DinkWeer Donderdag | Teen die Strome met meer Dostojefski's
Is daar Amptelike Narratiewe in die Afrikaanse hoofstroom? En terugblikke.
'n Ouer OntLaer-leser nader my anderdag by 'n funksie. “Besef jy die verskil tussen OntLaer en die Afrikaanse hoofstroommedia?” kom die vraag. Ek skud beleefd my kop, welwetend dat dit nie regtig die soort gesprekslyn is waarmee ek as stigterslid gemaklik is nie.
In die eerste plek is daar te min broodkrummels in die Afrikaanse persbedryf om oor te mee te ding, almal ken die hartseerstorie van die persbedryf sedert die koms van die internet. My ingesteldheid, en die van die redaksie, is om Afrikaanse pers-inisiatiewe as broodnodige rolspelers in 'n taalkulturele ekostelsel te beskou. In die groter prentjie is OntLaer, Binne+Land, Mondstuk en nou Die Papier - om maar enkeles te noem - vennote in en bydraers tot die oorhoofse lewenskragtigheid van Afrikaans. Gesonde mededinging is daar dalk, maar die pers was nog nooit slegs daaroor nie. Diskoers, deelname uit die openbare sfeer, beginselvaste kritiek, waarheid, koestering van die Afrikaanse taal deur intellektuele aanwending daarvan - hierdie behoort van die rigtingwysers vir die Afrikaanse media te wees.
Nietemin, my gespreksgenoot gaan aan:
“Die verskil is [by Netwerk24] dat Gert oor Gasa en Trump se strategieë skryf asof ander hoofstroommedia se aannames daaroor die Bybel is, en Charles asof rassisme en rassigheid iets is wat net 'n wit gewaad dra”.
Nou ja, die verdere vlak van ongemak is dat ek nie graag oor die manne eerder as oor die publikasie wou gesprek voer nie.
Gert van der Westhuizen het immers al jare lank getrou vir my die geleentheid gebied om op Netwerk24 se blaaie te publiseer, niemand kan hom daarvan beskuldig dat hy nie vir jonger poging-tot-meningskrywers geleenthede gee as hulle kom vra nie. Wat Charles Smith betref, kry ek die indruk dat hy heldhaftig en nes 'n wafferse Bittereinder Boerekryger die Afrikaanse media in die Vrystaat aan die gang probeer hou. Hiervoor behoort 'n mens net die hoogste respek te hê; die kultuurryke Vrystaat is deur Magashule gekarnuffel vir soveel jare, tog is daar Vrystaters soos Charles wat baie tyd en moeite blyk af te staan om ook die Afrikaanse aangesig van die Vrystaatse kultuurerfenis aan die lewe te hou.
Ek pols my gespreksgenoot, en gaandeweg kom ek agter dat sy kritiek dit eerder het teen die skynbare “Amptelike Narratief” wat hy in die Afrikaanse hoofstroom (lees: Netwerk24) sou teëkom. Om billik te wees, dit is ook 'n indruk wat elders al kop uitgesteek het onder Afrikaanse lesers, maar die groter vraag is, wat is hierdie “amptelike narratief” nou eintlik? Na verdere gesprekke besef ek dat hierdie 'n baie meer ingewikkelde verskynsel is om vas te stel, maar dit het beslis iets te doen met behoefte onder baie ouer meningskrywers om 'n soort “media-sentrisme” te probeer beoefen oor die kwessies van die dag. Hiervoor kan 'n mens begrip hê, as 'n soort redaksionele strategie om 'n gees van objektiwiteit aan te moedig.
Maar waarin dit dikwels omvorm, is die afskeep van stemme van die basiese aannames van sekere gekoesterde media-sentristiese narratiewe uitdaag. Neem byvoorbeeld diskoerse oor godsdiensbeoefening, of die ANC in die gevestigde Afrikaanse “hoofstroom” publikasies. Daar is natuurlik baie kritiek op die ANC, maar ook 'n bespeurbare versigtigheid, wat baie maal deur sekere stilistiese stellings gesuggereer word: “Ons kan maar net hoop die ANC sigself sal hervorm”; of “die ANC is verdeel in konstitusionaliste en radikale korruptes” of “Ramaphosa moet sy rug nou styf maak”.
Dis nou alles mooi hoopvol gestel, maar dui die bewyse voor oë dat 'n narratiewe trant teen hierdie lyn af nog enigsins geregverdig is? Of neem byvoorbeeld die hoogty van die Gasa-oorlog. Die amptelike redaksionele meningsvormers onder die Netwerk24-vlag het baie min tyd afgestaan om die dieper meganika van die “Israel-apartheid-volksmoord” narratiewe strekking te ondersoek. Veel meer artikels het die aanname hiervan aanvaar. Ek kan begryp waarom sommige lesers dit as Establishment-agtig sou beskou.
By die lees van Chris Louw se Boetman is die bliksem in (2000) word baie bladsye afgestaan aan die ontwikkeling deur die Afrikaanse pers van hul eie weergawe van die Van Wyk-Louwse “lojale verset”. Onder die Nasionale Party was die redaksionele gebruik, aldus Louw, om die kritiek amper “binne die vier mure van die volk” te laat uitspeel, maar buite-kritiek en “verloopte Afrikaners” te demoniseer. Regeerprobleme was bespreekbaar, bedelingsprobleme aansienlik minder so. Dit het ontwikkel tot 'n nasionale samesnoeringsnarratief wat nie te veel waves na links of regs maak nie.
Nasionale media-sentrisme, dalk? Miskien het hierdie redaksionele ingesteldheid amper soomloos in die gevestigde Afrikaanse perslandskap van na-1994 voortgeduur.
Raak Russies
Hierdie opmerkings van my is voorlopig, en wat my betref beslis 'n groter gesprek werd. Miskien is dit in 'n sekere opsig 'n non-issue: Publikasies soos OntLaer en die ander vermeldes het nie slegs ontstaan omdat die tegnologie dit vir skryfliefhebbers en meningsvormers makliker gemaak het om self te doen nie. Dit het ook gegroei uit die behoefte om ander joernalistieke style hul nis te laat kry.
Dan moet 'n mens ook onthou dat die onlangs heengegane dog gevestigde koerante uit die Naspers-stal nie almal dieselfde redaksionele style gehad het nie. Beeld, wat in 'n sekere opsig nou herlewing vind in Die Papier, se aanslag was baie anders wat redaksionele meningsvorming betref as Die Burger. En Rapport bied weer iets heel anders as die voorvermelde twee ou vlagskepe.
Maar dit is tog goed dat ons bietjie meer “Russies” raak in ons skryfwerk. Daarmee bedoel ek dat ons inspirasie neem by die groot Russiese romanskrywers van die 19de en 20ste eeu, soos Fjodor Dostojefski, met wie se Broers Karamazov ek tans besig is (dankie Paul Maritz vir die Kersgeskenk!). Die Russe skryf net anders, en hulle skryf hardcore. Die fondasies van menslike goedheid en aannames daaroor word fundamenteel uitgedaag.
Hierdie artikel en die gepaardgaande meme is tekenend:
Om die stigtelike en die amptelike aan te voer lok dalk kopknikkende confirmation biases oftewel instemmingsvooroordele uit, tot voordeel van 'n mens se publikasie. Maar om soms 'n mate van sinisme, skeptisisme en dieper refleksie oor die hopeloosheid van gegewens voorhande in te neem, bring die moontlikheid van wysheid na vore.
Oor laasweek
OntLaer se 6 Februarie 2026 uitgawe het my op die spoor na die bogenoemde opmerkings gesit. Ons het eens gewaarsku, met die heel eerste uitgawe, dat OntLaer-uitgawes soms skynbaar gaan oorhel na een of meerdere “kante” van die politieke spektrum.
Omdat ons lesergedrewe is, gebeur dit dikwels dat sekere leser-skrywers met tye sterker voel oor sekere sake, en gevolglik is daar 'n sekere oorhoofse strekking van inhoud wat ons ontvang.
Deurgaans probeer ons as redaksie egter om nuwe, vars invalshoeke op te spoor en in te win, wat natuurlik bietjie stadiger met die nuussiklus omgaan. As die gevestigdes in die bedryf enersyds aanvoer dat, byvoorbeeld, Trump geen plan in Iran het nie, of andersyds dat Amerika baie berekend omgaan, dan gaan soek ons iets wat dieper delf oor die motiewe en geopolitieke 4D-skaakspele waar aan die gang is. Jurie van der Walt, een van ons gereelde bydraers oor die geopolitiek, is 'n voorbeeld van hierdie inslag:
Selfs meer pertinent, lees ook môre se leenskrywe wat ons van die ontleder Zineb Riboua ingewin het. Riboua is vinnig besig om van my gunsteling skrywers te word op Substack en elders. Sy het die unieke manier om invalshoeke raak te sien wat die gewone narratiefskeppers nie inreken nie, en dink buite die boks oor die geopolitieke skuiwe van die dag. Sy is ook ongelooflik produktief, en haar substack Beyond the Ideological het amper daagliks nuwe inhoud. Ons sien uit om nog lank met haar saam te werk.
Debatteer tot die punt, of die komma?
Sommige sou OntLaer dalk as kontraries, contrarian oftewel teenstromig etiketteer. Dit is so dat ons 'n premie op nuwe invalshoeke en stadiger besinnings plaas, maar om contrarietas gratia contrarietatis of dan teenstromig vir die saak van teenstromigheid te wees, het beslis nie opsigself enige sin nie.
Miskien kan 'n mens nog 'n saak uitmaak vir die estetiese manifes ars gratia ars, of kuns vir die saak van kuns. In die konteks van meningsvorming kan teenstromigheid egter die gevaar loop om opvoerig te raak, of om die kunselement van debat te verwar met die gereedskaplikheid daarvan: Debat en diskoers kan nie slegs 'n stokperdjie wees nie, in die regte lewe moet dit ook as 'n middel tot 'n einde dien. Sekere onderwerpe kan nie tot in ewigheid beredeneer word nie. Miskien is dit die regsgeleerde in my, maar besliste kwessies kan slegs in baie sonderlinge en geringe omstandighede weer opgehaal word.
Daarom dat ek nogal skepties was oor die argumentslyn in Angus Douglas se leenskrywe op 6 Februarie, waarin Garth Zietsman van Daily Friend se argumente oor rassisme verder gevoer word. In 'n neutedop word daar vanuit 'n klassiek liberale oogpunt aangevoer dat daar “goeie” en “slegte” iterasies van rassisme kan wees. Vir my is dit, vanuit 'n ietwat Kantiaanse inslag, 'n kategoriese denkfout om rassisme volgens die bedoelings daaragter en omstandighede daarom in “goeie”, “neutrale” of “slegte” iterasies te verdeel.
Dit lyk vir my eerder of Garth en Angus - in goeie trou en in 'n ontledende gees - die begrip “rassisme” as 'n soort tentatiewe konsep oprig en dan ondersoek watter soort reële scenarios daar kan wees waar dit nie teen individuele outonomie en ander liberale leerreëls sou indruis nie. Die “goeie” weergawe het glo iets te doen met die feit dat dit nie “sleg” is om die swart nasionalistiese bedeling te kritiseer en alternatiewe daarom te probeer vind nie. Maar waarom hierdie soort strategie in verband bring met rassisme?
Wat my betref probeer Douglas en Zietsman nie eintlik om rassisme as alleenstaande begrip behoorlik af te baken voor hulle dit tentatief teen die lig hou om verder te ondersoek nie. Rassisme is in die eerste plek dalk steeds 'n ietwat bestrede begrip, maar die onderdele van meerderwaardigheid en irrasionele hiërargie is onbestrede, dan nie? Waarom “rassisme” bysleep om iets heel anders - dalk frustrasie tussen groepe om kultureel-ideologiese redes - te probeer ontleed?
Wat my betref is hier 'n kategorie-fout gemaak. Lees gerus self en laat ons weet wat u dink.
Afkondigings na die Diens
In die gees van gematigde teenstromigheid, is daar ook die artikel deur Bouwe van der Eems wat die debat oor “die vrou in die amp” (of op die koddige akroniem, “VIDA”) in die Dopperkerke vanuit 'n heel anderse hoek benader as wat in die gevestigde media gedoen is. Ek wil tot 'n mate hierby aansluit, hoewel ek nie juis reken dis van besondere belang om kerksake in die openbaar te litigeer nie.
Die NG Kerk se jare-lange omstredenhede het nie net baie mense frustreer nie, maar dit opper ook die vraag (as vrywillige godsdienstige verenigings soos kerke analoog is aan jou plaaslike gholfklub, vanuit 'n vrylik organisatoriese oogpunt) waarom soveel tyd afgestaan word om 'n kwessie te debatteer wat in elkgeval onderhewig is aan interne, private besluitneming deur vrywillige lede? Die GKSA is van meet af 'n godsdienstige iterasie op sy eie, afsonderlik van die ander susterskerke, omdat daar verskille in kerkorde en godsdienspraktyk bestaan van toeka se dae af.
So waarom voel lede van Klub A en B dat dit nodig is om Klub C “aan te spreek”? Daar is seker teologies-missionale redes hiervoor, maar die verskille is eeue oud en gaan nie bygelê word deur openbare polemiek nie. Miskien is daar die dieper en geskiedkundige gees van sentralistiese, amper-kruisvaartagtige drange in sekere Afrikaanse godsdienstige kringe wat dit as wesensbelangrik beskou om die “verlooptes” van die GKSA te probeer “bekeer”. Waarom? Hulle is al sedert 1859 op hulle eie missie met hulle eie interne, besonder gedesentraliseerde kerkorde, wat wesenlik verskil van Ouboet NGK en Middelboet Hervormers wat godsdiensbeoefening ensomeer betref, die kulturele Afrikaanse bande ten spyt.
Miskien is dit die sosiale libertyn in my, maar los tog die Doppers uit. Almal hoef nie hul godsdiens in Suid-Afrika eenvorming te beoefen en eenvormige reëls te hê nie.
Kyk, ek het my eie filosofiese en etiese bedenkinge oor die “vrou in die amp” kwessie, en dink kerke oor die algemeen het groter kastaiings om uit die vuur te krap. En ek is ook nie aldag oortuig van die teologiese argumente wat geopper word nie. Maar ek is geen teoloog nie, en die sinodale besluit is die besluit en dis demokraties en reëlmatig geneem.
Kritici sou terugkap dat die VIDA-besluit “die einde” van die GKSA sal inlui. En? As jy in die eerste plek teen die Doppers se godsdiensbeoefening gekant is (deur byvoorbeeld om nie lid van daardie kerkverband te wees of wil wees nie), waarom hul moontlike ondergang betreur? Na my ervaring is die Doppers in elkgeval nie gespin oor hoeveel hulle is nie; in die 1860’s tot vroeg in die 19de eeu - en tot vandag toe - is hulle 'n klein kerk, wat tog lidmate oplewer wat ver bo hul gewigklas boks (dink Paul Kruger en FW de Klerk) en boonop aktief in die groter Afrikaanse en Suid-Afrikaanse samelewing ingeskakel is. Hulle vleg soomloos deur die samelewing. Jy sal amper nooit weet wie is 'n Dopper en wie nie. Boonop, as Ouboet en Middelboet vir Kleinboet so wil vasvat, is die vraag of dit konsekwent deurgevoer gaan word na die etlike ander kerke - Protestants, Katoliek, Afrika-inheems ensomeer - wat ook ordereëlings het wat as “nie-progressief” beskou kan word?
Weet jy wat, dala what you must en vind jou kerk wat jou politiek pas, of nie. Dis 'n vry land. Sela.
Vorige DinkWeer Donderdag artikels:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.
















Hierdie artikel moet verwelkom word as deel van ʼn veel langer gesprek. Die vonk wat daartoe gelei het was duidelik die sentiment van ʼn ouer konserwatiewe leser. Daar is ook ander meer progresiewer sentimente
Ek gaan my voorlopig bepaal by die kritiek teen die einde dat die media hom minder moet bemoei oor kerke se besluite. Die rol van die media se beriggewing oor die politiek is ʼn gesprek op sy eie.
In gesprekke oor die rol van die hoofstroommedia en die sogenaamde gebrek aan ’n "konserwatiewe stem", word daar dikwels aangevoer dat die media homself oorskry wanneer hy hom met kerklike sake bemoei. Die argument (soos hier in Ontlaer ook) lui gewoonlik dat kerke vrywillige godsdienstige verenigings is en dat dit nie in die openbare belang is om hul interne "gesinsake" in die openbare sfeer te litigeer nie.
Hierdie siening is nie net kortsigtig nie, maar misken die fundamentele rol wat godsdiensinstellings in die vorming van ons gemeenskaplike morele kompas speel.
Die kern van die probleem lê in die aard van die instelling self. ’n Mens kan nie die kerk op dieselfde vlak as jou plaaslike gholfklub of ’n seëlversamelaarsvereniging plaas nie.
Gholfklubs maak nie aanspraak op die ewige waarheid of die mandaat van ’n goddelike wese om die lewens van miljoene mense te rig nie.
Kerke roem daarop dat hulle die "Woord van God" verkondig. Daardie aanspraak bring ’n enorme verantwoordelikheid mee. As jy jouself op die hoogste morele verhoog plaas, moet jy bereid wees om met die strengste morele skaal geweeg te word. Wanneer ’n kerkraad of sinode besluite neem wat die menswaardigheid van groepe mense raak, kan hulle nie agter die skild van "interne sake" skuil sodra die publiek vrae begin vra nie.
Die argument dat die media te "liberaal" is omdat hy krities verslag doen oor godsdienskwessies, hou nie water nie. Dit is die media se morele en professionele plig om te maan teen diskriminasie in enige vorm.
As dit die media se plig is om die fluitjie te blaas wanneer politieke partye op grond van velkleur diskrimineer, waarom sou daardie plig skielik verval by die kerkdeur? Wanneer die Gereformeerde Kerke (GKSA) teen vroue diskrimineer, of die NG Kerk sukkel om die volle menswaardigheid van die LGBTQ+-gemeenskap te erken, is dit nie bloot ’n teologiese meningsverskil nie. Dit is ’n menseregtekwessie.
Om diskriminerende besluite met die Bybel in die hand te probeer regverdig, maak die optrede nie minder skadelik nie. Trouens, dit maak dit meer nuuswaardig, juis omdat die instelling wat veronderstel is om naasteliefde en geregtigheid te bevorder, die instrumente van sy eie geloof gebruik om uitsluiting te sanksioneer.
Die hoofstroommedia is dikwels die enigste platform waar die stemme van diegene wat deur kerklike magstrukture gemarginaliseer word, gehoor kan word.
Moet die media ’n skoothond word wat stilbly oor onreg solank dit in die naam van tradisie of dogma geskied?
Joernalistiek in ’n grondwetlike demokrasie het ’n mandaat om magstrukture tot verantwoording te roep. Die kerk is een van die magtigste strukture in die Afrikaanse gemeenskap. Om wanpraktyke in die godsdiensgemeenskap uit te wys, is presies dieselfde as om korrupsie of magsmisbruik in die politiek bloot te lê.
Dit gaan nie oor ’n obsessie met "verlooptes" of ’n poging om mense te "bekeer" nie; dit gaan oor die ventilasie van idees en die beskerming van die swakker party teen die tirannie van die meerderheid.
Die idee dat kerke "vrywillige organisasies" is wat mag maak en breek soos hulle wil, is ’n gevaarlike drogredenering. Kerke beïnvloed wetgewing, onderwys, familieverhoudings en die algemene sosiale kohesie van ons land.
As die kerk relevant wil bly in die moderne wêreld, moet hy leer om die lig van die media te verduur. Die publiek het ’n reg om te weet wanneer instellings wat op morele hoogwaardigheid aanspraak maak, faal om hul eie belydenis van geregtigheid uit te leef. Die media is nie besig met ’n heksejag nie; hy hou bloot die spieël op sodat die samelewing – en die kerk – kan sien hoe hulle werklik lyk.
Frederik, jy het om opinies gevra. Jou slotopmerkings beweeg vir my in die rigting van die meriete wat ek eerder in Douglas en Zietsman raakgelees het (of wou raaklees):
“Wat my betref probeer Douglas en Zietsman nie eintlik om rassisme as alleenstaande begrip behoorlik af te baken voor hulle dit tentatief teen die lig hou om verder te ondersoek nie. Rassisme is in die eerste plek dalk steeds ’n ietwat bestrede begrip, maar die onderdele van meerderwaardigheid en irrasionele hiërargie is onbestrede, dan nie? Waarom ‘rassisme’ bysleep om iets heel anders – dalk frustrasie tussen groepe om kultureel-ideologiese redes – te probeer ontleed?”
Persoonlik wil ek eerder die volgende aanhaling uit Douglas en Zietsman sien as die spilpunt van die soort problematiek wat hulle probeer aanspreek het en waarme ek saamstem:
“Wit Suid-Afrikaners is in ’n verdedigingsposisie ingedwing, verbied om reguit te praat oor die oorsake van staatsmislukking en die gevaarlike verval van wet en orde.
Ek wonder soms of die feit dat ons nie eerlik kan praat oor wat die ineenstorting veroorsaak het nie, dalk erger is as die ineenstorting self.
Daar is tog iets bevrydend en bemagtigend daaraan om die regte woorde te vind – die eenvoudigste uitdrukking – om ’n verskynsel van groot gewig te beskryf. Om iets op die naam te noem vir wat dit is, is om ’n mate van vrede en aanvaarding daaroor te verkry.”
Dis in my opinie baie geldig om die standpunt soos hierbo verwoord te stel. Die “rassisme-beskuldigings en -aansprake” in die opiniestuk is dus vir my ook ietwat oorbodig, want rassisme is maar een aspek wat bygedra het om ons stemme stil te maak (verlede tyd, gelukkig!). Ek dink ook nie ons is enigsins “verbied” om reguit te praat nie. Ons was en is in daardie opsig nog nooit Noord-Korea, China, Rusland of Iran nie. Ons het verkies om stil te bly. Daar was baie goeie en minder goeie redes daarvoor. Ek werk tans aan ’n opiniestuk daaroor en gaan dus nie hier op daardie redes in nie. My tese is egter dat baie van die skuld by onsself gesoek moet word…