
31% van die bevolking het 'n dobbelprobleem. In 'n onlangse onderhoud wou die omroeper dit nie glo nie. Dit moet seker die bevolking wat dobbel wees, nie die algemene bevolking nie? Hierdie syfer is so ongelooflik, dat ek self in my verslag getwyfel het en dieper moes gaan soek om dit te bevestig. En ja. Dit is die algemene bevolking. Een uit drie mense wat jy vandag in Suid-Afrika teëkom het 'n dobbelprobleem.
As jy om jou rondkyk is dit eintlik nie so verbasend nie. Skokkend, maar nie verbasend nie. Hoe kry die dobbelhuise dit reg om alles wat 'n mens sien te borg? Die enigste verklaring is dat hulle al die geld het. En hulle tap geld uit alle gemeenskappe. Staatstoelae word uitgedobbel. Salarisse word uitgedobbel. Pensioene word uitgedobbel. As daar geld is, word dit uitgedobbel. R1.5 biljoen (die Engelse trillion) word jaarliks uitgedobbel. 'n Kwart van die ekonomie!
Dit is daarom geen wonder dat kleinsake-eienaars kla dat mense nie meer geld het om hulle te ondersteun nie. Kunstenaars sukkel om kaartjies te verkoop. Kinders ly honger. En dit alles omdat geld uitgedobbel word so gou as wat dit inkom.
Die ergste is dat die aanlyn kasinospeletjies, die mees verslawende vorm van dobbel, onwettig is in Suid-Afrika. Tog adverteer hulle openlik. “We’ve got bets and games,” sê die advertensie sodra die krieketspelers breek vir koeldrank. Twee advertensies later word dieselfde een herhaal. Weddenskappe is wettig en gereguleer, maar die speletjies is onwettig en ongereguleer. Baie daarvan word vanuit die buiteland bedryf, wat beteken dat jy jou op niemand kan beroep as hulle nie jou wengeld uitbetaal nie.
Dis nou as daar wengeld is. Statistieke wys dat net tussen 10% en 20% van dobbelrekeninge winsgewend is. Dis nou vir weddenskappe. Vir aanlyn kasinospeletjies is die syfer weglaatbaar klein. As persone eerder as rekeninge bestudeer word val die syfer vir weddenskappe ook na 1,8%. Amper niemand wen nie. 80% van aanlyn dobbelaars verloor binne 90 dae al hulle geld.
Die hele stelsel is dus op 'n onetiese grondslag gebou. Die dobbelhuis sal jou huwelik, jou toekoms en jou siel vernietig, solank hulle geld daaruit kan maak. En ons redding gaan waarskynlik nie van politici kom nie. Martin Moshal, eienaar van verskeie dobbelwebwerwe en belegger in Betway, skenk groot geld aan verskeie politieke partye. Groot geld is al amper R100 miljoen.
Die departement van handel en nywerheid se vyfjaarplan het twee dele. Die eerste deel gaan oor hoe 'n groot probleem dobbel geword het. Die tweede deel gaan oor hoe hulle die bedryf wil laat groei. Dit is skandalig op 'n vlak wat ons nog nooit beleef het nie. Gaan die regering volgende 'n vyfjaarplan vir die dwelmbedryf ook hê? Dit skep mos ook werk en bied ekonomiese geleenthede?
Die platforms bied ook enorme borgskappe vir mediahuise aan, op voorwaarde dat die mediahuise hulle dan goedgesind sal wees en sal toelaat dat hulle adverteer. Een van die redes hoekom Solidariteit tot die gesprek toegetree het was juis omdat daar so aggressief aan ons nismark bemark word. kykNET, RSG en al ons gunsteling sportsoorte is deurspek van dobbeladvertensies.
Ons helde bemark dit ook op groot skaal. Oral is plakkate van Eben Etzebeth, Faf de Klerk, Stefan Terblanche, die Ndungane-broers, Faf du Plessis, Graeme Smith, Dricus du Plessis en vele ander. Gerda Steyn se klub word geborg deur Hollywoodbets. Ellispark is nou Tenbet Ellispark en so gaan die lys aan. Jy kan amper vra of jy jou kinders deesdae krieket toe vat, of na 'n dobbeladvertensie toe. Hoekom spreek niemand hulle daarteen uit nie? Kinders se helde kan tog nie vir ons sê dat dobbel doodnormale gedrag is nie?
Dobbel is natuurlik so oud soos die mensdom, maar dit was nog nooit hoofstroom nie. Dit was nog altyd iets wat jy doen as jy met vakansie is, of op een of ander uitsondering. As mense gereeld dobbel het almal vermoed dat hulle 'n probleem het. Dit was, en is steeds, hoërisiko gedrag. Vandag is dit egter heeltemal normaal. Omtrent die helfte van die bevolking dobbel gereeld. Suid-Afrika het meer gereelde dobbelaars as werkers.
'n Normale samelewing lyk nie so nie. Ter wille van ons toekoms moet daar onmiddellik ingegryp word. Daar moet streng beperkings op dobbelhuise se bemarking kom. Sportsterre, kinders se helde, moet verbied word om die gemors te adverteer. Meeste van alles moet aanlyn kasinospeletjies summier stopgesit word. Dit is immers onwettig. Ek is 'n groot voorstander van persoonlike vryheid, maar as iets doelbewus ontwerp word om 'n mens verslaaf te kry en dan te vernietig, staan persoonlike vryheid en verantwoordelikheid nie veel van 'n kans nie. Stop die gemors nou.

Nog artikels op OntLaer:

Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.








Dankie, Theuns. 31% is ’n skokkende statistiek! Dit laat mens ook dink aan die grootskaalse misbruik van alkohol in ons gemeenskappe, met die gepaardgaande negatiewe sosio-ekonomiese impak.