Lihle, 'n jong gegradueerde in ekonomie, is pas aangestel by Suid-Afrika se Parlementêre Begrotingskantoor. Voor sy begin, wil sy die land se ekonomiese prestasie oor die laaste drie dekades verstaan. Dosente praat van “stadige groei”, “de-industrialisering” en “fiskale druk”, maar hulle bied min antwoorde. Sy lees wyd om perspektief te kry en raak net meer verward.
Twee onlangse meningstukke - een deur Seeraj Mohamed in New Agenda en 'n ander deur Eustace Davie vir die Vryemarkstigting - gee teenstrydige diagnoses van Suid-Afrika se ekonomiese kwale. Albei is partydig en verteenwoordig nie noodwendig die akademiese konsensus nie, maar hulle verteenwoordig wel twee dominante pole in die openbare debat.
Mohamed blameer Suid-Afrika se toenemende ekonomiese ellende op “neoliberale” beleid na 1994. Volgens hom, is hierdie beleide ingestel met hulp van korporatiewe elites en bevorder dit skifsoekers oftewel rent-seekers, finansialisering en spekulatiewe gedrag eerder as produktiewe beleggings. Die land, skryf hy, is “uitgeteer, gedeïndustrialiseer en gefinansialiseer”, terwyl die regering deur fiskale besuiniging ekonomiese lyding onderhou. Mohamed se antwoord is 'n terugkeer na 'n staatsgedrewe ontwikkelingsmodel met meer sentrale beplanning, kapitaalbeheer en staatsgerigte belegging.
Davie stel die spieëlbeeld voor. Hy ontken dat Suid-Afrika ooit werklik neoliberaal geword het. Eerder as om te liberaliseer, sê hy, het die post-apartheid staat regulatoriese kompleksiteit, belemmerende arbeidswette en staatsdominansie verdiep deur ruim maatskaplike besteding en oorgereguleerde markte. Die land se ekonomiese ondergang spruit nie uit vrye markte nie, maar uit regeringsmislukking, misbruik en beleidsonsekerheid. Herverdeling sonder groei, sê Davie, is 'n klug. Net liberalisering, institusionele hervorming en meer ekonomiese vryheid kan tot ekonomiese sukses lei.
Tussen die narratiewe deur
Twee artikels, twee verhale. Die een blameer die staat, die ander die mark. Maar verduidelik enigeen werklik wat gebeur het?
Om dit te begryp, moet ons terugstaan en verby Suid-Afrika en die 1990’s kyk na die breër Afrika-ekonomiese geskiedenis. Die begrip “Washington-konsensus” beskryf die IMF en Wêreldbank-hervormings van die 1980’s en 1990’s. Dit het begrotingbesnoeiings, geldeenheidstabilisering, heffingsverlaging en mark-openheid behels. Aanvanklik was die uitkomste skamel. Ekonomiese groei het kort na die hervormings stilgestaan en hongersnood in Ethiopië, volksmoord in Rwanda en toenemende armoede elders het gevolg. Kritici, soos die ekonoom William Easterly, het die Washington-konsensus vinnig as 'n mislukte buitelandse beleid veroordeel.
Daardie oordeel was egter voortydig. In 2019 hersien Easterly sy standpunt. Hy wys dat baie destydse hervormings later dividende gelewer het. Hiperinflasie, swart mark-geldeenhede, en buitensporige prysbeheer het skerp afgeneem in die laat 1990’s en vroeë 2000’s. Mettertyd het ekonomiese groei in Afrika en Latyns-Amerika begin posvat.
'n 2021-studie deur Belinda Archibong, Brahima Coulibaly en Ngozi Okonjo-Iweala bevestig dit. Gemiddelde groei in Afrika was minder as 0,2% per jaar in die 1980’s en 1990’s, maar het na die hervormings soos voorgestel deur die “Washington-konsensus” gespring tot 1,6% tussen 2000 en 2019. Inflasie het gedaal, fiskale tekorte het gekrimp en beleggings het teruggekeer na die telekommunikasie-, kleinhandel- en vervaardigingsektore. Die hervormings werk nie dadelik nie en nie oral perfek nie. Maar hulle lê 'n grondslag vir ekonomiese groei.
Suid-Afrika se eie verhaal pas by die patroon. Na 1994 volg die ANC die RDP, gefokus op maatskaplike besteding. Maar onder fiskale druk en skugter beleggers draai die regering in 1996 na GEAR-begrotingskonsolidasie, inflasieteikens en beleggingsvriendelike hervormings. Kritici noem dit “neoliberale beleid” en die korttermynresultate beïndruk nie. Werkloosheid het hoog gebly en ekonomiese groei kom teen 'n gemiddeld van 2,5%.
Maar in die vroeë 2000’s versnel groei tot meer as 5 % (2004–07). Inflasie het gestabiliseer, skuld het gedaal, en inkomste oortref uitgawes. Dit skep ruimte om hulpbronne na die armstes te herkanaliseer en armoede daal oor die algemeen. Teen 2008 beleef Suid-Afrika sy sterkste prestasie en grootste armoede-afname, gevoed deur makro-stabiliteit, gunstige kommoditeitspryse en die wêreldvraag na kommoditeite.
Maar die daaropvolgende dekade is 'n waarskuwing. Na President Jacob Zuma se verkiesing in 2009 skuif die retoriek weer na 'n staatsgedrewe benadering. Die begroting bars uit sy nate, staatslone groei bo inflasie uit en staatsondernemings word reuse, maar onvolhoubaar en nie doeltreffend nie. Eskom en Transnet word patronaatskap- en korrupsie-werktuie. Beurtkrag begin en beleggings droog op soos ekonomiese groei platval. Tussen 2010 en 2024 bly reële BBP per capita presies dieselfde. Mohamed se artikel ignoreer hierdie deel van ons onlangse ekonomiese geskiedenis.
Die les uit beide Afrika en Suid-Afrika is nie dat neoliberalisme red of dat staatsinmening vernietig nie, maar dat goeie beleid op empiriese bewyse berus. Die suksesvolste groeiperiodes kom dikwels waar markgesinde hervormings gepaardgaan met begrotingsdissipline, geloofwaardige en betroubare instellings en samehangende beleid. Die grootste terugslag kom wanneer fiskale beheer verlore gaan, die regsorde verswak, of ideologie bo bewyse gestel word.
Om elke liberaliserende stap “neoliberaal” te noem of elke fiskale dissipline-maatreël 'n oorblyfsel van die “Washington-konsensus”, is om ekonomiese beleid tot karikatuur te reduseer. Die etikette is so vaag en ideologies gelaai dat hulle die debat verduister.
Dit is nie net 'n Suid-Afrikaanse probleem nie. In die VSA wys skrywers soos Matt Yglesias en Noah Smith uit hoe “neoliberalisme” 'n skelwoord wat enige iets onwensliks kan beteken geraak het, sonder analitiese duidelikheid. Yglesias merk op dat baie sogenaamde “neoliberale” uitkomste van uitgebreide welsynsprogramme en voortdurende regulering nie by die karikatuur pas nie. Smith redeneer dat die eintlike invloed eerder 'n raamwerkverskuiwing was: aannames oor wat die staat kan en nie kan doen nie, wat dit moeiliker maak om byvoorbeeld nywerheid- of klimaatbeleid te opper.
Van etikette na realisme
Sulke etikette dra 'n swaar prys. Soos Matías Kulfas in Argentinië verduidelik, is die gevaar dat beleidsinstrumente uitgesluit word bloot oor hul ideologiese assosiasie. Fiskale of monetêre stimulus kan werk, maar net as die tydsberekening daarvan sinvol en goed is. 'n Invloei van kapitaal kan groei steun, maar slegs met versigtige bestuur. “Om te regeer is om te verduidelik,” het Brazilië se voormalige president Fernando Henrique Cardoso gesê. Om voor te gee dat beleide geen nadele het nie of dat ideologie dan ontledings kan vervang ondermyn vertroue.
Suid-Afrika het minder retoriek en meer realisme nodig. Ons kort meer data en minder slagspreuke. 'n Skoolkoepon-stelsel in Suid-Afrika, byvoorbeeld, kan werk. En hervorming van arbeidswetgewing asook openbare werkskemas ook. Sukses hang van uitvoering af, tydsberekening en institusionele kapasiteit nie van die regte ideologiese etiket nie.
'n Week in haar nuwe werk in, sit Lihle in ’n vergadering. 'n Kollega verwerp 'n voorgestelde hervorming as “té neoliberaal”. Geen verdere verduidelikings, geen data, geen besprekings nie, bloot net 'n etiket om die idee mee dood te slaan. Lihle kyk rond en wonder: as beleidmakers nie bereid is om nuwe idees te toets en uit die verlede te leer om by nuwe realiteite aan te pas nie, wie gaan die beleid skryf wat Suid-Afrika weer sal laat groei?
Hierdie artikel het op Johan Fourie se Substack Our Long Walk verskyn en is met die toestemming van die outeur vir OntLaer vertaal.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
Wil jy stukke soos dié direk in jou inboks ontvang en ons werk ondersteun? Teken hieronder in: