
Die soort narratiewe swakte waaraan diskoers oor objektief dringende en selfs voor die handliggende uitdagings in Suid-Afrika ly, raak ook diskoerse oor plaasgeweld.
In een van die heel eerste artikels op OntLaer, het die vermaarde joernalis en skrywer Hans Pienaar die analogie van 'n koei - seker gepas vir die landelike onderwerp - gebruik om te ageer dat ons deur die politieke en ideologiese beesmis oor die onderwerp moet vleg (al vat dit moeite) en by die gemeensaak uitkom. Hans stel treffend hoe bloedarmoedig en absurd die diskoers geraak het, en wat my betref, steeds is:
“Plaasmoorde het 'n sjibbolet geword: Rep iets daaroor en jy maak jouself verdag as regs; spreek jou uit teen 'n fokus op wit plaasmoorde alleen, en jy kry 'n progressiewe ster op jou voorkop. Dis alles business as usual, word gereeld geïmpliseer. In die proses het daar 'n skreiende, uniek Suid-Afrikaanse konsep ontstaan, dié van die gewone of ‘normale moord’ ”.
Dit sluit aan by wat James Myburgh in sy tipiese deurkliefende skryfstyl uitgewys het, synde dat nimmereindigende plaasgeweld soos soveel ander chroniese probleme, net nog 'n hartseer nasionale kwaal geword het waarvoor baie mense afgestomp raak. Dink wat jy wil oor die Amerikaners se nuutgevonde passie vir die lot van ons landbouers, maar dit het minstens die deur geopen vir nuwe en verkwiklike, oplossingsgerigte gesprekke oor beleid teen plaasgeweld. Die “ask” wat die VSA gerig het rondom aksie teen hierdie wrede misdaad, is nie eens omstrede nie: prioriteitsmisdaadstatus is 'n sinvolle taktiese benadering, waarvoor daar presedent bestaan in die omtrent gelyklopende verontwaardiging oor geweld teen vroue. Die weermag, volgens oorlewering op sy laaste bene, word immers ontplooi om nimmereindigende bendegeweld te probeer stuit op die Kaapse Vlakte.
Ten spyte van die nuwe oop diskoersdeure, was dit nie lank nie voor sinvolle gesprekke hieroor in bepaald Afrikaanse kringe weer opvallend in doodloopstrate beland het. Geweegde, gematigde en deurdagte denke sukkel en sweet om bo die algemene heethooftigheid uit te stulp. Hier moet ek egter uitwys dat die meeste georganiseerde Afrikaanse rolspelers na my mening neig om baie meer saaklik, konstruktief en beleidsmatig oor oplossings vir plaasgeweld dink as wat Daily Maverick en News24 se voorskriftelike progressiewe hoëpriesters dalk sal glo.
Jy kan ook maak wat jy wil van konserwatiewer Afrikaanse gemeenskapspolitiek, die rolspelers daarin se internasionale vriende en vennote, maar daar is nie feite wat daarop dui dat, byvoorbeeld, Lex Libertas of die Beweging se manne besig is om 'n “wit volksmoord” narratief in die plaasgeweld diskoers in te sleep nie. Hulle is op rekord gekant teen die volksmoord-strooipop. Dit is dus jammer dat daar in die Afrikaanse joernalistieke en akademiese gemeenskap steeds mense is wat reageer deur middel van verdagmaking van motiewe, en deur Hans Pienaar se “koei in die argument” te mis deur aan te dring dat georganiseerde Afrikaanse inisiatiewe teen plaasgeweld op een of ander manier “verdelend” is, of by verstek voorkeurbehandeling van 'n wit heerssugtigheidskleurtjie opeis.
Hoe presies word die nasie “verdeel” deur om die tendens van plaasgeweld te ontleed, die hulpelose ANC-regering se geveinsde argeloosheid daaroor te veroordeel, of aan te dring dat 'n spesifieke teen-misdaad plan vir plaasgeweld uitgevoer word? Dit is seer sekerlik ook 'n drogredenasie om te reken dat die aandrang op 'n spesifieke oplossing gelykstaande is aan 'n eis vir voorkeurbehandeling. Boonop, as hierdie soort inisiatiewe die land sou “verdeel” tussen diegene wat die probleem erken en diegene wat dit ontken, of selfs plaasgeweld onder die absurde begrip van “normale moord” orden, moet ons ernstige vrae vra oor of die verdeling nie dalk 'n goeie ding is nie. Darem weet ons dan wie die mense is wat moreel kaalgat swem, en nie bereid is om saam aan oplossings te werk nie.
Statistieke sê nie alles nie
Die gebruik van statistieke is in die meeste gevalle heeltemal rasioneel en sinvol om 'n misdaadprobleem soos plaasgeweld te kontekstualiseer.
Ons moet immers die omvang en tendense van die probleem verstaan ten einde sinvolle beleid te skep. Die koue hand van utilitarisme - dit is, die etiek van soveel moontlike gelukskepping vir soveel moontlik mense - stuur dikwels hoe statistiek in beleid tuisgebring word: Met ander woorde, as misdaad X proporsioneel meer Suid-Afrikaners sou teister as Misdaad Y, is die utilitariese gevolgtrekking dat jy moet fokus op die bekamping van X, siende dat dit van groter diens sal wees.
Maar kwantitatiewe navorsing oor plaasgeweld het hiermee presies met 'n uitdaging te kampe: Dit kan omvang en tendense baie goed vasvang, maar kan nie vir ons sonder meer 'n oordeel vel oor impak in die breë sin van die woord nie. Neem, byvoorbeeld, die verskynsel van reeksmoorde teenoor algemene moorde in ons stede. Reeksmoorde, in 'n kompakte omskrywing daarvan as die pleeg van moord deur 'n individu weens een of ander psigiese motief (dikwels sosiopatie), is betreklik skaars in Suid-Afrika. Wat moord vir talle ander motiewe betref, soos na aanleiding van maatskaplike kwale soos drank- of dwelmmisbruik, interpersoonlike konflik of roof, sit ons land met van die hoogste syfers ter wêreld. Die utilitariese beleidsaanwending van statistiek sou bepaal dat ons algemene polisiëring gewoon moet verbeter, maar ons hoef nie besonder gekwel te voel om hulpbronne aan reeksmoordbekamping te bestee nie.
Dit is 'n absurde verwagting. Die maatskaplike impak van selfs die vermoede van 'n sluipende reeksmoordenaar was onlangs genoeg om uiterste paniek in die Oos-Rand en groter Johannesburg te saai. Die President, te midde van die skote vanuit die Withuis, moes op die kassie gaan en (weereens) belowe oor hoe geweld teen vroue vasgevat gaan word. Polisie is grootskaals ontplooi; die ondersoek gaan aan. Suid-Afrikaanse misdaadbekamping, sonder watwonderse misdaadintelligensie soos dit is, is blind en gewoon nie in staat om proaktief te reageer nie. Die feit van die saak is dat kwantitatiewe navorsing ons net so ver kan bring om gemeenskappe se lyding onder misdaad te verstaan.
'n Kwalitatiewe benadering, aan die ander kant, vra nie bloot statistieke vrae oor die omvang van 'n uitdaging nie, maar ondersoek ook hoe mense en gemeenskappe voel en reageer in die aangesig van 'n misdaadprobleem. Dit is geïnteresseerd in die gevolge vir vertroue en welsyn. Dit is besorg oor die verhoudinge tussen mense en groepe mense, en stel belang in diversiteite en uniekhede wat vereis dat misdaadverskynsels op verskillende maniere aangevat moet word. Dit aanvaar nie bloot dat alles misdaad “gelyk” is en dat statistiek sal wys watter soort voorkeur moet kry in bekampingspogings nie. Dit soek eerder na billike oplossings en hulpbronverdelings na gelang van die unieke eienskappe en vereistes van 'n sekere misdaardvorm. Daarom ontstaan begrippe soos “geslagsgebaseerde geweld”, hoewel 'n mens regstegnies steeds met moord, aanranding en verkragting in die hofsaal sou werk. Die teen-misdaad navorser is oor meer besorg as die regstegniese bewyslas.
Wat 'n kwalitatiewe blik op plaasgeweld betref, moet die navorser en beleidsvormer hulself afvra: Ongeag die motiewe vir die misdaad, met wie het ons te doen as ons ontleed wie die regstreekse slagoffers is? Mense met name, families en loopbane, is die grootste gemene deler. Maar mense is veelkantige wesens, en in die plaasgeweld konteks het ons te doen met kulturele erfenisse wat dalk meer gekonsentreerd in landbou voorkom as in ander kontekste.
Die stelselmatige vervolgingstrooipop moet tersyde gelaat word, en daar moet eerder gevra word waarom veral Afrikaners dan plaasgeweld so aan die bas voel? 'n Kwalitatiewe insig sal dan na die geskiedenispatrone, kultuur en erfenis kyk om hierdie te probeer verstaan: Afrikaners se landelike kultuurverbintenis en hul geskiedkundige roeping van voorkeur - om te boer - het hul identiteit en sin vir samehorigheid oor eeue opgebou, met patrone wat tot vandag toe voortduur. Die oorhoofse impak op 'n betreklike klein bevolkingsgroep met hierdie soort lewende kulturele en erfenisverbintenisse, is beslis nie afskryfbaar net omdat dit proporsioneel minder opvallend op 'n misdaadgrafiek sal lyk nie.
Om hierdie soort kwalitatiewe patrone raak te sien, is glad nie dieselfde as om 'n selfsugtige drang vir prioritisering te bevestig nie. Dit is kategories verskillend. Opsluit ignoreer dit nie slagoffers van plaasgeweld wat nie Afrikaans is nie, en die gedagte sou gevolglik nie wees om “Afrikanerspesifieke” teenplaasgeweld oplossings te bedink nie. Dit gee gewoon erkenning aan 'n gemeenskap wat op kulturele vlak aangeval voel deur hierdie misdaadpatroon weens hul groot aandeel in die landbousektor, en verken die redes dat hierdie gevoel geldig mag wees, as deel van die beleidsproses om die saak vir teen-plaasgeweld oplossings te bevorder.
Kwalitatiewe navorsing bied in hierdie verband die geleentheid om gemaklike dog hartelose, kil ideologiese aannames - soos dat Afrikaners en Afrikaanse boere aan vervolgingswaan ly, bevoordeling probeer afdwing en selfs die geweld verdien - op rasionele en gegronde wyse die deur te wys. As ons bereid is om kwalitatiewe navorsing te gebruik om broodnodige, pasgemaakte bekampingsveldtogte teen bendegeweld en vrouemoord te bevorder, behoort dieselfde protokol vir plaasgeweld te geld.
Miskien sal ons dan agterkom dat die aanspreek van die kwessie vir jare reeds in 'n onnodige vlak van omstredenheid gedompel is.

Nog artikels deur Frederik van Dyk:

Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.







