Die Wes-Kaap, veral die Stad Kaapstad, word dikwels voorgehou as die toonbeeld van hoe munisipaliteite in Suid-Afrika behoort te funksioneer. Die provinsie se blykbare administratiewe doeltreffendheid, infrastruktuur beleggings en politieke stabiliteit verdien lof. Die toeloop van veral professionele persone en sakelui het die streek se reputasie as 'n “model provinsie” versterk.
Maar agter dié blink beeld skuil ’n toenemende struktuurkrisis: die model wat die Wes-Kaap se sukses dryf, is besig om onder druk te kom weens demografiese groei spanning, toenemende armoede-gedrewe migrasie, en 'n fiskale stelsel wat nie vir volhoubaarheid ingerig is nie.
Ons vra die vraag of die Wes-Kaap werklik 'n uitsondering is, of dalk bloot 'n agteros op dieselfde weg wat die meeste ander Afrika-stede gekenmerk het: 'n groeiende informele komponent, infrastruktuur oorbelading, en plaaslike regeringsverval.
Die bekoring en die illusie
Kaapstad se administrasie presteer beduidend beter as ander metropolitaanse owerhede soos Johannesburg en Tshwane. Dit het laer vlakke van korrupsie, meer betroubare dienslewering en sigbare infrastruktuurontwikkeling. Hierdie suksesverhaal het “semigrasie” aangevuur; professionele mense en sakelui vlug van die agteruitgang in ander provinsies na die Wes-Kaap op soek na veiligheid, orde en stabiele dienslewering.
Tog is hierdie migrasie nie beperk tot die professionele middelklas nie. Duisende arm mense, veral uit die Oos-Kaap, migreer jaarliks na die Wes-Kaap op soek na werk en oorlewing. Die provinsie absorbeer dus nie net vermoënde belastingbetalers nie, maar ook 'n groeiende bevolking armes. Dit bring groot druk op infrastruktuur, behuising en dienslewering, en ontbloot die interne teenstrydighede van die sogenaamde “Kaapse model”.
Verstedeliking sonder integrasie
Die grootste risiko is dat die Wes-Kaap nie in staat is om hierdie vinnige verstedeliking formeel en stelselmatig te absorbeer nie. Informele nedersettings ontplof aan die stedelike randgebiede. Agterplaasbehuising raak meer algemeen in voorheen formele woonbuurte. En in gebiede soos Khayelitsha en Delft is infrastruktuur reeds onder druk.
Hoewel stadsbeplanningstelsels in plek is, is dit dikwels te stadig en te burokraties om vinnige bevolkingsgroei aan te spreek. Die gevolg is groei buite die raamwerk van formele beplanning wat 'n tipiese kenmerk van menige Afrika-stad is.
Die grond- en behuisingsmark in die Wes-Kaap is stelselmatig ontoeganklik vir die meerderheid inwoners. Ten spyte van beleidsuitsprake oor “pro-armes ontwikkeling” bly die lewering van laekoste behuising stadig, ontoereikend en beperk deur beskikbare grond. Soos verwag, diens die private mark hoofsaaklik die hoërinkomstegroepe as gevolg van sakeoorwegings. Nieteenstaande nasionale behuisingsinisiatiewe, realiseer privaatsektor ontwikkeling vir laer inkomstegroepe selde.
Hierdie wanbalans dryf mense na informele opsies. Informaliteit is nie meer 'n tydelike oorgangstoestand nie, maar terwille van oorlewing, 'n volhoubare leefvorm vir 'n groot deel van die bevolking. Tog hou beleidsdokumente aan om informele ontwikkeling as 'n afwyking te behandel wat “reggestel” moet word.
Die mites van fiskale volhoubaarheid
Wat die “Kaapse model” tans dra, is 'n relatief stabiele belastingbasis. Maar dié basis is broos. Die munisipaliteite is sterk afhanklik van eiendomsbelasting en diensheffings op middel- en hoë-inkomste huishoudings.
Namate die laer inkomste bevolking groei, raak kruissubsidiëring moeiliker om vol te hou. 'n Fokus op huishoudelike inkomstegroei as 'n afgeleide van ekonomiese groei lewer oor die algemeen beter opbrengste vir die munisipale inkomstebasis as aanhoudende tariefverhogings wat tot laer betalingsvlakke en verbruikersweerstand lei. Dit is baie gevaarlik om begroting as “pro-arm” te legitimiseer. Dit kan geïnterpreteer word dat betalende verbruikers beleidsgewys afgeskeep word. Die huidige polemiek rondom Kaapstad se begroting is nie onverwags nie: Pro-arm kapitaalbegrotings fokus dikwels op hoëprofiel infrastruktuur in “arm” gebiede wat terselfdetyd bevoordeel word deur nasionale toelaes wat self ook onder druk is. Sonder ingrypende fiskale hervormings sal hierdie model nie staande bly nie.
Baie Afrika-stede soos Nairobi, Lusaka en Accra het hulself eens onderskei met sterk munisipale bestuur, sentrale infrastruktuur en formele beplanning, maar onder die druk van migrasie, staatsinmenging en fiskale afhanklikheid het hulle beheer verloor. Informele groei het die norm geword.
Die Wes-Kaap loop 'n soortgelyke risiko. Die simptome is daar: oorlaaide infrastruktuur, groeiende informele areas, uitdagings om grond vir ontwikkeling te ontsluit en fiskale spanning. Selfs met beter bestuur sal die provinsie en munisipale owerhede, sonder radikale aanpassings, nie daarin slaag om hierdie uitdagings te oorkom nie.
'n Realistiese pad vorentoe
As die Wes-Kaap die pad van stedelike verval wil vermy, moet die provinsiale en plaaslike owerhede hulle beplanning- en ontwikkelingsbenadering hersien:
Informele nedersettings moet erken en geïntegreer word as permanente elemente van stedelike groei. Geldelike beperkings maak die formalisering van informele nedersettings 'n illusie.
Grond moet op groot skaal ontsluit word om die druk op bestaande gebiede te verlig. Dit impliseer ontwikkeling op die stedelike randgebied is 'n gegewe. Die sleutel lê in groter bewegingsvryheid deur verbeterde openbare vervoerstelsels.
Infrastruktuurbeleggings moet verskuif vanaf glansprojekte na basiese dienste in arm gebiede. Die fiskale krisis lê in oorinvestering in dienste wat verbruikers nie kan bekostig nie.
Die fiskale model moet hervorm word om nie meer op 'n krimpende middelklas te steun nie. Dit begin deur ruimtelike beplanning te bind aan die realiteite van fiskale implikasies en nie te bou op visies van 'n utopie nie.
Plaaslike owerhede moet hulle fiskale en beplanningsoutonomie terugwen van 'n toenemend sentralistiese nasionale staat. Plaaslike probleme verg plaaslike oplossings en nie nasionaal gedrewe bloudrukke nie.
Gevolgtrekking: Van model tot mislukking?
Die Wes-Kaap is tans 'n toonbeeld van sukses, maar dit is besig om dieselfde struktuurfoute te ontwikkel wat ander Suid-Afrikaanse en Afrika-stede kenmerk. Die skyn dat Kaapstad anders is, hou nie water nie. Die huidige ontwikkelings- en fiskale model is nie veerkragtig genoeg om die tempo en aard van bevolkingsgroei en toenemende armoede te absorbeer nie.
Tensy daar fundamentele veranderinge kom, sal die Wes-Kaap 'n voorbeeld word van hoe selfs die mees funksionele stad op die kontinent nie die gevolge van strukturele disfunksie kan ontduik nie.
Die provinsie se munisipaliteite mag tans dalk 'n voorbeeld van goeie regering wees, maar sonder ingryping loop dit ook die alombekende Afrika-pad.
Burgert Gildenhuys is 'n geregistreerde professionele stads- en streekbeplanner met dekades se ondervinding in infrastruktuurbeleggingsbeplanning, ruimtelike beplanning, en spesialisdienste op die gebied van munisipale bestuur, finansies en ekonomiese ontwikkeling.
Stephan Gildenhuys is 'n professionele stads- en streekbeplanner met ’n PhD in ruimtelike beplanning, en 'n kundige op die gebied van stedelike ontwerp, geografiese inligtingstelsels (GIS) en data-gedrewe beleidsontwikkeling, met 'n fokus op slim en volhoubare ontwikkeling in Suid-Afrika.
Nog artikels op OntLaer:
SOSIALE MEDIA
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.