is om die bottel se bestaansrede te versterk. Wanneer 'n verbruiker 'n bottel herhaaldelik gebruik, kan die ontwerp buite die oorspronklike verkoopsomgewing sigbaar bly. Die verpakking kan voortgaan om die handelsmerk te verteenwoordig lank nadat die aanvanklike aankoop plaasgevind het.
Geposisioneerde omgewingsbewustheid
Omgewingsbewustheid word ook weerspieël in die onderneming se produk- en verpakkingskeuses. Die bottels is volgens Yes! Definitely herbruikbaar en herwinbaar, bevat herwinde plastiek en word sonder BPA vervaardig. Omgewingsbewustheid kom nie net in die keuse van materiale na vore nie, maar ook in die moontlikheid om die funksionele lewensduur van verpakking te verleng. Deur kuns en estetiese waarde te integreer, kan verpakking 'n voorwerp word wat verbruikers verkies om te behou eerder as om weg te gooi.
Kreatiewe handelsmerkontwikkeling gaan nie altyd oor die skep van iets nuuts nie, maar dikwels oor die herinterpretasie van iets wat reeds bekend is. Yes! Definitely demonstreer hoe 'n alledaagse verbruikersproduk deur die integrasie van kuns, ontwerp en 'n herkenbare handelsmerkidentiteit 'n onderskeidende markposisie kan ontwikkel. Die strategiese waarde van die benadering lê daarin dat die verpakking nie as 'n draer van handelsmerkinligting funksioneer nie, maar self deel van die waardeaanbod word. Deur die sigbaarheid van plaaslike kunstenaars se werke te verhoog, skep die onderneming terselfdertyd 'n kulturele dimensie wat die produk van konvensionele gebottelde water onderskei.
Kreatiewe ontwerp vervul dus 'n dubbele funksie: dit verhoog die estetiese aantrekkingskrag van 'n produk en dra terselfdertyd by tot handelsmerkonderskeiding, verbruikersbetrokkenheid en waardeskepping.
Hilde Kruger is 'n skrywer, grafiese- en multimedia-ontwerper wat in strategiese konseptualisering en handelsmerkontwikkeling spesialiseer.

Nog artikels deur Hilde Kruger:

Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.






