Die terugkeer van Pax Americana
Maduro se arrestasie ontbloot die mite van internasionale reg.
Die jaar het skaars begin of president Donald Trump en sy administrasie het reeds die openbare mening verdeel toe Amerikaanse soldate president Nicolás Maduro en sy vrou in Venezuela gevange geneem het.
Die Suid-Afrikaanse regering en die ANC as grootste party in die regering van nasionale eenheid het (soos die meeste kritici) daarteen uitgevaar as 'n ondermyning van die internasionale reg. Hulle het bowendien gevra vir die paartjie se vrylating, 'n sitting van die Verenigde Nasies (VN) se Veiligheidsraad hieroor aangevra en selfs beloof om daarteen te mobiliseer (laasgenoemde was Fikile Mbalula se bravade en kan dus met selfs minder erns as die res van die kritiek opgeneem word). Ander RNE-vennote soos die DA en VF+ het heftig hiervan verskil en hul blydskap uitgespreek dat Maduro uiteindelik geregtigheid in die oë staar. In Amerika is die linkses uiteraard woedend (meer weens 'n anti-Trump impuls as enigiets anders) terwyl selfs regse kringe verdeeld is daaroor.
Eerstens is die internasionale reg in praktyk 'n hersenskimmige en wollerige verskynsel, al is dit welluidend in teorie. Dit is bowenal ondergeskik aan magspolitiek en veral die mag van groot moondhede. Daarbenewens moet hierdie regsbeginsels in hul volle konteks beoordeel word en nie net aan die hand van uitgesoekte klousules en artikels nie.
Die (On)Verenigde Nasies
Ofskoon alle internasionale verbonde en konvensies nie in hierdie ruimte ontleed kan word nie, moet die VN se Stigtingshandves in oënskou geneem word as die grondliggende teks in hierdie verband. Dit is nodig om sodoende die kernaspekte uit te lig.
Die aanhef beklemtoon die vermyding van oorlog, herbevestig menseregte sowel as maatskaplike vooruitgang, vryheid en lewenstandaarde. Artikel 1 van die handves maak vroeg melding van die nastreef van internasionale vrede en sekuriteit en kollektiewe optrede teen bedreigings vir vrede. Voorts bevat dit ook verwysings na respek vir fundamentele vryhede en menseregte. Artikel 2 verwys onder meer na die “soewereine gelykheid” van alle lidlande, die vreedsame beslegting van geskille tussen hulle, en die nie-inmenging in sake wat “in wese” as lidlande se huishoudelike sake beskou kan word. Laasgenoemde sluit egter nie sekere strafmaatreëls, soos militêre optrede (uiteengesit in Hoofstuk VII), om internasionale vrede te bewerkstellig, uit nie.
Die uitdagings met sulke vae en dikwels teenstrydige begrippe en strewes is dat hulle (tesame met die aard van die VN) tot verlamming, 'n getalm en hul eie skending bydra. Dit is veral kleiner en armer lande, tesame met hul bevolkings of altans segmente daarvan, wat aan die kortste ent trek. Die kwessie van soewereiniteit is veral omstrede en het reeds vir 'n wyle tot onmeetbare lyding en sterftes in veral die Derde Wêreld bygedra – by uitstek in Afrika. 'n Burgeroorlog is boonop nie altoos soseer 'n internasionale bedreiging vir vrede en beveiliging nie en daarom is lidlande huiwerig om hul troepe na elke konflik te stuur.
Nie dat die VN alleen verkwalik kan word nie, maar terwyl daar hare gekloof is oor die VN-vredebewaarders se mandaat is 800 000 mense (meestal Toetsi’s) in 1994 in Rwanda vermoor. Ditto Darfoer. Die Bush-administrasie (maar nie die VN nie) het die situasie in Darfoer in die 2000’s tot volksmoord verklaar en die Internasionale Strafhof (IS) het later bevind dat die Soedannese regering stamme in die streek op grond van hul etnisiteit vermoor en verdryf het. Ondanks 'n internasionale lasbrief vir sy arres, is oudpres. Omar al-Basjir van Soedan en andere nooit uitgelewer nie omdat Soedan (nes die VSA en talle ander state) nie ondertekenaars van die Rome-statuut is nie. Al-Basjir is 'n paar jaar gelede deur sy eie gewapende magte in 'n staatsgreep ontset en later aangekla en toegesluit in Soedan. Die IS was gebelg toe die Suid-Afrikaanse regering in 2015 versuim het om hom in hegtenis te neem toe hy hier te lande was. Daar is sedert 2023 weer 'n bloedige burgeroorlog in Soedan aan die gang, wat ten minste gevare vir die streek inhou en waaroor die VN se verskeie instellings slegs verslag doen.
Die internasionale reg is dus nie universeel en van toepassing op almal nie. State kies klaarblyklik of hulle daaraan wil voldoen al dan nie. Die internasionale reg en die “illusory international community” (soos die voormalige Amerikaanse minister van buitelandse sake, Condoleezza Rice, dit al beskryf het) was al te dikwels van nul en gener waarde vir bevolkings van lande onder die juk van diktators wat verkiesings bekook en hul mense onderdruk.
Op hierdie stadium – en soortgelyk aan die Koue Oorlog – het kleiner strategiese en/of mineraalryke Afrikastate ook magtige eksterne beskermhere wat hulle ondersteun en beskut. Rusland help veral om outokratiese junta-regimes in die Sahel-streek aan bewind te bring en te onderhou. Dit word onder die voorwendsel van stabiliteit teen Islamitiese terreurgroepe gedoen, maar die verskrikking duur voort vir die algehele bevolking. Veral mense buite die stede waar die staat se mag in wese nie bestaan nie, is steeds uitgelewer en ervaar die bedreiging van terreurgroepe sowel as die las van onverantwoordbare militêre regimes.
Rusland, een van die vyf permanente lede van die VN-Veiligheidsraad, se bykans vier jaar lange oorlog in die Oekraïne is nog 'n voorbeeld van die futiliteit van die sogenaamde internasionale reg en multilaterale instellings soos die VN. Dit woed boonop op die grens van Europa en die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo) en kan waarskynlik nog in 'n veel wyer konflik ontaard. Dit is 'n regstreekse en flagrante skending van die VN-handves se beginsels en sover staan China Rusland (albei het Maduro se arres veroordeel) op verskeie maniere by in hierdie konflik wat al duisende lewens geëis het. Die moontlike oplossings en teenkanting kom van die Weste buite VN-strukture.
Pax Americana
Teen hierdie agtergrond, sowel as Amerika se geskiedkundige status, optrede en beginsels, moet Trump se optrede beoordeel word.
Nadat oudpres. James Monroe op 2 Desember 1823 in die Amerikaanse kongres aangekondig het dat die toentertydse Europese moondhede ter wille van vrede uit die Westelike Halfrond moet bly (terwyl Amerika hul gevestigde kolonies sou respekteer), het menigte Amerikaanse presidente hierdie “Monroe-doktrine” nagejaag en herbevestig. Baie het in die laaste twee eeue verander, maar nie geografie nie. Die VSA was geensins 'n groot moondheid toe Monroe sy doktrine uitgevaardig het nie en het hierdie status eers aan die einde van die 19de eeu verwerf. Dit beteken Amerikaanse presidente kon sedertdien met bykans ongeëwenaarde politieke, ekonomiese en militêre mag in die Westelike Halfrond optree.
Amerika en administrasies oor die ideologiese spektrum het oor die afgelope dekades telkens sluipmoordaanvalle op wyle Fidel Castro uitgevoer en verskeie soorte druk op Kuba uitgeoefen en dié kommunistiese regering omver probeer werp (waaronder die mislukte Varkebaai-voorval in 1961 onder John F. Kennedy), vir Augusto Pinochet gehelp om in Chili aan bewind te kom, die Kontras bygestaan in hul stryd teen die Marxistiese regering in Nicaragua, en daar is sterk sprake dat hulle betrokke was by Maduro se voorganger, Hugo Chávez, se siektetoestand en uiteindelike dood in 2013. Nogtans het die sogenaamde “Pax Americana” (die lang vrede) in die Westelike Halfrond en later die wêreld geheers nadat Amerika die leidende moondheid geword het.
Gegewe al hierdie konteks en skynheiligheid, val dit vreemd op dat die Suid-Afrikaanse regering en andere so skril is in hul kritiek teen Trump oor Maduro se arrestasie. Hy het in sy vyf jaar meer werklike vrede (selfs net op die korttermyn) in uiteenlopende wêrelddele beding en geskep as enige ander Amerikaanse president in die onlangse geskiedenis. Die oorlog tussen Rusland en die Oekraïne het onder oudpres. Joe Biden se toesig afgeskop.
Kom ons wees eerlik: Niemand behalwe sekere skurkakteurs gaan vir Maduro mis nie. Verskeie administrasies – Biden s'n inkluis – het hom slegs gewaarsku en hy is in 2020 in Amerika aangekla oor onder meer dwelmterreur. Sy verskaffing van olie aan China en Kuba, die verwoesting van sy land se ekonomie, bekookte verkiesings en menseregte-vergrype sou hom die gramskap van enige Amerikaanse administrasie en ander rolspelers op die hals haal. Trump het bloot besluit om iets te doen. Maduro is nie vermoor nie en sy gevangesetting behels nie regimeverandering, oorlog of verdere destabilisering nie. Of dit streng strook met internasionale reg is vir almal om self te besluit, maar die Trump-administrasie het die wêreld en veral Venezuela 'n guns bewys terwyl hy Amerika se geskoesterde ideale, nasionale belang en selfs kernaspekte van die internasionale reg nastreef. Maduro het trouens die internasionale reg op verskeie wyses en straffeloos ondergrawe. Uiteindelik is daar niks wat die internasionale gemeenskap in die vorm van die VN (en nog minder die Suid-Afrikaanse regering) nou aan Maduro lot kan doen nie. Regte, veral internasionaal, bly ondergeskik aan wat mag toelaat.
Dr. Brink is 'n entrepreneur, sakekonsultant en ontleder van die Paarl.
Nog artikels deur Eugene Brink:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.









