Die Weste se Vreemde Bedryfstelsel
Nie elke samelewing gebruik dieselfde sagteware nie.
Om die kultuuroorlog te verstaan, moet ons begryp wat die Weste so besonders gemaak het — en waarom dit nou in 'n ideologiese krisis verkeer.
Meer as enige ander beskawing het die Westerse beskawing 'n moraliteit wat op familie- en stamverwantskap berus, oorskry ten gunste van 'n universalistiese etiek. Peter Frost skryf in die tydskrif Aporia dat “die Christendom 'n situasiegebonde moraliteit, gegrond op verwantskap, vervang het met 'n universele moraliteit van regverdige optrede teenoor familie én vreemdelinge.”
Die dryfkrag agter hierdie verandering het hoofsaaklik uit kouer wêrelddele gekom: “Noordwes-Europa, waar menseverhoudings lank reeds gekenmerk word deur swak verwantskapsbande, kerngesinne, laat huwelike en 'n tydperk van alleenlewe gedurende volwassenheid.” Hieruit ontstaan wat Jonathan Schulz WEIRD-samelewings noem — western, educated, industrialized, rich and democratic, oftewel Westers, opgevoed, geïndustrialiseerd, ryk en demokraties. Sulke samelewings:
“[I]s geneig om meer individualisties, onafhanklik, analities ingesteld en onpersoonlik pro-sosiaal te wees — hulle vertrou byvoorbeeld vreemdelinge makliker — terwyl hulle minder konformisme, gehoorsaamheid, binnegroeplojaliteit en nepotisme openbaar.”²
Die genialiteit van die Weste spruit uit 'n bepaalde persoonlikheidstipe wat besonder geskik is om suksesvolle nasies te bou, maar wat nie altyd oor die menslike aanvoeling van die gewone gemeenskap beskik nie. Hierdie WEIRD-persoonlikheid is geneig om die universalistiese ideaal van die mensdom belangriker te ag as sy eie vlees en bloed. Stam- en klanwaardes is natuurlik presies die teenoorgestelde hiervan en — soos enige Suid-Afrikaner jou sal vertel — nie juis ideaal vir nasiebou nie.
Die Weste se genialiteit lê in die samestelling van hiperindividualisme aan die een kant en universalistiese ideale wat met objektiewe waarhede strook aan die ander. Geen ander samelewings het individuele genialiteit so suksesvol aangemoedig of vryheid en geleenthede so ruim aan die breë bevolking beskikbaar gestel nie.
Westerse godsdiens het 'n sentrale rol in hierdie prestasie gespeel. Die Christendom is 'n universalistiese geloof wat gegrond is op tydlose waarhede wat op die hele mensdom van toepassing is. Dit verhef ook die individuele gewete tot iets byna heiligs, asof dit goddelik geïnspireer is — 'n neiging wat deur die Protestantse Hervorming dramaties versterk is. Die samestelling van individuele vryheid en die soeke na objektiewe waarheid was 'n wenresep. Soos Francis Fukuyama daarop gewys het, was die Weste die baanbreker van die drietal waarop die moderne politieke orde berus: die oppergesag van die reg, verantwoordbare regering en staatsbou. Die verhaal van die groot beskawings van die Ooste lyk ietwat anders.
Godsdienstige tradisies soos Boeddhisme en Taoïsme is in sommige opsigte moontlik doeltreffender as die Christendom om universele waarhede bloot te lê en die individu van bygeloof en maatskaplike onderdrukking te bevry. Sekere vorme van Boeddhisme is meedoënloos onsentimenteel en bewysgedrewe, sonder die kinderagtige bonatuurlike aansprake waarop die Christendom steun.
Waarom was dit dan Europa, en nie China nie, wat die Industriële Revolusie ingelui het? Volgens Peter Frost was die magsbalans tussen godsdiens en staat 'n deurslaggewende faktor:
“Die Christendom het gemeentes, skole, hospitale, universiteite, kerklike howe en, in die breë, dit wat ons die oppergesag van die reg noem, geskep — instellings wat langs die staat en in 'n sekere mate selfs bo die staat bestaan het… godsdienstige instellings in Oos-Asië [was daarteenoor] swakker, minder onafhanklik en minder ontwikkeld. Staatsinstellings is gevolglik minder aan bande gelê en was slegs teenoor die staat self verantwoordbaar.”
Frost verwys na die Chinese onderdrukking van Boeddhisme in die negende eeu: kloosters is gesluit, tempelbates is gekonfiskeer en burokratiese beheer is afgedwing. Om Boeddhisme se anderwêreldse klem op selibaatsheid en meditasie teen te werk, het die staat Konfusianisme bevorder. Dié leer plaas die gesin en kinderlike eerbied aan die grondslag van die maatskaplike orde, terwyl dit die klan in 'n groter hiërargiese stelsel inskakel.
Vandag verkeer die Christelike universalisme en die parallelle instellings waarop die Westerse moderniteit gebou is, in 'n krisis. Liberale universaliste word gekonfronteer met die ongemaklike werklikheid dat sommige groepe makliker as ander by WEIRD-norme aanpas. Hulle reaksie was 'n woke-wending: hulle versterk hul toewyding aan die heiligverklaring van individuele waardigheid — veral die waardigheid van diegene wat sukkel om aan te pas — terwyl hulle hul verbintenis tot objektiewe waarheid afwater.
Woedende regsgesindes dreig intussen om die wêreldorde af te breek en versin hul eie samesweringsweergawes van “objektiewe waarheid”, tot groot ontsteltenis van die politieke sentrum. Nóg woke-oordaad nóg die aftakeling van geglobaliseerde stelsels bied 'n lewensvatbare uitweg. Huidige tegnologie en ekonomiese interafhanklikheid maak laasgenoemde in elk geval onmoontlik. Die parallelle “godsdienstige staat” — wat kultuur, die media, die reg en wêreldinstellings omvat — funksioneer eerder binne 'n misbank van giftige idees.
Mislukte aanpassing word aan gebreke in die Weste toegeskryf, in plaas daarvan om te erken dat 'n werklik universele stelsel nie alle groepe ewe maklik kan akkommodeer nie. Genetika en kultuur is ten nouste verweef: wetsgehoorsame, nasiebouende bevolkings in Europa of China is nie bloot opgevoed om hierdie eienskappe te vertoon nie; hulle is oor geslagte heen daarvoor geselekteer.
Die groot selfmisleiding van moderne liberalisme is dat kultuur en genetika van mekaar losgemaak kan word. Die metafoor van die mens as rekenaar moedig hierdie illusie aan: kultuur is die sagteware en die liggaam die hardeware. Liberale laat hulself gevolglik toe om kulturele kritiek te lewer wat tekortkominge onder nie-wit groepe uitwys — swart kinders ly byvoorbeeld onder 'n kultuur wat geleerdheid geringskat, of radikale Islamisme bevorder politieke geweld — maar enige gesprek oor die “hardeware” bly taboe. Genetiese navorsing toon egter dat kultuur die menslike evolusie ingrypend gevorm het deur eienskappe te selekteer wat die kultuur versterk en verder uitbrei. Indien mense met rekenaars vergelyk kan word, is ons eerder soos klassieke Apple Mac-rekenaars: die hardeware en sagteware is van die grond af naatloos met mekaar verweef. Ons behoort nie te verwag dat elke samelewing ons liberale “universalistiese” bedryfstelsel kan gebruik nie. Sê nou hul firmware is vir 'n heel ander argitektuur geoptimaliseer? Om ons stelsel daarop af te dwing, loop die gevaar om die politieke ekwivalent van 'n kernpaniek te veroorsaak — en dit is presies wat woke verteenwoordig.
'n Kopernikaanse omwenteling in ons denke oor menslike diversiteit is lank reeds nodig: objektiewe waarheid moet op alle terreine herstel word, eerder as om dit tot die harde wetenskappe te beperk terwyl die sosiale “wetenskappe” sekulêre dogma in 'n laboratoriumjas verkondig.
Nog artikels deur Angus Douglas:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










