DinkWeer Donderdag | Pleeg meer Heiligskennis
Maar doen dit met goeie oordeel en met oorleg.
Dis een ding om opvoerig teenstromig te wees en 'n ander om verheiligde begrippe, onaantasbare beleidsekerhede en dies meer te bevraagteken.
Omtrent alle besinning sedert Sokrates, is al eens gesê, het die doel om die “jeug te korrupteer” met die strategie om te bevraagteken, te dekonstrueer, te falsifiseer en oor die algemeen die heilige beeste te slag. Chesterton se Muur is 'n analogie wat weer help om wysheid aan die dag te lê in die bevraagtekeningsdaad: Natuurlik kan en moet ons bereid wees om die status quo - die heinings, mure en dikwels uitsluitende konstruksies van die dag - uit te daag, maar om dit te doen moet ons darem eers intelligent, regverdig en wetenskaplik omgaan met die bestaansredes van dit was gevestig is. Dit help nie die waarheidsoeke aan, indien ons uitdaag net omdat uitdaging en retoriese taal edgy en berug is nie, veral as feitelikheid in die slag bly.
Uitdaging gratia Uitdaging.
In 'n artikel op UnHerd oor die skynbare grapwording van Britse politieke liberalisme (in die vorm van die Liberal Democrat-party) skryf Aaron Bastani, skrywer van Fully Automated Luxury Communism, dat sentristiese, tegnokratiese liberale politiek in die dekades na 1990 so gemaklik in sy triomfantelikheid geword het, dat dit arrogant genoeg geraak het om die politiek self as oorbodig te begin beskou. Politiek - klassiek omskryfbaar as die werksaamhede van 'n menslike samelewing om strategieë te beding wat bepaal Wie nou Wat kry, en Wanneer - is egter juis die ruimte waar ons heiligskennis kan pleeg, waar gevestigde belange uitgedaag kan word en die onuitdaagbare uitgedaag kan word.
Op 'n soort meta-vlak gegewe die inleidingsparagraaf hierbo: Daar is al honderde jare se politieke en morele filosofie bedink oor “hoe” die politiek behoort te geskied. Dit vorm self 'n Chestertonse muur. Aldus Bastani is die neiging van die liberale, sentristiese tegnokraat egter om hierdie eeue oue “muur van die politiek” sonder meer om te skop en te vervang met watookal die liberale, sentristiese tegnokraat dink is in almal anders se beswil.
Die arrogansie hiervan is juis waarteen Chesterton waarsku, en is juis die soort opvoerige teenstromigheid, die tech bro-agtige “beweeg vinnig en breek dinge” houding wat in totale teenstelling is met 'n bedaarde waarheidsoeke.
Festina lente
Dit is dalk moeiliker en geduldtoetsend, moontlik selfs soms oneffektief, om die proses van besinning en beraadslaging sy gang te laat gaan voordat radikale besluit geneem word.
Verstokte debatte is natuurlik nie tekenend van hoe langsaam ons behoort te dink en te doen nie, maar daarom die behoefte vir aktuele en vars ontleding van watookal onder bespreking is. Nuwe insigte, nuwe invalshoeke, kritiek-as-veelkantige aktiwiteit.
Die van u wat al die voorreg gehad het om 'n trop wildehonde in die Kruger Wildtuin - die KNP word terloops op 31 Mei 2026 eenhonderd jaar oud - vir 'n rukkie te volg en dop te hou, sou dalk sien hoe hulle hul langsaam haas, in 'n manier wat in Engels pragtig beskryf word: doggedly. Dit is 'n metafoor vir hoe waarheidsoeke en die slag van heilige beeste behoort te gebeur. Ons behoort doggedly te soek na die waarheid asook om ons wêreld beter te verstaan, sodat ons besluite daarvolgens gerig kan word. Nie oorhaastig of heeltemal sonder drif nie, maar op 'n rustige, gefokusde drafstappie.
OntLaer se meningsvormers en bydraers slaag weer grootliks daarin hierdie week, en daar is spesifiek die tendens gewees om heilighede - begrippe of teorieë en gevestigde beleide - nogal kaalvuis uit te daag.
Ayanda Zulu se artikel wat SEB as 'n beleid met ingeboude mislukking beskryf, was die soort narratief wat maar 'n dekade gelede omtrent ongehoord en totaal onwelkom was aldus die heersers en sanhedrins van die meningsvormerwêreld. Ten ergste sou jy van rassisme en apartheidsnostalgie beskuldig word as jy durf die SEB-stelsel uitdaag. Maar vandag het die winde van verandering al so gewaai dat SEB toenemend aan begronde en geldige kritiek onderwerp word. Die druk laai op, en waar die matige posisie eens was dat SEB en korrupsie net op 'n geval tot geval grondslag verbind kan word, is daar groeiende konsensus dat die Stelsel soos hy tans uitsien, 'n korrupsiefabriek is.
Wat kom na SEB, as ons soos met Chesterton se muur, dalk eendag na baie besinning die politieke besluit neem om daarvan ontslae te raak? Hoe lyk kleinletter-SEB wanneer Hoofletter SEB uitgefaseer is? Het ons die vermoë om verby ideologiese heilighede en emosie te werk en te soek na beleidsantwoorde wat die wesenlike doelwitte van SEB, soos regstelling, opheffing, werkskepping en eindelike menswaardigheid op 'n post-velkleur manier verbeel?
Piet du Plessis doen 'n grondige ontleding van die begrip “nasie” en die toepassing daarvan op Afrikaners, en weereens het ons te doen met 'n opregte vraag wat geopper word: Gegewe Afrikaners se waarskynlike toekomstige politieke opsies en moontlikhede, sal “nasie” ooit 'n toepaslike groepsetiket wees? Hoef dit enigsins te wees? Of moet ons die begrip self herverbeel op grond van wat op grondvlak aan die gang is, is 'n nasie iets wat beperk gebruik kan word? Hoe steek dit met Suid-Afrikanerskap in mekaar?
Dit het my self laat wonder oor wat ons regtig met Suid-Afrikanerskap bedoel, en wat dit werklik beteken, buiten 'n soort paspoort-nasionalisme, en of dit enigsins meer moet of kan wees. Wat wel seker is, is dat begrippe soos “nasie” bepalend kan wees vir die soort agenda wat Afrikaners opstel oor die sake wat vir ons belangrik is, en oor hoe ons na onsself in die spreekwoordelike spieël kyk. Louis Boshoff se artikel verg dat 'n mens bereid sou wees om die Chestertonse muur van die skoolkurrikulum krities te heroorweeg, wat moontlik belangriker vir die Afrikaanse leefwêreld is as 'n debat oor nasieskap. Skole en hul kurrikulums, lui die konvensionele kennis, verleen standaarde en voorspelbaarheid op 'n gelyke manier aan alle leerders. Dit kan sekerlik dan ook neig dat 'n liefde vir waarheid en kennis ondermyn word ter wille van toegang, omdat daar geneig kan word om onderwysbeleid te skep volgens die laagste gemene deler. Geskiedenis is een daarvan.
Hoe skep jy 'n leerplan wat vir omtrent elke leerder se opvoedingspotensiaal gepas is, en boonop vir 'n land met soveel uiteenlopende historiografieë oor hoe ons land, haar hede en verlede begryp moet word? Daarom is dit nodig om ook buite die boks te dink oor hoe ons letterkunde, geskiedenisleer en ander “nie-wetenskap en wiskunde” vakgebiede buite die klaskamer as deel van die groter opvoedingsideaal aanbied.
Daar kort tog seker 'n sinvolle balans tussen gelykheid in opvoeding enersyds en vryheid om meer te leer en jouself te verbeter andersyds.
By die lees van Hilde Kruger is ek nogal dankbaar dat sosiale media, daardie Raka-en-Molog-beestelikheid so reguit uit NP van Wyk-Louw en Allen Ginsberg se penne, vasgevat word. Die “Nuwe Tabak”, sê Hilde, het nou die einde van sy klandisie onder baie verbruikers en beleidsvormers begin bereik, na aanleiding van 'n Amerikaanse baanbreker-hofuitspraak (en ook, belangrike beperkende maatreëls in Australië).
Ons wat grootgeraak het midde-in die opkoms van Groot Sosiale Media het ten minste geweet hoe die wêreld lyk voordat alles verskerm en deur algoritmes gemedieer geword het. Die tegno-optimisme van destyds het toenemend vervaag. Vandag snork al hoe meer mense sinies oor onsinnighede soos Zuckerberg se mislukte “metaversum”, oor die doomscrolling en brainrot wat kenmerkend is van die medium se inhoud. Die revolusionêre platforms wat eens aangeprys is vir hul “demokratiserende effek”, wat selfs krediet gekry het vir die (semi-mislukte) Arabiese Lente, se maskers is nou af. Hulle bied nie veel meer nie as pseudo-agentskap, bring dikwels die slegste uit verbruikers na vore, skep aansporings vir vinnige tonge, misdadigheid en ongeërgdheid oor die waarheid, en is veel eerder 'n enorme tegnokapitalistiese projek wat mag in die hande van hul eienaarskeppers konsentreer.
Soos Hongarye se Viktor Orban, ontleed deur Jurie van der Walt, word die tentakels van sosiale media uitgesny waar dit te diep gevestig geraak het, maar daar is geen waarborg van sukses nie. Na Orban is die vraag - ongeag die politieke en ideologiese windrigtings van Peter Magyar se regering - of die inkomende regering die diepgewortelde Hongaarse vorms van staatskaping vas te vat? Of gaan hy soos die Ramaphosa-RNE, nie hond haaraf maak daarmee nie, gewoon omdat die korrupte netwerke te naby aan pelle en kamerade se belangebeursies verbyloop?
Ten laaste was die Amerikaanse Emmy-wenner joernalis Andrew Springer so gaaf om 'n leenbydrae te skenk wat 'n paar koppe laat draai het. Springer is 'n “post-Christelike” denker, wat baie meer klem plaas op die sosio-ekonomiese, ideologiese en politieke uitleg van Jesus Christus se boodskap as op die metafisiese en godsdienstige implikasies daarvan.
Dit was die eerste keer dat ek hierdie soort inhoud gelees het, en hoewel ek nie in die besonder in teologiese debatte belangstel nie, was dit tog interessant om so 'n geheel ander invalshoek in Afrikaans te kan vertaal en publiseer. Afrikaans het nog min te doen gehad met “post-Christelike” denke, tensy 'n mens die soort post-teïsme van Ben du Toit oorweeg. Gee dit gerus 'n lees.
Die godsdienstige is vir baie van ons die persoonlike, en die persoonlike is volgens sekere denkers die politieke.
Hierdie gedagtegang slaan sterk deur in Andrew se artikel. Maar miskien is die algemene segswyse “die persoonlike is die politieke” self 'n Chestertonse muur wat geweegde bevraagtekening skort? Watter soort gevare kruip weg as die persoonlike konseptueel min verskil van die politieke?
Haas jou langsaam en dink daaroor.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.














