Afrikaanse skole: Hou vol en volhou
Waarom Afrikaanse skole nie die probleem is nie, maar deel van die oplossing.
As mens verlede jaar se akademiese prestasies gadeslaan, begryp jy vinnig hoekom Panyasa Lesufi en ander ANC-ideoloë met lede oë na Afrikaanse skole kyk. Dis daarom nodig om eers so bietjie met konteks te spog voordat daar verder ontleed word.
Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria het met die louere in Gauteng weggestap met 'n 100%-slaagsyfer en 98% van die leerlinge het met universiteitsvrystelling geslaag. Gustav Liebenberg van Hoërskool Montana was die naasbeste presteerder in Gauteng met 'n gemiddeld van 96.6%.
Luidens data oor die voorste Afrikaanse skole in 2025 deur die Skole Ondersteuningsentrum (SOS), het meisieskole die kroon op nog 'n uitsonderlike akademiese jaar vir Afrikaanse skole gespan. Die Hoër Meisieskool Bloemhof – wat al vir 'n aantal jare as die beste akademiese skool in die land geag word – in Stellenbosch se 140 kandidate het 508 onderskeidings behaal terwyl die Hoër Meisieskool Paarl se 142 kandidate 487 onderskeidings ingeoes het. Affies Meisies is derde met 247 kandidate en amper 800 onderskeidings terwyl Hoër Meisieskool La Rochelle se 117 kandidate amper 350 onderskeidings ingepalm het.
Twee seunskole, naamlik Paul Roos Gimnasium en Hoër Jongenskool Paarl, pryk tewens op hierdie lys. Dit moet gemeld word dat Helpmekaar waarskynlik weggelaat is van hierdie lys omdat hulle 'n privaat skool is. Hulle sou beslis in die top-10 en vermoedelik die top-5 kon wees vanweë hul prestasies.
Ewenwel, die streke wat domineer is veral stedelike areas waar middelklas-Afrikaanssprekendes gekonsentreer is, soos Centurion en die hele ooste van Pretoria (5); die Boland/Kaapse Wynlande en noorde van Kaapstad (9); en die weste/noordweste van die Johannesburg-metro (2, of 3 as Helpmekaar bygereken word). Helfte van die beste 20 akademiese skole is in die Wes-Kaap (ses in die top 10), sewe in Gauteng (vier in die top 10), twee in Noordwes en een in die Vrystaat.
Net 'n kantnota hieroor: Politici maak groot gewag van positiewe slaagsyfers in 2025, maar behalwe vir die uitvalkoers moet daar vrae oor die gehalte van hierdie slaagsyfers gevra word. Bogenoemde en talle ander privaat en openbare skole berei werklik kinders voor vir verdere studie, loopbane en die lewe. Dit kan egter nie van die meerderheid openbare skole gesê word nie – al kom baie van hul kinders makliker vakke soos wiskundige geletterdheid deur.
Nie slegs akademiese uitnemendheid
'n Vername rede hiervoor is dat Afrikaanse skole omvattende presteerders is. Hulle munt uit op talle gebiede en nie slegs akademies nie. Dit is veelseggend en as’t ware ongeëwenaard.
Wat byvoorbeeld rugby betref, het die top skole in die land Afrikaans as voertaal. Die Hoër Jongenskool Paarl het verlede jaar eerste geëindig toe hulle Paarl Gimnasium (uiteindelik tweede) in hul interskole-derby geklop het. Die Afrikaanse Hoër Seunskool, Paul Roos Gimnasium, Oakdale, Grey Kollege, Garsfontein, Noordheuwel, Stellenberg, Oakdale, Outeniqua, Helpmekaar en Boland Landbou was ook deel van die top-20 in die land.
Paarl Gim was die beste netbalskool in 2025, gevolg deur Helpmekaar, Affies Meisies, Durbanville, Hoër Meisieskool Paarl, Stellenberg, Bloemhof, Menlo Park, La Rochelle en Voortrekker. Dus, die hele top-10 is almal Afrikaanse skole en Garsfontein, Noordheuwel, Parel Vallei, Pietersburg, Rustenburg en Oranje Meisies is van die ander skole in die top-20.
Affies Seuns en Waterkloof is tans onderskeidelik die beste en naasbeste krieketskole in die land terwyl talle ander Afrikaanse skole ook in die top-20 is. In terme van dameshokkie, is Paarl Gim ook tans eerste terwyl Oranje Meisies en Waterkloof ook onder die top-5 is en Bloemhof en Affies Meisies in die top-10. In Seunshokkie is Paul Roos eerste in die land en talle Afrikaanse skole onder die top-20.
Afrikaanse skole munt ook gereeld plaaslik en oorsee uit op kultuurgebied. Durbanville, Menlopark, Affies (meisies én seuns), Parel Vallei, Paul Roos, Bloemhof, Noordheuwel en Helpmekaar presteer uitsonderlik in aktiwiteite soos skaak, toneel, debat, redenaars, orkes en kuns. Dikwels munt toppresteerders in akademie ook uit in kultuur en sport.
Nog leesstof:
Doodsklok en konsolidasie
Dit sou onafwendbaar wees dat Afrikaanse skole se getalle sou kwyn ná 1994 se onwentelinge. Demografiese veranderinge, politieke druk en ouers se eie keuses oor voertaal was en is groot faktore wat baie Afrikaanse skole laat verengels, saamsmelt of ten minste na dubbelmedium oorslaan.
Ontvolking van die platteland het veral plattelandse Afrikaanse skole hard getref, maar die grootste inkrimping onder Afrikaanse skole was uiteraard in stedelike gebiede aangesien daar eenvoudig meer van hulle is en dit nie slegs Afrikaanssprekendes is wat verstedelik nie. Hierdie druk neem egter toe en die Wysigingswet op Wette op Basiese Onderwys (Bela) is myns insiens 'n wetlike simptoom van hierdie bestaande tendense. Bela gaan egter nie die probleem oplos nie. Gauteng is pal in die nuus oor halfklaar skole in townships weens tenderkorrupsie en onbeholpe kontrakteurs. Die newe-effek hiervan is dat Afrikaanse skole as eilande van uitnemendheid selfs sonder enige wetlike instrument weens demografiese faktore sneuwel of in die gedrang is.
Dit het ook daartoe gelei dat menigte skole in oorwegend Afrikaanse areas megaskole geword het en hul prestasies dienooreenkomstig toeneem. Op die Wes-Rand het talle skole verengels en dit het daartoe gelei dat Hoërskool Noordheuwel die primêre Afrikaanse skool met sowat 2000 leerlinge geword het. Uiteraard kan hierdie skool nie al die Afrikaanse laerskole se kinders akkommodeer nie. 'n Skoolvriend van my wat nou die hoof van 'n Afrikaanse laerskool in Roodepoort is, het aan my genoem dat hul kinders toenemend kies om na hoërskole soos Linden, Randburg en Helpmekaar te gaan. Ek hoor dieselfde storie by skoolvriende wie se kinders ons ou laerskool bywoon: Noordheuwel en Helpmekaar is die gewildste hoërskool-opsies terwyl daar wel ander opsies is.
Wat Afrikaanse skole se prestasies op talle gebiede nog meer verstommend maak is dat hulle slegs sowat 8% van alle openbare skole uitmaak en selfs minder in die totale skoolstelsel. Menigte van hulle is nou inderdaad groter en sterker.
Nog lesse en somme
Afrikaanse skole moet verkieslik deur vriendelike omgewings en verkieslik ook goedgunstige owerhede gerugsteun word. Afrikaanse skole en by uitstek uitnemende skole word deesdae grootliks in stedelike gebiede en sekondêre dorpe aangetref. Die Wes-Kaap het verreweg die meeste skole met Afrikaans as voertaal en dit word boonop deur semigrasie aangedryf. Ander faktore wat in die provinsie se guns tel is dat dit oor 'n Afrikaans-vriendelike provinsiale regering (wat vir onderwys verantwoordelik is) beskik, sowel as twee rassegroepe met Afrikaans as huistaal wat saam die meerderheid in die provinsie vorm. Ten opsigte van laasgenoemde, verdien die Noord-Kaap ook gekwalifiseerde vermelding. Wit en veral bruin Afrikaanssprekendes is ook daar in die meerderheid, maar dit is 'n yl bevolkte provinsie en nie 'n gesogte bestemming vir semigrante nie.
Ander provinsies is veel slegter daaraan toe. Selfs in Gauteng maak Afrikaanse skole slegs sowat 5% van alle openbare skole uit en die provinsiale regering en departement van basiese onderwys is hulle nie goedgesind nie. In Mpumalanga en Limpopo is daar nou uiters beperkte opsies wat Afrikaanse hoërskole betref. Die aanbod in die Vrystaat en Noordwes lyk beter, maar hul toekoms is ver van ideaal. KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap regverdig nie eers veel bespreking nie. Afrikaanse ontvolking van die platteland in die noorde, sentrale en ooste dele van die land, sowel as emigrasie en semigrasie, het skool-konsolidasie en Afrikaanse konsentrasie nolens volens in die hand gewerk.
My kommer is nie oor die prominente en tradisieryke Afrikaanse skole nie. Hulle sal in hul huidige gedaante bly oorleef danksy 'n sterk aanvraag. Daarenteen oefen onderwys-amptenare druk uit op skole in oorwegend Afrikaanse gebiede soos die Moot en noorde van Pretoria om Engelse leerlinge toe te laat, selfs sonder amptelike wetgewing soos Bela. Dit is trouens hoe vele ander skole al verengels het.
Enersyds is dit te verstane dat sommige Afrikaanse skole te midde van 'n algehele gebrek aan skole en veranderende demografie nie meer lewensvatbaar Afrikaans kan wees nie. Maar daar is skole tussen die sogenaamde elite-instellings en skole op die kantelpunt wat vol gehou kan en moet word.
Om vir Panyasa Lesufi of sy makkers in die Gautengse regering te probeer advies gee oor onderwyssake is kennelik sinneloos. Ons as die Afrikaanse gemeenskap moet slegs beheer wat ons kan en dit begin by ingeligte keuses. Soos om van die waarde van moedertaalonderrig en ander faktore (soos 'n gemeenskaplike etos, kultuur en werksetiek) op skool bewus te wees.
Alle kinders hoef derhalwe nie slegs na 'n paar uitgesoekte Afrikaanse skole te gaan om te presteer nie. Liebenberg het dit bewys. Daar is buitendien slegs beperkte plekke in daardie skole beskikbaar en jy wil nie jou kind in 'n oorvol skool plaas waar onderrig gekompromitteer word en hulle slegs 'n nommer is nie. Ek en tallose ander mense was nie op Afrikaanse skole wat in die sogenaamde elite-kategorie val nie. Tog het meeste van ons op verskeie terreine sukses behaal. Party mense floreer eers later en op verskeie maniere (soos om entrepreneurs te word). Ek het geen onderskeidings in matriek behaal nie en eers vir twee jaar gewerk voor ek universiteit toe is. Daar het ek beter as studente uit Engelse privaat skole en prominente Afrikaanse skole gevaar omdat ek uiteindelik iets kon studeer wat werklik my belangstelling prikkel.
Ewenwel, hoërskole soos Montana, Die Wilgers, Marais Viljoen, Eldoraigne, Centurion, Hugenote (Springs én Wellington), Overkruin, Jan van Riebeeck, Labori, Boland Landbou, Wonderboom, Stellenbosch en Nelspruit is almal uitstekende skole wat omvangryk presteer. Dit hang ook af wat jy en jou kind op prys stel. Myns insiens kom skoolwerk eerste en ek vermoed daar is 'n taamlik wye konsensus onder ouers daaroor.
Sport verleen wel prestige aan 'n skool en bied loopbaangeleenthede, maar nie almal heg ewe veel waarde daaraan nie. Daarbenewens baat dit 'n kind nie veel as hulle teen soveel sporttalent in 'n skool meeding dat hulle nie raakgesien word nie. Of nie genoeg blootstelling aan hul sekere sport kry nie omdat ander skole nie genoeg spanne het om teen laer spanne mee te ding nie. Dit loon om hierby te noem dat menigte huidige en voormalige Springbokke nie by die beste rugbyskole skoolgegaan het nie. Dit sluit in Pieter-Steph du Toit, Eben Etzebeth, Cheslin Kolbe, Victor Matfield, Os du Randt, Danie Gerber en Naas Botha. Insgelyks het heelparty Afrikaanse magnate soos Jannie Mouton, GT Ferreira en Michiel le Roux aan minder bekende Afrikaanse skole gematrikuleer. Swak skole gaan nie sulke mense produseer nie, maar die beste skole lewer hulle ook nie noodwendig op nie.
Kortom, soveel moontlik Afrikaanse skole moet sover moontlik volgehou en vol gehou word. Dit verseker nie net die algehele gehalte en lewensvatbaarheid van al hierdie skole nie, maar baat Afrikaanse kinders wat in hul moedertaal uitmunt terwyl hulle ewe bedrewe in Engels raak. Die fokus moet wees om hierdie Afrikaanse ekostelsel – waarvoor soveel opgeoffer is en soveel gehalte bly oplewer – as 'n sterk en mededingende kleinood te bewaar vir die wyer gemeenskap.
Dr. Brink is 'n sakekonsultant, entrepreneur en ontleder van die Paarl.
Nog artikels deur Eugene Brink:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.











Ek is verbaas dat die Hoërskool Menlopark nie vermeld word by die top tien presteerders nie en boonop as die beste gemengde skool in die land nie!