DinkWeer Donderdag: Wat is links? Wat is regs? En maak dit regtig saak?
Gedagtes oor die afgelope week se artikels op OntLaer en elders.
Na ‘n groot week hier by OntLaer staan ons vinnig stil vir hierdie week se DinkWeer Donderdag artikel.
Op OntLaer
Hierdie week se OntLaer artikel wat my laat stilstaan het, is Frederik van Dyk se eenvoudige maar tog oortuigende argument oor die onsamehangendheid van ons huidige politieke begrippe, spesifiek links en regs. Frederik wys daarop dat ons dikwels hierdie etikette gebruik sonder dat ons self nog weet wat ons daarmee bedoel. Soos hy aantoon, het die oorsprong van links en regs weinig te doen met vandag se verwarde gebruik daarvan. Dit was oorspronklik eenvoudig ‘n sitplek-konvensie na die Franse Revolusie, nie ‘n metafisiese waarheid nie.
Vandag is hierdie etikette eerder ‘n skets van vervaagde begripsgrense, wat aan die een kant gebruik word as retoriese wapens, aan die ander kant as gemaklike maar onakkurate merkers van politieke identiteit. En so bevind ons onsself dikwels in debat, maar praat eintlik langs mekaar verby.
Frederik se artikel het my herinner aan Nicholas Taleb wat skryf dat die huidige spanningslyne in wêreldpolitiek al minder draai om klassieke teenpole soos links en regs, vryheid en outoritarisme, tradisie en vernuwing. Volgens Taleb het die groot botsing van ons tyd verskuif na 'n stryd tussen burokratiese en nie-burokratiese sisteme. Ek sal wel van Taleb effens verskil. Dis nie dat die ou teenpole verdwyn het nie maar eerder dat die klem en belangrikheid van die verskillende teenpole afhangende van tyd en plek fluktueer. Dis nie of-of nie maar ‘n dinamiese ook-en.
Elders Geluister
Elders het ek hierdie week geluister na James Lindsay se New Discourses podsending, Totalitarian Stakeholderism, Left and Right. Lindsay verduidelik dat beide die sogenaamde "woke linkses" en die "woke regses" (die groep regse mense met ‘n soortgelyke slagoffer mentaliteit as woke linkses) vandag dieselfde model van “stakeholder-capitalism” najaag, gepropageer deur instansies soos die Wêreld Ekonomiese Forum. Hy trek ‘n lyn vanaf Nazi-Duitsland se 1937 “stakeholder” ekonomie tot vandag se omgewings- en maatskaplikeburokrasieë. Volgens Lindsay is die nuwe globale sisteem nie suiwer kommunisme, fassisme, of tegnokrasie nie, dit is eerder ‘n samesmelting van ou outoritêre patrone onder die vaandel van belanghebbende-beheer.
Wat lees ek tans?
Laastens, tydens 'n kuier by my vrou se peetouers hierdie naweek, het ek Salomon Joubert se drie boek reeks oor die geskiedenis van die Krugerwildtuin op hulle boekrak gesien. Wat my weer laat dink het aan Paul Kruger, 'n Suid-Afrikaanse figuur wie se ideologiese kompleksiteit dikwels oorgesien word.
Kruger, my agter-agteroupagrootjie, word dikwels beskou as 'n simbool van konserwatisme. Tog skryf Kees van Hoek reeds in 1939 dat hy vir Kruger as 'n liberale of progressiewe man ervaar het polities en godsdienstig (en dit nogal van een van my eie Doppers).
Wanneer ons vandag na geskiedkundige figure soos Paul Kruger kyk, is die versoeking groot om hulle in hedendaagse ideologiese kategorieë te probeer plaas: konserwatief of progressief, nasionalisties of globalisties, vryheidsdenker of staatsgesentreerd. Maar Kruger, soos baie van sy tydgenote, pas eenvoudig nie netjies in die moderne politieke spektrum van links en regs nie.
'n Noukeuriger bestudering van Kruger se beleid en optrede toon dat sy denke baie meer ingewikkeld was. Hy het byvoorbeeld beleid gesteun wat vandag maklik as sosialisties of staatsgesentreerd geklassifiseer sou word. Onder sy leiding het die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) beduidende beheer oor mynbouaktiwiteite probeer uitoefen en het 'n aktiewe rol gespeel in die regulering van ekonomiese aktiwiteite, iets wat moeilik as suiwer "vryemark-konserwatisme" beskryf kan word.
Verder, Kruger was 'n vurige Afrikanernasionalis maar sy verhoudings met ander volke is verrassend genuanseerd en positief gewees. Hy het goeie bande gesmee met leiers soos Kgosi Mokgatle van die Bafokeng, en het hulle ondersteun in hul pogings om grondregte deur formele titelaktes te beskerm, 'n ongekende stap vir daardie tyd. Hierdie pragmatisme, en respek vir ander gemeenskappe se selfbeskikking, staan in kontras met die simplistiese stereotipe van die "enge nasionalis."
Maar Kruger was ook nie sonder sy skandes nie. Sy noue verhouding met sakeleiers soos Alois Hugo Nellmapius het vrae laat ontstaan oor patronaatskap en korrupsie. Nellmapius, ’n invloedryke nyweraar en entrepreneur, het eksklusiewe konsessies van die ZAR-regering ontvang en Kruger het vir Nellmapius ‘n volle presidensiele kwytskelding gegee nadat Nellmapius skuldig bevind is aan verduistering. Kruger het ook in 1898 vir Hoofregter John Gilbert Kotzé afgedank na 'n geskil oor die oppergesag van die reg en die wetlike grense van uitvoerende gesag.
Hierdie teenstrydighede tussen vryheid en beheer, tussen beginselvastheid en magspolitiek toon dat ons almal gelaagde figure is. Almal is ook net mens.
Kruger se nalatenskap toon vir ons hoe gevaarlik dit is om mense te probeer vaspen in eenvormige ideologiese etikette. Sy lewe was 'n mengsel van konserwatisme en pragmatisme, nasionalisme en globalistiese bande, kapitalisme en staatsintervensie, dikwels in kombinasies wat vir moderne politieke analise eenvoudig ongemaklik is.
Indien dit 130 jaar gelede al moeilik was om iemand soos Kruger in 'n netjiese politieke raamwerk te plaas, hoeveel meer geld dit nie vandag nie, in 'n wêreld waar ideologiese en filosofiese paradigmas nog verder gefluktueer en gefragmenteer het?
Kruger se voorbeeld herinner ons daaraan dat mense, en die geskiedenis wat hulle vorm, altyd meer kompleks is as wat eenvoudige links-regs etikettering kan veronderstel.
Nog artikels deur Daniël Eloff: