Daar is sekerlik 'n saak uit te maak vir die beeld wat na buite uitgestraal word, vir die invloed van die skyn of voorkoms van ons optrede op die mense om ons.
Dit maak byvoorbeeld logies sin dat 'n predikant sy wyntjie eerder by 'n ander drankwinkel wil koop as by die een waar sy probleemlidmaat daagliks sy papsak koop. Ook kan ek dit nie regtig kritiseer wanneer iemand onder bepaalde maatskaplike omstandighede die beste voetjie voor wil sit nie - mens kry sekerlik net een kans op 'n eerste indruk. Nietemin begin ek hoe langer hoe meer te wonder oor ons alledaagse en genormaliseerde opvoerigheid, en of daar waarlik meriete in 'n opsetlik onegte uitstraling kan steek.
Die kaal keisers van aldag en heeldag
Ek is, soos meeste kinders van westerse kulture, redelik vroeg aan Andersen se sprokie van die kaal keiser, of Die Keiser se nuwe klere, bekendgestel.
As klein seuntjie was die hele verhaal fassinerend. Ek het nog nie presies geweet wat 'n keiser is nie, maar ek het mooi verstaan dat 'n mens soms moet voorgee dat iets is wat dit nie is nie, ten einde iemand belangriker as jouself tevrede te stel, of ten minste, om so iemand nie te affronteer nie. Soms is stilbly en kopknik en oe en ah gewoon makliker as om jou hand op te steek en te sê: “Ekskuus tog, meneer, ek glo u is naak.”
Onlangs, veral oor die afgelope dekade, kom ek hierdie sprokie al hoe meer teë. In my vorige DinkWeer Donderdag het ek juis op 'n meningstuk gereageer waar Daniël die sprokie by sy opskrif ingesluit het: Die Kaal Keisers van Kontemporêre Kuns. 'n Soektog na “Die keiser is kaal” op Google spoeg 'n lang lys Afrikaanse artikels en selfs 'n boek uit met een of ander weergawe van 'n kaal keiser in die opskrif. Waarom nou? Waarom is hierdie ou sprokie skielik voor op die volkstong? Dit mag wees dat my kop diep in ander volstruisgate was en ek deurlopende verwysings daarna eenvoudig misgelees het, maar ek vermoed dat die waarheid baie meer eenvoudig is: Ek dink dat hierdie eenvoudige sprokie die strewe en frustrasie van ons kollektiewe psige (as Rousseau en Hegel reg het en daar werklik so 'n ding is) tans beter uitdruk as enige iets anders in ons taalskat. Om die keiser kaal te noem is die maklikste manier om in woord en skrif die vinger na 'n verskynsel te wys en te skree: Bog! Snert! Issie!
Skynbaar het ons behoefte om daardie vinger uit te steek geweldig toegeneem, nie omdat ons almal skielik meer krities, veglustig of twissiek geraak het nie, maar omdat ons almal bietjie-vir-bietjie keelvol daarvoor geraak het om voor te gee dat waarheid en leuen eenders is. Omdat ons almal moeg geraak het vir toneelspel, vir kunsmatigheid, valsheid, en kortom - om Frederik se woord te leen - omdat ons geen tyd meer het vir opvoerigheid nie.
Die blinkgepoetste blikkie vol niks
As student het ek myself een jaar per ongeluk aangestel as sameroeper van ons koshuis se debatspan. Met groot opgewondenheid het die huiskomiteelid in beheer van eerstejaars laat in Oktober aan my deur geklop - 'n nasionale kampioen debatspreker is in ons koshuis geplaas. Wunderbar, dog ek, ek kan nie wag om te sien wat hierdie jong man alles in terme van talent en vaardigheid saam gaan bring nie.
Teen middel Februarie was dit sulke tyd: Debat-uitdunne. Kom ons sien watter viermanskap die wa vanjaar deur die debatdrif gaan trek. Toe die jong man, hy met sy lys van orasieprestasies so lank soos my arm, eindelik aan die beurt kom, was ek eerlikwaar 'n bietjie senuweeagtig - wat as hy so goed is dat my eie onvermoë duidelik word? Wat as hy my vervang? Hy neem sy plek in en skud sy vere reg, sekerlik gereed om ons te betower met sy skouspelagtige argumente ten gunste van die een of ander obskure onderwerp wat ek vyf minute voor die uitdunne uitgedink het, sekerlik gereed, so het ek gemeen, om Demostenes op sy plek te sit.
En toe gaan sy mond oop.
Soos 'n 13-jarige by 'n redenaarskompetisie hou hy sy kaartjies in sy linkerhand, sy arm reghoekig gebuig, voete presies skouerbreedte van mekaar af weg. Hy kyk na die linkerkant, die regterkant, bo-oor die beoordelaars, en dan weer die linkerkant, die regterkant, ensovoorts. Wat die onderwerp, of sy argumente ten gunste daarvan was, kan ek werklikwaar nie onthou nie, maar dat dit nonsens was wat deur enigiemand wat al 'n halwe boek gelees het uitmekaar geruk sou word, daaroor was ek seker. Nou wat nou? Hy is dan 'n nasionale kampioen? Hoe nou? Ekskuus? Ek kan hom sekerlik nie blameer nie, so ook nie die honderde of duisende soos hy nie wat daarvan oortuig is dat 'n kwinkslag en 'n aanhaling van Jan FE Cilliers van jou 'n redenaar of debateerder maak. Sulke denke, sulke toesprake, en sulke sprekers is wat deur die stelsel beloon word, so dit is wat die stelsel sal aanhou produseer.
Of jy regop staan en of jou hare netjies gekam is beteken te gedurig meer as enige ware insig of oorspronklikheid wat jou mond verlaat. Wanneer hoe jy iets sê meer waarde dra as wat jy sê, sal 'n kultuurgroep of volk aanhou om mense te produseer wat dink dat opvoerigheid inhoudelik betekenisvol is.
Dit is nie. So 'n stelsel sal akteurs en grapmakers produseer, maar sal aan politici en ware openbare redevoerders telkens kortkom.
Werklikheid as wesenlikheid
'n Jaar of wat voor die bogenoemde episode was ek by 'n internasionale Engelse debatkompetisie. Waar Afrikaanse debat, selfs op universiteitsvlak, van navorsing en die integrasie van bronne met jou argumente afhanklik is (wat natuurlik sy plek het), gee niemand by Engelse universiteitedebat 'n dooie duit om of jy bronne aanhaal nie. Logika, en jou argument se vermoë om die aanslae daarop te oorleef, is werklik al wat tel. Dit gebeur toe op 'n keer met my dat een van my opponente by hierdie kompetisie opstaan en vir 'n volle agt minute lank na die vloer staar terwyl hy my en my spanmaat se ganse argument en al ons logika aan vlarde skeur. Hy het Jan Cilliers nie een keer aangehaal nie. Hy het geen oogkontak gemaak nie. Daar was geen kwinkslag of selfs 'n poging daartoe nie. Van opvoerigheid was daar nie sprake nie.
Ek is nie van mening dat hierdie laasgenoemde spreker noodwendig 'n vreeslik goeie lid van die kabinet of parlement sou uitmaak nie, maar ek dink dat hy meer vir die burger, die kieser en die land sou beteken as een of ander blinkgepoetste Jannie wat geheel en al onbewus van sy onvermoë in terme van ware redevoering is. As ek vir 'n laaste oomblik op my seepkissie mag staan: So wonderlik as wat die Afrikaanse stelsels en organisasies is wat sprekers van kleins af oplei en voorberei, soveel is my ervaring nie dat iemand wat aan die ander kant uitkom noodwendig die politieke bewussyn het wat verwag word nie, en diagnosties is ek daarvan oortuig dat 'n oorbeklemtoning van opvoerigheid, van skynkorrektheid en van permanente toneelspel daaragter steek.
So waarom maak dit saak?
Toneelspel en dan veral toneelspel in stede van werklikheidsbeoefening is geïnstitusionaliseerde valsheid. Om voor te gee dat jy 'n sekere tipe mens met sekere tipe gewoontes is omdat dit by jou profiel, of die profiel wat jy probeer skep, pas, is oneerlik.
Ten spyte hiervan het ons vir jare lank in die openbaar so met mekaar omgegaan - in sekere kringe doen ons steeds. Vroeër het die skaarsheid van inligting daartoe gelei dat húlle in gesagsposisies se menings blindelings nagevolg is. Teenstrydige menings, ook politieke of ideologiese menings wat met die fyn gekureerde hoofstroom gebots het, kon eenvoudig as boos, gevaarlik, of kommunisties uitgewys word - geen verdere ontleding nodig nie, uitdaging afgeweer. Vir kinders en volwassenes kon sekere idees en inligting eenvoudig as gevaarlik uitgewys word, opponerende menings of feite kon eenvoudig onderdruk word. So die skyn, die voorstelling, die toneel, kon as waarheid voorgehou word.
Geen van hierdie omstandighede bestaan meer nie. 'n Feitefout kan blitsvinnig uitgewys word, 'n ideologiese opponent kan sy inhoud eenvoudig elders publiseer, en gevaarlike idees gaan nie meer weg sodra een of ander raad van ooms besluit dat dit moet verdamp nie. Daarom, en vir die derde keer in OntLaer se kort bestaan, stel ek onomwonde: Slegte idees moet met en deur beter idees oorwin word. Halwe waarhede moet deur middel van volle waarhede verslaan word. Ongemaklike waarhede moet verstaan, bespreek en verwerk word. Dit is al manier. Die ouer of grootouer wat meen dat die nuuskurige kind of kleinkind eensklaps van sy of haar mening oortuig sal word en dat geen haan daar na sal kraai nie, is eenvoudig naïef of onkundig.
Wat Hans Christian Andersen reeds in 1837 besef het, is vir ons hoe langer hoe meer 'n realiteit: Die keiser is kaal, en die vingers wat sy openbare skande uitwys en die monde wat hom al hoe harder uitlag kan nie meer stilgemaak word nie. Skyn en voorgee is dood, en die enigste pad vorentoe is om uiteindelik vir die oompie 'n kledingstukkie aan te trek.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.
Dankie aan OntLaer wat 'n alternatiewe tuiste vir alternatiewe denke skep.
Briljant geskryf!