Die Tragiek van Skotse Jakobitisme: 1745 Waarsku die Afrikaners
Loop lig vir buitelandse politieke kapstokke.
(An incident in the Rebellion of 1745 deur David Morier, olie-op-doek, 60.5 cm × 99.5 cm, Holyrood House, Edinburg.)
In die jaar 1745 was die Amerikaanse kolonies nog behoorlik deel van die Britse oorsese ryk, hoewel die woelinge wat later die Verenigde State van Amerika sou veroorsaak, nog 'n paar dekades ver was. Aan die suidpunt van Afrika het 'n ryk klein Nederlandse handelspos aan die Kaap van Storms nog goeie hoop gehou, en die geopolitieke storm wat met die Franse Revolusie ontketen is, nog verder weg as die Amerikaanse politieke kentering van 1776.
Aan die Kaap onder goewerneur Rijk Tulbagh het VOC-amptenare en Vryburgers hul met wynmakery besig gehou en prag en praal wette neergelê. Die weelderige klein nedersetting het reeds 'n vroeë vorm van Afrikaans gebesig, en vandag se diep Afrikaanse kultuurerfenis was nog in haar kleuterskoene.
Maar in 1745 in Skotland het 'n tragedie afgespeel, wat bepalend sou wees vir onder meer die kulturele uitkomste van die Skotse volk en verder aanleiding gee na die Skotse realiteite soos ons dit vandag ken. 'n Mislukte rebellie deur opportunistiese Skotse ondersteuners van die groter Jakobitiese beweging - 'n komplekse politieke ideologie, met sy wortels in die lojalistiese faksies van die Engelse Burgeroorloë van 'n eeu tevore - het gelei tot die ystervuis verdrukking van eeue oue Keltiese hooglandkultuur in Skotland en die eindelike kolonisering van Skotland onder Engelse oorheersing.
Vir Afrikaners, wat vandag te midde van hul komplekse en sinvolle patrone van selforganisering in Suid-Afrika en elders soms maklik in geopolitieke sleurstrome vasgevang raak, is daar belangrike waarskuwings uit die lot van Skotland om versigtig te wees vir politieke koorse uit ander streke, al is dit vol lokmiddels en beloftes vir Afrikaanse selfhandhawing.
Eerste Koloniale Slagoffers
Daar is baie aan “the Forty-Five” wat geskiedkundig belangrik is, soos moderne Skotland as lewende voortsetting van Engelse kolonialisme en taaloorheersing, en saam met Ierland en Wallis dalk die oudste voorbeeld van die onverligte onderpens van die Britse Ryk. Vanuit 'n dekoloniale oogpunt wat meestal vanuit 'n rassegrondslag redeneer, is die lot van die laaste bastions van Europese Keltiese kultuur dikwels vergete. Dit is ten spyte van die feit dat die Keltiese eilandstate nog lank voor Britse kolonialisering elders, die toetsgronde van Anglo-Saksiese uitbreidingsdrange en rykvorming was. Dit is ook waar dat die Keltiese ervaring die nuanses van magsverskille tussen oorheerser en gekoloniseerde beter belig as die meeste ander voorbeelde uit die geskiedenis, maar dit is 'n storie vir 'n ander keer.
Jakobitisme word dikwels danksy moderne kulturele interpretasies, soos die immergewilde Outlander-reeks boeke deur Diana Gabaldon en die stomerige filmreeks-verwerkings daarvan, as 'n soort unieke Skotse politieke koorsdroom uitgebeeld. Jou deursnee Jakobiet van die populêre kultuur dra 'n tartan en 'n langswaard, verkieslik met 'n digte sexy hooglander-aksent en 'n eweneens ondeurdringbare rooi baard, en stuur geredelik etlike Britse rooibaadjies hel toe. Maar Jakobitisme as ideologie was simbolies op die grondslag daarvan om die ontsette Huis van Stuart tot die troon van die Verenigde Koningkryk te herstel, met die gepaardgaande oortuiging dat die goddelike heersersreg teenoor parlementêre soewereinteit die organiserende beginsel van die staat behoort te wees.
Huis Stuart se belangrikste eksponent, Koning Jakobus VI en I van onderskeidelik Skotland en Engeland (die seun van die meer bekende Mary, Koningin van die Skotte), het in 1603 sy ingewikkelde posbeskrywing gekry vanweë die ingewikkelde werking van die koninklike opvolgingsreg van die tyd. In die jaar 1603 word Jakobus, of James in Engels, die koning van beide state. Skotland sou hierna vir die eerste keer regstreeks en konstitusioneel met Engeland verbind word, as persoonlike beskikkings van die Koning, hoewel die twee state steeds verskillende regerings gehad het.
Na jare van politieke onstuimigheid, burgeroorloë en die onthoofding van Koning Karel I van Engeland en Skotland deur die triomfantelike Engelse parlementêre faksie in 1649, word die beginsel van goddelikke beskikkingsreg effektief die nekslag toegedien. Hierna sou parlementêre soewereiniteit en konstitusioneel-gekwalifiseerde monargieë voorts die septer swaai in die Britse eilande. 'n Revolusionêre verwikkeling, wat die Franse Revolusie met meer as 'n eeu voorafgegaan het. In 1688 wys die Britse parlement sy ideologiese spiere deur die laaste Stuart-monarg, Jakobus VII en II van Skotland/Engeland, uit sy amp te ontslaan tydens die omtrent bloedlose “Glorieryke Revolusie”.
Met die Stuarts, hul voorliefde vir Katolisisme en goddelike beskikkingsreg uit, word die VK voorts deur die Huis van Oranje en sy opvolgers regeer, wat bereid was om beslis nié parlementêre soewereiniteit weer uit te daag nie.
Die Beweging vir Jakobus
Die ontsetting van die Stuarts en Jakobus het bewegings regoor die Britse eilande gebaar met verskillende beweegredes om dieselfde doel, synde om die ontsette koninklikes weer op die troon te kry. Vir die Keltiese gemeenskappe van die Skotse hooglande en Ierland (Wallis, die oudste Engelse kolonie sedert die 1400’s, het maar stil-stil eenkant gestaan en kyk) was elite politieke speletjies nie die hoofsaak nie. Dit was eerder die eenheidsryk onder Huis Stuart se verdraagsaamheid vir Katolisisme na afloop van die Reformasie wat sommige herstel wou sien, asook die moontlikheid van afgedeelde vlakke van selfhandhawing. Dit was veral pertinet as doel onder die heftig onafhanklike gees van die Gàidhealtachd-bewoners, oftewel die Skots-Gaeliessprekende hooglanders.
Die eerste ironie hier is dat die Stuarts sedert Jakobus VI en I nie juis die kultuurlewe van hul uiteindelike Ierse en Skotse ondersteuners werklik op die hart gedra het nie. Onder Jakobus VI en I is hooglander-chiefs geboelie om Protestantse klerklikes in te neem (ten spyte van Huis Stuart se nominale steun vir Katolisisme) en nasate moes volgens wet in die Skotssprekende laaglande van Skotland skoolonderrig kry. Die Skotse parlement onder Huis Stuart, oorheers deur Skotssprekende laaglander edellui, het die Skots-Gaeliessprekende hooglanders trouens as agterlik en barbaars beskou, en 'n sin vir ideologiese vervreemding is teen die hooglanders toegepas, deur hulle as uitlander “Iere” te brandmerk, bloot omdat die hooglanders 'n antieke taal-kulturele band met Gaeliese Ierland gedeel het.
In 1707 word die Skotse parlement deur Engeland geboelie om die Eenheidswet te ratifiseer. Gevolglik word Skotland en Engeland nou ook staatlik saamgevoeg in die Engels-oorheersde Verenigde Koningkryk. Bykomende wetgewing het daartoe gelei dat Huis Stuart van die troon verbied sou word. Die samevloei van belange het gelei tot Jakobitiese opstande ter wille van die Stuarts in 1715, 1719 en uiteindelik in 1745.
Die Forty-Five en sy Waarskuwings
Die Stuart prins Charles Edward Stuart, beter bekend as Bonnie Prins Charlie onder sy hooglander-ondersteuners, het in 1745 die laaste Jakobitiese opstand in Glenfinnan in die Skotse hooglande van stapel gestuur. Na aanvanklike dramatiese suksesse teen die Britse Rooibaadjies, misluk die romantiese koorsdrome van die Jakobitisme en sy Skots-Gaeliese vennote op 16 April 1746 by Culloden Moor.
Tydens die slag word 'n uitgeputte hooglander-leër, grootliks bestaande uit clan-hoofde en hul onderdane, deur die Engelse leër gebombardeer en die uiteindelike laaste hooglander-bestorming van die Britse posisies loop uit op 'n slagting onder hooglander-soldate.
Met Jakobitisme effektief dood gesaai oor die slagveld van Culloden Moor, volg die Engelse staat op met 'n daad van etniese suiwering en kulturele vernietiging: Die Gaeliese taal word onderdruk, selfs die dra van die tartan word verbied. Grond word onteien tydens die infame Highland Clearances en 'n soort straftydperk volg waar hooglanderkultuur effektief ondergronds verdryf word indien nie heeltemal vernietig word nie.
Die Skotse hooglanders, verwoed onafhanklik maar naief om hul toekoms te verwed op die oortuigings van politieke bewegings en elites wat hul net as nuttige idiote gebruik het, is diep skade toegedien, wat selfs die 1990’s devolusie van magte na Skotland nie ongedaan kon maak nie. Skotse Gaelies is amper totaal uitgesterf en ironies genoeg ook die Skotse dialek van die laaglanders. Vandag het hierdie verwonde nasie te kampe met die eise van ongebreidelde migrasie, wat moeilik hanteerbaar is sonder dat die plaaslike kultuur ooit werklik van die verwonding van die Forty-Five kon herstel.
Afrikaners, pasop
Terwyl die Skotse hooglandkultuur op Culloden Moor verkleineer is, het Afrikaans in al sy kleure en geure aan die Kaap ontstaan en 'n ewe onstuimige volgende paar eeue in die gesig gestaar. Uiteindelike Britse koloniale anneksasie in 1806, die einde van slawerny, die Groot Trek, die Boererepublieke, die Vryheidsoorloë, Uniewording, Republiekwording, Apartheid en die einde daarvan, die 1996-grondwetlike bedeling, vanjaar 30 jaar oud.
Hoewel ek meer versigtig as Max du Preez op AvSA se webblad is, waar hy blyk om georganiseerde Afrikaanse selfhandhawingspogings deur buitelandse skakeling by implikasie as verdag te onderstreep, en betoog dat dit noodwendig die Afrikaners as “rassistiese, selfsugtige boelies” sal brandmerk, is daar meriete om my mense te waarsku teen die romanses van buitelandse politieke koorse. MAGA is 'n voorbeeld. Sedert 2016 is daar min tekens (behalwe hier en daar 'n simpatieke maar meer dikwels misleidende en feitelik-bedenklike opmerking) dat MAGA-Amerika die Afrikaners werklik as 'n soort geopolitieke groep bondgenote en vriende beskou. Die wat doen, gooi dit dikwels oor die boeg van “gedeelde Westerse beskawing” en Afrikaners se “heldhaftigheid in Afrika”. Maar dis simplisties en in baie gevalle rassig gekleur.
Verstaan hierdie mense werklik die Afrikaners, waardeer hulle ons unieke kultuurbelewenisse, verstaan hulle die diep en komplekse verhoudinge wat tussen Afrikaners en hul medelandsburgers bestaan? Gee hulle werklik om? Besef hulle dat dinge letterlik in hierdie landjie nie net bloot “wit en swart” is nie?
Dis die soort vrae wat georganiseerde Afrikaans en individuele Afrikaners hulself moet afvra. Ek het wel beperkte begrip vir die soort messiaanse verbondenheid wat baie Afrikaners met MAGA-Amerika probeer opstel. Dit kom dikwels uit plekke van politieke moedeloosheid en 'n hoopvolle gevoel dat daar uiteindelik 'n politieke beweging is, al is dit nou buitelands, wat oor sekere sake reguit praat. Wat 'n nuttige projeksiemiddel skep om die arrogante, bontpratende, korrupte en nydige ANC-geleide regime hier te lande in die bek te help ruk. En ja, baie van die Amerikaanse regering se retoriese ingrype is nuttig, vir Afrikaners en Suid-Afrika as geheel: Die Amerikaners deel met baie van ons die siening dat sekere idees, soos huidige SEB-beleid, sy rakleeftyd lankal bereik het, geweeg is en te lig bevind is.
Maar om heelhuids weens die regte geluide, Afrikaanswees se belange in een Amerikaanse ideologiese mandjie te gooi, is onwys en ongevraagd. En as MAGA soos Jakobitisme, miskien na generasies se verharding wel sy noodwendige einde bereik, dan kan Afrikaners alles vir hul kinders verloor weens ideologiese romantiek wat eens op 'n tyd soos Die Oplossing vir Alles geklink het.
Die Skotse hooglande se raad vir Afrikaans, georganiseerd en individueel?
Moet op buitelandse Prinse nie vertrou nie. Ander lande het nie vriende nie, net tydelike belange. Moenie toelaat dat ons ryk Afrikaanse belewenis opgekou en uitgespoeg raak nie. Bou nuttige alliansies waar daar gedeelde belange is, maar hou jou kaarte styf teen jou bors, en beskut jouself teen risiko.
Nog artikels deur Frederik van Dyk:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










Frederik, dis goed dat jy waarsku teen 'n soort heldeverering vir Trump of enige andersoortige moderne "Prins" of kultusfiguur. Jou voorbeeld is een van baie oor die geskiedenis heen wat bewys was daarvan hoe dit eerder tot ondergang as bevryding aanleiding kan gee. Maar die teenoorgestelde is natuurlik ook waar. Jy sal weet van baie voorbeelde waar nasies juis hul vryheid kon bewerkstellig deur die voorbeelde van ander lande se leiers, of hul filosowe, aan te geneem en te gevolg het, en toe - óf hul koninklike meesters, óf hul kolonialistiese meesters, - se juk kon afskud.
Die volgende aanhaling vanuit jou artikel hou vir my spesiale betekenis in:
"Met Jakobitisme effektief dood gesaai oor die slagveld van Culloden Moor, volg die Engelse staat op met 'n daad van etniese suiwering en kulturele vernietiging: Die Gaeliese taal word onderdruk, selfs die dra van die tartan word verbied. Grond word onteien tydens die infame Highland Clearances en 'n soort straftydperk volg waar hooglanderkultuur effektief ondergronds verdryf word indien nie heeltemal vernietig word nie."
Dit vat nie veel verbeelding om ook paralellelle raak te lees met die ANC se strategie t.o.v. die Afrikaners nie. In die moderne era natuurlik nie so blatant-opsigtelik soos die Engelse dit destyds gedoen het nie, maar ek vind tog belangrike raakpunte, soos taal, grond(onteiening?), kultuurvernietiging en selfs ons beweerde "etniese suiwering", of sogenaamde " volksmoord", waarna sommiges verwys. Net omdat 'n strategie meer subtiel is, soos die ANC sin - en hul mede-ideoloë sin, wat op die kantlyn sit en wag om weer saam te smelt met hul "ANC-stamvader" - maak dit nie sodanige benadering minder gevaarlik nie. Inteendeel. "Bruikbare idiote", om van daardie uitdrukking gebruik te maak wat soms juis baie intelligente persone insluit wat hulle aan die neus laat lei het, is nogal orals in Afrikaner-geledere te vinde. Julle het onlangs my Roelf Meyer-stuk gepubliseer. Jyself maak melding van Max du Preez in jou skrywe.
Wat ek dus wil sê, Frederik, is dat jy 'n baie goeie punt maak, maar dat dit nes ander geslypte diamante van groot waarde ook ander kante het. Ek vind dit uiters fassinerend dat Trump byvoorbeeld vir sy direkte aanslag op Iran veroordeel word, maar dat dieselfde veroordeelaars nie veel (indien enigiets) sê oor 47 jaar se bloedige en geweldadige onderdrukking van die gewone burgers van Iran nie.