Die pers maak begryplik gebruik van politieke ontleders om sin te probeer bied van die dikwels komplekse gebeure in Suid-Afrika en die wêreld.
Hierdie ontleders oefen dus 'n groot invloed uit op die openbare mening en hoe bepaalde verwikkelinge deur die publiek vertolk word. Die een uitdaging is egter dat die publiek in die algemeen self baie swak ingelig is oor al die woelinge en hul dieper implikasies. Gevolglik is die publiek nie altyd krities jeens “kenners” se menings ingestel nie. Die standaard en eienskappe wat myns insiens van ontleders verwag word, is eerlikheid, rasionaliteit en objektiwiteit. Dit hoef en kan nie altyd volmaak nagestreef te word nie (onderhoude in die uitsaaimedia is byvoorbeeld tydsgebonde en kan nooit die volle konteks weergee nie), maar daar moet – sover moontlik – erns hiermee gemaak word.
Helaas gebeur dit egter nie altyd nie. Die waarheid en ingeligte openbare mening is veelal die slagoffer van mense wat te papbroekig of ideologies is om voor die hand liggende menings te lug. Ek glo daaraan om iemand 'n billike kans te gee en nie hul menings te minag weens hul verbintenisse met sekere instellings nie. Hetsy jy aan 'n bepaalde universiteit of dinkskrum behoort, maak nie aan my saak nie.
Dit maak saak of jy ten minste poog om die waarheid te praat en sinvol te wees – wat te dikwels nie die geval is nie.
Die gesigte van wanbalans
Sommige ontleders is inderdaad kundig en dien hul gehore met eer en opregtheid. Maar dan is daar diegene wat deur blote oneerlikheid en vooroordeel die teenoorgestelde doen.
Dit is tewens nie noodwendig wat wel gesê word wat saakmaak nie, maar ook wat weggelaat of bygevoeg word. Hierdie geld vir mense regoor die ideologiese spektrum: As jy doelbewus belangwekkende aspekte uit jou ontleding weglaat en weier om (tersaaklike) balans oor iets te verskaf, doen jy die publiek 'n onguns aan. Dit vang ook mettertyd op met hulle soos wat mense se eie logiese insigte en ingeligtheid – sowel as ontwikkelende gebeure en feite – bo die eenogigheid van ontleders en media-beriggewing seëvier.
Balans hoef en moet nie derhalwe irrelevant en oordrewe wees nie. Een voorbeeld hiervan is dr. Harlan Cloete, navorsingsgenoot aan die Universiteit van die Vrystaat. Hy het byvoorbeeld een oggend op RSG in 'n gesprek oor die ANC se korrupsie (hedendaags aktueel en van belang) dit gerade geag om die vorige bewind se korrupsie (geskiedkundig en van min belang vandag) onnodig en hiperbolies by te sleep. Hy het gesê dat daar in gedagte gehou moet word dat die apartheidsregering nie net korrup was nie, maar dat hulle die korrupste óóit was. Die omroeper het hom nie gevra hoekom hy só 'n omstrede opmerking maak nie (ook problematies) en bloot na die volgende vraag aanbeweeg.
Ofskoon korrupsie wel onder die Nasionale Party se bewind plaasgevind het, oortref dit nie naastenby die klinkklare geskiedkundige rekord en hedendaagse korrupsie in Afrika, Asië, Midde-Ooste en Latyns-Amerika nie. Dit sou eenvoudig net nie moontlik vir 'n toenemend geïsoleerde land wees om te oorleef en vir alle praktiese doeleindes 'n ontwikkelde land (en verreweg die mees ontwikkelde een in Afrika) te wees indien dit wel die geval was nie.
Nog 'n vraag is hoe iets so onkwantifiseerbaar soos korrupsie gemeet kan word? Wel, dit word nie presies gemeet nie. Daar is deesdae peilings oor openbare persepsies oor korrupsie asook beriggewing oor skandale, maar dit bepaal nie die werklike en harde omvang daarvan nie. Hoe kom Cloete dus by sy afleidings uit – boonop oor korrupsie van dekades gelede? Dit is vrae wat omroepers, joernaliste en verbruikers van media almal behoort te vra.
Daar moet op die koop toe vrae oor politieke ontleders se ervaring, bona fides en kwalifikasies gevra word. Kortom, is hulle wel geskik om kommentaar te lewer oor bepaalde aangeleenthede? Of word hulle juis deur die media genader vanweë hul ideologiese ingesteldheid? Of liewer op grond van persoonlike vriendskappe met lede van die media?
Ek lees, luister en kyk gereeld Afrikaanse en Engelse media-inhoud. Wat my eerstens tref is hoe, à la Cloete, kommentators aan die “ja, maar”-sindroom ly. As daar 'n bepaalde onderwerp bespreek word wat polities en ideologies (soos die ANC se korrupsie en wanregering sowel as linkse mislukkings) ongerieflik is, sal iemand uit 'n ander (gewoonlik konserwatiewe) dampkring telkens en sonder rede bygesleep word. Dis asof die ideologiese teenpool altoos onnodige “balans” moet skep. Julius Malema se gekke uitlatings of pres. Cyril Ramaphosa se traagheid raak dan outomaties 'n gesprek oor pres. Donald Trump van die VSA (of welke ander strooipop of sydelingse sondebok hulle ook al geskik ag om aan te val). Konserwatiewe kommentators ly ook hieraan, maar dit gebeur selde omdat hulle nie soveel dekking geniet nie.
In die Afrikaanse media duik dieselfde moeë en taamlik gediskrediteerde gesigte gereeld op. Onder die 44 Afrikaners (hulle het nou erken hulle is wel Afrikaners) wat 'n ope brief uitgereik het om hulle te distansieer van 'n kwansuise verdraaiing en misbruik van “hul storie”, tel etlike politieke kommentators wat gereeld in die Afrikaanse media bydraes lewer. Al hierdie ontleders is toevallig universiteitsdosente. Anders as Cloete (wat onnodige kwessies bybring), het hulle weer belangrike besonderhede weggelaat om balans te kortwiek.
Die brief is by uitstek snoep oor die ANC se wanregering en blatante diskriminasie wat tot vandag se probleme gelei het, en die ANC – en selfs die minister van finansies, Edoch Godongwana, in sy mini-begroting (!) – het dit hartlik verwelkom. Soos James Myburgh, redakteur van PoliticsWeb, op The Common Sense skryf:
“On the substance, the letter would have been more credible had it voiced at least the tiniest squeak of criticism of the ANC’s destructive racial obsessions.”
Hy wys hul gebruik van halwe waarhede uit: Die ANC se rassewetgewing en -beleide kwalifiseer miskien (nog) nie as vervolging nie, maar daar is gewis sistematiese diskriminasie teen die wit minderheid.
Wat bly na dese oor van hierdie ontleders se geloofwaardigheid en vermoë om waardevolle en eerlike kommentaar te lewer? Hulle het ook telkens in die verlede erg gedwaal in hul kommentaar oor ander belangrike kwessies en steeds maak die media van hulle gebruik. Die “ja, maar”-sindroom is klaarblyklik net in sekere gevalle van toepassing met hulle.
'n Goeie begrip het meer as 'n halwe woord nodig
In die Engelse media verskyn daar dikwels obskure en huigelagtige “ontleders” uit die niet. Niemand weet wie hulle is nie, of wat hul kwalifikasies en ervaring behels nie. Menigmaal is dit die eerste keer wat ek van hulle hoor. Daar is niks fout om 'n onafhanklike ontleder te wees nie. Ek is ook en baie trots daarop, want anders as dosente by staatsgefinansierde universiteite en ander ideologiese dinkskrums en instellings, kan ek heelwat meer objektief en eerlik oor sensitiewe gebeure wees sonder om my werk te verloor.
Maar te oordeel aan gereelde menings van sodanige onafhanklike ontleders, is hul ontledings dikwels oppervlakkig, oorvereenvoudig of eng ideologies. Ek skryf al vir 15 jaar oor die politiek en ander sake in verskeie publikasies, doen gereeld onderhoude in die uitsaaimedia, beoefen al vir jare navorsing as 'n beroep, en ek het kwalifikasies wat my in staat stel om met redelike gesag oor sekere aangeleenthede kommentaar te kan lewer. Ek het dus mildelike bewyse van my ervaring en kundigheid. Wat kan hierdie mense wys om my te oortuig om hulle ernstig oor gewigtige sake op te neem?
Die uiteindelike antwoord en raad hierop is om soveel moontlik menings in te win oor 'n saak en nie enige ontleder se woord daaroor te aanvaar nie. Dit is 'n seën dat ons vandag soveel meer inligting en bronne as slegs 20 jaar terug tot ons beskikking het. Dink krities en wees versigtig wat hul kommentaar betref (soos trouens met enige mening oor ’n omstrede onderwerp). Hulle is dikwels verkeerd of verkondig halwe waarhede of blatante valshede wat hul narratief pas, terwyl eerlikheid en logika voorkeur moet geniet. Daar is (genadiglik) nie ’n staatsinstelling wat politieke ontleders reguleer nie. Dit is daarom des te meer belangrik dat ons self vrae te stel oor diegene wat antwoorde op belangrike vrae gee.
Dr. Brink is 'n entrepreneur, sakekonsultant en ontleder van die Paarl.
Nog artikels deur Eugene Brink:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.











Hans Pienaar-
Ek dink jy trek verniet jou agterend in 'n knop. Die 44 wat toe nou "mosterd na die maal" hard gewerk het om gravitas te verleen aan 'n ongevraagde kommentaar deur pro-aktief nou by 'n "verbysterende" 1600 stemme gewerf, uit te kom, verteenwoordig steeds niemand nie. Dit sluit laatkommers soos jy in. Lagwekkend dat die 1600 dan nou legitimiteit verleen. Dr Brink kan homself verdedig. Dus is ek bevrees jou skrywe sê veel meer oor jou, as oor hom. Jy is nogal liggeraak wanneer jou eggokamer ontbloot word vir wie en wat hulle is. Julle arrogansie en snobisme en gewaande morele superioriteit is ongevraag en doen meer skade as goed. Behalwe daarvoor, is ons (die miljoene vs 1600 - sluk dit) te hard besig met belangriker goed. Julle briefies wat poog om sosiaal/politiese manipulasie en om julle hogere "moraliteit" te bewerk is deursigtig. Om al vingerswaaiend alias PW die gepeupel uit te trap, is hoogs irriterend en oneffektief. Dus ... jy weet wat om te doen.
Ek dink jy slaan die spyker op sy kop, met veral jou volgende woorde, Pieter: "Julle arrogansie en snobisme en gewaande morele superioriteit is ongevraag en doen meer skade as goed. En..."Julle briefies wat poog om sosiaal/politiese manipulasie en om julle hogere "moraliteit" te bewerk is deursigtig. Om al vingerswaaiend alias PW die gepeupel uit te trap, is hoogs irriterend en oneffektief."
Die "Afrikaans-Woke-Groep, soos ek ongelukkig aan hulle dink, het beslis 'n probleem daarmee dat hulle nie meer alleen die narratief kan oorheers nie, maar het met skok uitgevind het dat daar ook ander is wat goeie stemme het - en wat toenemend gehoor word. En wat nog seerder maak vir hulle, is dat dit presies hul ongebalanseerdheid en gebrek aan ruggraat om "die ander kant van ongeregtheid" te WÍL raaksien, hulle nou ernstig begin diskrediteer. Ek dink dis niks minder as hul verdiende loën nie...