DinkWeer Donderdag | Oor die absurde doodtrap van blomme
Where have all the flowers gone?
In die Kyknet-verwerking van die roman Die dinge van 'n kind deur Marita van der Vyver, voer 'n verliefde Mart Vermaak (gespeel deur Melissa Myburgh) 'n gesprek met die dienspligtige Pierre Malan (Ben Albertyn) oor sy komende grensdiens. Die siniese, gekwelde en filosofiese Pierre se oë trek verlangs: “Op agtien is jy die beste kandidaat om soldaat te wees… oud genoeg om dood te maak, maar te jonk om die dood te vrees”. Of so iets.
Daar is natuurlik iets fundamenteel absurd daaraan dat samelewings bereid is dat die jeug - die toekoms - hulself opoffer vir 'n beter hede, of erger, 'n beter verlede. Die opoffering raak selfs meer absurd indien die opoffering dan doodgaan behels.
In die ure en dae na die sluipmoord op Bouwer van Niekerk het die oorhoofse steekpyne van die absurde nie makliker geword nie. Daar is natuurlik die erg reële en instinktiewe maagskoppe van die eerste minute, wat koud vassteek in die noodroepe van diegene wat die skote hoor. Die neergooi van lêers en pleitstukke; my hulpelose bevele dat die afdeling se deure gesluit word. Die verwarring en verkeerde identifikasie van die afgemaaide slagoffer; kantoorbostelegramme. Die koue vrees oor waar die koeëls nog kan invlieg en wie nog geteiken gaan word.
Maar dan is die dood weer die horisonkant van die lewe, en dit gebeur meestal met min drama en met uitermatige sluipery, en vertoon meer as 'n verlate verhoog-opstelling as 'n film in aksie. Die absurde kruip in die verhooggordyne weg en loer na die volgende bedryf wat gewoon moet aangaan.
Met die bevestigde doodstyding, met almal wat die aand verslae by naastes sit, sommige van ons met biere en die finaliteit van nuut-opgediepte en soms onbekookte herinneringe (die Iere het 'n punt met hulle wake), met die persberigte wat rondvlieg en mense wat uit heinde en verre bel met vrae waarop daar nie antwoorde is nie, kom die gevoelens van woede. Vir my, ten minste, was dit die kwelling wat opruis uit die ingeskopte maagwand, die eggo van adrenalien en naskokke. Iemand het vandag opgestaan en besluit hulle gaan vir Bouwer kom vermoor, praat 'n stem aan ons gedeelde tafel met niemand in die besonder nie. Boosaards. Inkabi. Georganiseerde misdadigers. Hitmen, skurke, gemors, dose. Suiwer woede, oor die sterflikheid wat vervat word in die poging om plig en verantwoordelikheid aan die dag te lê.
Later whatsapp ek aan iemand wat my hart riem met 'n empatieke navraag, wat is die punt van wat ons doen? Om die regte donnerse ding te probeer doen, elke dag vroeg op te staan met nuwe planne om 'n klein bietjie reg en geregtigheid te laat geskied, en doef! jy loop jouself argeloos in 'n sarsie loodpille vas?
Die aand braai ek vir twee Switsers en lag te hard en moedeloos oor die feit dat die duiwels van doodslag, moord en beskikking-buite-die-reëls alweer in ons gesigte kom wen het. My een gas staar my aan met die bekommernis en sorg van haar streeks- en taalgenoot Sigmud Freud. Lekker fucked up, trek Fokofpolisiekar se gelyknamige 2017-song uit 'n Bluetooth-stelseltjie.
By 'n traumaberading in groepverband sit ons aan, daar is die ritueel om te luister en te praat; ek kan niks sê of uitkry nie. Kollegas teken en kleur in op papiere, skryf anonieme briefies. Die rite van afsterf en aanbeweeg. Is dit wat doodgaan, selfs weens moord, dan nou is? Die afsitknal van nog 'n wedloop vir almal wat agterbly? Om deur die lint te breek, koue water te drink en dan lag-lag snoepie toe te verkas? Wat anders moet ons doen, anders wen die booswigte. Of so iets.
Ons vat die ruimte terug. Mense lê kersies waar 'n welbekende soldaat geval het. Niemand is OK nie, maar die ritueel, besef ek, skep tog iets waardevols. Dis net nie rasionaliseerbaar nie, dis iets atavisties, vanuit die dae van grotte en gode en sketse in oker. Die kersies brand in simfonie en ek staar na die plek waarna ek die vorige dag gestaar het, toe daar blomme was, hope daarvan. Ek staar soos ek die oggend van Vrydag, 5 September ook in 'n onbewaakte oomblik gestaar het na waar nog 'n doodgetrapte jong blom gelê het, soos iemand wat die grond van die onderneming wat hy help bou en die land wat hy liefhet, innig en vir ewig soen. Ek dink nie ek sal ooit kan ophou staar nie.
Dis hierdie soort atavisme en maagrukkings wat die absurde opwakker, maar ook die geleentheid gun om deur rite of ritueel of wat ookal, die rots weer teen die berg op te stoot. Al lê die moorddossiere vyf voet hoog en al sit die NVG vol saboteurs en kapers. Ek lees maar gedigte en deel dit met kollegas.
We are the Dead. Short days ago
We lived, felt dawn, saw sunset glow
Loved and were loved, and now we lie,
In Flanders fields.
Take up our quarrel with the foe:
To you from failing hands we throw
The torch; be yours to hold it high.
Oor whiskey luister ek musiek, na wat voel soos 'n doellose gery deur die stiltes van Linden. Simon & Garfunkel se Wednesday Morning, 3 AM is beslis 'n onderskatte deug:
“They shot [our] brother dead / because he hated what was wrong.”
Ja swaer, inderdaad.
Dit voel soos die klein uurtjies van Woensdag toe ek 'n ongevraagde video ontvang. 'n Jong man met 'n wit hemp sit met 'n mikrofoon en 'n bot gesig, dit lyk warm op die video en die gazebo is skynbaar nie net vir bemarkingsredes daar nie en dan stroom bloed uit sy nek. Die dood het 'n massa-verspreibare lokaas geword. Wie de fok is Charlie Kirk, is my eerste wollerige gemompel terwyl ek die bloed van my retinas probeer afdroog. In die dae daarop, blykbaar net nog 'n blom, afgepluk en vertrap terwyl almal debatteer of hy uit motiewe van varkmis of uit suiwer grond gekultiveer is, asof dit enigiets verander.
Is Iryna Zarutska, gruwelik die lewe uitgeruk op 'n trein, of enige van ons daaglikse slaglammers in Suid-Afrika se motiewe ter sake? Dink 'n oomblik aan die dood van 'n jongmens (om vir Professor Anton van Niekerk, Bouwer se vader, by die herdenkingsdiens te parafraseer) en hoe dit die uitruk van moontlikhede uit die grond van die toekoms behels.
Hoe iemand wat nog soveel kon nastreef en uitrig, nou weg en vermors is.
Hoe tydlyne vir ewig skeefgedraai en verskuif is.
Hoe daar net gedagtes oorbly, vir ons waardevol maar 'n skaarse spook van diegene wat weg is, vir my mooi gesuggereer in GSTRiNG se nuwe lied “Gedagte” op die Pretoria-album:
Hoe ons van leermeesters en dapper voorlopers soos kollega Bouwer beroof is, of van mense wat hoop verpersoonlik en moedig 'n tweede kans gaan soek het, soos Iryna, of diegene soos Charlie, wat bereid was om in strawwe debat te tree, al was dit soms geveins vir die skerm en dikwels omstrede.
Wat meer kan 'n mens nou regtig sê.
Where have all the flowers gone?
Long time passing
…
Where have all the soldiers gone?
Gone to graveyards every one
When will they ever learn?
When will they ever learn?
Lees gerus weer die artikels van ons Voldag Vrydag-uitgawe van 12 September 2025:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.













OntLaer se 200ste artikel en sjoe Frederik, wat 'n skryfstuk.
Tja dis om van bedroef te raak. Ons moet daaraan werk om haatlikheid, wanbegrip en vooroordeel te tem en ons bestaan sagter en verdraagliker maak.