Discussion about this post

User's avatar
Jean Oosthuizen's avatar

Hierdie artikel moet verwelkom word as deel van ʼn veel langer gesprek. Die vonk wat daartoe gelei het was duidelik die sentiment van ʼn ouer konserwatiewe leser. Daar is ook ander meer progresiewer sentimente

Ek gaan my voorlopig bepaal by die kritiek teen die einde dat die media hom minder moet bemoei oor kerke se besluite. Die rol van die media se beriggewing oor die politiek is ʼn gesprek op sy eie.

In gesprekke oor die rol van die hoofstroommedia en die sogenaamde gebrek aan ’n "konserwatiewe stem", word daar dikwels aangevoer dat die media homself oorskry wanneer hy hom met kerklike sake bemoei. Die argument (soos hier in Ontlaer ook) lui gewoonlik dat kerke vrywillige godsdienstige verenigings is en dat dit nie in die openbare belang is om hul interne "gesinsake" in die openbare sfeer te litigeer nie.

Hierdie siening is nie net kortsigtig nie, maar misken die fundamentele rol wat godsdiensinstellings in die vorming van ons gemeenskaplike morele kompas speel.

Die kern van die probleem lê in die aard van die instelling self. ’n Mens kan nie die kerk op dieselfde vlak as jou plaaslike gholfklub of ’n seëlversamelaarsvereniging plaas nie.

Gholfklubs maak nie aanspraak op die ewige waarheid of die mandaat van ’n goddelike wese om die lewens van miljoene mense te rig nie.

Kerke roem daarop dat hulle die "Woord van God" verkondig. Daardie aanspraak bring ’n enorme verantwoordelikheid mee. As jy jouself op die hoogste morele verhoog plaas, moet jy bereid wees om met die strengste morele skaal geweeg te word. Wanneer ’n kerkraad of sinode besluite neem wat die menswaardigheid van groepe mense raak, kan hulle nie agter die skild van "interne sake" skuil sodra die publiek vrae begin vra nie.

Die argument dat die media te "liberaal" is omdat hy krities verslag doen oor godsdienskwessies, hou nie water nie. Dit is die media se morele en professionele plig om te maan teen diskriminasie in enige vorm.

As dit die media se plig is om die fluitjie te blaas wanneer politieke partye op grond van velkleur diskrimineer, waarom sou daardie plig skielik verval by die kerkdeur? Wanneer die Gereformeerde Kerke (GKSA) teen vroue diskrimineer, of die NG Kerk sukkel om die volle menswaardigheid van die LGBTQ+-gemeenskap te erken, is dit nie bloot ’n teologiese meningsverskil nie. Dit is ’n menseregtekwessie.

Om diskriminerende besluite met die Bybel in die hand te probeer regverdig, maak die optrede nie minder skadelik nie. Trouens, dit maak dit meer nuuswaardig, juis omdat die instelling wat veronderstel is om naasteliefde en geregtigheid te bevorder, die instrumente van sy eie geloof gebruik om uitsluiting te sanksioneer.

Die hoofstroommedia is dikwels die enigste platform waar die stemme van diegene wat deur kerklike magstrukture gemarginaliseer word, gehoor kan word.

Moet die media ’n skoothond word wat stilbly oor onreg solank dit in die naam van tradisie of dogma geskied?

Joernalistiek in ’n grondwetlike demokrasie het ’n mandaat om magstrukture tot verantwoording te roep. Die kerk is een van die magtigste strukture in die Afrikaanse gemeenskap. Om wanpraktyke in die godsdiensgemeenskap uit te wys, is presies dieselfde as om korrupsie of magsmisbruik in die politiek bloot te lê.

Dit gaan nie oor ’n obsessie met "verlooptes" of ’n poging om mense te "bekeer" nie; dit gaan oor die ventilasie van idees en die beskerming van die swakker party teen die tirannie van die meerderheid.

Die idee dat kerke "vrywillige organisasies" is wat mag maak en breek soos hulle wil, is ’n gevaarlike drogredenering. Kerke beïnvloed wetgewing, onderwys, familieverhoudings en die algemene sosiale kohesie van ons land.

As die kerk relevant wil bly in die moderne wêreld, moet hy leer om die lig van die media te verduur. Die publiek het ’n reg om te weet wanneer instellings wat op morele hoogwaardigheid aanspraak maak, faal om hul eie belydenis van geregtigheid uit te leef. Die media is nie besig met ’n heksejag nie; hy hou bloot die spieël op sodat die samelewing – en die kerk – kan sien hoe hulle werklik lyk.

PIET DU PLESSIS's avatar

Frederik, jy het om opinies gevra. Jou slotopmerkings beweeg vir my in die rigting van die meriete wat ek eerder in Douglas en Zietsman raakgelees het (of wou raaklees):

“Wat my betref probeer Douglas en Zietsman nie eintlik om rassisme as alleenstaande begrip behoorlik af te baken voor hulle dit tentatief teen die lig hou om verder te ondersoek nie. Rassisme is in die eerste plek dalk steeds ’n ietwat bestrede begrip, maar die onderdele van meerderwaardigheid en irrasionele hiërargie is onbestrede, dan nie? Waarom ‘rassisme’ bysleep om iets heel anders – dalk frustrasie tussen groepe om kultureel-ideologiese redes – te probeer ontleed?”

Persoonlik wil ek eerder die volgende aanhaling uit Douglas en Zietsman sien as die spilpunt van die soort problematiek wat hulle probeer aanspreek het en waarme ek saamstem:

“Wit Suid-Afrikaners is in ’n verdedigingsposisie ingedwing, verbied om reguit te praat oor die oorsake van staatsmislukking en die gevaarlike verval van wet en orde.

Ek wonder soms of die feit dat ons nie eerlik kan praat oor wat die ineenstorting veroorsaak het nie, dalk erger is as die ineenstorting self.

Daar is tog iets bevrydend en bemagtigend daaraan om die regte woorde te vind – die eenvoudigste uitdrukking – om ’n verskynsel van groot gewig te beskryf. Om iets op die naam te noem vir wat dit is, is om ’n mate van vrede en aanvaarding daaroor te verkry.”

Dis in my opinie baie geldig om die standpunt soos hierbo verwoord te stel. Die “rassisme-beskuldigings en -aansprake” in die opiniestuk is dus vir my ook ietwat oorbodig, want rassisme is maar een aspek wat bygedra het om ons stemme stil te maak (verlede tyd, gelukkig!). Ek dink ook nie ons is enigsins “verbied” om reguit te praat nie. Ons was en is in daardie opsig nog nooit Noord-Korea, China, Rusland of Iran nie. Ons het verkies om stil te bly. Daar was baie goeie en minder goeie redes daarvoor. Ek werk tans aan ’n opiniestuk daaroor en gaan dus nie hier op daardie redes in nie. My tese is egter dat baie van die skuld by onsself gesoek moet word…

No posts

Ready for more?