Ten spyte van sy gevangeniskap deur die Apartheid-regime en die feit dat hy hoofsaaklik Frans met sy vrou Yolande gepraat het, het Breyten Breytenbach bly dig in Afrikaans, wat hy beskryf het as die taal van sy “voor-redelike self”.
Ek het jare laas iets meer gesofistikeerd as 'n Whatapp-boodskap in my moedertaal gekomponeer, maar as ek soos James Joyce in A Portrait of the Artist as a Young Man die herinneringe van my kinderdae moes weergee in 'n woordkeuse wat my bewussyn op daardie oomblik sou weerspieël, sou die eerste dekade of so van my lewe meestal in Afrikaans beskryf moes word.
Die Afrikaans van my kinderjare was baie Bybels (1983-vertaling). Ons was in die NG Kerk, nie Doppers nie: Ons het psalms en gesange in die kerk gesing en soms tydens aanddienste 'n worship song of twee, maar dinge het nooit so hêppie-klêppie geraak soos in die AGS kerk nie. Ek onthou woorde soos “konsistorie” en “kerklike tug”… en “ouderling”, soos my Ouma was. My ma vertel die ander dag vir my dat hulle kerk weens finansiële nood met 'n ander gemeente in die omgewing moes saamsmelt, en die kerkgebou in die mark moes sit. Ek is seker dis 'n algemene verskynsel. Dis soos daai mimetiese beeld van die blonde dogtertjie met die tweeling torings in die agtergrond wat sê, die wêreld waarin jy grootgeword het, bestaan nie meer nie.
Wat maak 'n mens met al hierdie herinneringe, kinderloos in Londen, omring deur vreemdelinge? In 'n tradisionele omgewing is taal en kultuur iets wat oorgedra word van een geslag tot die ander. Maar kom ons draai nie doekies om nie: Die Afrikanervolk was nog nooit 'n tradisionele affêre nie. Ons is die afstammelinge van mense wat, soos die Franse mistieke filosoof Simone Weil dit sou stel, diep ontwortel was. Dié wat ontwortel is, ontwortel ander. Jongmense het destyds in Soweto gesterf tydens protesoptogte teen die gebruik van Afrikaans as 'n instrument van geestelike kolonialisering. Globale Anglisasie is 'n meer subtiele proses. Die Amerikaanse digter en literêre kritikus Kevin LaTorre het my verwys na 'n “dagboekinskrywing” van J. M. Coetzee waarin hy sy vorige onvoorwaardelike omhelsing van Engels as medium van bevryding bevraagteken. Hierdie besef dryf hom egter nie terug na die kombuistaal van sy voorsate nie, maar motiveer hom om in 'n gedokterde Engels te skryf wat makliker in Spaans vertaal kan word.
Op suiwer taal- en geskiedkundige gronde sou dit moeilik wees om te stry vir die voortbestaan van Afrikaans bo die honderde ander tale wat op die rand van uitsterwing is. Ek is nogtans dankbaar dat ek in Afrikaans grootgeword het, veral omdat dit het my aangespoor het om ander tale aan te leer. In 'n era van oombliklike kunsmatige vertolking is dit belangriker as ooit om die waarde van veeltaligheid te beklemtoon. One size does not fit all.
Ironies genoeg, ná Apartheid het Afrikaanse skole opgehou om Afrikatale aan te bied, so ek het Frans as my derde taal aangeleer. Ek het op universiteit halfhartig gepoog om Zoeloe baas te raak, maar my taalvaardighede is steeds merendeels tot sekere takke van die Europese taalfamilie beperk. Nietemin herken ek my siel as 'n afstammeling van die hele mensdom. Op hoërskool is ek aan die wonders en gruwels van die oeroue Indiese beskawing blootgestel deur boeke soos Salman Rushdie se Midnight’s Children, Arundhati Roy se The God of Small Things en Kiran Desai se The Inheritance of Loss, en later die Bhagavad Gita en die Oepanisjads.
En tog, was dit nie 'n hunkering na 'n beloofde land in die Ooste wat my genetiese voorvaders gedryf het om 'n halfwegstasie aan die onderkant van Afrika te open nie? Nou lyk dit of die wêreld in die teenoorgestelde rigting beweeg. Oral wil volke laer trek. Van die oranje, blanje, blou van die ou Suid-Afrika tot die saffraan van Modi se Bharat en die ster van Dawid wat oor die heuwels van Judea en Samaria wapper: is dit dieselfde draak wat Umberto Eco l’Urfascismo genoem het wat ooral kop uitsteek, of bestorm ons virtuele windmeule?
My pa stuur nou die dag vir my 'n artikel oor die toenemende hoeveelheid Suid-Afrikaners wat 'n u-turn maak uit die VK uit. Dalk is dit ons Afrikaners se lot om heen-en-weer te swerwe, soos swaeltjies vir ewig op soek na somer.
Mary Jane Eyre het in Suid-Afrika grootgeword en bly in Londen. Hul Substack The Extremely Difficult Realisation is geïnspireer deur die gesegde van Iris Murdoch: “Liefde is die ontsettend moeilike besef dat iets anders as die self bestaan”.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.












