DinkWeer Donderdag: Die praatkultuur van ons politiek
Oor koeitjies en kalfies praat terwyl die paaie verbrokkel.
OntLaer bestaan omdat gesprek belangrik is.
Hierdie blad is gebou op die idee dat mense die reg en ruimte moet hê om uiteenlopende opinies uit te spreek, sonder dat iemand die debat in 'n hoek vaspen of die gesprek afsluit met 'n morele “skaakmat”. Dit is waarom ons skryf, lees en soms stry en waarom ons almal wat hier lees aanmoedig om self ook te skryf en te stry.
Maar ons moet ook erken: OntLaer is nie waar die tekkie die politieke teer tref nie. Ons gesels hier oor idees, oor beginsels en oor hoe dinge behoort te werk. Maar politiek is egter meer as praat. Politiek moet uiteindelik leef deur die paaie se teer, in die toestand van sanitasie, die hospitale en die skoolbanke.
En tog is ons politiek praatsiek. Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking se onlangse persverklaring oor Soedan is 'n opvallende voorbeeld hiervan. Weereens word daar 'n beroep gedoen op dialoog. 'n “Sudanese-owned and Sudanese-led inclusive dialogue,” soos dit so netjies geformuleer is. Niemand kan stry dat gesprek nodig is nie. Maar op 'n punt moet die gesprek met optrede opgevolg word.
Daar was reeds dekades van gesprekke in, om en oor Soedan. Vredesgesprekke in Addis Abeba. Onderhandelings in Khartoem. Streeksbemiddelingsprosesse wat net nog memorandums en nog ondertekenings oplewer. Tog brand Darfoer steeds, en word El Fasher na vyfhonderd dae steeds beleër.
Dialoog alleen is nie genoeg nie.
Opvoerigheid as politiek
Daar is die afgelope paar maande op OntLaer gereeld oor opvoerigheid in die Suid-Afrikaanse politiek geskryf. Nie net in die formele party-politiek nie, maar ook in die breër publieke sfeer. Selfs die organisasies wat byvoorbeeld die Nasionale Dialoog tereg as 'n politieke toneelspel uitlig, is ook besig met hul eie soort opvoering vir hul ondersteuningsbasis. Groepe is geneig om hul eie rituele van simboliek en vertoning te hê. Dit is eintlik maar menslik.
Dat Suid-Afrikaanse politici en leiers aan die klank van hul eie stem verslaaf is, en dit sluit die aan bewind en hul opposisie bekvegters in, behoort dus nie te verras nie. Formele en informele politiek is immers mededinging vir die publiek se aandag deur botsende opvoerings.
Elke krisis word beantwoord met 'n indaba, 'n kommissie of 'n dialoog van regeringskant, of met betogings, ondersoeke of litigasie uit die geledere van die opposisie en burgerregtegroepe. Dit klink mooi, kos die belastingbetaler en ondersteuners lekker duur, maar lei nie altyd tot iets nie. President Ramaphosa het by die opening van die reeds mislukte Nasionale Dialoog so paar weke gelede met oënskynlike erns gevra: “Waarom leef soveel mense in uiterste armoede terwyl so min in weelde leef?” 'n President wat vra waarom armoede en ongelykheid nog so wydverspreid is, asof hy self net 'n belangstellende toeskouer is. Opvoerigheid wat net sowel by die Silwerskermfees vertoon kon word. Hierdie siekte van opgedirkte praatjies in die plek van opbouende aksie, lê diep in ons politieke kultuur. Dit is 'n manier om tyd te koop, verantwoordelikheid te verskuif, en die spieëlbeeld van beweging te skep sonder dat iets verander.
Op regeringsvlak noem ek dit beleidsromantiek. Die oortuiging dat as 'n beleid mooi klink, dit iewers op 'n dag die werklikheid sal word. Die regering kan strategiese planne, witskrifte en raamwerk in stapels voortbring sonder dat enige normale Suid-Afrikaner daaruit voordeel trek. Die ironie is dat hoe groter die krisis raak, hoe groter raak die woordeskat van die regering. Hoe swakker die dienslewering, hoe dikker die dokumente. Beleidsromantiek hou nie net die illusie van oplossings in stand nie, dit verander die hele politiek in 'n praatkuns. Jy word beloon nie vir wat jy regtig doen nie, maar vir hoe vlot jy kan praat oor wat jy eendag beplan om te doen.
Dit is wat Paul Maritz twee weke gelede raakgevat het oor die land se alledaagse opvoerigheid. Politiek in Suid-Afrika is grootliks 'n verhoogstuk. Daar is geen regte inhoud agter die woorde nie, net 'n parade van mooi geformuleerde stellings. Ramaphosa se perfek bewoorde staatsrede, of die ministers wat met oorgawe vertel oor hul nuutste plan om dinge reg te ruk terwyl die basiese goed nie gedoen word nie. Dit is alles voorbeelde van dieselfde siekte.
Praat het sy plek, natuurlik. Gesprek is 'n wesenlike deel van 'n beskaafde samelewing. Maar Suid-Afrika smag na iets meer. Suid-Afrika smag na mense wat regtig doen.
Die opkoms van die doeners
Ek spot graag met futuriste en scenario-beplanners. Hulle skets tien moontlike uitkomste, en as een daarvan waar word, kan hulle later met 'n selfvoldane glimlag sê dat hulle reg was. So hier is my eie politieke voorspelling.
Die volgende dekades gaan aan die doeners behoort. Politici en leiers wat kan wys dat hulle nie net kan praat nie, maar ook kan bou, bestuur en herstel. Partye en organisasies wat plaaslik kan toon dat hulle paaie regmaak, waterpype herstel, skole laat funksioneer, en veiligheid herstel, daardie partye gaan beloon word. Die punt is mense eet nie ideologie nie. Die meeste mense leef nie in ideologiese terme nie. Hulle leef in huise wat kragtoevoer moet hê. Hulle ry op paaie wat slaggate het. Hulle stuur hul kinders skool toe en hoop daar is 'n onderwyser wat regtig klasgee. Vir hulle is politiek nie 'n filosofiese twis nie, maar 'n vraag van daaglikse oorlewing. En dit geld nie net vir die armste gemeenskappe nie. Dit geld net so vir die middelklas wat soggens sonder water wakker word, wat hul motor se bande deur slaggate ry, wat opnuut belasting betaal terwyl hulle nog vir privaat sekuriteit en mediese fonds moet opdok.
Sommige ontleders wys graag daarop dat as jy die ANC, EFF, MK en 'n paar kleiner ideologiese bondgenote se steun bymekaar tel, dan het die transformasie-ideologie eintlik nie steun verloor nie. Maar dit is 'n kortsigtige lees van die politieke landskap. Die ideologiese nefies van die ANC het grootliks, maar nie as geheel nie die ANC se stemme opgetel, maar dit is ook partye wat dieselfde siekte van praat en parade aanhang. Hulle bied nie iets tasbaar anders nie maar net meer retoriek. En hoe langer mense se lewens agteruitgaan terwyl die volume van die praat net meer en harder word, hoe meer gaan kiesers hul rug draai op hierdie hele geslag van politieke redenaars.
Trouens, die publieke premie op aksie eerder as praat is waarskynlik die duidelikste by burgerregte groepe. 'n Organisasie soos AfriForum met meer as 300 000 lede wys dat mense aangetrokke is tot doeners. AfriForum en sy honderde takke vul slaggate, herstel waterpompe, bied noodhulp en vat sake hof toe wanneer die staat nie optree nie. AfriForum groei nie omdat hulle nog 'n beleidsdokumente publiseer nie, maar omdat hulle op plaaslike vlak sigbaar en tasbaar 'n verskil maak en dit ten spyte van hoe uiteenlopend mense oor AfriForum se politiek voel.
Dit is hoekom die ou debat tussen links en regs, tussen transformasie en teen-transformasie, al hoe minder saak gaan maak. Die partye wat verkiesings gaan wen, gaan die partye wees wat kan wys dat hulle op die grondvlak 'n verskil maak. Die res sal wegraak in die geskiedenisboeke, of in meningsrubrieke soos hierdie.
'n Omgekeerde behoeftepiramide
Ons leef in 'n tyd waar ideologie al hoe minder die oorheersende taal van politiek is. Dit word vervang deur 'n praktiese taal van dienslewering, veiligheid, en tasbare verbetering. Die mense wat nie meer tyd het vir praatjies nie, gaan hul lojaliteit skuif na diegene wat werklik vooruitgang gaan kan wys.
Daar is natuurlik 'n gevaar om alles tot net pragmatisme te verlaag. 'n Samelewing sonder idees is leeg en het sy eie inherente gevare. Maar Suid-Afrika het te lank vasgesit in die illusie dat idees eerste kom en dade daarna. As jy na Maslow kyk, sien jy dat mense se basiese behoeftes soos kos, skuiling, veiligheid altyd eerste kom. Eers wanneer daardie laagste vlakke van die behoeftespiramide seker is, het mense die ruimte om oor groter idees, waardes en selfs identiteit te besin. Politiek werk nie anders nie. 'n Regering wat nie slaggate vul of misdaad hokslaan nie, maar wel groot visies vir transformasie of utopieë aanbied, draai die behoeftepiramide op sy kop. Dit is presies hoekom die ideologiese praatjies al hoe minder saak maak en die behoefte aan tasbare dade al hoe dringender word.
OntLaer sal aanhou om 'n ruimte vir gesprek te wees. Maar ons is deeglik bewus dat praat is nie genoeg nie. Die ANC en sy ideologiese nefies se liefde vir praat sonder doen is besig om die land te faal. As ons nie begin soek na doeners nie – mense wat minder tyd het vir konferensies en oorpakke aantrek vir meer as net simboliek – gaan ons net nog dertig jaar van opvoering beleef.
En dan sal die vrae oor armoede en ongelykheid steeds met 'n reguit gesig gevra word, asof niemand weet wie die skuld dra nie.
Nog artikels deur Daniël Eloff:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.
Groepe soos Afriforum, Solidariteit, Outa is self maar besig met hul eie politieke opvoering. Die vraag gaan minder oor of hulle dus besig is met opvoerigheid maar eerder is dit wat hulle opvoer in kontras met die ANC of EFF goed of sleg vir die land.