Terwyl letterlik miljoene Suid-Afrikaners daagliks sukkel om werk te vind in 'n ekonomie wat reeds gebreek is, is daar 'n stille rewolusie aan die gang wat té min mense ernstig genoeg opneem. Kunsmatige intelligensie (KI) en outomatisering gaan nie net werk vervang nie, dit gaan die reëls van ekonomiese en kulturele oorlewing heeltemal herskryf, en ook 'n groot invloed op die politiek hê.
In 'n wêreld waar roetine-arbeid al hoe meer deur masjiene gedoen word, word 'n al toenemend groter premie geplaas op mense wat kan skep, innoveer, aanpas en saamwerk binne vertroude netwerke: die opbouersgroep. Vir die Afrikaner-minderheid, met ons hoë opvoedingsvlakke, ondernemingsgees en sterk kulturele samehorigheid, kan hierdie verskuiwing nie net 'n bedreiging wees nie, maar een van die grootste geleenthede vir werklike selfbeskikking sedert 1994.
Ons het al gesien hoe gedwonge gelykheid en sentrale beheer misluk. Ons het al geskryf oor selfopgelegde sensuur en die illusie van versoening. Nou kom 'n nuwe vraag: Wat as die toekoms nie aan die grootste getalle behoort nie, maar aan diegene wat slim genoeg is om hul eie digitale en ekonomiese ruimtes te bou? Wat as digitale “Oranias” geskep word in die kuberruimte waar ons almal in elk geval woon, om fisiese gemeenskappe en individue aan te vul met 'n netwerk van gespesialiseerde kundigheid, ervaring, innovasie-ingesteldhede, opbou-/skeppende gesindhede, databenutting en waardetoevoeging wat oor die land verspreid is — maar tog 'n gemeenskaplike onderbou het, naamlik selfgelding en selfbeskikking as Afrikaner-minderheid?
Hierdie artikel ondersoek hoe KI tradisionele arbeid vervang, watter nuwe deure dit oopmaak vir klein, hoogsvaardige gemeenskappe soos ons, en — die belangrikste — hoe ons prakties digitale “Oranias” kan bou om ons taal, identiteit, kultuur en vryheid te beskerm.
Deel 1: Die outomatiseringsgolf en sy impak op Suid-Afrika
Globale voorspellings wys dat KI en outomatisering miljoene werke kan verplaas, terwyl nuwe rolle gelyktydig gaan ontstaan. Dit het gedurende vorige rewolusionêre periodes gebeur: die landbourewolusie, die industriële rewolusie en die digitale rewolusie. In Suid-Afrika, met sy reeds hoë werkloosheidsvlakke, sal die impak besonder skerp wees op semi- en ongeskoolde arbeid in vervaardiging, administrasie en roetine-dienste.
Vir Afrikaners beteken dit 'n dubbele werklikheid. Baie van ons is reeds in professionele, tegniese en landbousektore waar vaardighede saak maak. Tog dryf SEB, kaderskap en staatsverval bekwame mense uit openbare en toenemend ook uit korporatiewe sektore. Breinverlies is 'n realiteit.
Tegelykertyd skep die demografiese verskuiwing — 'n groeiende lae-vaardigheidsmeerderheid teenoor 'n krimpende hoogsvaardige minderheid — presies die toestande waar skaars menslike kapitaal al hoe waardevoller word.
KI bevoordeel nie noodwendig die massas nie, maar wel konsentrasies en netwerke van talent, vertroue en vinnige aanpassingsvermoëns. Klein, samehangende gemeenskappe het hier 'n inherente voordeel: vinniger besluitneming, laer interne wrywing en die vermoë om vinnig oor te skakel na en aan te pas by nuwe geleenthede.
Deel 2: Nuwe geleenthede vir Afrikaners as hoogsvaardige minderheid
Die outomatiserings-era straf groot, trae, lae-vertroue samelewings, maar beloon klein, hoogsvaardige netwerke en konsentrasies. Afrikaners beskik oor presies die eienskappe wat nou saak maak: hoë geletterdheid, 'n tradisie van selfhelp (dink aan die Reddingsdaadbond van ouds), en 'n kultuur van verantwoordelikheid en innovasie.
Daar is ook spesifieke geleenthede wat vermelding verdien. Landboutegnologie en voedselsekerheid, waar baie Afrikaner-boere reeds voorloop met presisieboerdery, boerderymonitering met hommeltuie, KI-voorspellings vir oeste en vir waterbestuur. In 'n land met stygende voedselonsekerheid en waterskaarste word hierdie vaardighede van al groter strategiese waarde. Ons landbouorganisasies speel alreeds 'n dominante rol in ons landbousektor as geheel.
Opvoedkunde-tegnologie en taal-tegnologie, waar die ontwikkeling en uitbou van Afrikaanse KI-modelle van kritiese belang is. Hoe meer ons die data en KI-modelle ontwikkel en beheer ten opsigte van Afrikaanse inhoud soos taal, geskiedenis en kultuur — hoe beter beheer ons terselfdertyd die voortbestaan van ons taal in professionele kringe, besigheid, onderwys, en selfs in daaglikse gebruik. Op onderwysgebied het ons gelukkig die Suid-Afrikaanse Onderwys Unie en Solidariteit se Skoleondersteuningsinisiatief. Ook die ongelooflike Sol-Tech en Akademia-suksesse.
LitNet, die FAK, ATKV, Maroela Media en KykNet, om enkeles te noem, doen ook reeds lankal baie vir die handhawing van taal en kultuur en moet verder uitgebou en uitgebrei word. Inskakeling en koppeling van gemelde organisasies moet dan geskied met die digitale “Orania” of “Oranias” wat in die vooruitsig gestel word. Dit moet 'n groter, meer omvattende en gekoördineerde netwerk wees — wat alle professies en die besigheidsektor ook insluit — om ons taal, identiteit, kultuur en vryheid te beskerm.
Aanlyn-werk en globale nismarkte, waar hoogsvaardige Afrikaners — as digitale nomades — ook globale kliënte kan bedien, terwyl hulle terselfdertyd in hul eie gemeenskappe bly en terugploeg in hul eie gemeenskappe deur verwysings en aanbevelings tot voordeel van die netwerk.
Ons aansienlike kulturele kapitaal, met sterk familie-, godsdiens- en gemeenskapsbande alreeds in plek — as gevolg van ons gemeenskaplike taal en gedeelde kulturele waardes — verminder transaksiekoste. Dit is iets uiters waardevols wat groot, gefragmenteerde samelewings nie beskik nie.
In ons nuwe wêreld wen nie die grootste nie, maar diegene wat vinnig aanpas en saamwerk. Afrikaners se historiese veerkragtigheid plaas ons in 'n sterk posisie — mits ons dit doelbewus benut.
Deel 3: Tegnologie is nie neutraal nie
Groot platforms en KI-modelle word opgelei op globale, dikwels Engels-dominante en ideologies gekleurde data. Dit skep epistemiese benadeling: Afrikaner-geskiedenis, waardes en narratiewe word gemarginaliseer of as “problematies” getipeer.
Platforms soos Google en Meta het al herhaaldelik inhoud verwyder of rekeninge geskors wat krities is oor rassebeleid, selfbeskikking of demografiese realiteite. As ons heeltemal afhanklik bly van hierdie stelsels, word ons eie narratiewe en suksesverhale weggelaat of verdraai.
Deel 4: Praktiese strategieë vir die bou van digitale “Oranias”
Digitale “Oranias” sal parallelle digitale ruimtes wees waar ons beheer uitoefen oor data, inhoud, taal, onderwys en opleiding, kommunikasie, ekonomiese aktiwiteite en die professies. Vanuit die digitale ruimtes word menslike kapitaalgoedere dan geïnkorporeer in fisiese gemeenskappe, of individue, waar hulle hulself ook al in Suid-Afrika en/of in die buiteland bevind (“diaspora”).
Ten slotte
In die kunsmatige-intelligensie-era hoef ons nie meer die gevangene van politieke oorheersing te wees nie. Ook nie meerderheidsoorheersing nie. Waar ons Grondwet se Artikel 235 — wat selfbeskikking toelaat — dit onderhewig maak aan nasionale beleidsmaking en goedkeuring daarvoor (met ander woorde, meerderheidsgoedkeuring), is digitale selfbeskikking bykans onkeerbaar.
Die verval van die Suid-Afrikaanse staat maak innoverende denke, ten einde nie saam onder te gaan nie — en om te behou wat ons eie is en wat vir ons kosbaar is — ononderhandelbaar. Terwyl ander wag vir redding van bo, moet ons bou van onder af — met tegnologie as ons bondgenoot. Die uitdaging is groot vir veral ons jonger geslag en ons uiters bekwame professionele volksgenote — maar die geleentheid is groter as die uitdaging. Laat ons nie die slagoffers van die toekoms wees nie, maar die argitekte daarvan.
Die tyd is nou om innoverend en op uiters moderne maniere, wat toekomsgerig is, te bou.
Nog artikels deur Piet du Plessis:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.









