"Fynproewer-rassisme" in die mediesefondsbedryf
'n Gegoël met afleidings oor bedrieglike eise sál aanspreeklikheid kniehalter.
Die Suid-Afrikaanse gesondheidsbedryf is die afgelope paar weke in rep en roer oor 'n omstrede verslag wat bevind het dat mediese fondse rassisties optree teenoor swart gesondheidspraktisyns.
Die Artikel 59-ondersoekpaneel, onder leiding van advokaat Tembeka Ngcukaitobi, beweer in hul bevindinge dat daar gediskrimineer word teen swart praktisyns, omdat mediese fondse meer geneig is om bedrog, vermorsing of misbruik te identifiseer by dié praktisyns en dan daarteen op te tree. Die bevindinge is reeds deur onder meer Discovery Health en die Raad van Gesondheidsfinansiers (BHF) verwerp, maar die minister van Gesondheid het dit nog geensins in twyfel getrek nie.
My kollega, Ernst van Zyl, het al dikwels gesê dat die vraag na rasvoorvalle in Suid-Afrika die aanbod daarvan oorskry. Ek wil daarop uitbrei deur te sê dat heelwat Suid-Afrikaanse politici kieskeurige rassismefynproewers is, met 'n smaak vir verskuilde sistemiese rassisme wat hul politieke narratief bevestig, maar hul neuse optrek vir rassisme wat teen hul narratief indruis. Die gemelde verslag is 'n tipiese voorbeeld van hierdie verlangde fynproewersrassime, soos ek sal verduidelik.
“Begin by die Wet”
Artikel 59(3)(b) van die Wet op Mediese Fondse meld dat indien 'n mediese fonds 'n verlies gely het vanweë diefstal, bedrog, nalatigheid of enige wanpraktyk wat onder die fonds se aandag kom, dan is die fonds geregtig daarop om 'n bedrag gelyk aan die verlies af te trek van enige voordeel betaalbaar aan die betrokke verskaffer.
Die wetsartikel opsigself is ingewikkeld bewoord en 'n enkele geval van die toepassing daarvan vereis 'n nog ingewikkelder proses waarin etlike persone, programme en ondernemings 'n rol speel. Vanaf 2012 tot 2019 (die navorsingstydperk) was daar duisende sulke gevalle waarby menige dokters, fondse, administrateurs, pasiënte en praktyke uit alle geografiese en demografiese hoeke van die land betrokke was. Die mediesefondsstelsels het nie 'n dag lank stilgestaan nie en die proses van sifting vir bedrieglike eise is oor en oor herhaal.
Uit dié jare se blind-herhalende verwikkelende prosesse waarby derduisende lewende en nie-lewende agente en omgewingsfaktore betrokke was, het daar 'n eienaardige gedrog verrys – rassisme. Of so beweer adv. Ngcukaitobi en sy ondersoekspan ná vyf jaar se rassespeurwerk wat oor 227 bladsye beskryf word. Rassisme is dus in hul oë 'n organisme wat na verskeie mutasies goed aangepas het vir oorlewing in sy omgewingstoestande. Vir my lyk dit egter eerder na die noukeurige aanwending van kunsmatige rassisme-seleksie as die natuurlike produk van diskriminerende prosesse wat hierdie verslag opgelewer het.
Rassisme-seleksie in die Suid-Afrikaanse politieke omgewing is 'n gevorderde wetenskaplike vaardigheid waarmee die kundigste ondersoekers kan tóór. Ngcukaitobi is aan die voorpunt van hierdie kuns. Hy was al reeds daartoe in staat om aan die land se hoogste howe te bewys dat die sing van 'n lied wat woordeliks beskou 'n oproep tot moord is, nie rassisties is nie, maar aan die minister van Gesondheid dat die identifikasie van bedrieglike mediesefondseise wel rassisties is.
“Verslag vol foute”
Voordat ek egter die advokaat ongegrond kritiseer, net enkele nugter opmerkings oor waarom die verslag nie werklik bewys wat dit voorgee om te bewys nie. Eerstens het die verslag alle swart, bruin en Indiër praktisyns as “swart” geklassifiseer. Daar is met ander woorde eerder ondersoek ingestel na diskriminasie teen almal behalwe wit dokters. Die ondersoek het dus nie diskriminasie teen alleenlik swart geneeshere bepaal nie.
Tweedens het die ondersoekspan hul rasseklassifikasie op grond van praktisyns se vanne gedoen. Dr. Jansen, dr. Willemse of dr. Adams kon dus as wit of swart geklassifiseer word – afhangende van hoe dié spreekwoordelike “potloodtoets vir vanne” toegepas is.
Derdens dui die ondersoek glad nie aan in hoeveel gevalle praktisyns skuldig bevind is aan bedrog, vermorsing of misbruik nie, en word méér optrede deur mediese fondse teen medici van bepaalde rassegroepe outomaties as diskriminerend geag – ongeag die geldigheid daarvan. Daar is bloot aangevoer dat swart mediesediensverskaffers se kanse om as skuldig geïdentifiseer te word 1,5 tot 3,5 keer meer is. Die enigste afleiding wat uit dié bevinding gemaak kan word, is dat indien alle rasse nie presies ewe veel oortredings begaan nie, dit volgens die ondersoekspan noodwendig op diskriminasie neerkom. Anders gestel: Die enigste manier om diskriminasie in hierdie geval te voorkom, is om sommige skuldiges toe te laat om ongestraf voort te gaan met hul wanpraktyke.
“Ministeriële motiewe”
Die Minister van Gesondheid het hom egter nie deur hierdie ernstige leemtes en mistastings in die studie laat ontmoedig nie. Deel van sy reaksie op die verslag was om te sê dat “die hele stelsel hersien [moet] word”. Dit is 'n ingrypende voorstel op grond van 'n uiters bedenklike verslag, maar dié verslag is 'n keurig voorbereide dis vir 'n polities-gemotiveerde rassismefynproewer.
Minister Aaron Motsoaledi verkeer tans onder politieke druk omdat die private mediese sektor heelwat beter as die openbare sektor presteer, terwyl hy steeds op een of ander manier van die privaat sektor die sondebok moet maak om Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) te adverteer. Want hoekom moet daar nou 'n voorgeskrewe openbare mediese fonds gestig word as privaat fondse heeltemal billik funksioneer?
Die openbare sektor gaan egter gebuk onder die een aantyging van korrupsie en wanbestuur na die ander, so dis nie 'n maklike taak nie. Nóú kan Motsoaledi gerieflikheidshalwe hierop antwoord: “Ten minste is óns nie rassisties nie.”
Louis Boshoff is 'n veldtogbeampte by AfriForum.
Nog artikels op OntLaer:
SOSIALE MEDIA
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.
Dit herinner aan Thomas Sowell se aanhaling "“Racism is not dead, but it is on life support, kept alive by politicians, race hustlers and people who get a sense of superiority by denouncing others as ‘racists”"