Het die Spies nog Steek?
Oom Groenie is geen waarborg in die verraderlike stegies van Tshwane nie.
Vir diegene wat gehoop het dat hierdie skrywe Pierre Spies se terugkeer na Bulle-rugby inlui, het ek selfs beter nuus: Die nuwe ou-bul in die hoofstad-metro noord van die Jukskei-rivier (uit my rigtingperspektief) gaan dalk nie maak dat Loftus weer dreun nie, maar jy gaan dalk langs 'n skoon en veilige sypaadjie na die Vers-veld kan stap.
Willie Spies, die prokureursbrein agter die Solidariteit Beweging en veral AfriForum se string suksesse in die howe, staan amptelik as VF-Plus burgemeesterskandidaat in die Tshwane-metro. Vir Pretoriôners wat Cilliers Brink se redelik onlangse politieke martelaarskap met woede onthou, is Spies se kandidaatskap - indien suksesvol - dalk 'n billike tweedeprys. Ten minste in die geval waar hulle stoere ondersteuners van die DA is, en 'n Vryheidsfronter volgens sommige - aldus die Leerreëls van Zille - 'n vermorsing van stemme kan wees en 'n verdeling van die opposisie.
Gemeenskapspolitieke Golflengtes
Spies se ervaring in kulturele entrepreneurskap, vernaamlik sy 14 jaar termyn op die direksie van Pretoria FM, posisioneer hom waarskynlik goed onder Afrikaanse kiesers in die hoofstad en omstreke.
Dié gemeenskapsradiostasie is onder Spies se leiding omvorm van 'n ietwat verstokte uitsaaier in die versteekte hoekies van die regse golflengtes, na 'n goed-gevestigde radiodiens met duisende lojale luisteraars. Die program-inslag is eietyds-Afrikaans en dinamies, en skroom nie om ook politieke inhoud die lig te laat sien wat kritiese vrae vra nie. Dit volg ook nie die standaardnarratiewe van die Afrikaanse establishment-media nie. 'n Mens kan seker spekuleer of Spies se moeite by Pretoria FM juis ook die doel gedien het om hom as opkomende politieke rolspeler in Pretoria te vestig, of minstens om daardie deur te help oophou. 'n Gesoute politikus het iewers 'n hand in die pers; Cecil John Rhodes met die Cape Argus is nie die enigste voorbeeld nie.
Soos sy kamerade in die res van die Solidariteit Beweging en ander burgerlike samelewingsorganisasies, vorm gemeenskapsgerigtheid die kern van Spies se politieke oortuigings. Die klem op meer outonomiteit en besluitnemingsmagte vir gemeenskappe is 'n tema wat ook opmerklik meer dikwels in die VF-Plus se politieke terminologie voorkom. Dit dui op groter politieke verbondenhede, maar dit is miskien 'n hoender-of-eier vraag oor of die Vryheidsfront in Pretoria (veral) ideologies reageer op seine uit die Beweging-kolos, en of daar maar gewoon net ideologiese kruisbestuiwing is weens gedeelde spesies konserwatisme.
Politieke konserwatisme lyk natuurlik in Suid-Afrika toenemend anders as 30 of 40 jaar gelede. Dit is meer krities oor moreel onaanvaarbare politieke nalatenskappe. Dit verstel die visier wat kulturele kwessies betref na 'n soort liberale konserwatisme, wat kulturele veelvlakkigheid, volhoubaarheid en gelykwaardigheid heelwat hoër op die prys stel as die Swart-nasionalistiese en Engels-bekrompe ANC, of die DA se tradisionele Anglo-establishment in die Kaap. Op ekonomiese front is daar natuurlik baie raakpunte tussen die vryemarkiers, klassiek liberales, libertyne en teenreguleerders in die DA en die Vryheidsfront.
Maar, indien druk uit die Solidariteit Beweging met sy sterk werkersklasbeeld vir die strateë in Spies se koukus saakmaak, dan sal 'n Spies-administrasie in die Tshwane-metro die Afrikaanse ekonomiese linkerkant se snare moet tokkel. Die voordeel hiervan is tweeledig: Nie net is suiwer gemeenskapsoplossings en Selfdoenery vir die armste Afrikanerinwoners van Snor City in baie opsigte onmoontlik nie, hierdie kiesafdeling het wat die beursie betref baie in gemeen met swart armes in die krotbuurte van Pretoria-Wes en die omliggende townships. Hierdie mense is terdeë bewus, ongeag hul velkleur, dat die ANC-EFF-ActionSA gedrog in Tshwane se stadsentrum nie vir hulle regeer nie. Cilliers Brink se goeie ingrepe is plek-plek totaal onderbreek en selfs ongedaan gemaak, loop die storie. Misdadige en parasietpolitiek is weer aan die orde van die dag.
Dit sal nie maklik wees nie
Maar nie Willie Spies of sy party moet onder die wanindruk verkeer dat die onwaarskynlike gewildheid van Dr Pieter Groenewald, die Vryheidsfront se man in die kabinet en die Sauronsoog van Pollsmoor en Sun City, die krane van swart stemme sommer net sal oopdraai nie.
Oom Groenie, soos sekere swart sosiale media bewonderaars van dié tronkeminister hom gedoop het, is inderdaad 'n besondere stuk gereedskap om tronke mee op te ruim en swart misdaadvose burgers se stemme mee te lok. Dieselfde logika geld egter nie noodwendig in Pretoria en omstreke nie; die vraag is of Willie Spies dit sal regkry om kiesers wat opgegee het met die ANC, en diegene wat die DA se preke teen kleiner partye gehoor het, kan oortuig om Stemdag nie in Stoetbul te spandeer nie. Eens het Julius Malema en sy eie persoonlike Che Guevara, synde die verloopte Dr Mbuyiseni Ndlozi, ook skynbare skares op Twitter getrek, wat toe geblyk het nie heeltemal aanduidend was vir hul politieke suksesse nie. Proporsioneel bekyk, is Dr Groenie se gereedskapskis ook net so diep om Willie Spies se gemeenskapskis op te vul.
Angus Douglas herinner anderdag op OntLaer dat mense ook thymotiese wesens is, of dan geesdriftige kreature, wat nie net deur stoflike kwessies tevrede gestel word nie. Ja, munisipale dienste wat werk is belangrik, en plaaslike burokrasie wat die lewe makliker en nie moeiliker maak nie, is gesog. Maar mense streef ook na erkenning, en om “gehoor” te word en “verteenwoordig” te voel is selfs meer kragtig op die langtermyn as die gehalte lewering van dienste waarvoor belasting betaal word. Mense wil voel dat 'n leier - 'n burgemeester - neem hulle in sy of haar vertroue en is nie slegs goed daarmee is om die boeke te laat klop nie.
Hoe lyk hierdie soort charisma wat die kieser se geesdriftigheid en drange om gesien te word, kan aanroer? Waarskynlik verskillend, soos die tye dit vra. Kom die uur, kom die man, en nie andersom nie. Willie Spies verstaan blykbaar iets hiervan; in sy toespraak tydens sy bekendstelling as die Vryheidsfront se man in die saal vir die aanval op Pretoria, sê hy:
“Ons moet uitreik na townships en nuwe gemeenskappe. Ons moet mense bymekaar bring om dieselfde waardes. As ek met mense daaroor praat, kom ek agter hoeveel deel 'n Christelike erfenis. Ons deel konserwatiewe waardes. Ons deel familiewaardes… ongeag watter kleur jy is, waar jy bly… [die] waardes moet 'n mens weer na vore bring en mense om dit verenig en … laat glo jou stem kan 'n verskil maak”.
Dit is opvallend hoe Spies - versigtig dog retories glad - dit regkry om die Afrikaner-aangedrewe party se seine te beweeg na 'n soort herbeklemtoning van gedeelde belange in Christelike erfenis, wat natuurlik kragtig kan resoneer onder baie swart kiesers in en om Pretoria. Die aandrang op gemeenskaplikhede en 'n ingesteldheid om skakels tussen afsonderlike gemeenskappe te bou, is dalk nou net die ding, en oor tyd gemeet dalk sterkter as suiwer DA-styl tegnokrasie.
Verder, die oorspronklike etniese karakter van die VF-Plus word nie as kern weggegooi nie, maar 'n onderliggende narratief word geskep dat die Vryheidsfront “oplossings vanuit die Afrikaner-ervaring” na die “Christelike meerderheid” toe bring om in te deel. En dat die Christelike kieser se stem hierdie politieke akkoord kan laat aktiveer. Dit gaan uitsonderlike kommunikasie vorentoe deur Willie Spies verg om seker te maak dat hierdie soort aanknopingsaanbod vir die kiesers duidelik is. Dit kan ewe maklik gebeur dat kiesers oortuig (of minstens in die onsekerheid gedompel word) deur politieke teensprake wat hierdie insluitende aanslag deur Spies en sy span as Boereverneukery afmaak.
Dit is natuurlik in wese onregverdig dat die Vryheidsfront so moet eierdanse doen; die ANC is weer in die besonder swart-nasionalisties opgestel en onbeskaamd so. Dit is net dat suksesvolle bangmaakstories deur die ANC oor die Vryheidsfront meer wesenlike verliese onder voornemende kiesers vir laasgenoemde kan aanrig, as wat 'n boodskap deur die Vryheidsfront teen die ANC se oninklusiewe politiek kan doen.
Kyk en sien
Willie Spies se party het egter 'n baie ironiese ding reggekry: Hulle kon geleidelik oor die jare die spesies van konserwatiewe politiek wat hulle bedryf, so vervorm en hervorm en aanpas dat Oom Groenie 'n held onder swart kiesers kon word, en dit nie soos volksverraad vir die meeste Afrikaanse kiesers sal voel om die Afrikaanse kern van die party met algemene Christelike Suid-Afrikanerskap te vervleg nie.
Dit kon hulle doen, terwyl die sogenaamde progressiewe partye in Suid-Afrika nog maar heeltyd op dieselfde geykte tromme van radikale “swart eerste” ekonomiese transformasie of Hoofletter SEB-beleid speel.
Sal Spies so effektief kan regeer soos die DA? Miskien. Sal hy selfs sonder hulle kan klaarkom, koalisiegesproke? Waarskynlik nie. Maar miskien steek daar tog iets in 'n man wat die reg verstaan, wat sy gemeenskap deur radio leer ken het, en wat nie met oogklappe na die hoofstad kyk waarin soveel uiteenlopende belange daagliks om brood - en erkenning - woel nie.
Nog artikels deur Frederik van Dyk:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.









