Geskiedenisbrokkies met OntLaer: Die Slag van Elandslaagte
'n Rillerverhaal, met bloeddorstige Britse lansiers.

'n Geveg vroeg in die Anglo-Boereoorlog wat met siddering deur die Boere onthou sou word, het op 21 Oktober 1899 plaasgevind, toe die Boere onder genl. Jan Kock ’n ernstige nederlaag by die Elandslaagte-stasie, noordoos van Ladysmith in Natal, aan die hand van genls.maj. John French en Ian Hamilton gely het. Dit was tien dae ná die uitbreek van die oorlog.
Kock het te ver suid inbeweeg, en is van die hoofmag afgesny. Ná die Britse oorwinning by Talana (Dundee) die vorige dag, het lt.genl. White vir French beveel om die gebied rondom Elandslaagte skoon te vee.
Van French se mag van 3 500 man was een derde lansiers (ruiters met skerppuntlanse), en die res infanterie (voetsoldate), met 18 kanonne. Kock het 800 man gehad – die Johannesburg-kommando onder kmdt. Ben Viljoen, die Duitse Korps onder kmdt. Adolf Schiel, en die Hollanderkorps onder kmdt. Jan Lombard, met twee kanonne.
Ná ’n vroegoggend bombardement het die 5th Lancers en die Imperial Light Horse die Boere se linkerflank suid van Elandslaagtestasie bestorm. Teen 14:30 het hulle die voorste Boere teruggedruk na hul hoofmag, wat ook suid van die stasie gelê het. Noord van die spoor het die Duitse korps die 5th Dragoon Guards se aanval goed weerstaan, totdat Kock hulle teen 15:30 beveel het om die hoofmag te kom ondersteun, wat deur die Britse infanterie onder Hamilton bedreig is.
Ná ’n halfuur se bombardement het die infanterie teen 16:30 die Boere se hoofmag aangeval – die Devonshires links en die Manchesters en Gordon Highlanders regs, met ruitersteun weerskante.
Die Boere het hardnekkig weerstand gebied, totdat 'n hewige donderstorm losgebars het. Toe het hul weerstand begin knak, en het die burgers hul posisies op 'n heuwel in die sentrum begin verlaat. Teen 18:00 het Hamilton met versterkings die Britse vuurlinie aangevul. Dit het die Boere-weerstand in die sentrum finaal laat verkrummel.
Teen 17:30 het maj. Gore met die 5th Dragoons en die 5th Lancers op die linkerflank in beweging gekom en van die Boere wat oor die spoor in 'n noordelike rigting aan die vlug was, in 'n verskriklike agtervolging met hul lanse deurboor.
Die meeste Boere-ongevalle het tydens hierdie aanslag voorgekom. Omtrent 38 Boere het gesneuwel, en 113 gewondes is krygsgevange geneem. Agt man is aan hul wonde oorlede, onder meer genl. Kock. Nog 185 ongewonde Boere het 'n vrypas na St. Helena gekry.
Die Duitse en die Hollanderkorps het swaar verliese gely. Die korpse is ontbind en die oorlewendes het by ander Boerekommando’s aangesluit. Die Britse verliese was 263 offisiere en manskappe – 50 het gesneuwel en 213 was gewond.
Hartseer is die verhaal van dr. Herman Coster. Toe hy in 1897 as staatsprokureur van die Zuid-Afrikaansche Republiek bedank ná ’n onderonsie met pres. Kruger, het die president vir hom gesê: “As die oorlog kom, vlug julle Hollanders terug Holland toe.” Coster het getrou gebly aan die Boeresaak, en as luitenant van die Hollanderkorps by Elandslaagte gesneuwel, nadat hy 'n witvlag afgeruk en uitgeroep het: “Neen, liever sterven!”
Vir die res van die oorlog was die Boere baie lugtig vir die lansiers. L.C. Ruijssenaers onthou rillend van die lansiers by Elandslaagte: “Ze schreeuwen maar aldoor: ‘Kill the bloody Dutchmen! Kill the bastards!’”
Prof. Fransjohan Pretorius is 'n kenner van die Suid-Afrikaanse geskiedenis, met 'n fokus op die Anglo-Boereoorlog. Volg sy werk hier.
Nog geskiedenisbrokkies deur prof. Fransjohan Pretorius:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
Wil jy stukke soos dié direk in jou inboks ontvang en ons werk ondersteun? Teken hieronder in: