In The Grapes of Wrath beskryf John Steinbeck 'n Amerika waarin eerlike mense hul bestaan verloor het – nie omdat hulle lui of onhandig was nie, maar omdat 'n stelsel teen hulle gewerk het. Families soos die van die hoofkarakter Tom Joad, het alles verloor omdat die ekonomiese stelsel vir hulle geen plek gehad het nie.
Ons “vier” vandag Werkersdag in Suid-Afrika, maar eerder as die Marxistiese utopie wat aan miljoene belowe is, waar almal werk en almal genoeg het, lyk die land baie na Steinbeck se Oklahoma, met meer as 12.2 miljoen landsgenote sonder werk, nie omdat hulle nie wil werk nie, maar omdat die strukture van ons ekonomie hulle verraai het, en steeds verraai.
Werkersdag behoort 'n viering van arbeid te wees. Maar in 2025 vier ons eerder die verdwyning van geleenthede, en die noodsaak daarvan om nuut te dink, en om 'n nuwe pad vorentoe te kap – een waarin werk weer sin en sekuriteit bring.
Die diep wortels van 'n krisis
Suid-Afrika se werkloosheidskrisis is nie 'n ongeluk nie, en die oorsaak daarvan is ook nie onbekend nie. Dit is die suurbitter dwangvrug wat selfs in ‘n paradys soos ons s’n moet volg op dekades se wanbeleid, staatsbeheptheid en ideologiese stuurmanskap, waar die stille waters vermy word, en die storm gedurig uitgesoek word. In plaas daarvan dat die privaatsektor as noodsaaklike vennoot gesien word, is ‘n klimaat geskep waarin entrepreneurskap deur middel van arbitrêre regulasie en summiere blokkasie versmoor word, waar belegging, ook van getroue handelsvennote, aktief ontmoedig word, en waar produktiwiteit agter politieke lojaliteit in die prioriteitstou moet loop-staan.
Instellings soos Eskom, Transnet en PRASA is brandende bakens van hoe openbare bates vernietig word wanneer staatsmonopolieë blindelings bevoordeel word bo doeltreffendheid. Kragonderbrekings, hawestakings, en die verval van spoorlyne is lankal nie meer irriterend nie - hierdie algemene verskynsels is doodskote vir ‘n ekonomie wat alreeds sukkel om op sy eie voete te staan. Maar die krisis stop nie by die toestop van vloeiende ekonomiese strome nie, daar is die addisionele las van ‘n konstant toenemende lys passasiers op die soustrein. Die opgeblase staatsdiens met ‘n nasionale uitvoerende gesag van meer as 70 lede veroorsaak dat die gebou bo Goewermentlaan hoe langer hoe meer na ‘n geldgryppery lyk, en hoe langer hoe minder na vennote in ons strewe na vryheid, vooruitstrewendheid, en gemeenskap hier waar ons geplaas is.
Die derde bestanddeel, groot-en-deels onder invloed van die eerste twee, is ontoereikende ekonomiese groei. Die wiskunde is eenvoudig: As daar hierdie jaar 2% meer mense is as in 2024, maar daar is net 0,6% meer ekonomie (en hierdie skatting is optimisties), dan het ons almal in 2025 minder as wat ons in 2024 gehad het. Die man op straat word aktief armer.
Drie noodsaaklike oplossings
Daar is geen maklike uitweg nie, daarvoor is die ideologiese en ekonomiese krisis sowel as die agteruitgang van sleutel infrastruktuur se neus te diep in die storm. Daar is egter maniere om die boot te stop, en die roer stadig te begin draai. Hier is ‘n paar sulke maniere:
1) Privatiseer hawens en spoorlyne
Ons hawens en spoorlyne was veronderstel om die ekonomiese slagare van handel te wees, nie net hier nie, maar vir die hele Afrika. Vandag is hulle eerder stomp bottelnekke. Terwyl die wêreld vorentoe storm, presteer Suid-Afrikaanse hawens besonders swak in die wêreldwye Container Port Performance Index – Kaapstad op 405, Ngqura op 404, Durban op 398 en Gqeberha (voorheen Port Elizabeth) op 391, uit die 405 gemete hawens wêreldwyd.
Dit is in skrille kontras met byvoorbeeld die hawe in Maputo, wat onder privaatbestuur funksioneer en onlangs in produktiwiteit, betroubaarheid en kostedoeltreffendheid uitgestyg het bo meeste van sy suidelike Afrika-bure. Dit bewys dat politieke ideologie nie 'n verskoning is vir infrastruktuurverval nie. Dit is bestuur wat tel. Maputo is ook ‘n rigtingwyser vir die pad vorentoe.
Deur die bestuur van ons hawens en spoorlyne gedeeltelik of ten volle te privatiseer, kan Suid-Afrika onmiddellik baat vind by beter tegnologie, groter kapitaalinspuitings, en die soort professionele bestuur wat wins aan dienslewering koppel. Dit beteken korter vragtye, laer koste, en meer mededingendheid. Wat Werkersdag betref is die voordeel natuurlik voor die hand liggend: meer werksgeleenthede. Funksionele hawens en spoorlyne is voorvereistes vir werkskepping in uitvoergerigte nywerhede soos landbou, mynbou en vervaardiging.
Privatisering beteken nie dat Suid-Afrika beheer prysgee nie. Dit beteken dat ons verantwoordelikheid terugneem deur kundigheid te gebruik waar dit bestaan. Laastens kom dit hoe langer hoe meer voor asof privatisering van groot en optimistiese projekte internasionaal die tendens word. Die beste voorbeeld hiervan is NASA in die VSA se samewerking met onder andere SpaceX en Blue Origin. Deur entrepreneurs te laat kompeteer word dienslewering en doeltreffendheid verhoog.
2) Versnel infrastruktuurontwikkeling deur privaatbelegging
Die regering alleen kan nie die infrastruktuurkrisis oplos nie, nie finansieel nie en ook nie in terme van bestuur nie. Tog sit die wêreld vol beleggers en maatskappye wat gretig is om betrokke te raak sodra daar vir hulle ‘n beleidsomgewing geskep word waarin belegging veilig is.
Die driemanskap van vennootskappe tussen die openbare en private sektore, voorspelbare wetgewing, en strategiese belastingvoordele kan 'n infrastruktuuroplewing ontketen wat dadelik werk skep oor verskeie sektore heen.
Elke kilometer pad wat gebou word en elke substasie wat opgradeer word, bring 'n kettingreaksie van ekonomiese aktiwiteit en, dalk selfs belangrikker, ‘n bietjie hoop. In die naaste dorp waar ‘n nuwe dam gebou word, is 'n tannie se Airbnb vol bespreek en kan sy haar werknemers betyds betaal. Langs elke nuwe kragstasie wat opgerig word, heropen 'n spaza-winkel wat maande lank gesukkel het om kop bo water te hou.
Infrastruktuur is nie net beton en staal nie, dit is die ongesiene netwerk waardeur gesinne hul brood verdien, waardeur gemeenskappe hul selfrespek herstel, en 'n gemeenskap weer leer glo dat môre beter kan wees as vandag.
3) Verklein die staatsdiens en verlaag belasting
Die groot getalle van die Suid-Afrikaanse staatsdiens is bo vlugtig aangeraak, maar dit gaan oor meer as getalle - dit gaan ook oor koste. Die massiewe salarisrekening is finansieel onvolhoubaar en ekonomies versmorend, veral gegewe die uiters swak opbrengs op die dwangbelegging van ons belasting. Ons hou met ons swaarverdiende geld mense in posisies wat geen meetbare doel dien nie.
Die alternatief, wat oor die afgelope maande gedurig in die media genoem is, is om die staatsdiens sistematies en regverdig te verklein, nie deur massa-afleggings nie, maar deur natuurlike afvloei, vrywillige skeidingspakkette, en die vestiging van ’n werklik prestasiegedrewe werkskultuur. Die doel is nie 'n kleiner staat vir sy eie onthalwe nie, maar ’n meer doeltreffende een wat sy kernmandaat beter kan nakom.
Hierdie besparings behoort net een van twee adresse te hê: Infrastruktuurprojekte (onderhewig aan deursigtige en eksterne ouditprosesse), en werklike belastingverlagings. Laer belastingkoerse stel individue en besighede in staat om hul eie geld op noodsaaklike produkte en dienste te spandeer, te belê en waarde te skep. Dit moedig entrepreneurskap aan, bevorder kapitaalvorming en skep 'n klimaat van ekonomiese vertroue. Bowenal: Dit skep werk.
Daar sal natuurlik ‘n aanvanklike reaksie deur vakbonde en amptenare met groot aptyte wees, maar dit is die ongemak waardeur enige liggaam moet gaan wat sy inname drasties moet verminder. Aanvanklik sal die maag knor en raas vir nog ‘n porsie, die porsie waaraan hy altyd gewoond was, maar mettertyd sal die blokkasies die are verlaat, en die lewensbloed weer uitkom waar dit moet. Die langtermynvoordeel is ’n meer dinamiese ekonomie waarin werkskepping nie van die regering afhang nie, maar van ’n aktiewe en diverse ekonomiese masjien, waar die staat, nou lenig en lig op sy voete, ‘n vennoot is, en nie meer ‘n mafiabaas wat elke maand sy vet koevert kom haal nie.
Werk as waardigheid
Werk is meer as net 'n inkomste, veral wanneer dit as roeping beskou word, soos wat so baie onder ons dit beskou. Werk gee lewensvervulling, struktuur en trots. 'n Samelewing waar miljoene sonder werk sit, is 'n samelewing wat hierdie elemente van sy menslikheid stelselmatig verloor. ‘n Gemeenskap waar niemand werk nie, waar niemand sy energie in sy roeping instoot nie, kan nie anders nie as om te begin glo dat dit normaal is om deur welsyn onderhou te word.
Werkersdag het sy wortels in die leuens van ‘n foutiewe ideologie, maar niks keer ons om ‘n nuwe storie daaroor te skryf nie. In stede van leë en teleurstellende retoriek behoort ons dié dag in diens van eerlike selfrefleksie aan te wend, en te erken dat Suid-Afrika se ekonomie voor ons oë inmekaar gaan tuimel as ons nie vinnig ‘n plan maak nie. Die goeie nuus is dat baie van hierdie planne reeds gemaak is - hulle moet die bestaande blokkasies net oorkom.
Vir Steinbeck se Joad-familie was daar geen ander opsie as om op te gee en te trek nie, maar vir ons is die trekker wat die opstal wil kom platstoot nog nie hier nie. Ons kan hom keer. Ons kan nóú die regte besluite maak, sodat ook ons kinders daardie trekker nooit in die pad sien aankom nie.
Nog artikels deur Paul Maritz:
Goeie skryfwerk.