Paternalisme: 'n Pouslike elite-kultuur in Suid-Afrika
Priesteragtige paternalisme het 'n lang aanloop in ons politiek.
Met hierdie skrywe gaan ek die oorsprong, ontwikkeling en voortsetting van die verskynsel van paternalisme as grondtrek van die politieke struktuur in Suid-Afrika beskryf. Vergun my eerstens ter uiteensetting van heersende tendense 'n lang aanhaling van die filosoof Slavoj Žižek uit sy onlangse werk Against Progress:
“The people of numerous African countries, from Angola to Zimbabwe, exist under more or less corrupt social systems in which the gap between the ‘masters’ and the poor majority – the gap in wealth, in power, in privileges and freedom – is arguably even wider than under colonial rule. ‘Decolonization’ in these circumstances can function almost as a metaphor for the emergence of new class-based hierarchies. While there are, of course, a myriad of arguments that one can advance against any suggestion that things were ‘better’ under colonial rule, if we fail to recognize the potential for decolonial movements to be absorbed into problematic regimes, the new Right will do it for us (as they are already doing in the case of South Africa, bloviating about the inability of Black people to run the country ‘properly’.) Mao said: ‘Revolution is not a dinner party.’ But what if the reality after the revolution is even less of a dinner party?”
Om die opkoms en aard van hierdie nuwe hiërargieë deeglik te oorweeg op so ‘n wyse dat ons anderkant die uitdagings kan dink, verg besonnenheid, eerder as om na ‘n nostalgiese verlede terug te verlang of bloot afwysend teenoor die vraagstukke te staan.
Die moderne nasiestaat is gevestig, nie in opposisie tot die opkoms van globalisering soos dit dikwels verduidelik word nie, maar in samewerking daarmee. Dit kan as volg uiteen gesit word: Aangesien 'n meer egalitêre struktuur na afloop van die afskaffing van feodalisme en slawerny gepaardgaande met algemene burgerskap binne die grense van die nasiestaat gegeld het, was mededinging vir hulpbronne en goedkoop arbeid sterk buite die grense in beheerde kolonies (waar minder egalitêre wette gegeld het).
Die afskaffing van slawerny, anders as wat mense dikwels beweer, het arbeidskoste afgedruk, veral in koloniale gebiede soos Suid-Afrika. Dit was omdat dagloonwerkers minder as slawe gekos het omdat daar geen wetlike verpligting op die werkgewer gerus het om op die langduur na dagloonwerkers om te sien nie, maar slegs vir die werksdag. Omdat dagloners nie kon lees en skryf nie, het vorme van biometriese identifikasie (vingerafdrukke) in Suid-Afrika ontstaan, soos die boek van Keith Breckenridge Biometric State: The Global Politics of Identification and Surveillance in South Africa, 1850 to the Present aantoon (dit is belangrik om te vermeld dat een van die groot innoveerders van die statistiese wetenskap én eugenika, Francis Galton, nouliks hierby betrokke was).
Na Uniewording maak wit Afrikaners wat in myne gewerk het kapsie daarteen dat hulle dieselfde lone ontvang as hulle swart landgenote– dat hulle, met ander woorde, as koloniale subjekte behandel word terwyl hulle eerder tot die biologiese klassifikasie van “witmense” soos hulle Engelse landgenote wou behoort. Hierdie biometriese aanspraak op burgerskap het onwetend die denke van wit Afrikaanssprekendes nie alleen oor hulle verhouding tot ander mense in die land nie, maar ook oor die interne dinamiek, onherroeplik gestempel.
Met die opkoms van nasionalisme binne Suid-Afrika is biometriese klassifikasie in verskillende vorms voortgesit met die pasboekstelsel (en vandag, deur transformasie). Wat die interne dinamiek betref, het 'n nuwe hiërargie ontstaan, in teenstelling met die Boererepublieke, waar burgers se briewe in die parlement gelees, bespreek en gedebatteer is. Ons kan dit meer Orwelliaans formuleer: Binne die begrip “eenheid” (“eendragt maakt magt”) is daar 'n aantal onderskeide, met sommige wat in die post-slawerny tydperk meer gelyk is aan ander. Drie klasse is belangrik: Eerstens is daar diegene wat slegs in sommige fisieke opsigte gelyk aan ander is (die industriële, huishoudelike en landelike werkers) en tweedens diegene wat intellektueel en liggaamlik gelyk is (die middelklas, ambagtelike en later die dienste sektor). Die wêreld is grootliks steeds opgedeel in hierdie industriële en dienste ekonomieë van voormalige kolonies. Maar nog 'n derde klas is in ons geval ter sprake: aan die bo-punt diegene wat metafisies verhewe of “uitverkore” deur God is: die priesterklas.
Binne die “eendragt” was daar dus twee vorme van “magt”: horisontale demokratiese mag en vertikale heerskappy van 'n klein groepie kerklik-verbonde mense wat 'n “teokrasie” gevestig het, en daarom aan niemand buiten die Hemelse Vader (en hulleself) verantwoording gedoen het nie. Die kerk, soos iemand dit onlangs gestel het, was 'n politieke party wat so nou en dan gebid het. Dit was volledig in pas met lande soos Egipte en hedendaagse Iran en Afganistan. Adam Curtis se dokumentêr The power of nightmares: the rise of the politics of fear belig hierdie verbande:
Hierdie denkwyse vind egter toenemend op nuwe maniere byval in sekulêre vorm in dekoloniseringsdiskoerse in wat ek beskryf as “die priesterdom van selfveragting”. Allerlei geestelike oorgangsrituele word opgevoer om die metafisika van witheid met 'n metafisika van swartheid te “vervang”, oftewel om 'n sekere deel van die ou priesterklas wat bereid is om selfgeselingsrituele (ironies genoeg, die opperste uitdrukking van bevoorregting) uit te voer om hulle te “versoen” met hulle “swart” ekwivalent, waarbinne sekeres met politieke “struggle credentials” bo ander bevorder word.
Wesenlik bly die struktuur van paternalisme en koloniale denke dus dieselfde, so ook die beperking van toegang tot die wat verbind is. Wat hiermee bedoel word in meer konkrete terme is dat onder die dekmantel van eenheid onderskeide gevestig word wat biometries, en binne die biometriese indeling metafisies is, dit wil sê diegene bevoordeel wat bereid is om die metafisika van ras te onderhou met ‘n paar wysigings om die invloed van die elites daaragter te verdoesel en die aanleg van burgers ondergeskik te stel aan politieke verbintenis, soos binne Afrikaner geledere ook die geval was.
Sommige is van mening dat hierdie politiek wesenlik foutief is, maar steeds met 'n antitese van witheid teengestaan moet word, aangesien die primêre merker van kultuur ras móét wees, waaroor ek sterk bedenkinge het. Kultuur en taal is nie aangebore nie, maar word aangeleer en verder ontwikkel deur wye inspraak en deelname (as dit ingebore was, dan sou Jan Bantjes nooit die woorde “mijne broeders” en “wij” in die Gelofte neergepen het nie).
Kortom: Suid-Afrika was nie 'n uitsondering op die reël van wesenlik korrupte state in die post-koloniale tyd in Afrika alleen omdat die infrastruktuur (vir sommige) gefunksioneer het nie, maar in baie opsigte die voorloper van wat nou in baie wêrelddele afspeel. N.P van Wyk Louw het hierdie tipe outoritêre mag in verskillende uitdrukkings deurlopend in sy toneelstukke aangespreek. Hy het selfs die reaksie daarop komieklik uitgebeeld in Koning Eenoog, 'n toneelstuk oor 'n denkbeeldige Afrikaanse tersiêre kollege wat opgerig word om grootskaalse verengelsing teen te werk, maar hulle so besighou met fotosessies dat hulle uiteindelik nie by die belangrike taak op hande uitkom nie. Hopelik sal so iets ons nooit te beurt val nie. In die afgelope dekade was daar inderdaad in Suid-Afrika geen tekort nie aan hooggeplaaste akademici en rektors wat meer op sosiale media en koerante gepronk het as in akademiese vaktydskrifte.
Agter die heersende puerilisme, dit wil sê die prominensie van jeugdigheid, word moralisme deur middel van ‘coddling’, soos die Amerikaanse sielkundige, Jonathan Haidt dit noem, oorgedra, wat vertaal kan word met die ‘verkleutering van die verstand’. Sake wat op besonne wyse gedebatteer behoort te word, kan by wyse van kinderlike optrede afgedwing word sonder deeglike oorweging. Dit is hoe dekolonisering grootliks oorgedra word, aangesien redelike gesprekvoering as ‘n ‘Westerse’ fenomeen getipeer word en daar van die verontregtes verwag word om deur kinderlike optrede ‘n punt oor te dra. Ironies genoeg ondermyn hierdie soort optrede juis die meeste orale kulture waarin volwassenheid dikwels die voorwaarde vir deelname aan publieke beraadslaging is. Die nuutste biometriese tendens is om kleuters te laat besluit oor hulle geslag, wat sodoende ‘n verdere kloof tussen die kop, die capitas, en die liggaam bewerkstellig. Anders as met die meer statiese biometriese samelewing, gaan dit hier oor die konstante negering en verruiling van die huidige liggaam vir ‘n nuwe identiteit.
Sodoende word diegene wat hierdie besluite neem (en die kapitaal daarvoor het), as slagoffers getipeer. Die uitgelekte WPATH dokumente (World Professional Association for Transgender Health) in 2024 , het egter aangetoon dat die langtermyn gevolge van hierdie behandelings allermins uitgeklaar is en dat dit dikwels tot nadeel van die persoon strek.
'n Slotwoordjie oor die verlede
Wat ten slotte betref die wyse waarop ons met die verlede omgaan, wil ek graag 'n paar opmerkings maak. Ons kan eerstens die verlede agterlaat, maar of die verlede ons gaan uitlos, is ek minder oortuig. Die geskiedenis is nie 'n pretpark waarin 'n mens kan kies watter ritte vir jou lekker is nie.
Dit is tweedens nodig om nadenkend – bedoelende waarderend én krities - oor die verlede na te dink. Maklik is die weg van kritieklose aanprysing van die eie en begriplose kritiek op ander. 'n Taal wat nie deurlopende nadenke bevorder nie, hou haarself alleen besig met beeldeverering– totdat dit self klip word.
Moeiliker is derdens die weg van gesprek, van dialoog en debat, van dig en nie alleen rym nie, van oopskryf van dit wat alleen wil inperk én koestering van dit wat kosbaar is, van dankbare nadenke. Wat dankbare nadenke alles behels, noodsaak nog heelwat gesprek.
Dr Hercules Boshoff is Navorsingsgenoot aan die Departement sistematiese teologie en ekklesiologie binne die Fakulteit Teologie, Universiteit Stellenbosch. Hy skryf in sy persoonlike hoedanigheid.
Nog artikels deur dr. Hercules Boshoff en ander:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
Wil jy stukke soos dié direk in jou inboks ontvang en ons werk ondersteun? Teken hieronder in: