DR VUSI M. VILAKATI | Forensiese publieke teologie: lesende wat die samelewing agterweë laat
'n Teologie wat onder die vernis van die openbare storie lees
Samelewings verdwyn nie altyd in stilte nie. Dikwels stort hulle in duie te midde van welluidende diskoerse oor etiek, waardigheid, geregtigheid, transformasie, aanspreeklikheid en versorging. Die tragedie is nie dat morele taal verdwyn nie. Die tragedie is dat morele taal gepraat word terwyl diegene wat dit moet dien verdwyn uit die publieke oog.
Dit is waar forensiese publieke teologie insny.
Forensiese publieke teologie betrag die publieke lewe in sy spore – die nawerkings, weersprekings, en herhaalde verwonding. Dit begin nie by dit wat die samelewing oor homself sê nie. Dit begin by wat 'n samelewing agterweë laat: miskende mense, verbreekte vertroue, herhaalde skade, vreesbevange gemeenskappe, futlose instellings, stilgemaakte slagoffers, geestelike uitputting en openbare uitsprake wat nie meer die gewig van waarheid kan saamdra nie.
Dit vra:
Wat het hier gebeur?
Wie het skade gely?
Wat is onsigbaar gemaak?
Wie se pyn het aanvaarbaar geword?
Wie is beskerm deur die openbare storie?
Watter waarheid was ontken?
Watter soort herstel is nou nodig?
Die woord forensies is 'n saakmakende begrip. Dit wys op gedissiplineerde opmerksaamheid. Dit is nie verdagmaking vir eie onthalwe nie. Dit is nie woede opgetooi in godsdienstige taal nie. Dit is die bedagsame ondersoek van bewysstukke waar iets fout gegaan het. Openbare lewe laat merke. Begrotings laat merke. Grense laat merke. Algoritmes laat merke. Kerke laat merke. Leiers laat merke. Stiltes laat merke. Die armes, die vreemdeling, die werker, die kind, die bejaarde, die werkloses en die wat vergeet word dra dikwels hierdie merke die duidelikste.
Lees onder die vernis van die openbare storie
Elke samelewing vertel 'n eie storie. Dit praat deur toesprake, beleide, verkiesingsbeloftes, korporatiewe waardes, preke, openbare verskonings, komissies, strategieë en nasionale geheue. Hierdie stories mag waarheid bevat, maar word dikwels saamgestel om legitimiteit te beskerm. Sommige mense besluit wat onthou word, wat onderspeel word, wat blameer word en wat nooit genoem word nie.
Forensiese publieke teologie lees onder daardie vernis in.
Dit vra waarom 'n samelewing oor geregtigheid kan praat terwyl dit nalating normaliseer; waarom instellings oor waardes kan praat terwyl mense deur die krake val; waarom kerke oor gasvryheid kan praat terwyl immigrante gevrees word; waarom leiers oor diensbaarheid praat terwyl mag vir hulle die belangrikste bly; waarom tegnologie vooruitgang beloof terwyl mense tot datanodes gereduseer word; waarom gemeenskappe vir veiligheid pleit terwyl hulle vergeet van diegene wat meer weerloos is as hulle.
Forensiese publieke teologie is bedagsaam oor mag: wie die maghebbers is, hoe mag beskerm word, wie se belange dit dien, en wie se pyn dit ontken.
Dit lees op vier vlakke in:
Eerstens dekonstrueer dit. Dit breek die oppervlak oop. Dit is toegespits op die dinge wat te gepoleerd klink, te gerieflik, te herhalend, te gou aanvaar word. Dit vra wie geblameer word om dieper mislukkings te verbloem. Dit vra watter lyding genormaliseer word.
Tweedens analiseer dit. Dit stel vertikaal ondersoek in na waardes, oortuigings, vrese, ikone en morele verbeelding. Dit stel horisontaal ondersoek in na verhoudings tussen mense, gemeenskappe, instellings, markte, tegnologie, kerke en die staat. Dit lees oorlangs deur geheue, geskiedenis, beleid, trauma, herhaling en opgehoopte nagevolge.
Derdens rekonstrueer dit. Dit vra na eerlikheid, na wat herstel moet word, watter verantwoordelikheid opgeneem moet word, watter verhouding herstel moet word, watter praktyke verander moet word en watter toekoms steeds moontlik gemaak kan word.
Vierdens onderhou dit. Dit vra watter gebruike en dissiplines, vorms van leierskap en openbare praktyke nodig is om volhoubare herstel in die hand te werk. 'n Samelewing kan nie deur woede voortbestaan nie. Protes kan 'n wond uitwys, maar die wond hou aan bloei indien gewoontes, leierskap, opvoeding, verantwoordelikhede en alledaagse praktyke nie verander nie.
In die kern van forensiese openbare teologie lê daar 'n oortuiging: 'n samelewing word nie gekenmerk deur die waardes wat dit proklameer nie, maar deur die weiering om mense agterweë te laat, deur die skade wat dit bereid is om te herstel en die waarheid wat dit bereid is om voort te dra.
Spooknote van die openbare lewe
Van die belangrikste bewysstukke kan gevind word in die spooknote van die openbare lewe. Hiermee word die sagte seine onder die luidrugtige stories bedoel. Die afwesige slagoffer. Die vermiste geskiedenis. Die ongevraagde vraag. Die beskermde leier. Die nuttige vreemdeling. Die tegniese begrip wat 'n morele mislukking wegsteek. Die openbare verskoning wat verantwoordelikheid ontduik. Die preek wat gerusstel sonder om medepligtigheid aan te spreek. Die beleid wat waardigheid beklemtoon maar nooit na die verwondes uitreik nie.
Openbare narratiewe vertel wat 'n samelewing oor homself wil glo. Spooknote wys daarenteen op die dinge wat 'n samelewing nog nie kan trotseer nie. Forensiese publieke teologie vervang nie aktivisme nie, dit verdiep dit. Aktivisme benoem die wond. Forensiese publieke teologie vra hoe daardie wond gemaak is, waarom dit oopbly, wie baat daarby dat dit oop bly en wat die voortsetting daarvan kan verhoed.
Dit beweeg verby kommentaar. Kommentaar reageer op die sigbare gebeurtenis. Forensiese publieke teologie vra watter dieper patroon daardie gebeurtenis moontlik gemaak het.
Dit beweeg verby sentiment. Meegevoel is van kernbelang, maar meegevoel sonder waarheid is blote opvoerigheid. Dit rou, maar ondersoek ook. Dit bid, maar vra ook wie onderteken het, wie geïgnoreer het, wie gebaat het, wie weggekyk het en wie buite die belangekring uitgeskuif is.
Tragiese taak, nie 'n wanhopige een
Dit is die tragiese taak van die teologie in die openbare lewe: om daar te gaan staan waar die samelewing liewer nie wil kyk nie. Dit:
Ondersoek die liggame wat deur beleide bedek word.
Ondersoek die stilte wat deur toesprake bedek word.
Ondersoek die wonde wat deur verduidelikings bedek word.
Dit vra waarom dieselfde mense uitgesluit word van die vervulling van beloftes.
Dit vra waarom ons openbare taal meer verfynd geraak het terwyl ons openbare lewe minder menswaardig geword het.
Forensiese publieke teologie is nie 'n wanhopige teologie nie. Dit is ook nie ingestel op goedkoop hoop nie. Dit haas nie na verlossing voor die bewysstukke voorgelê is nie. Dit aanvaar nie genesing voor die wond gediagnoseer word nie. Dit praat nie oor versoening indien die waarheid begrawe word nie.
Hierdie hoop reik laer af as dit:
Tussen die krake;
Tussen die stiltes;
Tussen die onbenoemdes;
Tussen hulle wie se lewens die afstand tussen openbare deug en die geleefde werklikheid blootstel.
Dáár moet teologie weer begin leer om te lees.
Nie net tekste nie.
Nie net tradisies nie.
Nie net dogmas nie.
Maar die merke wat deur die samelewing self gelaat word.
Uiteindelik gaan die vraag nie alleen oor wat ons glo nie, maar oor wat ons lewe hier saam moontlik en onmoontlik maak vir die mense wat in ons sorg geplaas word.
Dr Vusi M. Vilakati is 'n outeur, navorser, organisasie konsultant, leierskapsafrigter, en predikant, wie se werk leierskapsteorie, spiritualiteit en Afrika-bewussyn byeenvoeg.
Uit die oorspronklike Engels vertaal deur Hercules Boshoff.
Uittreksel uit 'n keynote toespraak wat gelewer is by die Universiteit Stellenbosch se winterskool oor etiek en teologie, op Donderdag, 11 Junie 2026, met vergunning van die outeur.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.








