Pantone se onlangse aankondiging van Cloud Dancer (PANTONE 11-4201) as die Kleur van die Jaar vir 2026 het wêreldwye reaksie ontlok.
Pantone verduidelik dat dié wit-kleur as 'n “skoon doek” of “skoon bladsy” gesien moet word en beskryf Cloud Dancer as 'n sagte, gebalanseerde wit wat die gevoel van lig, kalmte en hernuwing moet vasvang. In 'n wêreld wat volgens dié kleurinstituut oorlaai is met visuele en emosionele geraas, is Cloud Dancer veronderstel om ruimte vir oordenking en kreatiwiteit te skep.
So mooi en inspirerend soos wat dit van ver af mag klink, meen ander dat Pantone se kleurkeuse eerder as kultuurblindheid en selfs 'n kommersiële magsgreep beskou kan word.
Die Besware teenoor Pantone en Cloud Dancer
Kritici bevraagteken hoe 'n wit kleur, met sy diep geskiedkundige, kulturele en politieke konnotasies, as neutraal en universeel voorgestel kan word.
Sommige aktiviste beskryf Pantone se keuse as 'n toondowe kleur in 'n wêreld waar visuele simboliek al hoe meer met identiteit, insluiting en mag verbind word. Ander is weer van mening dat dit 'n vervelige keuse is, veral ná al die jare waarin Pantone lewendige en emosioneel-gelaaide kleure gekies het.
In Suid-Afrika dra kleure dieper betekenisse in vergelyking met baie ander Westerse lande, want sien, in ons land is daar verskillende kulture met kleurryke verbintenisse. Selfs die politieke partye word aan kleure gekoppel. In ander gevalle is die kleure in sekere vlae ook kontroversieel. Hier in Suid-Afrika leef ons in kleur, op ons eie manier - die enigste kleur wat nie vir ons bekend is nie, is 'n koue wit kersfees, omdat die Afrikason vir ons goue sonsondergange gee. Suid-Afrikaners weet dat wit alles behalwe 'n neutrale kleur of 'n skoon doek is, omdat dit reeds 'n vrag van geskiedenis en kulturele spanning in die land dra. Tydens die halfeindstryd van die rugbywêreldbeker in 2023 moes selfs die Springbokke aan die wêreld verduidelik wat die “wit kant” in Suid-Afrika beteken.
In ontwerp word die kleur wit dikwels aan minimalistiese, skoon, luukse en premium-handelsmerke gekoppel, maar in Suid-Afrika funksioneer hierdie minimalistiese wit eerder as 'n merker van die leefstyle van die middel- en hoërklasse. Dit kan beskou word as 'n estetiese ideaal wat ekonomiese ongelykheid weerspieël en beperkte toegang suggereer, waaraan die meerderheid van die bevolking nie deel het nie.
Dus is dit problematies wanneer Pantone aanneem dat wit op 'n internasionale wyse toepaslik vir elke land is, aangesien dit 'n ontwerpnorm bevorder wat in groot dele van Afrika en selfs Indië en Australië nie prakties of sinvol is nie: wit word maklik vuil, verg hoë vlakke van onderhoud en pas dikwels nie by die klimaatstoestande of leefstyle van baie gemeenskappe aan nie. Om dié rede is wit nie net kultureel gesproke nie, maar ook ekonomies ontoepaslik as 'n voorkeurkleur vir 2026.
Woolworths se sagte reputasiebestuur ná 'n politieke skandaal
In November vanjaar het die sakeman, Vusimuzi “Cat” Matlala, erken dat hy swart Woolworths sakke gebruik het om groot bedrae kontant onwettig te vervoer.
Kort daarna, in die eerste week van Desember, stel Woolworths splinternuwe wit, deursigtige inkopiesak bekend. Deur die sak wit en deursigtig te maak, probeer Woolworths moontlik hul korporatiewe beeld herposisioneer deur van naamskending, geheimsinnigheid en korrupsie af weg te bly, en die verbruiker te probeer oortuig dat hul steeds 'n openbare, deursigtige en betroubare maatskappy is wat niks het om weg te steek nie.
Tog is daar 'n paar aspekte van dié skuif wat vanuit 'n Suid-Afrikaanse maatskaplike en ekonomiese oogpunt krities beskou kan word: Wit sakke kan esteties en stylvol voorkom, maar volgens van die verbruikers dra dit nie noodwendig tot inklusiwiteit, bekostigbaarheid of geskiktheid vir almal by nie. In die hart van hierdie debat maak die Britse kunstenaar en kleuraktivis, Stuart Semple, weer kapsie teen Pantone se monopolisering van kleur deur sy eie alternatiewe kleurvoorstel te loods.
Die kern van Semple se filosofie is dat kleur 'n demokratiese hulpbron behoort te wees. Volgens hom moet geen kunstenaar of maatskappy eksklusiewe beheer oor 'n pigment hê nie, veral nie wanneer dit kreatiewe uitdrukking beperk of kommersiële lisensies bo artistieke vryheid plaas nie. Daarom het hy oor die jare kleure soos Pinkest Pink, Black 2.0, Tiffany-geïnspireerde TIFF Blue en Anish-proof alternatiewe as deel van 'n groter beweging geskep, sodat hy kleur aan die publiek kan teruggee. Baie soos Robin Hood, maar net vir kunstenaars.
Met die bekendstelling van Cloud Dancer, het Semple sy stem dik gemaak en sy eie teenkleur, Proud Chancer, 'n soortgelyke skakering aan Pantone se wit, vrygestel om Pantone se beheer te ondermyn. Hy het kort daarna ook ’n “die mense se kleur van die jaar” bekendgestel, vanwaar Anarchic Venom, 'n sagte maar ontwrigte violet wat volgens hom die kreatiewe oproep van gewone mense beter weerspieël as dié van 'n korporatiewe aankondiging.
Wat vir my ironies is, is die feit dat Semple in hierdie geval self 'n paar kleuropsies gekies het waaruit die publiek kon kies. Hy het dus eers kleure vir ons gekies, sodat ons 'n kleur uit sy keuses kan kies - weerspreek dit dan nie in 'n mate sy eie motivering met alles wat hy aanpak nie? Semple voer aan dat Pantone jaar na jaar 'n wêreldwye kleurtendens voorskryf wat reuse invloed op mode, ontwerp, reklame en produkontwikkeling het.
Die vraag is dan wie die mag het om te besluit watter kleur die wêreld “moet” dra, en wie besluit wanneer 'n kleur in praktyk 'n handelsmerk word.
Die kleur-oorlog oor wie teken, wie kies en wie besluit
Die botsing tussen Pantone, Semple en selfs Suid-Afrika bring 'n groter gesprek na vore: Kan kleur ooit neutraal wees? En wie behoort die reg te hê om dit te definieer?
Namate die debat voortwoed, is dit duidelik dat kleur al lank nie meer net estetiese waarde gee nie. Dit is identiteit. Dit is politiek. Dit is bemarking. En vir kunstenaars soos Semple en in 'n land soos Suid-Afrika is dit ook 'n plek van weerstand. In 'n wêreld waar selfs 'n wit kleur globale diskoerse kan aanwakker, herinner dit ons daaraan dat die kleure rondom ons nie net gekies word nie, maar geformuleer, verhandel, bevoordeel en betwis word.
In 2026 is kleur dus nie net 'n kwessie van smaak nie, maar van strategie, simboliek en soms selfs weerstand. Pantone bied 'n leë doek; Semple vra wie die reg het om daarop te skilder. Ek is maar net te dankbaar dat my gunstelingkleur nie in die rooi is nie…
Hilde Kruger is 'n grafiese en multimedia-ontwerper, skrywer en bemarker met 'n sterk fokus op strategiese konseptualisering en handelsmerkontwikkeling. Vandag is sy die eienaar van 'n kreatiewe eenmansaak en werk met verskeie organisasies en instansies.
Nog artikels deur Hilde Kruger:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.
Bronnelys:
Woolworths Switches Iconic Black Shopping Bag to New Design Following Cat Matlala’s Cash Revelations. Central News, 3 Desember 2025
centralnews.co.za/woolworths-switches-iconic-black-shopping-bag-to-new-design-following-cat-matlalas-cash-revelations
Woolies’ bold redesign: Transforming its old black bag into a statement piece. Fast Company (SA), 3 Desember 2025
Pantone Chooses White as its Color of the Year for the First Time Ever. See It Here. TIME (2025)
https://time.com/7338176/pantone-color-of-the-year-2026
Pantone’s Color of the Year for 2026 branded ‘tone‑deaf’ and ‘boring’. The Independent (2025)
https://www.independent.co.uk/life-style/pantone-color-year-2026-white-controversy-b2878837
Pantone accused of racism after naming ‘pure white’ cloud dancer as 2026 colour of the year. India Times, 6 Desember 2025
Pantone’s colour of the year under attack – and rightly so. ArtsHub, 5 Desember 2025
https://www.artshub.com.au/news/news/pantones-colour-of-the-year-under-attack-and-rightly-so










