Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) het herbevestig dat vroue nie in kerklike ampte mag dien nie, op grond van Skriftuurlike argumente. Baie mense wat met die besluit verskil, erken tog dat die besluit konsekwent in lyn is met die Bybel.
Diegene wat ten gunste daarvan is dat vroue in die besondere ampte moet kan dien argumenteer dat die Bybelse verbod op vroulike ampsdraers die gevolg van die kultuur van daardie tyd was. In die destydse kultuur het mans oorwegend buite die huis gewerk en 'n inkomste verdien. Vroue het gefokus op versorging van die gesin. Die Skriftuurlike argument is beskou as iets wat slegs van toepassing was vir daardie tyd, maar nie noodwendig geldig is in vandag se kultuur nie. Eietydse kultuur lyk anders. Moderne vroue het ook loopbane en verdien dikwels meer as hulle mans. Hulle kan ook bekwaam buite die huis funksioneer. Deesdae studeer meer vroue aan universiteite as mans. Onlangs het die minister van basiese onderwys gerapporteer dat 10% meer meisies inskryf vir matriek as seuns.
In 'n samelewing waar baie vroue deelneem aan besluitneming in korporatiewe raadsale kan jy dit nie meer regverdig om vroue by besluitneming in kerklike vergaderings uit te sluit nie. Om hierdie rede word die Skriftuurlike argument tersyde gestel op grond van 'n kulturele argument.
Demografiese faktore
Dit is egter ook sinvol om die kultuur van 'n tyd te beoordeel in terme van die demografie van die tyd.
In die Bybelse tye was kindersterftesyfers hoog. Daar was geen skole of pensioenfondse nie. Ter wille van oorlewing van die samelewing was dit noodsaaklik dat gesinne groot moes wees. 'n Vrugbaarheidskoers van tussen 6 tot 10 kinders was algemeen in daardie tye. Om so 'n koers te onderhou, was dit nodig dat take verdeel word. Mans moes 'n inkomste verdien en vroue moes omsien na die gesin. Die kultuur is gedryf deur die demografiese werklikhede van daardie tyd.
In vandag se tye lyk die demografie egter anders. Danksy mediese ontwikkeling het kindersterftesyfers gedaal. Dit het gelei tot 'n sterk groei in bevolkings in die 20ste eeu. Dit het weer aanleiding gegee tot 'n demografiese narratief dat as die wêreldbevolking aanhou groei, dit uiteindelik tot oorbevolking gaan lei en uitputting van die wêreld se hulpbronne. Oor die wêreld heen is gesinsbeplanning aangemoedig. In die Weste is 'n gesin met twee kinders as die ideaal voorgehou. China het 'n een-kind-beleid vir lank onderhou. Vroue is aangemoedig om toe te tree tot die werksmag en die versorging van kinders is oorgelaat aan sorgsentrums en skole. Meer mense in die werksmag het gelei tot ongekende ekonomiese groei, wat bekend staan as die “demografiese dividend”.
Dit het verder gelei tot 'n kultuur waar daar nie meer 'n duidelike taakverdeling is tussen man en vrou nie. Beide verdien 'n inkomste en opvoeding word oorgelaat aan skole. Binne hierdie kultuur het dit moeiliker geword om te regverdig dat vroue nie in kerklike ampte mag dien nie. Kerke het hulle teologie aangepas om in lyn te wees met die kultuur.
Moderne kultuur se demografiese krisis
Die gevolge van dekades se gesinsbeplanning begin egter nou sigbaar word. Meeste lande in die ooste en die weste se vrugbaarheidskoerse (gemiddelde hoeveelheid kinders per vrou) is nou onder die vervangingsyfer van 2,1.
Slegs enkele lande in Sentraal-Afrika en die Midde-Ooste is daarbo. China se koers is 1,02 en in Spanje is 1,21. In Europa is die hoeveelheid werkers per pensioenaris 2,7 waar dit 7,5 was in 1950. Oor tyd veroorsaak die dalende vrugbaarheidskoers dat die welsynstate nie meer voordele soos pensioen en mediese versorging kan bekostig nie.
'n Dalende hoeveelheid werkende jonger mense moet belasting betaal om 'n groeiende hoeveelheid bejaardes te versorg.
Daar is geen aanduiding dat vrugbaarheid oor die algemeen gaan styg in die lande waar bevolkings krimp nie. Gemeenskappe waar taakverdeling nie slegs in die kerk nie, maar ook in die breër samelewing ingestel word, het egter 'n hoop om te oorleef.
Die besluit van die GKSA is daarom nie bloot 'n laaste stuiptrekking van 'n kerk wat nie inpas by die heersende kultuur nie: Dis dalk die begin van herleefde gemeenskappe waar take verdeel word, nie net in die kerk nie, maar ook in die breër samelewing, en waar die demografiese doodsiklus van die heersende kultuur omgekeer word.
Nog artikels deur Bouwe van der Eems:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










