DinkWeer Donderdag: Gimme hope, Jo’anna en ander ingesoute stories
Terugblikke op ons 20 Junie 2025 uitgawe.
My afwesigheid by die laaste twee publikasies is te wyte aan my dringende jaarlikse behoefte om my selfoon heeltemal af te skakel, alle skerms toe te klap en saam met 'n klomp ou maats na die doringbosse en grasvelde tussen Steynsburg, Molteno en Hofmeyr in die noordelike Oos-Kaap te verkas vir 'n jagtog.
Die lengte van my afwesigheid is omdat hierdie dringende jaarlikse behoefte met die heel heel koudste week van die jaar saamgeval het, en ek gevolglik tans nog besig is om te ontvries.
Ek oordryf: ons het gelukkig net die stertjie van die koue intensief gevoel, en die laptops was nie só toe dat ons nie die Proteas se skokoorwinning oor die Aussies in die bos kon beleef nie. Wat wel minder van 'n oordrywing is, was die nuusflitse en whatsapps toe ek na 5 dae se isolasie in die natuur my foon oopmaak. In 2016, na afloop van dieselfde jagnaweek, verneem ons die Brexiteers het gewen; vanjaar sien ons hoe Iran en Israel mekaar takel. Die konsensus onder die jagters is om sommer net nooit weer terug te keer na die buitewêreld nie.
Die waarheid moet nooit 'n lekker storie inperk nie, lui die guitigheid in die volksmond. Oordrywing het omstrede nefies soos grootpraat, paniek, propaganda, retoriek. Maar oordrywing het sekerlik sy nut. Toe die mens nog in grotte gebly en gejag het vir oorlewing (eerder as weens die begrondende tradisie wat dit vandag is) vermoed ons dat taal en idees verder verwikkel het uit die ure se stories en gespog deur die sterkmanne, nonsenspraters en grootwildjagters in die geselskap. Ons sien byvoorbeeld die indrukwekkende en soms moeilik-verklaarbare oertonele in ons plaaslike rotstekeninge, of die asemrowende Lascaux-grotte in Frankryk. In die Afrikanerkonteks is ons bitterlik lief vir oordrywing en veral om humoristiese redes. In feitelik elke Afrikaanse huishouding sal jy verneem van daardie oom of antie wat die waarheid met 'n knippie sout neem wanneer stories en ervaringe gedeel word. Stories laat ons lag, laat ons dink, en die gebruik van hiperbool skep 'n soort gesonde antisipasie.
In Johannesburg (waaroor treffend en hartseer van bestek geneem word in Dr Eugene Brink se artikel van ons 20 Junie 2025 uitgawe) is oordrywing oor die mislike-paliteit elke dag se broeiende onderwerp.
Ja, dit gaan in die besonder sleg in Johannesburg, maar “sleg” moet 'n bietjie verder uitgepak word. “Sleg” gaan eerstens gepaard met hoër dog geregverdigde verwagtinge, iets wat die stad se regerende koalisies net nie aan kan voldoen nie, weens verskeie redes. Hoewel die hiperbool 'n merker is van die verwagtinge, is daardie verwagtinge weer geskoei op hoop vir ons stad, en die hoop is dalk onbeskaamd te vinde in mense soos Helen Zille met haar bewese rekord van suksesse op plaaslike regeringsvlak. En “sleg”, as jy hom nog verder uitpak, blyk in elkgeval 'n gekontekstualiseerde monstertjie te wees: die stad se inwoners maak al vir jare planne om byvoorbeeld veiligheid in buurte self te verbeter, en daar is geen tekort nie aan entrepreneurs om nie-dienslewering met ersatz’e aan te vul.
Boonop gaan dit blykbaar nie so sleg onder die uitgewekenes van die voormalige boheemse Melville en Brixton nie, wat hulself oplaas in die Parke en noordelike voorstede van Jozi gevestig het. Die Afrikaanse gemeenskap in Johannesburg, wat heel gevat deur Tim du Plessis beskryf is as 'n “aktiewe minderheid in 'n robuuste mengelmoes-stad” waarin almal eintlik maar inkommers is, floreer. Die skole doen uitstekend, mense kuier by mekaar aan huis en daar is 'n blywende gevoel van plattelandse gasvryheid en oorvloed, so tussen die ietwat oordrewe stories oor Totale En Onredbare Chaos En Verval heen.
Miskien kan Johannesburg, soos Mark Twain, ook hand opsteek en vir die Kaapse grootpraters laat hoor dat die gissings oor haar afsterwe geweldig oordrewe is…
Ander stories van 20 Junie 2025
Lees gerus Daniël se saak vir die privatisering van die SAUK. Hy gee toe dat daar risiko’s is wat maatskaplike uitsaai-inhoud betref indien ons die SAUK privatiseer, maar wys op oorsese suksesverhale oor om die gees van Thatcher of van Javier Milei deur die muwwe gange van ons beleërde openbare uitsaaier te jaag.
In aansluiting by hierdie polemiek het ons Paul se kritiek op die ou laai dat die Reserwebank genasionaliseer moet word, 'n paaiboelie onderwerp wat elke verkiesingsiklus en tussendeur kop uitsteek. Die vraag, reken ek, is oor Suid-Afrika se uniekheid wat die onafhanklike Reserwebank betref. Soveel ander “mark-vriendelike” lande het juis nie onafhanklike Reserwebanke nie. Gaan dit eerder oor die staat se wanbestuursrekord in SA dat ons 'n genasionaliseerde Reserwebank vrees, eerder as oor sosialistiese spokery? Is nasionalisering van die Reserwebank noodwendig sosialisties? Vrae duik op.
Maak ook seker dat die geskiedenisgogga jou byt met die uitgelese Professor Fransjohan Pretorius se gereelde geskiedenisbrokkies, wat stadig maar seker vir ons stapelvoedsel raak. Die Derdepoort-aanval waarvan hy ons vertel, gooi die verhaal van die Ingelse Oorlog sommer in 'n heel ander lig.
Bly warm en praat lekker nonsens om jou kampvuur, kaggel of konka!