Terugblik op 2025: Vyf menings wat aangryp
Eugene Brink kies sy gunsteling vyf artikels op OntLaer in 2025
Dit is moeilik om slegs vyf artikels in 'n publikasie vir verdere bespreking uit te sonder terwyl daar soveel goeies in 2025 was. Terwyl ander om verskeie redes – soos besondere en kreatiewe taalgebruik, sterk menings, die ontlokking van debat en fyn redenasies – ook my lys kon haal, het ek in my eie subjektiwiteit die volgende vyf gekies. Hulle raak sterk temas aan wat my op uiteenlopende grondslae aangegryp het en verdere besinning vereis.
Die Saak vir Belesenheid deur Paul Maritz
Ofskoon ek deernis het met studente en skoolkinders wat hulself nie in letterkunde en gedigte verdiep nie, het Maritz iets grondliggend in hierdie stuk aangeroer. Daar is ruim bewyse om sy pleidooi (wat ek entoesiasties steun) en die veelsydige impak van belesenheid te rugsteun. Van die geykte gesegde dat “nie alle lesers leiers is nie, maar dat alle leiers wel lesers is”, tot Johann Gutenberg se uitvinding van die drukpers in die 15de Eeu en die Hervorming se klem op geletterdheid. Trouens, die Weste se opgang en uitstyging bo die res kan in wese aan belesenheid en die voortspruitende deel van kennis toegeskryf word.
Lees en taal is steeds die hoeksteen van enige strewe om kennis en formele kwalifikasies op te doen – hetsy op 'n skerm of papier. Tegnologie kan, soos Maritz uitwys, nie uit hierdie gesprek gelaat word nie. Eers TV en daarna sosiale media het mense van hul begeerte en vermoë beroof om diep te lees. Moet my nie verkeerd verstaan nie, mediums soos YouTube het in verskeie opsigte groot waarde, maar kort en kontekslose twiets en plasings op sosiale media het kennis begin afwater en wanpersepsies laat gedy. Afgesien hiervan kom te veel noodsaaklike kennis nie op YouTube of andersins in beeld voor nie. Dit moet geléés word as 'n proses van lewenslange leer.
In 2025 is daar steeds 'n reuse kloof in Suid-Afrika en die wêreld tussen diegene wat kan lees en nie kan lees nie. Die libertynse ekonoom Thomas Sowell het tereg kultuur, en nie ras nie, as onderskeidende kenmerk in ongelykhede uitgewys. Hiervoor gebruik hy die voorbeeld van Joodse vaders wat verseker dat hul dogters reeds op vierjarige ouderdom al kan lees, terwyl dit nie naastenby die geval in swart gemeenskappe is nie. Dit is ook die geval in Suid-Afrika, waar veral swart kinders se leespeil ver benede hul ouderdom is.
'n Apokriewe aanhaling (dit word soms aan Jannie Mouton toegedig, maar ek wil dit nie as sodanig bevestig nie) lui boonop dat “diegene wat kán lees, maar nie lees nie, geen voordeel het bo diegene wat nié kan lees nie”. Dit geld Afrikaanse literatuur as draer van kultuurerfenis, sowel as menigte ander onderwerpe wat nodig is om sin van die wêreld te maak.
Oor Koeie, Kundigheid en Keuses deur Daniël Eloff
In 'n soort (ofskoon onbedoelde) aansluiting by Maritz se pleidooi vir diep belesenheid, ontleed Eloff die probleem van kognitiewe vooroordeel en 'n gebrek aan feite en diepte in die digitale epog. Daar is heelwat tematiese en veral morele kwessies in sy artikel om breedsprakig te bekyk, maar hierdie onderwerpe het veral my aandag getrek en stof tot nadenke gebied toe ek dit aanvanklik gelees en later herlees het.
Hy skryf byvoorbeeld: “Om 'n ‘expert’ te wees beteken al hoe minder — nie omdat mense nie meer glo dat daar so iets soos kennis bestaan nie, maar omdat die publiek hul eie kenner kan kies, een wat pas by hul wêreldbeskouing en emosionele behoeftes. In plaas daarvan om kennis op te bou deur ondersoek en studie, word dit nou ingevoer vanuit 'n podcaster se ateljee of soms selfs van 'n TikTok-videogreep.” Ek het vanjaar afgekom op Suid-Afrikaanse potgooiers (soms word dit deur welmenende vriende op WhatsApp aangestuur) met aansienlike aanhang wat, om dit sagkens te stel, bokdrolle as vye aanbied. Ek weet lankal dat dit die geval met Amerikaanse potgooiers is omdat daar soveel meer is. Hul gebrek aan diepte en begrip van sekere onderwerpe, die klakkelose verkondiging van utopiese planne, blatante en perverse vooroordeel, en hiperbool – als gehul in 'n dik laag infantiele emosie of amorfe verveling – is soms lagwekkend, maar tewens kommerwekkend as die kommentare onderaan betrag word. Dit is onkunde wat rondomtalie ry.
Om byvoorbeeld aan te voer dat News24 letterlik 'n kommunistiese utopie in Suid-Afrika wil vestig en dat universiteite slegs kommuniste oplewer (en nie kenners nie), is 'n histrioniese en soms doeltreffende strydkreet maar dit is nie feitelik waar nie. As dit die geval was, sou daar al veel meer klinkklare bewyse daarvan wees. News24 pleeg baie sondes, soos met hul selektiewe dekking van gebeure, eensydige kritiek en meningsruimtes wat as’t ware as eggokamers funksioneer. Maar die sprong na Marx, Engels en die werkersparadys is net te dik vir 'n daalder.
Die hoofstroommedia – waarvan News24 deel is – bewys hulself geen gunste in hierdie klimaat nie. Ek het onlangs ook hieroor op OntLaer geskryf, maar hul “kenners” is veelal te ideologies en/of papbroekig om vanselfsprekende menings te lug. Eloff voer voorts aan: “In 'n era waar almal ‘hulle eie waarheid’ gegun word, klink eenvoud en morele helderheid verdag.” Die opkoms van die alternatiewe media wat nie aan korporatiewe en staatsmag onderhewig is nie, is 'n verstaanbare reaksie hierop. Daar is groot waarde hierin, maar te veel blogs en potgooie gaan nogtans te gereeld los en vas met die waarheid om. Die feit dat Joe Rogan se potgooi so groot en gewild geraak het, is juis omdat dit oor 'n nie-ideologiese en langer formaat met meer diepte beskik. Hy en sy gaste kan daarom aansienlike en vermaaklike aandag aan komplekse en omstrede onderwerpe gee. Sy video’s is soms drie ure lank en nie almal wil als kyk nie, maar die reël staan vas: Ware kennis en waarheid verg diepte, aandag en waaksaamheid – hetsy 'n boek, populêre of akademiese artikel, of potgooi.
“Ik ben een Afrikaner”: Wie praat namens wie? deur Jean Oosthuizen
Dit is net gepas dat ek 'n artikel insluit waarmee ek om die beurt saamstem sowel as verskil. Dit raak wel oorhoofs temas aan wat verdere gesprek regverdig en selfs noodsaak. Dit verdien daarom 'n verdere bestekopname van die meriete en blindekolle wat daarin vervat is.
Die sogenaamde progressiewe Afrikaners het die volste reg om 'n ope brief (en ’n tweede een) te skryf. Wat my dadelik opgeval by die lees van die eerste een is dat hulle na hulself as Afrikaners verwys en nie bloot as Afrikaanssprekendes of Suid-Afrikaners nie. Dit is nogal beduidend aangesien sekere van hulle al in die verlede groot gewag daarvan gemaak om hulself van Afrikanerskap te distansieer.
Die artikel se vertrekpunt is dat hierdie mense ook as Afrikaners beskou moet word. Oosthuizen haal dan 'n paar kritici en kru beledigings aan om te bewys dat hierdie mense op sosiale media verguis word. Dit is inderdaad die geval, maar hy lewer nie veel bewyse dat hul Afrikanerskap in twyfel getrek word nie. Ten minste nie op groot skaal nie. Om iemand as 'n “linkse” of “libtard” uit te kryt is soms beledigend (afhangend van perspektief), maar dit doen nie afbreuk aan ander aspekte van iemand se identiteit nie. 'n Franse en Amerikaanse linkse bly ’n Fransman en Amerikaner.
Wat mense gebelg het, is die amorfe (afwesige?) diagnose van die land se uitdagings in hierdie ope briewe. Almal ly volgens die skrywers onder verval en probleme. Dit is waar. Deur egter nie die bron van hierdie uitdagings – vernaam die ANC en hul ondersteuners – by name te noem nie, is 'n ooglopende tekortkoming. Bowendien, hoekom word ope briewe hieroor deur progressiewe-dog-lojale Afrikaners uitgereik, maar nie oor ander dringende sake van gemeenskaplike belang (soos talle vorme van diskriminasie) nie? Oosthuizen noem niks hiervan in sy verdediging van hierdie groep nie.
Die omskrywing, begrensing en diversiteit van Afrikanerskap in terme van sieninge en selfs empiriese eienskappe is egter 'n debat wat bly opvlam – grootliks tussen 'n elite met uiteenlopende en selfs strydige ideologiese beskouings. Oosthuizen skryf tereg: “Afrikanerskap is te lank versmoor deur eng definisies.” Min bruin Afrikaanssprekendes beskou hulself as Afrikaners (veel meer verwerp en verfoei die naam) en selfs wit Afrikaanssprekendes loop nie heeldag te koop daarmee nie. Tog het albei groepe baie in gemeen en kom waarskynlik die beste van alle groepe in die land oor die weg. Dit is dalk omdat ons nie onsself deurlopend besig hou met beuselagtige geskille oor name nie, dat dit die welgeluksalige geval is. Laat mense dan vir hulself besluit wie of wat 'n Afrikaner is. Indiwidue en groeperinge sal hul eie definisies aan die term heg en dienooreenkomstig en regtens assosieer soos hulle wil. Diegene wat hul Afrikanerskap goedsmoeds wil “uittrek” (en later weer wil “aantrek”), moet tog wyle dr. Frederik van Zyl-Slabbert se deterministiese maar wyse stelling hieroor in gedagte hou: Hy sal deur ander as 'n Afrikaner geag word in weerwil van sy begeerte om een te wees al dan nie.
Ten slotte en dalk vermakerig is ek dit eens met Oosthuizen oor die erbarmlike taalgebruik van baie Afrikaners op sosiale media. Tong-in-die-kies twyfel ek oor iemand se “trotse Afrikanerskap” indien hulle nie eens die taal reg kan skryf en praat nie. Op hierdie gebied wen progressiewe Afrikaners loshande, as my informele skattings op sosiale media en elders enige aanduiding is. Te veel behoudende en reaksionêre Afrikaners kan daarom Paul Maritz se advies volg en meer Afrikaanse literatuur lees, want taal is inderdaad gans (of altans grootliks) die volk.
'n Elegie (en hoop) vir Johannesburg deur Eugene Brink
Dit sou onvermydelik wees om nie een van my eie stukke uit te sonder vir nabetragting nie. Ek skryf nie meningstukke sonder om sterk daaroor te voel nie en hierdie een was besonder na aan die hart.
Johannesburg sal nooit weer die stad van my kinderjare wees nie, maar daar is inderdaad hoop. Ek woon vir die laaste drie jaar in die Wes-Kaap maar gaan steeds na die Goudstad vir periodieke besoeke. 'n Vriend het my op 'n rit deur verskeie dele van Johannesburg (selfs Hillbrow, Yeoville en Berea) geneem en dit voel soos 'n mikrokosmos van Suid-Afrika: Vervalle en sukkelend, maar tog gevul met ontsaglike potensiaal, energie en bates. Dit is erg, maar redbaar.
Ek hou voorts vol dat Suid-Afrika nie kan bekostig om oor slegs een werkende stad en provinsie te beskik nie. Die land kan veral nie bekostig om haar grootste stad en ekonomiese enjin weens vermydelike swak regering en korrupsie prys te gee nie. Verkeersligte en straatligte wat buite werking is, slaggate, rommel in die strate en die groeiende waterprobleme is euwels wat enersyds simptome van 'n dieper malaise is, maar daarom ook reggestel kan word. En met regstel bedoel ek nie die kosmetiese geskarrel vir 'n G20-konferensie om buitelandse staatshoofde te beïndruk nie. Dit beteken ook nie volmaaktheid nie, maar blote verbetering. Die metro se bestuur hoef dit ook nie alleen te doen nie. Ofskoon beter regering deurslaggewend gaan wees in die herstel van die stad, is daar talle ander rolspelers soos die privaat sektor en burgerlike sfeer wat opsluit die herstelproses stukrag kan gee. Hulle is trouens reeds daarmee besig en moet bloot meer ruimte en steun gebied word om te help.
In volgende jaar plaaslike verkiesing gaan die Gautengse metro’s en veral Stad Johannesburg hoogs bestrede wees. Johannesburg is 'n kroonjuweel waarvan die uitslag nog onseker is en aan verskeie permutasies onderhewig kan wees. Helen Zille het reeds begin aanvoorwerk doen en is, altans myns insiens, sover die enigste sinvolle kandidaat vir uitvoerende burgemeester. Op die koop toe is Johannesburg se lot ook Gauteng en Suid-Afrika s’n. Baie is in 2026 op die spel.
Suid-Afrika het nie 'n “Redder-President” nodig nie deur Ayanda S Zulu
Zulu se mening is 'n bondige en eerlike kragtoer van wat skeefgeloop het in Suid-Afrika en hoekom dit so moeilik is om dit te verander. Te veel ruimte word in die hoofstroommedia gemors oor pres. Cyril Ramaphosa se mislukkings en advies oor wat hy moet doen om die land om te draai. Te veel energie word desgelyks verspil oor hervorming van die ANC en watter euwels moet verdwyn vir die land om genees te word.
Uiteraard is korrupsie en swak leierskap verderflik, maar dit is nie al wat die status quo so onbevredigend maak nie. Dit is inmiddels die herverdelingsideologie wat verskeie ander lande al op die ashoop van die geskiedenis laat beland het – en baie van hulle daar hou. Natuurlike hulpbronne soos olie in Venezuela en Nigerië het die oligargie in daardie lande skatryk gemaak te midde van klein aalmoese aan die burgery wat vir vandag verligting bied maar langtermyn-ontwikkeling ondermyn deur 'n gebrek aan investering in onderwys en behoorlike infrastruktuur. Terselfdertyd word gewaande vyande (gewoonlik skynbaar bevoordeeldes onder 'n vorige bewind en die privaat sektor) geskep om as sondebokke vir die uiteindelike mislukkings te dien. En as die trein eers vertrek het, is daar nie keer of afwyk nie. Suid-Afrika is geen uitsondering.
Ramaphosa se onlangse (en hoeveelste) oproep op sy party se hoofraadsvergadering om “aan te pas of sterf” is inderdaad deur 'n flou makou gelewer. Hy het nie – anders as byvoorbeeld Donald Trump – sy party hervorm nie en het geen beheer oor hulle, sy kabinet of die staat nie. Sy bewind was sover op ideologiese en beleidsvlak in breë ooreenstemming met sy party se doelwitte en die welsynstaat het sedert die Covid-19-pandemie skrikwekkende afmetings aangeneem. Genadiglik het die ANC nie die dissipline en eenheid om hul skrikwekkende beleide ten volle in werking te stel nie.
Die groen lote waarvan daar nou sprake is, is direkte en onregstreekse uitvloeisels van hervormings wat DA-ministers deur kon voer. In hierdie verband merk Zulu tereg op: “Verskeie ander linksgesinde opposisiepartye, selfs met hul verskillende leiers, sou steeds min of meer dieselfde stelsel behou, selfs terwyl hulle van hervorming en ‘beter leierskap’ praat.” Dis net die graad en taal wat verskil in Rise Mzansi, die MK-party, EFF en Build One South Africa (BOSA) se boodskap en beleide oor slagofferskap, regstelling, herverdeling, welsyn, en die staat se sentrale rol in die ekonomie. Die staat se aalmoese, swart ekonomiese bemagtiging (SEB) en minimumlone word as 'n gegewe beskou. Hou ook in gedagte dat die ANC se steunverlies in 2024 vrywel ooreengestem het met MK se steunwins. Dit is derhalwe bloot tussen linkse partye rondgeskuif. Dit gaan weliswaar meer verg as nuwe gesigte of partye om die ganse politieke kultuur in Suid-Afrika te wysig.
Zulu onderskat egter indiwiduele leierskap. Konrad Adenauer, Charles de Gaulle, Lee Kuan Yew en Margaret Thatcher moes almal groot persoonlike opofferings maak om obskuriteit, terugslae en gevestigde belange in hul eie partye en samelewings te bowe kom om krisisse en trauma in hul lande te beredder. Adenauer moes 'n nuwe party stig en De Gaulle is amper vermoor. Hulle was almal eerlik, verbete, gedrewe, stroomop, veerkragtig en selfs effe outoritêr in die uitvoering van hul visie. Die geskiedenis sal hulle onthou. Soos Zulu uitwys, sal Ramaphosa nie die stelsel wat hom soveel gebaat het, aftakel nie. Al waarvoor hy onthou sal word is dat hy 'n slegte situasie gehandhaaf en selfs in menigte opsigte vererger het.
Daarmee wens ek elke OntLaer-leser 'n geseënde Kersfees en 'n voorspoedig 2026 toe!
Dr. Brink is 'n sakekonsultant, entrepreneur en ontleder van die Paarl.
Nog artikels deur Eugene Brink:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.














