Gedurende die 46 jaar van Apartheid het regstreekse staatsmoorde op swart betogers in die lae duisende beloop. In die vroeë weke van 2026 het Iran se regime egter enigiets tussen 7 000 en 30 000 van sy eie burgers binne enkele weke om die lewe gebring. Tog was Suid-Afrika in die 1980’s 'n veel belangriker saak vir die Verenigde Nasies as wat Iran vandag is.
Die drie lande waarin die Verenigde Nasies die meeste ingemeng het, was Rhodesië, apartheid Suid-Afrika en Israel. Hoe het dit gebeur dat hierdie “probleemkinders” van die Weste so volgehoue kritiek van die VN ontlok het, terwyl monsteragtige kommunistiese, Islamitiese en postkoloniale regimes dikwels vergelykbare ondersoek vir massamoord vrygespring het?
Die VN se beheptheid met Suid-Afrika het gestalte gekry in herhaalde jaarlikse resolusies van die Algemene Vergadering wat apartheid veroordeel het, oproepe tot boikotte, wapen embargo’s en selfs die stigting van 'n toegewyde Spesiale Komitee teen Apartheid. Hierdie optrede was veel meer aanhoudend en omvattend as die betreklik gedempte reaksies op byvoorbeeld die volksmoord deur die Khmer Rouge, Mao se Kulturele Revolusie, of meer onlangse gruweldade in Sirië en Irak. Een van die redes hiervoor is die anti-Westerse stemblokke van die Beweging van Onverbonde Lande en die Organisasie vir Islamitiese Samewerking, wat beduidende invloed in die Algemene Vergadering uitoefen.
Smuts se Vingerafdrukke
Dit is een van die groot ironieë van die geskiedenis dat een van die belangrikste kampvegters vir die Verenigde Nasies-organisasie, soos dit destyds bekend gestaan het, juis Suid-Afrika se eerste minister van daardie tyd was, synde Jan Smuts. Smuts het die aanhef van die Handves van die Verenigde Nasies geskryf, wat op 26 Junie 1945 in San Francisco deur 50 nasies aanvaar is.
Maar Smuts het homself weldra aan die verkeerde kant van die geskiedenis bevind wat Suid-Afrika se rassebeleid betref. Soos hy in 1947 in 'n brief aan sy vriendin Lady (Daphne) Moore geskryf het:
“Colour in the world and in South Africa has become more intransigent because of the acclaim of human rights at UNO. How is the practical compromise to be found? That is the problem which confronts us in South Africa and me in particular. The world is reeling between the two poles of White and Colour. What is the future of our races going to be? And in South Africa the problem is coming to a head.”
In dieselfde brief aan Lady Moore het Smuts sy eie tweeslagtigheid oor gelyke regte openhartig erken:
“On one side I am a human and a humanist, and the author to the preamble to the [United Nations] Charter. On the other I am a South African European, proud of our heritage and proud of the clean European society we have built up in South Africa, and which I am determined not to see lost in the black pool of Africa.”
Was dit regverdig dat die Europese beskawing wat deur rassistiese blankes in Afrika gevestig is, volgens die eise van die Verenigde Nasies in die “swart poel van Afrika” opgelos moes word? Smuts het nie so gedink nie. Hoewel hy slegs vyf jaar van die VN in werking beleef het, het hy nie van die rigting gehou waarin dit beweeg het nie. Volgens hom het die Volkebond (die voorloper van die VN) 'n beter taak verrig deur “vir tien jaar wêreldsake met ordentlikheid en billike respek” te bestuur voordat dit deur “die Hitler-blits” ontspoor is.
Besondere Toekomsvisie
Smuts het die VN se aansprake op “wêreldregering en wêreldhervorming” met agterdog bejeën en opgemerk dat dit “ 'n taak is waarvoor dit hopeloos ongeskik is”. Dit getuig van Smuts se toekomsvisie dat sy kritiek op die VN die kern van die probleem raak.
Wat bedoel was as 'n organisasie om te keer dat nasies mekaar beveg en binneval, het verander in een wat by uitstek gefikseer was op die sogenaamde onderdrukking van nie-blanke volke. Soos Smuts reeds in 1947 gekla het:
“We [Suid-Afrika] have a well-ordered, well-governed state, but the influence of UNO policies has been profoundly disturbing and upsetting. Countries who cannot govern themselves now sit in judgement on others who have done their job fairly well in spite of all sorts of difficulties… Democracy without leadership is a sham, and the UNO seems to me a democracy without leadership … a talking shop in which incompetents and misfits rule by counting heads.”
Arme Smuts sou hom in sy graf omdraai oor die jongste VN-klug. Die VN het getrou aan sy aard op die VSA-Israeliese aanvalle op Iran gereageer, met sekretaris-generaal António Guterres wat die aanvalle veroordeel het as 'n skending van die VN-Handves en 'n “ernstige bedreiging vir internasionale vrede en veiligheid” wat “katastrofiese” gevolge sou hê. Nee, dit is nie 'n katastrofe vir goed bestuurde lande met gelukkige bevolkings om selfmoordenaars-in-wording met kernwapens, wat openlik belowe om Jode op groot skaal uit te wis, uit te skakel nie.
Die werklike katastrofe het in 1945 in San Francisco begin, waar demokrasie — oorspronklik 'n edele meganisme om politieke gesag te legitimeer — subtiel teen die Weste self gekeer is. Soos golwe van postkoloniale state tot die Verenigde Nasies toegetree het, en soos Westerse bevolkings demografies relatief begin krimp het, het die wanbalans al hoe skerper geword. Goedbedoelende liberales in die Weste het geleidelik morele en institusionele leierskap afgestaan aan 'n opkomende meerderheid, aangevuur deur anti-Westerse wrewel en Derde-Wêreldse ideologie.
Só is wat bedoel was as 'n samekoms van soewereine nasies, omvorm tot 'n forum waar numeriese meerderhede hul prioriteite op 'n krimpende minderheid van ordentlike, goedbestuurde state kon afdwing.
Nog artikels deur Angus Douglas:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










