Etikette mag nie lieg nie
Hoe verkeerde produk-etikettering plaaslike melkboere benadeel.
My grootouers het 'n gemengde boerdery in die Oos-Kaap gehad. Van varke tot koeie – selfs aarbeie en 'n groentetuin. Vandag is dié area 'n melkboer-wêreld en het ek lanklaas 'n vark of aarbei op die plaas gesien. Ek drink my boeretroos swart en bitter, juis omdat ek van kleins af nie van die reuk van vars plaasmelk in die emmer en 2 liter koeldrankbottels gehou het nie. Nodeloos om te sê, was dit my oupa en ouma se bron van inkomste en het hulle baie warm dae deurgebring om vars plaasmelk by plaaslike winkels self af te lewer. Harde arbeid.
Checkers is onlangs deur 'n suiwel sommelier, Lize met 'n Z, aangespreek om die benaming van een van hul suiwelprodukte, Clover Super M, op hul Checkers 60/60-toep te verander. Waar Checkers dit as “aarbei gegeurde melk” gemerk het, moes dit eintlik 'n “dairy blend” wees. Volgens Lize is dairy blends soortgelyk aan dairy snacks wat gegeurde melkies namaak. Lize se rede daarvoor was dat hierdie soort produkte, dairy blends of dairy snacks, besig is om Suid-Afrikaanse melkboere se deure toe te maak – en sy is reg.
Waar etikette die waarde van melk bepaal
Net soos die kritieke aanduiding van die variëteite wat op wynetikette aangedui moet word, is dit ook noodsaaklik om die regte bewoording as 'n regulatoriese gereedskap met ekonomiese en etiese implikasies in die suiwelsektor te sien.
Die onderskeid tussen begrippe soos “melkproduk” en “dairy snack” is belangrik aangesien dit regstreeks verband hou met wetlike vereistes, verbruikersbeskerming en die volhoubaarheid van plaaslike melkproduksie. 'n Gebrek aan konsekwente of akkurate benoeming kan ernstige gevolge inhou vir beide vervaardigers en primêre produsente, en kan uiteindelik die integriteit van die Suid-Afrikaanse suiwelbedryf ondermyn.
Die Regulasies betreffende Melk en Suiwelprodukte (R1555 van 1997), gepubliseer deur die Departement van Gesondheid, omskryf “melk” en “melkprodukte” binne 'n streng raamwerk van samestelling en verwerking. Produkte wat hoofsaaklik uit melk bestaan en wat vasgestelde mikrobiologiese en biochemiese standaarde voldoen, mag hierdie benaming op 'n wettige wyse dra. Daarteenoor word “dairy snacks” of “dairy desserts” in die Wet op Landbouprodukstandaarde 119 van 1990 en verwante regulasies beskryf as produkte wat wel melkbestanddele bevat, maar waarin die hoofkomponent dikwels aangevul of vervang word deur bymiddels soos stysel, versoeters, geure, melkpoeier of stabiliseerders. Hierdie produkte word dus eerder as voedselverwerkte items gesien.
Etikette mag nie lieg nie
Die gebruik van die verkeerde terminologie op etikette het regstreekse implikasies vir verbruikersvertroue.
Wanneer 'n produk met beperkte melkinhoud as 'n “melkproduk” bemark word, word die verbruiker mislei oor die voedingswaarde en aard van die produk. Melkprodukte word geassosieer met goeie gesondheid, veral as gevolg van hul proteïen-, kalsium- en mikrovoedingstofinhoud, en die verkeerde gebruik van hierdie begrip kan verbruikers mislei en wanpersepsies oor voedingswaarde skep.
Vanuit 'n regulatoriese oogpunt dien korrekte etikettering as 'n beskermingsmeganisme teen markversteuring. Die Regulasies op die Klassifikasie, Verpakking en Etikettering van Suiwelprodukte en Suiwelnamaaksels vereis dat enige produk wat hoofsaaklik nie uit melk bestaan nie, as 'n “imitation dairy product” of “dairy snack” (in Afrikaans moontlik dan “suiwelnamaaksels”) aangedui moet word. Dit verseker dat vervaardigers wat aan hoë produksiestandaarde voldoen, teen oneerlike mededinging beskerm word.
Wanneer 'n vervaardiger 'n goedkoop geformuleerde produk as “melkproduk” etiketteer, verwerf hy 'n onregmatige markvoordeel en dra dit by tot prysvervalsing in die sektor.
Die versteekte prys van misleidende suiwelbenoeming
Die ekonomiese gevolge van verkeerde benoeming strek egter verder as net die vervaardiger se vlak. Melkboere is op 'n toenemende wyse kwesbaar vir hierdie tendens, aangesien die vraag aan rou melk afneem wanneer geformuleerde produkte in die mark as melkprodukte aangebied word.
Die Suid-Afrikaanse Melkprodusente-organisasie (SAMPRO) waarsku dat hierdie verskynsel die waarde van rou melk aan die produsentekant verminder en tot die afname in plaaslike produksievolumes kan bydra. As gevolg hiervan word boere ekonomies benadeel, omdat die verwerkte produk die identiteit van melk aanneem sonder om dieselfde sleutelbestandele in te hê.
Hierdie verwikkelinge hou 'n bedreiging vir die groter landbousektor in. Die Suid-Afrikaanse suiwelbedryf ondersteun duisende werksgeleenthede in plaaslike gebiede en dien as 'n stabiele inkomste vir kleinskaalse produsente. Wanneer verbruikers begin om suiwelnamaaksels as gelykstaande aan melkprodukte te beskou, word die plaaslike waardeketting ontwrig. Verbruikers raak gewoond aan laer pryse vir produkte wat nie werklik melk bevat nie, en dié prysverwagting oefen afwaartse druk op die hele bedryf uit, wat melkboere natuurlik insluit.
Volgens navorsing deur die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling skep hierdie verwarring 'n strukturele risiko vir plaaslike voedselsoewereiniteit. Namate vervaardigers meer afhanklik raak van goedkoop bestanddele en minder melk gebruik, verminder die plaaslike aanvraag na melk.
Die nakoming van presiese en wettige etiketteringstandaarde is dus noodsaaklik vir die stabiliteit van die hele suiwelwaardeketting. Dit beskerm verbruikers teen misleiding, bevorder eerlike mededinging, en verseker dat die ekonomiese voordeel van melkproduksie nie ten koste van primêre produsente verlore gaan nie. In hierdie konteks is taal nie bloot 'n bemarkingsinstrument nie, maar 'n vorm van ekonomiese regverdigheid en integriteit.
Die term “melkproduk” behoort uitsluitlik toegepas te word op produkte waarvan die samestelling en oorsprong volledig aan die voorgeskrewe standaarde voldoen. Waar hierdie vereiste nie nagekom word nie, is regulatoriese ingryping nie net geregverdig nie, maar noodsaaklik om die integriteit van die suiwelbedryf te handhaaf. Hierdie ingryping funksioneer nie as 'n strafmaatstaf nie, maar as 'n waarborg dat die bedryf se volhoubaarheid op eerlikheid, deursigtigheid en verbruikersvertroue gebaseer bly.
Hilde Kruger is 'n grafiese en multimedia-ontwerper, skrywer en bemarker met 'n sterk fokus op strategiese konseptualisering en handelsmerkontwikkeling. Vandag is sy die eienaar van 'n kreatiewe eenmansaak en werk met verskeie organisasies en instansies.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.
Bronnelys:
Republic of South Africa. (1997). Regulations Relating to Milk and Dairy Products (R1555). Department of Health.
Republic of South Africa. (2015). Classification, Packing and Marking of Dairy Products and Imitation Dairy Products Regulations (R260).
Republic of South Africa. (1990). Agricultural Product Standards Act 119 of 1990 – Standards for Dairy Desserts (R1510).
SAMPRO. (2023). Annual Report on the South African Dairy Industry. www.sampro.co.za
Department of Agriculture, Land Reform and Rural Development (DALRRD). (2023). Policy Comments on Dairy Product Labelling and Market Protection.









