Soos baie van ons het ek ook met LEGO-blokkies grootgeword. In my kinderdae was dit baie eenvoudig en nie so gevorderd soos vandag se LEGO-stelle nie. Dis amper asof LEGO saam met ons grootgeword het en steeds na die 25-80 jarige “kinders” se welstand omsien, want 'n mens is nooit oud genoeg om te bou nie.
Wanneer daar oor handelsmerke gepraat word, is LEGO een van die mees ikoniese voorbeelde van hoe 'n onderneming sy identiteit oor dekades heen kon vestig en beskerm. LEGO het 'n wêreld vir die verbeelding oopgemaak en oortuig oud en jonk dat jy die vermoë het om enigiets te kan bou.
Die naam LEGO roep bloot nie net 'n speelgoedproduk op nie, maar 'n hele wêreld van kreatiwiteit, innovasie en kwaliteit. Van LEGO World in Denemarke en Utrecht tot 'n hele paar LEGOLANDE regoor die wêreld. Dink daaraan, 'n wêreld vol LEGO-wêrelde. Ek was nog nooit self by LEGO-world of -land nie, maar ek is seker daarvan dat 'n enkele besoek aan 'n LEGO-pretpark op sigself 'n onvergeetlike lewenservaring kan wees, want die simboliese waarde agter 'n handelsmerk wat emosies of ervaring gee is reeds bevestig toe ek as kleuter self 'n paar huisies in my ouers se sitkamer kon bou.
Bou deur te skerm
LEGO was al in heelwat hofsake betrokke om hul handelsmerk te beskerm. Hul mees onlangse regsoptrede was teen die Nederlandse maatskappy, Betonblock BV.
In 2025 het LEGO Betonblock gedagvaar omdat die maatskappy die woord “LEGO” op hul webwerf gebruik het om betonblokke te beskryf wat 'n soortgelyke ontwerp as LEGO-blokkies gehad het. Vir 'n verbruiker is die herkenbaarheid en bruikbaarheid van hierdie boublokke duidelik, omdat almal reeds iewers in hul lewensseisoene geleer het hoe om LEGO’s te gebruik en daarmee kan assosieer.
Die distrikshof in Den Haag het beslis dat Betonblock deur hierdie gebruik “onbillike voordeel” uit LEGO se gevestigde reputasie getrek het en vervolgens bepaal dat die onderneming binne twee werksdae moes ophou om die naam LEGO te gebruik. Indien hulle daarin versuim, sou hulle 'n boete van €500 (sowat R9 956,91) per dag betaal, tot 'n maksimum van €50 000 (ongeveer R995 673,50).
Hoewel Betonblock heel waarskynlik LEGO as 'n voorbeeld of verwysing wou gebruik en die verbruiker probeer oortuig het om hul blokke soos LEGO-blokke te sien, het die hof dit duidelik gestel dat hierdie oorbenutting van 'n bekende handelsmerk die risiko inhou om die onderskeibaarheid daarvan te ondermyn.
Die uitspraak in hierdie saak beklemtoon dat handelsmerkbeskerming nie beperking is tot 'n spesifieke produksegment nie. LEGO is 'n speelgoedvervaardiger, terwyl Betonblock betonprodukte maak. Tog is daar ooreenkomste en het die hof bevind dat die verwysing na LEGO steeds handelsmerk-inbreuk kon uitmaak omdat dit die reputasie van die oorspronklike handelsmerk kon beïnvloed. Hierdie beginsel beklemtoon dat die eienaarskap van 'n handelsmerk nie slegs die uitsluitlike gebruik van die handelsmerk behels nie, maar ook die reg om te voorkom dat derde partye onregmatig voordeel uit die gevestigde simboliese en emosionele kapitaal daarvan trek.
Konteks is geen grens nie
Die bou van 'n handelsmerk is 'n proses wat konsekwentheid, geloofwaardigheid en beskerming vereis. Konsekwentheid beteken dat 'n handelsmerk se identiteit duidelik en eenvormig oorgedra word, ongeag konteks of medium. Geloofwaardigheid word opgebou deur betroubaarheid.
Beskerming behels dat die handelsmerk aktief verdedig moet word teen die misbruik daarvan. LEGO se optrede teen Betonblock is 'n voorbeeld van hierdie laaste beginsel in werking: deur regstappe te neem, het LEGO 'n grens gestel waar sy handelsmerk se invloed ophou en sy beskerming begin. Vir enige onderneming (groot of klein, plaaslik of internasionaal) is hierdie saak 'n goeie voorbeeld van handelsmerke wat nie net kommersiële etikette is nie, maar strategiese bates wat noukeurig bestuur moet word. Om iemand anders se handelsmerk te gebruik, selfs beskrywend, verg oorweging en respek. Die reg laat beperkte beskrywende gebruik toe, mits dit nie verwarring skep of voordeel trek uit die oorspronklike merk se reputasie nie.
LEGO se oorwinning is derhalwe nie bloot 'n regsuitspraak in hul guns nie, maar 'n bevestiging van die beginsels waarop handelsmerkbeskerming berus. Dit bevestig dat die waarde van 'n handelsmerk in sy integriteit lê. Om jou handelsmerk te beskerm, is om jou identiteit te beskerm; en om jou identiteit te beskerm, is om die grondslag te versterk waarop vertroue en geloofwaardigheid gebou word.
LEGO het nie bloot 'n regstryd gewen nie, hulle het die beginsel bevestig dat ware handelsmerke, soos ware boublokke blywend is, omdat hulle met sorg, visie en konsekwentheid gebou word.
Hilde Kruger is 'n grafiese en multimedia-ontwerper, skrywer en bemarker met 'n sterk fokus op strategiese konseptualisering en handelsmerkontwikkeling. Sy het haar honeursgraad in BA Grafiese Ontwerp, met Multimedia as nagraadse studies, by die NWU-Potchefstroom voltooi en is sedert 2017 'n lid van die Internasional Society of Typography Design (ISTD).
Nog artikels deur Hilde Kruger:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










