Die wêreld van lees
‘n Reaksie op OntLaer-redaksielede se onlangse menings oor taal, lees en dink
Paul Maritz skryf onlangs twee stukke oor taal op OntLaer, die een oor die toekomsmoontlikhede van moedertaal in die digitale era, en die tweede oor die toestand van lees en denke in die digitale tyd. In beide skrywes wys hy op uitdagings en moontlikhede. Wat ek hier gaan poog is om die verband tussen lees en skryf in die digitale era onder die loep te neem.
Vensters van verdieping
Ted Nelson, een van die innoveerders van die moderne interface, het reeds in die 1960’s die teks soos dit op die rekenaarskerm behoort te verskyn as ‘n hiperteks gekonseptualiseer, waarmee hy ten eerste die teks wou bevry van die fisiese beperkings van die bladsy, of soos hy dit gestel het, die ‘prison of the page’. In ewe digterlike terme het hy in die plek van die boek die idee van ‘windowing’ voorgestaan, waarmee hy bedoel het dat skerms as’t ware kan dien as vensters tot ander tekste.
Die hiperteks, soos netjies saamgestel word op platforms soos OntLaer, is dan wesenlik ‘n dialogiese teks wat mens herlei na verdere bronne– maar ook afleiding kan bewerkstellig, soos ons dikwels ervaar met irriterende flitsende boodskappe op nuuswebwerwe. Natuurlik verstaan ons waarom dit so is: die ekonomiese produksie van die boek behels dat dit gedruk en verkoop word, die digitale teks dat dit aangevul word deur befondsing vanuit die reklamewêreld. Nelson het geglo dat nuwe leespraktyke gaan ontstaan in die digitale era wat volledig wegbeweeg van ouer leespraktyke, en dat hierdie moontlikhede verken moet word. Nelson was reg.
Die bekende media teoretikus, Marshall McLuhan, het in sy belangrike werk, Understanding media die opname van ouer tegnologie en praktyke in nuwer tegnologie beskryf, soos die geval is met film, wat meermale met ‘n ‘draaiboek’ werk, asook toestelle soos Kindle reader. McLuhan was dus óok reg. Die digitale teks is gevolglik ‘n teks met eiesoortige kenmerke en leesstrategieë binne ‘n digitale domein (ook voorleesplatforms) wat ook ander intellektuele uitdrukkingsvorme bevat soos Podcasts wat skermtyd kan beperk (sien gerus Daniël Eloff se belangrike refleksie hieroor laasweek), maar bly nogtans gekoppel aan ouer lees en skryfpraktyke. Ons kan daarom nadink oor die wêreld rondom die lees en skryfproses as sodanig, ‘n tema wat ook sterk op die voorgrond tree in Paul se refleksies. Die wêreld om ons speel ‘n wesenlike rol by die leesproses en ons kennismaking met tekste.
Van Lees na Dink
Lees begin by voorlees, by vertel, by verbeel. Hierin speel ouers en onderrigruimtes (insluitend Sondagskool) ‘n belangrike rol. Verhale, maar ook kuns en musiek speel by ‘n jong ouderdom ‘n belangrike rol, omdat dit verruiming van die verstand bewerkstellig, en verhoed dat ‘n mens bloot begripsmatig en abstrak met die werklikheid omgaan. Vormgewing binne gesinsverband en deur opvoeders bly belangrik, gedagtig daaraan dat vormgewing insgelyks iets is waaraan die jong persoon self tegelyk spontaan, gedissiplineerd en energiek en met soveel as moontlik entoesiasme moet deelneem. Benewens die teoretiese opvoedingsruimte, moet die interaksie tussen buitewêreld en denke ook gestimuleer word. Daarom moet kinders ruimte gegun word om hulle te bepaal by hulle spesialiteisgebied, naamlik om te speel. Die vier verskillende vorme van spel soos uiteengesit in die werk van Robert Caillois: Man, play and games , naamlik vaardige mededinging (krieket, netbal ens.), waagspel (waarin dobbelsteentjies gebruik word), verbeelde wêrelde (rolspel) asook vertigo (klim) is almal nodig om beleef te word deur ‘n kind om goeie oordeelsvermoë en intuïsie te ontwikkel. Om suksesvol toe te tree tot die digitale domein, vereis myns insiens ook die vermoë om te speel met die moontlikhede daarbinne. Dit is belangrik vir ouers om belangstelling te kweek in die rekenaarspeletjies wat hul kinders speel en soms saam te speel, net soos dit ook belangrik is om die tyd daarvan in te perk.
Daar is ‘n ander rede waarom spel belangrik is: plig en spel (play) is etimologies aan mekaar verbind. Indien plig te vroeg afgedwing word, dan verloor dit die dimensie van vryheid, maar indien dit nie met dissipline gepaard gaan nie, dan val dit was in doelloosheid. Omdat die mens op ‘n jong ouderdom van ander afhanklik is, kan hy bekostig om te speel, maar soos hy met die noodsaak en gevolge van sy aksies te doen kry tydens spel, moet hy aanleer om met noodsaaklikheid vrede te maak, om met ander woorde sy perke te aanvaar. Die toespitsing van ‘n mens deur dissipline, onder meer in oefening vir spel, dra by tot die wasdom van ‘n mens. Volwassenheid is die selfstandigheid waarin mense tegelyk vryelik kan besluit hoe hulle tot die samelewing kan bydra maar ook verantwoordelikheid en dissipline aan die dag lê.
Op ‘n meer volwasse ouderdom begin ‘n mens meer selfstandig, doelgerig en gedissiplineerd lees, sonder dat die interpretatiewe vermoëns, die spelende dimensie verlore raak. Hiervoor is skryf, die vormgewing aan eie idees en weergee van tekste met jou eie toepassing daarvan in jou konteks ook belangrik. In antwoord op die vraag hoe ‘n mens wysheid kan bekom, het die antieke orakel aan Zeno gesê dat hy tyd met die dooies moet deurbring. Dit beteken eenvoudig, lees! Roland Barthes praat in sy bekende essay Le Plaisir du Texte (die plesier van die teks) van die ‘gemeenskap van vriende van die teks’, hulle wat buite die ruimtes van die klaskamer lees. Hierdie mense het ‘n gemeenskaplike liefde vir lees, en hoewel hulle vrywilliglik kan bymekaarkom, en sulke byeenkomste belangrik is, is die feit dat hulle meermale nie ontmoet nie en bloot ‘n gedeelde liefde vir lees het, iets wat hulle moeilik maak om op te spoor en as ‘n groep te onderdruk. Lesers speel dus ‘n onontbeerlike in ‘n demokrasie! Vir lesers is ‘n teks soos ‘n wingerd waarin mens tydsaam wandel, gedagtig aan Ivan Illich se idee van die Vinyard of the text. Die teks is ‘n uitnodiging om te verwyl, langsaam daardeur te wandel en dit te interpreteer. So belangrik is hierdie idee van die wandeling deur die teks, dat die begrip ‘voete’ gebruik word om die metrum, oftewel die maat waarmee mens lees, by digkuns aan te dui. Die maat is nie iets wat die leser noodwendig kies nie, dit word aan die leser oorgedra. Die Śatapatha Brahmana beskryf metrum selfs as die “vee wat deur die gode toegelaat word om te wei.”
Enkele uitdagings, en die pad vorentoe
Die wyse waarop ons verwyl kan egter ook problematies wees as dit ons afsluit van die wêreld, of wanneer dit met ‘n problematiese leesstrategie gegrond in ons eie voorkeure gepaard gaan. Ons kan natuurlik ook verwyl aanlyn– dit is trouens ‘n groot probleem, gerugsteun deur voorkeurbepalende algoritmes. Om hierdie rede is besonnenheid nodig om kop te hou te midde van prikkelende invloede.
Besonnenheid behels selfstandigheid binne verhoudings en ‘n sinryke omgang met die natuur. Om plesier in lees te vind beteken nie noodwendig dat mens alleen tekste hoef te lees wat jou welgeval nie. Plesier word ingebed binne die soeke na geluk. Sonder geluk word plesier verslawing en sonder plesier is geluk maar yl. ‘n Mens vind juis genot in tekste wat jou uitdaag, selfs die waarvan jy sal verskil, al is dit net om daardie tekste deeglik te verstaan. ‘n Mens hoef insgelyks nie alles wat jy lees toe te pas, iets daarin in te lees of ‘n lessie daaruit te leer nie. Die idee van sloer sluit hierby aan. Ons behoort plesier te kry daarin om gekonfronteer te word, om mekaar uit te daag, om te verskil én om saam oplossings te soek. Die belangrike boeke, wetenskaplike innoverings en kunswerke is nie onder dwang of deur voorskrif voortgebring nie, maar in vrye en selfstandige denke.
Hoe dink ons oor dit wat ons aanlyn lees in die digitale tyd? In watter terme dink ons oor die wêreld om ons? Dink ons alleen oor ons liggame in terme van gesondheid, aan kos as kalorieë, aan die omgewing as energie, aan die leerproses as informasie, aan werk as blote uitsette? Wat het geword van smaak, van kennismaking, van inlewing, van diskoers, van besieling?
Dis hier waar boektekste en aanlyn lees maar ook skryfwerk kan help om tot geartikuleerde denke by te dra. Boektekste kan daardie afbakening verskaf wat wyding toelaat, maar aanlyn tekste kan nodige toeligting en interaktiewe lees en verifiëring aanhelp. Tale is nie blote denkkonstrukte nie, maar, soos die groot linguïs, Wilhelm von Humboldt dit gestel het, wêrelde binne die wêreld, Wêreld moet hier nou en breed verstaan word. ‘n Taal wat alleen in die verlede vassteek, word ‘n soutpilaar, soos met die eens magtige Latynse taal die geval was. Dit het nodig om wyer te reik as sy onmiddellike omstreke. Dit het nodig om te rek, te plooi en te vorm. Omdat elke taal ‘n unieke bydrae tot die geheel kan lewer, moet dit die geheel daarin opneem en sodoende iets ondupliseerbaar en tegelyk universeel bied.
Ten slotte wil ek aanvoer dat die enigste weg vorentoe tussen boek en skerm komplementêr van aard moet wees. Die boekteks is begrens, ja, maar dis ook juis waar die krag daarvan opgesluit lê. Die digitale teks is multidimensioneel, deelnemend en selfs speels, maar dis ook waarin die krag daarvan opgesluit is. Sonder toeligting bly ‘n boek eendimensioneel, sonder verdieping in ‘n teks verval lees tot ‘n reeks afleidings en brokstukke van informasie wat kan begin by Plato en Tolstoy en opeindig by troeteldiervideos op YouTube. Elkeen van die vorme kan mekaar aanvul.
Dr Hercules Boshoff is Navorsingsgenoot aan die Departement sistematiese teologie en ekklesiologie binne die Fakulteit Teologie, Universiteit Stellenbosch. Hy skryf in sy persoonlike hoedanigheid.
Nog artikels deur Dr Hercules Boshoff:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
Wil jy stukke soos dié direk in jou inboks ontvang en ons werk ondersteun? Teken hieronder in: