
Volgens oorlewering dateer Suid-Afrika se vroeë poskommunikasie uit die vroeë 1500’s, toe die Portugese seevaarder Pedro de Ataíde, 'n brief in 'n ou skoen by 'n melkhoutboom in Mosselbaai versteek het. Vandag staan dié boom beter bekend as die Posboom. In die vroeë 1600’s het die Engelse seevaarder Anthony Hippon, na bewering briewe onder 'n klip in Tafelbaai geplaas, en posstene is later ook as 'n manier gebruik om boodskappe tussen seevaarders oor te dra. Op 2 Maart 1792 is Suid-Afrika se eerste poskantoor in die Kasteel de Goede Hoop in Kaapstad gestig. Op 8 Junie 1860 is die eerste openbare posbusse in die Kaap opgerig, wat briefversameling en -verspreiding verder vergemaklik het. Dit is 'n kort oorsig van die ontwikkeling van kommunikasie in Suid-Afrika. Hoewel die posdiens 'n belangrike rol in Suid-Afrika se kommunikasiegeskiedenis gespeel het, het die verval van sommige poskantore en gevalle van vandalisme vrae laat ontstaan oor die instandhouding van dié infrastruktuur.
Datasentrums, bedieners, verkoelingstelsels, elektrisiteitsinfrastruktuur en ondersese veseloptiese kabels vorm deel van die tegnologiese infrastruktuur wat dit vandag moontlik maak om binne sekondes met mense op ander kontinente te kommunikeer en kunsmatige intelligensie te gebruik om komplekse vrae te beantwoord. Volgens DataReportal se Digital 2025: South Africa-verslag was daar in Januarie 2025 ongeveer 26,7 miljoen aktiewe sosialemediagebruikersidentiteite in Suid-Afrika.
Ondersese veseloptiese kabels kan metafories as die wortels van 'n boom beskou word, aangesien dit kontinente en geografies verspreide netwerke verbind en die grondslag vir internasionale data-uitruiling vorm. Datasentrums kan binne hierdie beeldspraak as die stam en vertakkings van die boom beskou word, aangesien dit die verwerking, berging en verspreiding van data moontlik maak. Tog kan selfs die sterkste boom nie sonder 'n gesonde wortelstelsel voortbestaan nie. Die digitale ekonomie se stabiliteit berus eweneens op die toestand van die ondersese verbindings wat die wêreld se digitale landskap aanmekaar hou. 'n Volhoubare benadering tot die bestuur daarvan moet die volledige infrastruktuurlewensiklus insluit. Dit behels verantwoordelike beplanning, ontwerp, installasie, instandhouding en herstel, asook die toepaslike verwydering en herwinning van kabels wat buite diens gestel is.
Die fisiese koste van digitale vooruitgang
Datasentrums bestaan uit geïntegreerde tegnologiese infrastruktuur wat digitale data op groot skaal verwerk, stoor en versprei. Wolkrekenaarsdienste, aanlynkommunikasie en kunsmatige intelligensie is enkele funksies wat op hierdie infrastruktuur aangewese is. Soos enige komplekse stelsel vereis dit 'n konstante toevoer van energie en doeltreffende verkoeling om volhoubaar te funksioneer. Volgens die International Energy Agency (IEA) het datasentrums in 2024 ongeveer 415 terawattuur (TWh) elektrisiteit verbruik en word daar voorspel dat die verbruik teen 2030 tot ongeveer 945 TWh kan toeneem.
Die omgewingsimpak van datasentrums kan nie net aan die elektrisiteitsverbruik gelykgestel word nie. Die koolstofvoetspoor van 'n fasiliteit word ook beïnvloed deur die bronne waaruit die elektrisiteit opgewek word. Daarbenewens kan verkoelingstelsels water benodig, terwyl die vervaardiging en vervanging van bedieners, verwerkers en netwerktoerusting grondstowwe en energie verg. Die bou van nuwe fasiliteite vereis verder grond, konstruksiemateriaal en infrastruktuur om voldoende krag en konnektiwiteit te verseker. Die omgewingsvoetspoor van 'n datasentrum word dus deur verskeie faktore bepaal, soos die geografiese ligging, die beskikbaarheid van water en elektrisiteit, die doeltreffendheid van die verkoelingstelsel en die benuttingsgraad van die beskikbare rekenaarkapasiteit.
Die Amerikaanse datasentrummaatskappy Equinix het in April 2026 die aankoop van grond in Johannesburg en Kaapstad ter waarde van ongeveer R890 miljoen aangekondig as deel van 'n beplande belegging van sowat R7,5 miljard om sy datasentruminfrastruktuur en verwerkingskapasiteit in Suid-Afrika uit te brei. Volgens die maatskappy se Suid-Afrikaanse besturende direkteur beloop die totale oppervlakte van die grond wat tot dusver bekom is 327 000 m². Die grondverkryging vorm deel van 'n beplande uitbreiding wat ’n verdere 160 MW se datasentrumkapasiteit moet moontlik maak.
Tekseenhede en spoed
Wanneer 'n KI-model teks genereer, word die inhoud in kleiner verwerkingseenhede, ook bekend as tokens, opgebreek. Dit kan 'n hele woord, 'n gedeelte van 'n woord, 'n leesteken of 'n ander teksfragment wees. Die model voorspel watter eenheid volgende behoort te verskyn, voeg dit by die bestaande teks en herhaal die proses totdat die antwoord voltooi is.
Die uitvoering van hierdie berekeninge vereis gespesialiseerde verwerkingshardeware, soos grafiese verwerkingseenhede (GPU’s) en ander KI-versnellers. Die hoeveelheid energie wat verbruik word, hang natuurlik af van die omvang van die model, die lengte en kompleksiteit van die versoek en die doeltreffendheid van die toerusting.
Die spoed waarteen gebruikers antwoorde verwag, maak hierdie proses nog meer veeleisend. Wanneer talle gebruikers gelyktydig antwoorde versoek, moet datasentrums genoeg verwerkingskapasiteit beskikbaar stel om die aanvraag te hanteer. Hoewel doeltreffende modelle en beter bedienerbenutting die energieverbruik per token kan verminder, word die totale energiebehoefte ook deur die omvang en intensiteit van KI-gebruik bepaal.
Maak soos Mertech Marine
Mertech Marine is 'n Suid-Afrikaanse onderneming wat in 1998 gestig is en sedert 2004 gespesialiseerde dienste aan die ondersese telekommunikasiebedryf lewer. Die onderneming fokus hoofsaaklik op die verwydering en herwinning van buitediensgestelde ondersese kabels.
Volgens 'n mediaverklaring deur Metier (2024), het Mertech Marine teen daardie tyd reeds meer as 105 000 kilometer ondersese kabels verwerk en ongeveer 250 000 ton koolstofdioksiedekwivalent aan kweekhuisgasvrystellings deur die herwinning van buitediensgestelde kabels vermy.
Die herwinningsproses is belangrik, aangesien buitediensgestelde kabels waardevolle materiale, soos koper, staal en plastiek, bevat. Deur hierdie materiale te herwin, kan dit weer as grondstowwe in die ekonomie beskikbaar gestel word.
Mertech Marine se bedrywighede sluit dus by die beginsels van die sirkulêre ekonomie aan. In plaas daarvan om materiaal as waardelose afval te beskou wanneer 'n kabel buite diens gestel word, word die moontlikheid ondersoek om die materiaal terug in produksieprosesse te plaas. Die onderneming se meganiese verwerkingsfasiliteite maak dit moontlik om verskillende komponente te skei en vir verdere gebruik beskikbaar te stel.
Mertech Marine beklemtoon dus hoe die einde van 'n ondersese kabel se dienslewe die begin van 'n nuwe ekonomiese lewensiklus kan beteken. Die waarde van 'n ondersese kabel lê dus nie net in die data wat vervoer word nie, maar ook in die moontlikheid om die materiaal ná buitediensstelling te herwin en weer ekonomies te benut.
Kabeloperateurs, datasentrumverskaffers, beleggers en regerings behoort die volledige lewensiklus van digitale infrastruktuur as 'n integrale deel van hul strategiese beplanning te beskou. Dit sluit die beskerming van aktiewe kabelverbindings, die ontwikkeling van alternatiewe netwerkroetes en die verantwoordelike verwerking van infrastruktuur wat die einde van sy dienslewe bereik het, in. Datasentrumoperateurs moet eweneens aandag gee aan die verantwoordelike gebruik van elektrisiteit en water, die verlenging van hardeware se bruikbare lewensduur en die herwinning van toerusting. Wanneer hierdie verantwoordelikhede deel van die beplanning vorm, word die moontlikheid geskep om nie net infrastruktuur meer betroubaar te maak nie, maar ook om waardevolle hulpbronne langer in die ekonomie te behou.
Hilde Kruger is 'n skrywer, grafiese- en multimedia-ontwerper wat in strategiese konseptualisering en handelsmerkontwikkeling spesialiseer.

Nog artikels op OntLaer:

Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.





