Ons media het die gewoonte om politieke probleme toe te skryf aan enkele persone wat bloot op die laaste punt van die korrupsie-voedselketting staan, asof hierdie persone se vervanging wesenlike verandering sal bring.
Die leser sal my onkunde rakende die besonderhede van die nuutste intriges verskoon as ek my nie verdiep in die sappighede van die SAPD-sage nie. Dit is dalk nodig om weer 'n stap terug te neem en te vra na die kontoere van die polisie binne ons samelewing, alvorens ons net klakkeloos praat van “wetstoepassing”.
Die landskap(pe)
Dit is nodig om 'n idee te vorm oor die landskap, oftewel landskappe, waar polisiëring ter sprake kom asook die onderskeie uitdagings wat in elk van daardie domeine na vore tree.
Ons moet onthou dat Suid-Afrika voor 1994 in effek 'n polisiestaat was. Die SAPD het in hierdie tyd die rol vervul om die beweging van mense te monitor in 'n biometriese staat. Met 'n paar wysigings word die indelings voortgesit eerder as teengewerk deur transformasiebeleid. Om te verstaan hoe dit gebeur, moet ons verwys na die militêre vleuels van bevrydingsbewegings wat meegeding het oor beheer van informele nedersettings, wat fondse gegenereer het uit dienste soos taxivervoer: ironies genoeg 'n privaat inisiatief. Dit is ironies, omdat talle bevrydingsbewegings nie na bewindsoorname afstand kan neem van eermalige befondsers wat aanhou om belastingvry te funksioneer nie. Met die oorgang bestaan die bedreiging dat hierdie organisasies tot niet sal gaan, en derhalwe neem die organisasies nie afstand van hulle wapens en organiseringsvermoëns nie, en word politici omgekoop om te verhinder dat mededingende infrastruktuur soos spoornetwerke die plek van hierdie organisasies inneem. Hulle voortbestaan word geregverdig deur die idee dat die revolusie 'n tydsame affêre blyk te wees, selfs na die oorgang. So groei georganiseerde misdaad as onderdeel van die bestel, en nie as indringende faktor daarvan nie, en staar die polisiediens, wat grootliks uit kaders uit die vakbondwese bestaan, hulle blind teen misdrywe wat hierdie gegewens sal blootlê.
In plaas daarvan om met nuwe planne vorendag te kom ter wille van die florering van die samelewing, word ouer strukture en organisasies se hand sodoende versterk en word informele nedersettings in plek gehou teen enorme onkoste aan die staat weens welsynsbehuising, hoewel ekonomiese geleenthede in talle gebiede waar hierdie behuising verskaf word, ontbreek. Verstedeliking ontwikkel geskiedkundig rondom ekonomiese geleenthede, terwyl verstedeliking onder die ANC 'n teenoorgestelde wending inneem, wat die demografiekenner Professor Flip Smit die “verstedeliking van armoede” noem. Hierdie patroon is kenmerkend van ten minste 16 sub-Sahara Afrikalande, soos 'n onlangse verslag van die Wêreldbank aangetoon het. Eenvoudig gestel, die stad, anders as die landelike areas, bied minder ruimte vir selfonderhouding, so as 'n mens daar 'n huisie kry sonder 'n werk, sit jy met 'n toelaag en duisende ander wat met jou meeding vir dieselfde geleenthede van laaggeskoolde arbeid.
Sodoende word jy gebind aan die staat as 'n moederlike versorger, 'n rol wat 'n politikus dikwels geniet om te speel. In sy boek Wars, Guns, and Votes: Democracy in Dangerous Places wys Paul Collier daarop dat demokrasie in lande waar die per kapita inkomste onder $2700 per jaar beloop, die teenoorgestelde effek gehad het as in lande waar die inkomste hoër was. In kort: demokrasie in arm lande is oor die algemeen tot in die kern korrup terwyl daar genoeg hulpbronne by ryker lande bestaan om hulle regerings aanspreeklik te hou. Die polisie dien in arm lande die regerende party en sy vennote ten koste van die bevolking.
Namate armoede as’t ware geïnstitusionaliseer word, sien ons ook hoe die semigrasie en emigrasie van geskoolde werk in Suid-Afrika plaasvind. Sommige van die patrone is meer tydelik van aard, anders as wat sommige wil voorgee. Nogtans word beweer in 'n onlangse rubriek op OntLaer dat die “professionele klas” besig is om na die Wes-Kaap te verhuis. Hierdie stelling is misleidend. Die vernaamste merkers van mense wat na die Wes-Kaap verhuis, is nie noodwendig vaardighede nie, maar eerstens kapitaal, en tweedens hulle ouderdom, naamlik 49-64. Trouens, die tendens is dat jonger professioneles vanweë stygende lewenskoste die Wes-Kaap verlaat. Die ou mantra dat kapitaal outomaties werksgeleenthede skep is dus misleidend. Hulle verlaat dus funksionerende infrastruktuur na plekke met swakker en selfs uiters swak infrastruktuur, en die kans dat baie van hierdie mense uiteindelik die land sal verlaat sodra 'n gunstige geleentheid opkom, is groot. Dienste soos sekuriteit, krag, opvoeding, vervoer, en mediese sorg, moet voorts uit die sakke van werkendes betaal word, wat lewenskoste verder verhoog. Die resultaat hiervan is die toenemend geïsoleerde en eenvormige argitektuur van meenthuiskomplekse wat nie die indruk skep van volle individualisering en selfstandigheid nie. So word toestande vir veral die opkomende middelklas in alle dele van die land toenemend onhoudbaar onder toesig van die onderskeie vennote van die eenheidsregering, en daarmee saam groei radikale sentimente aan weerskante van die politieke spektrum, wat ewe min verdraagsaamheid jeens selfstandige burgerskap koester.
Laastens is daar die landelike gebied, wat besondere blootstelling aan misdaad en infrastruktuurprobleme trotseer. Landelike geweld word steeds nie as 'n besondere probleem aangepak nie, met veral die hantering van die “Kill the Boer” kreet deur die howe wat 'n toenemende verleentheid vir die land word. Daar word gereeld genoem dat die lied slegs 'n “struggle lied” is, wat geen letterlike betekenis dra nie, terwyl meer besonderhede oor die geskiedenis van die lied die teendeel bewys.
'n Geheelbeskouing
Afgesien van die besondere dinamiek van die land, moet die breër raamwerk waarbinne polisiëring bedink word ook in ag geneem word. In sy lesings oor die polisie posisioneer die 18de eeuse Skotse filosoof Adam Smith die kwessie binne die politieke en ekonomiese beleid. In die eerste plek beskryf hy die omstandighede wat tot die korruptering van die samelewing aanleiding gee, naamlik afhanklikheid. Daarteenoor word die bevordering van onafhanklikheid, hoewel dit teenintuïtief vir die staat mag wees, as alternatief voorgehou: “The establishment of commerce and manufactures, which brings about this independency, is the best police for preventing crimes”. Smith se beskrywing benodig verdere uitbreiding. Goeie ekonomiese beleid dra gewis by tot die florering van die samelewing, maar waarom is die staat hoegenaamd nodig indien burgers dan self so goed daarsonder kan klaarkom?
Die antwoord is dat staat benodig word om die ‘openheid’ van die burgerlike samelewing te reguleer, aldus die Duitse filosoof Hegel. Anders gestel, daar is 'n oorsig oor dit wat die land inkom en daar uitgaan (insluitend mense). In ons geval sal dit insluit om te verhinder dat byvoorbeeld Suid-Afrika se grootste bate, sy geskoolde burgers, die land in strepe verlaat weens korrupsie enersyds, maar ook weens ongunstige markkragte vir eiendom in gegoede gebiede andersyds. Dit is nie toevallig dat die begrip “polisie” en “policy” etimologies verband hou nie. Mens sou nog verder kan wys op die begrip van “pool’” soos by magnete. Die aard van die kern van die magneet bepaal wat aangetrek word daartoe, florering of kripering, en die gaping tussen hierdie twee pole in die hedendaagse wêreld groei by die dag.
Dit is geen verrassing dat denkers soos Hegel ander dienste wat ons breedweg vandag begryp as publieke administrasie soos hospitale ook onder polisiëring verstaan het nie. Hoewel ons vandag 'n skerp onderskeid tussen hierdie onderskeie dienste tref, is dit geen toeval dat gebrekkige administrasie 'n oorhoofse probleem is nie, en dat dit as sodanig aangespreek behoort te word.
'n Verdere kwessie waaroor daar polisiëring volgens Hegel behoort plaas te vind, is die gesin. 'n Mens sou kon sê dat hierdie aangeleentheid in die wetgewing oor gesinsgeweld aangespreek word, maar dit sou vir Hegel en vroeëre denkers soos Augustinus ontoereikend wees. Vir Augustinus is die gesin die “boublokke van die staat”, terwyl in lande van die “bottom billion” soos Collier dit beskryf, beleide ondersteun word wat nie die selfstandigheid van die gesin voorop stel nie, maar eerder deur toelae en swak basiese dienste mense afhanklik maak van die staat, gerugsteun deur buitelandse nie-regeringsorganisasies wat gesondheidspakkete en ideologie oordra. Hierdie “filantropie” verleen 'n morele dimensie aan die staat en sy weldoeners, wat dit moeiliker maak om uit te daag en om die “band” tussen die staat en die armes te verbreek.
Die laaste kwessie wat volgens Hegel by “policy” ter sprake kom, is welsyn. Dit is in die eerste plek nodig vir die staat om alles moontlik te doen om te verhinder dat mense hulle in 'n toestand bevind waar welsyn ter sprake kom. Goeie beleid verhinder afhanklikheid maar ook misdaad, soos Smith dit gestel het. Die staat het 'n verpligting teenoor sy burgers wanneer omstandighede ongunstig is, hoewel die totstandkoming van'n “gepeupel” ten alle koste vermy moet word. Die tendens in mislukte state is die teenoorgestelde, naamlik om aktief die opkoms van 'n afhanklike onopgevoede massa in die hand te werk.
Hierdie oorhoofse beleidskwessies verdien aandag indien daar met erns na effektiewe polisiëring gestreef word. Die onderhouding van afhanklikheid van die armes aan die staat, sowel as die aktiewe ondermyning van die middelklas en afskeping van die landelike gebiede moet op beleidsvlak aangespreek word, alvorens betekenisvolle verandering verwag kan word.
Dr Hercules Boshoff is Navorsingsgenoot aan die Departement sistematiese teologie en ekklesiologie binne die Fakulteit Teologie, Universiteit Stellenbosch. Hy skryf in sy persoonlike hoedanigheid.
Nog artikels deur Dr Hercules Boshoff:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.