Drie Regruk Stappe vir die Suid-Afrikaanse Ekonomie
Vryheid, vindingrykheid en vennootskap om die Suid-Afrikaanse ekonomie te red.
Daar is maak of breek oomblikke in ’n land se geskiedenis waar die pad vorentoe nie meer gesprek, dialoog of konsensus verg nie, maar net helderheid en politieke waagmoed. Suid-Afrika se ekonomie is in so ’n kritieke tyd. Massawerkloosheid, verswakkende infrastruktuur, skrikwekkende, opeenhopende staatskuld, en ’n afnemende geloof dat dinge kan verbeter is alles simptome van die dringende nood vir hervorming in die Suid-Afrikaanse ekonomie. Hierdie toestand is nie die gevolg van ’n enkele ramp of ’n toevallige opeenhoping van slegte besluite nie. Dit is egter die resultaat van ’n sistematiese, langtermyn verskraling van ekonomiese vryheid, waar die staat al hoe meer wil hê, maar al hoe minder kan gee.
As ons dus met erns en realisme oor praktiese ekonomiese herlewing wil praat, moet drie konkrete beleidsrigtings as ‘n fundamentele beginstap nagevolg word, naamlik die verlaging van belasting (en nie net die stuit van ‘n BTW verhoging nie), privatisering van kritieke logistieke infrastruktuur, en beleggings in strategies in publiek-privaat vennootskappe (PPV’s), veral vir elektrisiteit en water.
1) Verlaag BTW en Inkomste Belasting
Die eerste stap is eenvoudig, sit geld terug in Suid-Afrikaners se sakke. Verlaag belasting, en begin by die twee wat die meeste belastingbetalers onder kry: BTW en persoonlike inkomste belasting.
Hoekom? Omdat die Suid-Afrikaanse staat al jare lank bewys dat dit nie waarde vir geld lewer nie. As elke bykomende rand belasting, nie groei bevorder nie, maar ekonomiese aktiwiteit versmoor, dan is dit logies, en moreel, om minder te vat totdat die teendeel bewys kan word. Meervoudige studies wys dat Suid-Afrika se fiskale vermenigvuldiger in baie gevalle negatief is. Met ander woorde, vir elke R1 wat die staat ekstra spandeer, kry die staat minder as R1 se waarde en verloor die ekonomie werklike produksie. Dus kry burgers as aandeelhouers van die land, wat toenemend belê in die regering se bedrywighede deur belasting te betaal, geen opbrengs op hulle belegging.
BTW in die besonder is ’n belasting wat die armste Suid-Afrikaners die seerste tref. Dit is regressief, al word dit versag deur vrystellings op sekere voedselsoorte. Maar in praktyk bevoordeel daardie vrystellings dikwels middel- en hoërinkomstegroepe meer as die armes. ’n Verlaagde BTW-koers gee onmiddellik verligting aan alle huishoudings, bevorder verbruik, en stel kleiner ondernemings in staat om weer asem te skep te midde van die toenemende ekonomiese druk.
Dieselfde beginsel geld vir persoonlike inkomste belasting. Hoe hoër dit is, hoe minder bly daar aan die einde van die maand oor vir individue om entrepreneurskap na te streef, spaar en belegging. En hoe minder word daar beloon vir produktiewe werk. Dit skep ’n ekonomiese landskap waarin vryheid en vindingrykheid gestraf word, eerder as aangemoedig word. Dit het ‘n sneeubal effek op die ekonomie omdat individue en huishoudings gevolglik minder geld het om terug te ploeg in die ekonomie, wat gevolglik weer medium- en klein ondernemings direk raak.
In ’n land waar minder as 10 miljoen mense persoonlike inkomste belasting betaal om ’n bevolking van meer as 60 miljoen se behoeftes te dra, is dit noodsaaklik om die aansporings reg te stel. Laer belasting gee mense beheer oor hul eie geld terug. Dit stel gesinne in staat om self te prioritiseer, om te spandeer, te spaar of te belê volgens hul eie waardes en behoeftes. Dit gee huishoudings die geleentheid om meer geld in die plaaslike ekonomie in te stort wat besighede bemagtig om te groei, uit te brei en meer werknemers aan te stel wat in die geheel prentjie grootskaalse voordeel vir almal inhou. Dit is wat ekonomiese vryheid beteken en dit is wat ware groei aandryf. Nie staatsbeplanning nie, maar persoonlike vryheid om te kies en verantwoordelikheid te neem vir jou eie geld.
2) Privatiseer die Hawens en Spoorweë
Suid-Afrika se ekonomie staan voor ‘n afgrond en elke volgende besluit kan veroorsaak dat die ekonomie van die krans af tuimel. Die krisisse in ons hawens en spoorweë is nie net operasionele mislukkings nie maar dit is strukturele bottelnekke wat groei versmoor, uitvoere terughou en binnelandse pryse opjaag. Wat nog erger is, is dat hierdie infrastruktuur wat as die are van ’n moderne ekonomie behoort te florreer met belastinggeld aan die lewe gehou word, ten spyte van aanhoudende agteruitgang. En dis nie asof daar ‘n tekort is aan die behoefte vir goeie spoorweë en funksionerende uitvoer hawens nie.
Volgens Free SA se ontleding het die staat die afgelope dekade sowat R520 miljard aan reddingsboeie aan staatsentiteite uitgedeel met Transnet as een van die grootste ontvangers sonder enige meetbare verbeteringe nie. Dis ’n skokkende bedrag, gelykstaande aan 8 600 nuwe skole of 2.6 miljoen huise wat gebou kon word of ‘n polisiemag wat drie keer groter kon wees as wat dit vandag is. Dit is die geleentheidskoste wat gemors is met hierdie reddignsboeie.
Die oorsprong van die probleem lê in die strukture van die instellings self eerder as die toenemende fondse wat daarna gegooi is. Transnet, wat verantwoordelik is vir die land se grootste hawens en spoorlyne, is te groot en lomp, te vervleg met politieke belange om doeltreffend te wees, en te beskerm teen mededinging in die sektor om te verbeter. Hierdie kombinasie lei tot uitkomste soos eindelose hawevertraging, roestende vragspoorlyne en ’n verlies van sowat R150 miljard aan uitvoerinkomste in 2022 alleen, wat gevolglik oorspoel na ander sektore en industrieë .
Daarom is die voorstel om te privatiseer, nie radikaal nie, maar rasioneel. Dit gaan nie oor die verkoop van nasionale bates aan die hoogste bieder nie. Dit gaan oor gestruktureerde en deursigtige vennootskappe wat kompetisie en mededinging moontlik maak, dienslewering meetbaar maak, en waar tegniese kundigheid die bepalende faktor is, nie politieke lojaliteit nie.
Internasionale voorbeelde van Hamburg tot Maputo toon dat privaat bestuur van hawens en spoorweë lei tot vinniger verwerkingstye, laer koste en hoër volumes en meer effektiewe funksionering. Plaaslik het sekere privaat operateurs reeds gewys hoe kragstasies, tolpadprojekte en logistieke sentrums onder hul bestuur beter presteer as hul staatsekwivalente. Waar prestasie die voorwaarde vir kontrakhernuwing is, floreer infrastruktuur. Waar politieke beskerming die reël is, verval dit.
Wat nodig is, is dus nie meer staatsbeheer nie, maar minder. Nie meer kontantinspuitings nie, maar strukturele hervorming. Privatisering beteken hier om die verantwoordelikheid vir resultate terug te gee aan diegene wat dit kan lewer, wat resultate moet bereik of hul besighede sink, eerder as om nog ’n dekade van belastingreddingsboeie te betree as gevolg van die staat se weiring om mag prys te gee.
Met die regte wetgewende raamwerk, deursigtige tenders en prestasiegebaseerde kontrakte, kan Suid-Afrika sy logistieke agterstand inhaal. En dit sal ons verlos van die absurde realiteit waar die publiek miljoene betaal vir die voorreg om slegter diens te kry.
3) Belê in PPV’s vir Water en Elektrisiteit
Die derde stap, en waarskynlik die kragtigste hefboom vir werklike ekonomiese heropbou, lê in strategiese belegging in publiek-privaat vennootskappe (PPV’s), spesifiek in die kernareas van water- en elektrisiteitvoorsiening.
Die huidige krisisse in hierdie sektore is nie net die gevolg van tegniese foute of finansiële tekorte nie. Dit is die natuurlike uitkoms van gebrekkige instellings wat oor dekades oorweldig is deur politieke inmenging, korrupsie, wanbestuur en ’n verlies aan sektorale kundigheid. Eskom, byvoorbeeld, het van ’n wêreldklas opwekker verander in ’n stelsel van beurtkrag en skuldberge. Munisipale waterdienste wankel op die rand van instorting, met bykans 30% van watervoorsieningsisteme wat amptelik in 'kritieke toestand' is.
Die oplossing kan nie slegs uit interne hervorming kom nie. Wat nodig is, is die inskakeling van vars kapitaal, vars denke en vars aansporings. PPV’s bied ’n bewese model waar privaat ondernemings op grond van streng prestasiekriteria wateraanlegte kan bou, kragstasies kan herstel, of infrastruktuur kan bestuur alles onder oë van 'n regulerende staat wat toesien op standaarde en dienslewering.
Wat belangrik is, is dat hierdie modelle nie noodwendig beteken dat die staat beheer prysgee nie. Modelle soos “build-own-operate-transfer” of langtermyn huurooreenkomste verseker dat die staat uiteindelik infrastruktuur terugkry, dikwels in ’n beter toestand as toe die private vennoot dit oorgeneem het. Dit behels dus privaat investering sonder om beheer heeltemal af te staan.
Die voordele van hierdie vennootskappe is reeds sigbaar en getoets. Privaat wateraanlegte lewer skoon water aan gemeenskappe waar munisipaliteite gefaal het en onafhanklike kragprodusente verlig druk op die netwerk en dra by tot hernubare energie inisiatiewe.
Wat PPV’s betroubaar maak, is hul aard, hul bestaan maak staat op resultate, nie op politieke verhoudinge nie. Deur sukses aan prestasie te koppel, verander die hele aansporingsraamwerk. Wat ontstaan, is ’n kultuur van innovasie, kostebesparing, effektiwiteit en diensgerigtheid, die teenoorgestelde van die traagheid en selfbediening en wanbestuur wat staatsmonopolies kenmerk.
Slot
Geen van hierdie drie voorstelle is towerstaffies wat alle probleme onmiddelik net gaan oplos nie. Hulle vereis eerlike debatte van kundiges, regverdige implementering, en die moed om gevestigde belange te trotseer. Maar hulle vorm saam ’n kernstrategie wat Suid-Afrika uit die modder kan lig: wat mense meer van hul eie geld laat hou, wat kompetisie toelaat om die werk te doen wat staatsmonopolieë nie kan nie, en wat vennootskappe laat floreer waar die staat se hand te swak en onbekwaam is.
Reuben Coetzer is ‘n regstudent en woordvoerder vir Free SA.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
Wil jy stukke soos dié direk in jou inboks ontvang en ons werk ondersteun? Teken hieronder in: