FRIEDRICH SCHILLER | Die Nut van Geskiedenis
Hercules Boshoff se vertaling van die Duitse filosoof en skrywer Friedrich Schiller se intreerede, gelewer in Jena in 1789.
Op 26 en 27 Mei, 1789, weke voor die uitbreek van die Franse Revolusie, lewer die digter, Friedrich Schiller (bekend aan die leser deur verhale soos Wilhelm Tell) sy intreerede in by die Universiteit van Jena (vandag die Schiller Universiteit).
Die pos is deur sy boesemvriend, die digter Goethe gereël, wat staatsminister was en oor aangeleenthede soos opvoeding oorsig gehou het. Studente het opmarse gereël in aanloop tot die lesing sodat 'n groter lokaal verkry kon word, maar selfs die nuwe saal het steeds oorgeloop van mense. In sy lesing lewer Schiller 'n pleidooi vir 'n breë opvoeding in geskiedenis wat 'n bolwerk teen despotisme kan verskaf, en laat hom voorts sterk uit teen diegene wat slegs toegepaste opvoeding voorstaan, wat hy “broodgeleerdheid” noem. Dit gaan vir Schiller hier uiteindelik oor beskawingsgeskiedenis, en die teks word beskou as 'n klassieke teks van die totstandkoming van die moderne universiteit en die klem op opvoeding (Bildung).
Hier volg dan 'n vertaling na Afrikaans.
"Eervol en heuglik is die opdrag vir my, hoogwaardige here, om sy aan sy met julle die toekoms tegemoet te tree in 'n veld wat soveel onderwerpe vir opvoeding aan die nadenkende persoon oopstel, aan die daadkragtige wêreldmens soveel heerlike voorbeelde ter nabootsing, die filosowe soveel gesaghebbende verduideliking; en aan elkeen, sonder voorbehoud, so 'n ryke bron van die edelste genoeglikheid verskaf.
Hierdie veld is die ruim en ryke veld van die universele geskiedenis. Die aanblik van soveel voortreflike jong mense wat my met 'n edele weetgierigheid omring, en in wie se midde heelparty werksame genieë vir die komende tyd sal opgroei, verskaf aan my genoeë in die uitvoer van my plig, maar bring my insgelyks voor die besef van die strengheid en gewigtigheid van hierdie taak. Hoe groter die geskenk wat ek aan u te bied het is – en watter groter geskenk het mens aan ander oor te gee as waarheid –, soveel te meer moet ek sorgsaam wees dat hulle nie die waarde hiervan onder my toesig gering sal maak nie.
Hoe lewendiger en suiwerder julle gees die werksaamhede van die universele geskiedenis in hierdie geluksalige tydsgewrig ontvang, soveel groter is die uitdaging aan my om te verhoed dat hierdie entoesiasme, wat slegs waarheid die reg het om op te roep, sal verwater vanweë bedrieglikheid en denkbeelde, wat die waarheid onwaardig is.
Vrugbaar en omvangryk is die terrein van die geskiedenis; in die waardering daarvan lê die hele morele wêreld opgesluit. Deur alle omstandighede wat die mens beleef begelei die geskiedenis hom, deur alle wisselende uitdrukking van menings, sy foute en sy wysheid, sy verswakking en sy veredeling; van alles wat die geskiedenis gee en neem moet hy rekenskap gee. Daar is geeneen onder julle vir wie die geskiedenis nie iets belangrik te sê het nie, die toekomstige bestemming van julle verskillende weë is verknoop daaraan. Die een bestemming wat julle almal reeds in die wêreld inbring, naamlik om opgevoede mense te word, deel julle almal met mekaar – en tot mense rig die geskiedenis sigself.
Alvorens ek dit kan onderneem, here, om die verwagtings van hierdie onderwerp waartoe julle vlytigheid gerig is, duideliker te omlyn en te koppel aan die eintlike doelwit van julle verskillende studies, sou dit nie oorbodig wees om duidelikheid te kry oor hierdie doel nie. 'n Voorlopige, passend en waardige opheldering van die doel, om sodoende ons toekomstige akademiese verbintenis oop te maak, stel my daartoe in staat om u aandag naas die opheldering op die belangrikste deel van die wêreldgeskiedenis te rig.
Gans verskillend is die studieplan wat die broodgeleerde aan sigself opdis as die een wat die filosofiese denker in die vooruitsig stel. Elkeen wat sy vlytigheid alleen daartoe rig om te voldoen aan die vereistes om 'n amp vaardig te beklee en te deel aan die voordele daaraan verbonde, hy wat alleen die kragte van sy gees daarrondom in beweging plaas om daardeur sy sinnelike toestand te verbeter en 'n klein roemsug te bevredig, so 'n persoon stel by die intrede van sy akademiese loopbaan geen aangeleentheid hoër op prys as om die wetenskappe wat hy broodstudies noem, met die grootste moeite af te sper van alle ander, wat die gees alleen genoegdoening verskaf. Die tyd wat hy aan laasgenoemde bestee, skyn vir hom 'n verkwisting van tyd te wees wat hy in sy toekomstige beroep kon bestee, 'n onvergeeflike berowing. Hy wil sy vlytigheid tot die uitdagings rig wat die toekomstige meester van sy noodlot bepaal, en sal eers tevrede wees wanneer hy nie meer die beproewings wat deur hierdie meester opgelê word vrees nie. Nadat hy sy kursus deurgemaak het en die doel van sy wens bereik het, laat hy sy leidster agter, want waarom wil mens jou verder vermoei? Die vernaamste is vir hom om te pronk met die saamgeflansde gedagtes en te verhoed dat die waardering vir hierdie idees nie taan nie. Die uitbreiding van sy broodstudies verontrus hom, omdat dit nog werk skep en dit wat gedoen is ongedaan maak; elke belangrike nuwigheid skrik hom af, want dit verbreek die ou patroon wat hy so moeisaam toegeëien het, dit stel hom in gevaar om al die werk van sy vorige lewe te verloor.
Wie skreeu meer as die hoofde van die broodgeleerdes teen hervormers? Wie belemmer die voortgang van die nuttige revolusie in die ryk van kennis meer as hierdie mense?
Elke lig wat deur 'n geluksalige genie, in welke wetenskap dan ook, aangesteek word, maak hulle gebrekkigheid sigbaar; hulle veg met verbetenheid, met verraderlikheid, met vertwyfeling, omdat hulle by die skoolsisteem wat hulle verdedig, tegelykertyd om hulle bestaan baklei. Hieruit sien ons dat daar nie 'n meer onversoenbare vyand, geen nydiger beampte, geen een gewilliger tot verkettering van ander is as die broodgeleerde nie. Hoe minder sy kennis as sodanig hom loon, hoe meer verwag hy van buite. Vir die verdienste van die handwerker en die van die gees het hy net een maatstaf, naamlik moeite. Niemand kla meer oor ondankbaarheid as die broodgeleerdes nie; nie by sy denkskatte soek hy sy loon nie, sy loon wag hy af van vreemde erkenning, van eervolle posisies, van voogde. Sou dit hom nie beskore wees nie, sal daar iemand ongelukkiger as die broodgeleerde wees? Hy het verniet geleef, gewaag, gewerk; hy het verniet na waarheid gesoek indien die waarheid hom geen goud, koerantaanprysing, en guns by die vorste in die hand gewerk het nie.
Beklaenswaardig is die mens wat met die edelste van alle werkstuie, met wetenskap en kuns, niks hoër wil en uitrig nie as die dagloner met die swakste werktuie! Hy wat in die ryk van die mees volkome vryheid 'n slawesiel in hom ronddra!
Nog meer beklaenswaardig is die geniale jong mens, wie se natuurlike, skone gang deur skadelike leerstellings en foute op hierdie tragiese afdraaipad geplaas word, en hierdie vlietende aangeleenthede noukeurig te orden vir sy beroep. Gou sal sy beroepswetenskap aan hom voorkom as 'n stukwerk, wense sal in hom opgroei wat onbevredig sal bly, sy vermoëns sal teen sy situasie in opstand kom. Alles wat hy doen skyn aan hom blote brokstukke te wees, hy kan geen doel in sy werksaamhede sien nie, en tog kan hy die doelloosheid nie uitstaan nie. Die vermoeiendheid en geringheid in sy beroepstake druk hom ten gronde, omdat hy nie die vrome moed kan bymekaarskraap wat die helder insig begelei nie. Alleen die voldoening aan verwagtings hou hom besig. Hy voel afgesny, weggeskeur uit die samehang van dinge, omdat hy nagelaat het om sy doenighede aan die groter geheel van die wêreld te koppel. Vir die regsgeleerde is die regsgeleerdheid nutteloos sodra 'n beter kultuur opflikker, in plaas daarvan om uit hierdie opflikkering daarna te streef om 'n skepper van nuwe wette te wees en die ontdekte probleme uit innerlike vervulling te verbeter. Die dokter vervreem hom van sy beroep indien ingrypende foute die onvolhoubaarheid van sy sisteem uitwys; die teoloog verloor agting vir sy beroep sodra die onfeilbaarheid van sy sisteem wankel.
Hoe anders is die ingesteldheid van die filosofiese denker! Eweseer sorgvuldig as die broodgeleerde sy wetenskap van alle oortolligheid afsonder, streef elkeen om sy veld te verbreed en sy verbintenis aan die ander velde te herstel – herstel sê ek, want slegs die abstraherende verstand het die grense getrek, het elke wetenskap van die ander afgesonder. Waar die broodgeleerdes skei, daar verenig die filosofiese gees. Vroeg reeds het hy homself oortuig dat alles in die verstand, soos in die sintuiglike wêreld, met mekaar verband hou, en sy aandrif tot die lê van verbande kan met brokstukke nie bevredig word nie. Al sy strewes word gerig tot die voleinding van sy kennis; sy edele ongeduld kan nie rus tot al sy begrippe tot 'n harmoniese geheel georden word nie, tot hy in die middelpunt van sy kuns, sy wetenskap staan en van hier uit sy gebied met 'n bevredigde blik oorskou nie. Nuwe ontdekkings in die veld van sy bedrywighede, wat die broodgeleerdes neerslagtig laat, prikkel die filosofiese gees. Dalk vul die ontdekkings 'n gaping wat die wordende geheel van sy begrip gestalte sal gee, of plaas dit die laaste steen op sy ideegebou. Sou die gebou deur 'n nuwe ideeryk, 'n nuwe natuurbeskouing, 'n nuut ontdekte wet van liggame platgeslaan word, dan sal sy liefde vir die waarheid, wat die toegeneentheid tot sy sisteem oortref, daarvoor sorg dat hy die gebrekkige vorm met 'n nuwer en skoner vorm vervang. Inderdaad, indien geen uitdaging van buite sy ideegebou skud nie, is dit hyself, oorgehaal deur 'n ewig-werksame drif tot verbetering, wat eerste alles wat onbevredigend aanmekaarsteek, volkome saam te voeg. Deur immer nuwe en skoner ideevorme betree die filosofiese gees hoër voortreflikheid terwyl die broodgeleerdes in 'n ewige geestesstilstand die onvrugbare eenduidigheid van sy skoolbegrippe beskerm.
Daar is nie 'n meer geregverdigde beoordelaar van die verdienste van ander as die filosofies gestemde denker nie. Skerpsinnig en innoverend genoeg is hy om elke aktiwiteit te benut, hy is ook billik genoeg om die innoveerder van die geringste uitvinding te vereer. Vir hom werk alle denkendes die broodgeleerdes teë. Laasgenoemde weet hoe om alles wat om hom gebeur en gedink word in selfverryking om te skakel– tussen denkendes geld 'n innige gemeenskap van goedere van die gees. Wat een in die ryk van die waarheid bereik, het hy vir alle verwerf. Die broodgeleerde stel hom op teen al sy genote, wat hy nydig son en lig ontsê, hy bewaak met sorg die bouvallige beskuttings wat hom maar swak teen die seevierende rede kan verdedig. Alles wat die broodgeleerde onderneem benodig aanmoediging en prikkeling van buite; die filosofiese gees vind in sy aard, in sy vlytigheid self prikkeling en beloning. Hoeveel meer begeester kan hy sy werk aanpak, hoeveel lewendiger word sy ywer, hoeveel durender is sy moed en sy daadkrag, omdat sy werk verjong deur die werksaamheid self. Kleinheid verkry grootsheid in sy skeppende hand, omdat hy daarmee deurlopend grootsheid, wat die kleine dien, in sy visier hou, terwyl die broodgeleerde in selfs die groot dinge net die kleine insien. Nie wat hy verrig nie, maar eerder hoe hy dit wat hy verrig, behandel, onderskei die filosofiese gees. Waar hy ook staan en werk, staan hy altoos in die middelpunt van die geheel; en hoe ver die onderwerp van sy werksaamheid hom van sy onderskei, tog is hy aan hulle verwant en naby deur 'n harmonieus werkende verstand; hy ontmoet hulle waar alle helder koppe mekaar vind.
Sou ek hierdie skildering verder voer, hoogwaardige here, of durf ek hoop dat dit tot julle deurgedring het watter van die twee beelde wat ek hier opgehou het, vir julle as model sal dien? Van die keuse wat julle hiertussen getref het, hang dit af of julle die studie van die universele geskiedenis aanbeveel of agterlaat. Ek het dit hier slegs oor die tweede portret, want die strewe om die eerste portret te benut mag die wetenskap te ver van sy eindtaak vervreem en 'n geringe oorwinning koop met 'n te groot offer.
Noudat ek eens is met julle oor die gesigspunt waaruit die waarde van 'n wetenskap bepaalbaar is, kan ek 'n duideliker begrip van die universele geskiedenis, wat die onderwerp van ons lesing is, toenader.
Die ontdekkings wat ons Europese seevaarders in verre oseane en verafgeleë kusste gemaak het, gee ons self so 'n leersame en heilsame skouspel. Hulle wys ons op volke wat in verskillende stadiums van ontwikkeling om ons geleë is, soos kinders van verskillende ouderdomme om 'n volwassene staan en deur hulle voorbeeld hom herinner hoe hy eenmaal was en waaruit hy wegbeweeg het. 'n Wyse hand skyn ons van hierdie rou stamme tot nou toe af te sper, waar ons in ons eie kultuur ver genoeg ontwikkel blyk te wees, om van hierdie ontdekking 'n nuttige aanwending op onsself van toepassing te maak, en 'n spieël van die vergete begin van ons menslike geslag daardeur aan onsself op te hou. Hoe beskamend en treurig is die beeld wat hierdie volke van ons kindwees gee! En tog is dit nie die eerste stap van die mens wat ons hier waarneem nie. Die mens begin nog op 'n meer veragtelike wyse. Ons bevind die volke as reeds-gevormde politieke gemeenskappe: maar die mens moes sigself eers deur 'n buitengewoon moeisame proses tot politieke geselskap ophef.
Wat vertel die reisbeskrywers van hierdie wilde mense? Sommige vind hulle sonder bekendheid met die onontbeerlikste kunste, sonder eise, sonder plig, sommige selfs sonder die vermoë om vuur te maak. Sommige wedywer nog met wilde diere om kos en woonplek, by vele het taal skaars verby dierlike geluide tot by verstaanbare klanke ontwikkel. Hier is nie eens die eenvoudige band van die huwelik aanwesig nie, daar is kennis van eiendom nie, hier kan die pap siel nog nie eens aan 'n ervaring vashou wat hy tog daagliks herhaal nie; mens sien hoe hulle sorgloos aan die wilde diere die plek opgee waar hulle vanaand moet lê, omdat dit hierdie mens nie te binne skiet dat hy môre weer moet slaap nie. Oorlog is daar egter wel by almal, en die vlees van die oorwonne vyand is nie selde die prys van die oorwinning nie. By ander wat met meer gemak in die lewe vertroud is, en reeds 'n hoër trap in ontwikkeling bereik het, skilder knegskap en despotisme 'n weersinwekkende beeld. Iewers sien 'n mens 'n despoot in Afrika sy onderdane vir 'n sluk brandewyn verhandel; elders word hulle by sy graf geslag om hom in die onderwêreld te dien. Eenmaal rig hy sy vrome eenvoud tot 'n lagwekkende fetisj en dan lê hy dit voor 'n gruwelike monster neer; in sy skilder van die gode verf die mens homself. So diep as wat hy voor slawerny domheid en bygeloof neerbuig, so ellendig is hy hier deur die matelose vryheid. Altyd gereed vir aanval en ter verdediging weggehou, open die wilde mens sy oor sku oor die woestyn, hy hoor in alles wat nuut is net: vyand, en wee die vreemdeling wat deur onweer aan sy kus uitspoel! Geen bekostigbare haard sal vir hom vuur maak nie, geen gasvryheid sal hom tot vreugde stem nie. Selfs daar waar die mens vanuit vyandige eensaamheid tot samelewing, van nood tot wellewendheid, vanuit vrees tot vrede opgehef word– hoe vreemd en monsteragtig vertoon dit in ons oë! Sy rou smaak soek vrolikheid in gevoelloosheid, skoonheid in verdraaidheid, roem in oordrewenheid, selfs sy deugde wek afsku by ons, en dit wat hy sy geluksaligheid noem, kan by ons walging en patos meebring.
So was ons. Nie veel beter vind Ceasar en Tacitus ons agtienhonderd jaar gelede nie.
Wat is ons nou? Laat my een oomblik stilstaan by die tyd waarin ons lewe, by die teenswoordige gestalte van die wêreld waarin ons tans woon. Die menslike vlytigheid het dit opgebou en die wederstrewige bodem deur sy volharding en bevoegdheid oorwoeker. Enersyds is vanuit die damme land uitgekeer, andersyds is die dorre land met mere gevul. Die mens het seisoene en jaargetye vermeng en die sagte plante van die ooste tot sy rowwe klimaat verhard. Soos hy Europa na die Wes-Indies trek, laat hy die Asiate herontwaak. 'n Vrolike hemel glimlag oor die woude van Germania, wat die sterke mensehand oopgetrek en vir die sonstrale oopgemaak het, en in die golwe van die Ryn word Asië se wingerde gespieël. Aan sy oewers verrys volkryke stede, wat swerm van genot en arbeid met opgewekte lewenslus. Hier vind ons die mens veilig in sy verworwe vreedsame eienaarskap tussen miljoene ander, waar voorheen selfs 'n enkele buurman hom van sy rus sou beroof. Die gelykheid, wat hy met sy intrede in die samelewing verloor, het hy weer teruggewen by wyse van wette. Van die blinde dwang van die toeval en die nood het hy hom losgemaak en aan die sagte heerskappy van die verdrag onderwerp, en die vryheid van die roofdier sodoende prysgegee om die edele vryheid van die mens te red. Ruimgeestig het hy sy sorge en werksaamhede onderverdeel. Die gebiedende behoefte bind hom nie langer aan die ploegskaar nie, nou ontruk 'n vyand hom ook nie meer van die ploegskaar na die slagveld om sy Vaderland te verdedig nie. Met die arms van sy landsmense vul hy sy skure, met die wapens van 'n kryger beskut hy sy woongebied. Die wet hou waak oor sy eiendom – en vir hom bly die onskatbare reg staan, om aan homself sy eie plig op te lê.
Hoeveel skeppingswerke van die kuns het tot stand gekom, hoeveel wondere van die vlytigheid, watter lig in alle velde van die kennis, sedert die mens uit selfverdediging sy kragte nie meer onnodig verteer nie, sedert dit aan sy wil oorgelaat word om hom los te koop van sy nood, wat hy steeds nie ten volle kan ontvlug nie; sedert hy die kosbare voorreg verwerf het om self oor sy vaardighede te beslis en die roepstem van sy eie genie te volg! Hoe flink is die doenighede oral sedert die vermenigvuldigde begeertes aan die ontdekkingsgees nuwe vlerke gegee het en vir die vlytigheid nuwe ruimte oopgemaak het!– Die skanse is deurbreek wat state en nasies vyandig in egoïsme van mekaar afsonder. Alle denkers verknoop tans 'n wêreldburgerlike band, en al die lig van sy eeu kan die gees van 'n nuwe Galilei en Erasmus verhelder.
Sedert die wette na die swakheid van die mens afgedaal het, het die mens ook die wette trotseer. Deur hulle het hy sagter geword, soos hy met die wette ook wild geword het; hulle barbaarse strawwe volg die barbaarse misdade geleidelik in die vergetelheid in. 'n Meer edele stap het plaasgevind met die deugdelikheid van die wette, ofskoon die mens nog nie self deugsaam geword het nie. Waar die dwang van die mens afsien, daar neem die sedes oor. Hy vir wie geen straf afskrik en geen gewete beteuel nie, word tans deur die wette van die fatsoenlikheid en eer in toom gehou.
Dit is ook waar dat sekere oorblyfsels van barbaarsheid uit die verlede tot ons tyd deurgedring het, kinders van die toeval en geweld, wat ons tyd van die rede nie moet laat voortduur nie. Maar hoeveel nuttigheid het die verstand van die mens ook aan hierdie barbaarse nalatenskap van die Antieke tyd en Middeleeue gegee! Hoe onskadelik, ja hoe nuttig het hy dikwels die dinge gemaak wat hy nog nie durf om te ondermyn nie! Op die ruwe grond van die leenstelselanargie bou Duitsland sy politieke en kerklike vryheid. Die silhoeët van die Romeinse keiserdom wat sigself duskant die Apennyne onderhou, vermag in die wêreld tans meer goed as sy skrikwekkende oervorm in antieke Rome – want dit bind 'n bruikbare sisteem van state deur eendrag saam: eersgenoemde onderdruk die aktiefste kragte van die mensdom in 'n slaafse eenvormigheid. Selfs ons religie– so erg misvorm deur die ongelowige hande waardeur dit aan ons oorgelewer is– wie kan daarin die veredelende invloed van die beter filosofie ontken? Ons Locke’s en Leibnitze het op die terreine van die Dogma en moraliteit vermag wat die potlode van 'n Raphael en Corregio vir die heilige geskiedenis beteken het.
Uiteindelik ons state– met watter intimiteit, met watter kuns is hulle in mekaar verweef! hoe veel meer volhoubaar deur die welduidende dwang van die nood as voorheen deur die plegtigste verdrae verbroeder! Die vrede verhoed tans 'n ewigdurende oorlog, en die selfliefde van 'n staat stel hom as bewaker oor die welstand van ander. Die Europese staatsverbond skyn in 'n groot familie verweef te wees. Die huislede kan mekaar vyandig bejeën, maar hopelik nie meer mekaar verskeur nie.
Hoe teenstrydig is dié voorstellings nie! Wie sal alleen in die verfynde Europeër van die agtiende eeu 'n meer gevorderde broer van die moderne Kanadees en die ou Kelte raaksien? Al hierdie vaardighede, kunstige impulse, ervarings, kunsdrifte, al hierdie skeppings van die rede, is in die spasie van 'n paar duisend jaar in die mens aangeplant en ontwikkel; al hierdie wondere van die kuns, hierdie reusewerk van die vlytigheid is uit hom opgeroep. Wat ontwaak hom tot lewe, wat lok dit uit hom uit? Watter toestande deurtrap die mens voordat hy van die een uiterste tot die ander uiterste, van asosiale grotbewoners tot geesryke denker, tot gevormde wêreldmens verrys? Die algemene geskiedenis gee antwoord op hierdie vrae.
Indien ons volke op dieselfde landstreke in verskillende tye aanskou, is die onvergelykbaarheid onmeetbaar! Nie minder opvallend is die onderskeid wat aan ons gebied word in die huidige tydsgewrig, maar in verskillende lande nie. Hoeveel verskeidenheid in gebruike, grondwette en sedes! Watter skielike wisseling van donkerte en lig, van anargie en orde, van welgeluksaligheid en ellende, indien ons die mense ook in die klein wêrelddeel van Europa opsoek! Vry aan die Teems, en self verantwoordelik vir hierdie vryheid; enersyds ontembaar tussen sy Alpe, andersyds tussen sy kunsmatige riviere en moerasse onoorwinlik. Aan die Vestula is hy deur tweedrag magteloos en ellendig. Oorvloedig en geseënd in Amsterdam is hy sonder oeste; gebrekkig en ongelukkig is hy aan die Ebro se onderbenutte paradys. In een geval is twee afgeleë volke deur 'n oseaan geskei en tot bure gemaak deur behoefte, kunstigheid en politieke pande; in 'n ander geval word die bewoners rondom 'n rivierstroom deur 'n ander ingesteldheid onmeetbaar geskei! Wat lei Spanje se mag oor die Atlantiese oseaan tot in die hart van Amerika, en nie eens eenkeer oor die Tajo en Guadiana nie? Wat onderhou in Italië en Duitsland soveel trone en laat in Frankryk soveel behalwe een, verdwyn? – Die universele geskiedenis beantwoord hierdie vrae.
Dat ons ons in hierdie oomblik tesame bevind, met hierdie graad van nasionale kultuur, met hierdie taal, hierdie sedes, hierdie burgerlike voordele, hierdie mate van gewetensvryheid, is miskien die uitvloeisel van alle voorafgegane wêreldgebeurtenisse: die hele wêreldgeskiedenis moet minstens nodig wees om hierdie enkele oomblik te verklaar. Dat ons ons as Christene tesame aantref, moes hierdie religie, deur ontelbare revolusies voorafgegaan, uit die Jodendom voortbeweeg, moes dit die Romeinse staat presies so vind, as hy dit sou vind, om dit met vinnige, seevierende gang oor die wêreld te versprei en die troon van Caesar uiteindelik self moes bestyg. Ons ruwe voorvaders in die Thuringse woude moes die oormag van die Franke trotseer om laasgenoemde se geloof oor te neem. Deur sy groeiende rykdomme, deur die onkunde van volke en deur die swakheid van hulle heersers moes die klerus verlei en begunstig gewees het om hulle aansien te misbruik en stil gewetensmag in 'n wêreldse swaard te omskep. Vir ons om hier as Protestante versamel te wees moes die hiërargie in 'n Gregoruis en Innocentius al sy gruwel op die menslike geslag uitoefen, sodat die oorheersende morele verderf en die skreiende skandaal van geestelike despotisme deur 'n onverskrokke Augustiniaanse monnik uitgedaag kon word, wat die teken van wegbreek gegee het en die helfte van Europa losgeruk het van die Roomse hiërarge. Vir dit om te gebeur, moes die wapens van ons vorsste teen Karl V 'n godsdiensvrede afdwing; 'n Gustav Adolf moes die breek van hierdie vrede wreek, om sodoende 'n nuwe algemene vrede vir hulle in die volgende eeue te begrond. Stede sou hulle in Italië en Duitsland moes verhef, vir die fluksheid hulle hekke oopmaak, die kettings van die lyfeienes verbreek, die regterstaf uit onkundige tiranne se hande ruk en op hulle laat ag slaan deur 'n militante Hansa-liga, indien bedrywe en handel sou bloei en die oorvloed van kunste die vrede oproep, indien die staat die nuttige landman sou eerbiedig en deur die welmenende middelstand, die oprigters van ons hele kultuur, 'n duursame geluksaligheid vir die mensdom sou laat blom. Duitsland se keisers moes hulleself ontkragtig deur vir die eeue met die pousdom te struwel, met hulle vasale, met eersugtige bure – Europa moes sy gevaarlike oorvloedigheid in Asië se grafte ontlaai en die teenstribbelrige adel moes hulle verontwaardiging uitbloei in 'n moordende geregtigheid van die vuis van die Roomse kampanjes en heilige togte– sodat die chaos sigself kon uitsorteer en die strydende magte van die staat in 'n geseënde ewewig rus kon vind, waarvan ons huidige gemak die verdienste is. Indien ons gees sig uit die stommiteit wou verhef, waarin geestelike en wêreldse dwang hulle ingebind het, moes die versmoorde kiem van geleerdheid tussen woedende nalopers opnuut oopmaak, en 'n Al Mamun moes aan die wetenskap teruggee wat 'n Omar van hulle beroof het. Die ondraaglike ellende van die barbaarsheid moes ons voorvaders weg van die bloedige Goddelike oordeel na regterstoele dryf, verwoestende plae die medisinale dissipline tot nabetragting van die natuur terugroep, die ledigheid van die monnike moes vir die boosheid wat hulle bedrywighede geskep het, van ver af 'n plaasvervanger voorberei het en die profane vlytigheid moes in die kloosters die verpletterde oorblyfsels van die Augustiniaanse tydsgewrig tot die boekdrukkuns preserveer. Aan Griekse en Romeinse voorbeelde moes die orderdrukte gees van die Noordiese barbare hulle rig en die geleerdheid 'n band met die muses en die wraakgodinne vestig indien hulle 'n weg tot die hart sou vind en die naam van 'n mensebeeld hulle waardig sou wees. Maar sou Griekeland 'n Thucydides, 'n Plato, Aristoteles, sou Rome 'n Horasius, 'n Cicero, 'n Virgilius en Livius opgelewer het indien beide state nie tot die hoogtes deurgedring het wat hulle bereik het nie? Kortom, indien hulle hele geskiedenis hulle nie voorafgegaan het nie? Hoeveel innoverings, ontdekkings, staatlike en kerklike revolusies moes saamval om hierdie nuwe, brose kiem van wetenskap en kuns te laat groei! Hoeveel oorloë moes geveg word, hoeveel bande moes gesmee word om Europa eindelik tot die grondbeginsels van vrede te bring, wat state soos hulle burgers vergun om hulle aandag op hulleself te vestig en hulle kragte tot 'n verstandige doel te rig!
Selfs in die mees alledaagse uitvoering van take in die burgerlike lewe kan ons dit nie vermy om skatpligtig aan die vergange eeue te wees nie; die ongelykste periodes van die mensdom stuur na ons kultuur toe, soos die mees afgeleë wêrelddele tot ons luuksheid. Die klere wat ons dra, die speserye en die prys, baie van ons sterkste medisyne en selfs soveel nuwe werktuie wat ons tot die verderf lei– word dit nie deur 'n Columbus, wat Amerika ontdek, vooruitgeloop nie, Vasco da Gama, wat om die punt van Afrika seil nie?
'n Lang ketting van gegewens oorspan die teenwoordige tyd tot die beginpunte van die menslike geslag, wat soos oorsaak en gevolg inmekaar skakel. Slegs die oneindige verstand kan dit geheel en volledig oorskou; vir die mens is nouer grense gestel.
I. Ontelbare veel van hierdie gebeurtenisse het nog geen menslike teken en getuie gevind nie, of hulle is deur geen teken vasgelê nie. Daartoe behoort alles wat die menslike geslag self en die uitvinding van tekens voorafgaan. Die bron van alle geskiedenis is tradisie, en die hartklop van tradisie, is taal. Die ganse epog voor taal, so suksesvol dit ook vir die wêreld was, is vir die wêreldgeskiedenis verlore.
II. Nadat taal uitgevind en daardeur vir die mens die moontlikheid oopgestel is, om vergane dinge uit te druk en mee te deel, geskied hierdie meedeling aanvanklik deur die onsekere en wankelbare weg van legendes. Mondelings oorgedra, behou dit op hierdie wyse die vergane gebeurtenisse deur 'n lang trajek van geslagte, en omdat dit deur 'n medium beweeg wat verander, moes dit hierdie veranderinge ook self ondergaan. Die lewendige tradisie of die mondelingse legendes is derhalwe 'n seer onbetroubare bron vir die geskiedenis; daarom is alle gegewens vir die vaslê in skrif vir die wêreldgeskiedenis so goed as verlore.
III. Skrif is egter ook nie onverganklik nie; ontelbaar vele denkbeelde van die Antieke tyd is vernietig deur tyd en toeval, en slegs enkele kruike het geskrifte uit die ou wêreld vir die tyd van die boekdrukkuns gepreserveer. By verre die grootste gedeelte daarvan tesame met die sleutels wat dit aan ons sou verskaf, is vir die wêreldgeskiedenis verlore.
IV. Uiteindelik is onder die min wat die tyd behou het, 'n groot aantal deur lyding, deur onverstandigheid en dikwels selfs deur die genie van die beskrywer tot wanvoorstelling geplooi en onherkenbaar gemaak. Die wantroue groei met die oudste historiese denkbeeld, en dit verlaat ons nie eers by die weergee van hedendaagse gebeurtenisse nie. Indien ons luister na weergawes van 'n gebeurtenis wat vandag eers onder mense wat ons ken, met wie ons lewe, in die stad waarin ons woon, plaasgevind het, en ons moeite ondervind om uit die weersprekende berigte die waarheid te voorskyn te sien kom: watter moed kan ons hê vir nasies en tydsgewrigte wat deur vreemde sedes verder van ons verwyderd is as die duisende jare wat verloop het? – Die klein som van gebeurtenisse wat oorbly nadat alles wat genoem is afgetrek word, is die stof van die geskiedenis in die breedste verstaan daarvan. Wat en hoeveel van hierdie historiese stof behoort tot die universele geskiedenis?
Uit die hele som van gegewens grawe die historikus van die universum dié dinge uit wat op die teenswoordige gestalte van die wêreld en die toestand van die huidige generasie 'n wesenlike, onweerspreekbare en maklik naspeurbare invloed gehad het. Daar moet gelet word op die verhouding van 'n historiese datums tot die teenswoordige wêreldopvatting, om materiaal vir die wêreldgeskiedenis in te samel. Die wêreldgeskiedenis gaan vanuit 'n beginsel uit wat reglynig die begin van die wêreld teenstaan. Die werklike verloop van die gebeurtenisse daal van die oorsprong tot hulle mees onlangse ontplooiing af; die universele historikus styg vanaf die onlangse omstandighede wêreld opwaarts na die oorsprong van dinge toe. Indien hy van die afgelope jaar en eeu tot die voorafgaande in denke opklim en onder die gebeurtenisse, wat aan hom oopgemaak word, die dinge merk, wat die sleutel tot die daaropvolgende inhou – indien hy hierdie gang trap vir trap gestap het tot die begin, nie van die wêreld, want daarheen lei geen wegwyser hom nie – tot die begin van denkbeelde: dan staan dit hom vry om op die gebaande weg om te keer en vanaf die gids van hierdie gesketsde feite, ongehinderd en ligvoetig, van die begin van die denkbeelde tot die nuutste tydsgewrig af te daal. Hierdie is die wêreldgeskiedenis wat aan ons behoort en wat aan julle voorgehou sal word.
Omdat die wêreldgeskiedenis van die rykdom en die armoede aan bronne afhanklik is, moet daar soveel gapings in die wêreldgeskiedenis ontstaan, as wat daar leë streke in die oorlewering is. So ewewigtig, noodwendig en bepaald die wêreldgebeurtenisse uit mekaar ontwikkel, so onderbroke en toevallig word dit in die geskiedenis in mekaar gevoeg. Dit is daardeur dat daar tussen die gang van die wêreld en die van die wêreldgeskiedenis 'n merkbare wanbalans sigbaar is. Eersgenoemde kan mens met 'n ononderbroke voortvloeiende stroom vergelyk, waarvan daar in die wêreldgeskiedenis slegs plek-plek 'n golf belig word. Omdat dit voorts eenvoudig is om uit te wys dat die samehang van 'n verafgeleë wêreldgebeurtenis met die afloop van die verloopte jare makliker op die oog val as die verband tussen die gebeurtenis en ander gebeurtenisse wat dit voorafgaan of daarmee gelyk loop, so is dit eweseer onvermydelik, dat gebeurtenisse wat met die nuutste tydsgewrig ten nouste verbind is, in die tydsgewrig waarin hulle eintlik hoort, nie selde geïsoleer voorkom nie. 'n Voorbeeld ter illustrasie van hierdie soort van feit is die oorsprong van die Christendom en in die besonder die Christelike sedeleer. Die Christelike religie het so 'n veelvoudige aandeel in die teenswoordige gestalte van die wêreld, dat sy verskyning die belangrikste feit vir die wêreldgeskiedenis word, maar nie in die tyd waarin dit na vore tree of in die volk by wie dit aankom lê (uit gebrek van bronne) 'n bevredigende verklaring vir die verskyning daarvan nie.
So sal ons wêreldgeskiedenis niks anders as 'n optelsom van brokstukke word wat nie die naam van 'n wetenskap verdien nie. Hier kom die filosofiese verstand tot hulp, en deurdat hy die skakels van die brokstukke kunstig in 'n ketting bind, hef hy die optelsom tot sisteem op, tot 'n redelike samehang van die geheel. Sy bevestiging daarvan lê in die gelykheid en onveranderlike eenheid van die natuurwette en die menslike gemoed, waarvan die eenheid die oorsaak is, dat die gebeurtenisse van die mees verafgeleë antieke periode, onder die samewerking van vergelykbare uiterlike omstandighede in die nuwe tyd 'n terugkeer maak; dat van die nuutste verskynsels, wat in die omtrek van ons gewaarwording lê, tot dit wat tot 'n gesiglose verlede behoort gerig kan word om daarop 'n lig te werp. Die metode van die analogie is, soos oral, ook by die studie van die geskiedenis 'n kragtige hulpmiddel; maar dit moet deur 'n verhewe doel gereverdig word en met ewe veel versigtigheid as oordeelkundigheid beoefen word.
Die filosofiese gees kan nie lank by die materiaal van die wêreldgeskiedenis verwyl nie, anders word 'n nuwe drif in hom vaardig wat na ooreenstemming strewe – wat hom onweerstaanbaar aantrek om alles tot sy redelike natuur te assimileer en elke verskyning tot die hoogste werking, tot denke op te hef. Hoe meer dikwels en met meer gelukkige sukses hy die versoek hernuwe om die vergange tyd met die nuwe te verbind, des te meer neig hy om dit wat hy as oorsaak en gevolg sien, as middel en bedoeling te verbind. Een verskyning na die ander begin om die blinde vertwyfeling, die wettelose vryheid te temper en as 'n passende skakel in 'n samehangende geheel (wat net in sy voorstelling voorhande is) te pas. Gou vind hy dit swaar om homself te oorreed dat hierdie volgorde van verskynsels waaraan sy verstand soveel reëlmaat en voorneme verskaf, om hierdie eienskappe in die werklikheid te ontken. Dit is vir hom swaar om dit aan die blinde heerskappy van die noodlot toe te skryf wat onder die geleende lig van die verstand begin het om so 'n helder gestalte te gee. Hy neem dan hierdie harmonie uit sigself en plant dit in die orde van dinge oor, bedoelende dat hy 'n redelike doel in die gang van die wêreld en 'n doelmatige beginsel in die wêreldgeskiedenis inlees. Sodoende deurloop hy nogmaals die dinge en beproef dit aan die hand van elke verskynsel wat hierdie groot tentoonstelling aan hom verskaf. Hy sien dit deur duisende bepaalde feite en geregverdig en deur eweveel ander weerlê, maar so lank daar in die gang van verandering in die wêreld nog belangrike skakels ontbreek, solank die noodlot oor soveel gebeurtenisse die laaste antwoord nog terughou, verklaar hy die vraag nog onbeslis, en die mening geld wat aan die verstand hoër bevrediging en aan die hart groter geluksaligheid aanbied.
Dit behoef geen herinnering dat laasgenoemde benadering die wêreldgeskiedenis se ontvouing eers in die laaste tyd sal gadeslaan nie. 'n Oorhaastige aanwending van hierdie groot maat kan die geskiedskrywer maklik in die versoeking bring om die gebeurtenisse geweld aan te doen en hierdie gelukkige epog deurgaans wyer te laat strek omdat hy dit wil versnel. Opmerksaamheid oor hierdie helder en tog so nagelate sy van die wêreldgeskiedenis kan egter nie gou genoeg aangemoedig word nie, omdat hierdie opmerksaamheid by die hoogste onderwerpe van alle menslike strewes aansluit. Alreeds moet die stil visier op die (indien selfs net moontlike) doel, aan die fluksheid van die navorser 'n verkwikkende aansporing en 'n soete gerustheid verskaf. Vir hom sal selfs die kleinste vermoeienis belangrik wees indien hy dit onderweg teëkom of selfs 'n navolger op die weg lei om die probleem van die orde van die wêreld op te los, en die hoogste Gees in Sy skoonste werksaamheid te aanskou.
So behandel, hoogwaardige here, word die studie van die wêreldgeskiedenis vir julle self so aantreklik as wat dit 'n nuttige bedrywigheid is. Lig word julle in verstand en 'n gulhartige begeestering word in julle harte aangesteek. Julle sal julle gees van die algemene en kleinlike opinies van morele aangeleenthede speen, en omdat die groot beelde van volke sal oopsprei voor julle oë, sal julle op die haastige besluite in die oomblik en die beperkte oordeel uit selfsug kan verbeter. Wanneer julle die mense daaraan gewoond maak om hulle bestaan te koppel aan die hele geskiedenis en met laasgenoemde se sleutel die toekoms oop te sluit: so versluier julle die grense tussen lewe en dood wat die lewe van mense se eng en druk bestaan omsluit, so brei dit die optiek van sy kort bestaan uit in 'n oneindige ruimte en lei dit die individu ongemerk tot 'n groter begrip van menswees.
Die mens transformeer homself en vlug van die verhoog; sy opinies slaan op vlug en verander met hom: die geskiedenis alleen bly onveranderd op die toneel as die onsterflike burger van alle nasies en tydperke. Soos die Homeriese Zeus kyk hy met 'n ewe helder blik op die bloedige aktiwiteit van oorlog en op die vreedsame volke neer, hulle wat van die melk van hulle heersers onskuldig drink. Hoe mateloos die vryheid van mense ook in die verloop van die wêreld skyn oor te skakel, rustig kyk hy die verwarde spel toe; want sy oorspannende blik ontdek van ver hoe hierdie swewende vryheid aan die teuels van die noodlot gelei word. Wat die geskiedenis vir 'n Gregor en 'n Cromwell versluier, is dit daarvoor beywer om aan die res van die mensdom te openbaar: “dat die selfsugtige mens netelige take kan nastreef, maar onbewustelik die voortreflike daardeur kan bevorder.”
Geen valse skim kan die insig in die geskiedenis verblind nie, geen vooroordeel van die tye kan dit van sy verloop losskeur nie, want dit beleef die laaste noodlot van alle dinge. Alles wat ophou het vir hom ewe kort geduur: hy hou die verworwe olyfkrans vars en breek die obeliske wat die ydelheid inkluister. Wanneer hy die fyn ratwerk uitmekaarhaal, waardeur die stil hand van die natuur reeds vanaf die begin van die wêreld die kragte van die mens doelmatig ontwikkel het, en met noukeurigheid aandui wat in elke tydperk vir hierdie natuurplan verwerf is, so herstel die insig die ware maatstaf vir die geluksaligheid en verdienste, wat die heersende waan in elke tydperk op 'n ander wyse verdraai. Dit genees ons van die oordrewe bewondering van die Antieke en van die kinderlike verlange na vergange tye; en daarin dat die geskiedenis ons op ons eienaarskap bedag maak, laat dit ons die geprese goue tye van Aleksander en Augustus nie terugwens nie.
Sonder om dit te weet of so af te stem, het ons menslike eeu alle voorafgaande tydperke byeengebring. Aan ons behoort alle skatte, wat deur vlytigheid en genialiteit, rede en ervaring vanaf die lang verloop van tyd oorgelewer is. Uit die geskiedenis sal julle eers leer om waarde op dié dinge te plaas, wat deur gewoonte en onbetwiste eiendom ons van ons dankbaarheid ontneem: kosbare, duursame goedere, wat met die bestes en die edelste se bloed besmet is, wat deur die moeisame arbeid van soveel generasies bereik moes word! Wie onder julle, by wie 'n helder gees met 'n ontvanklike hart saamval, kan hierdie hoë plig indink sonder dat 'n stil wens in hom opkom om aan die komende geslag die guns te bewys wat hy nie langer aan ander in vervloë tye kan toeskryf nie? 'n Edele verlange moet in ons opgloei, om vanuit ons eie middele 'n bydrae te lewer, in hierdie onverganklike ketting, tot die ryk nalatenskap van waarheid, sedelikheid en vryheid, wat ons van die voorafgaande wêreld oorneem en verryk, en aan die volgende geslagte moet oorgee. Hierdie ketting loop deur alle menslike geslagte om ons vlietende bestaan in 'n geheel in te bind. Hoe verskillend die uitkomste mag wees, hulle wat in die burgerlike samelewing iets wil bydra kan dit doen! In elke prestasie is 'n pad tot onsterflikheid gebaan, glo ek, waar die daad leef en vorentoe beur, selfs al sou die naam van sy skepper vergete bly.”
Dr Hercules Boshoff is 'n navorser en skrywer, tans woonagtig in Stellenbosch. Sy nuutste boek Verantwoording is tans beskikbaar by Naledi uitgewers.
Nog artikels deur Dr Hercules Boshoff:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.








